Vir die meeste honde bestaan die lewe omtrent net uit slaap, eet en stappies, gevolg deur nog eet en slaap.

Dis allesbehalwe die geval vir ’n sekere drie­jarige golden retriever. Dié hond het al dinge gesien en ervaar waarvan die meeste adrenalienslawe net kan droom – en hy is internetberoemd.

Vlieërplank ry? Gedoen. Canyon­verkenning? Lankal klaar. Skermsweef? Raak al vervelig. 

Geen wonder Kicker word die avontuurlikste hond ter wêreld genoem nie.

Dis (verbasend genoeg) alles danksy sy eienaar, Andrew Muse, ’n beroepsatleet wie se geesdrif vir reis hom die webreeks Tiny Home Adven­ture laat skep het. 

Daarin vat hy die pad in ’n kampeerwa op soek na mooi plekke en naelbyt­ervarings. 

En sy vierpotige vriend gaan oral saam. 

kicker,hond,avontuur
Kicker het sy eie skermsweefharnas. Foto: Facebook/ Kicker Dog Muse

“Kicker is wonderlik,” het Andrew aan People gesê. 

“Hy is absoluut gaande oor die buitelug en al die aktiwi­teite saam met my, veral wanneer daar sneeu ook betrokke is. Die manier waarop sy oë vonkel wanneer ons op ’n avontuur is, herinner my baie aan myself.”

Andrew, van Utah, Amerika, het Kicker gekry nadat sy vorige hond, Booter, tragies dood is. 

Die twee was in ’n ernstige motor­ongeluk toe Andrew tydens die verfilming van seisoen een van Tiny Home Adventure teen ’n reusagtige vragmotor gebots het. 

Andrew het oor­leef, maar Booter was nie so gelukkig nie.“Booter was my sielsgenoot,” sê hy. “Hy is daardie dag op my skoot dood.”

’n Brandbestryder op die toneel was op meer as een manier sy redder. 

“Die paramedici het my probeer troos deur oor ditjies en datjies te gesels, en ek wou net hê hulle moes my alleen los sodat ek al my trane kan ophuil en doodgaan. Een brandbestryder, ’n man genaamd Paul, het nader gestap en net saggies gesê: ‘Ek verstaan dit; ek het honde, en ek’s so jammer.’”

Die twee het vriende geword en met mekaar in aanraking gebly. Ná ’n paar maande het Paul hom gekontak.

“Hy het vir my gesê sy familie teel met golden retrievers en hulle wil graag vir my ’n hondjie gee wanneer ek gereed is. 

“Dis toe dat Kicker my lewe binne­gekom het.”

kicker dog muse,avontuur
Andrew en Kicker is op pad Alaska toe in Andrew se kampeerwa. Foto: Facebook/ Kicker Dog Muse

Met sy nuwe vriend aan sy sy het Andrew seisoen twee van sy program met ’n reis na Alaska begin. “Van die oomblik dat Kicker in my lewe gekom het, het ons in ’n kampeerwa gebly. 

“Ek was bekommerd hy sou nie kon byhou in die soort avontuursituasies waarin ek en Booter altyd beland het nie. Maar dit blyk toe Kicker is ook totaal en al ’n tawwe tienie. Hulle is baie verskillende honde, maar ek sien so baie van Booter in Kicker.”

Hy dwing Kicker nooit om iets te doen nie en sê die beste manier om jou hond aan avonture gewoond te maak is om vroeg te begin en hulle veilig en gelukkig te hou sodat hulle jou ten volle vertrou.

“Ek sal my hond ook nooit in ’n situasie plaas as ek nie seker is ek sal hom veilig daaruit kan kry nie. 

“Toe ek begin vlieërplank ry, het Kicker altyd langs die water gehardloop, en terwyl ek die vlieër opstel, het hy op my plank gestaan. Eendag het ek ’n groot plank gekry waarop hy kon saamry, en van toe af ry ons saam vlieërplank.”

Wat is die volgende uitdaging vir dié onverskrokke tweestuks?

“Die plan is om Suid-Amerika toe te reis in die epiese verkenningsvoertuig wat ek bou. Ons hoop om in dié tyd vlieërplank te ry, te branderry, stap en nuwe lande te verken.”

Dié soort hondelewe klink glad nie sleg nie. 

Bronne: people.com, snowbunnymag.com, iheartdogs.com