Dit staan teen die berg soos ’n monument wat die droom gedenk van iemand wat nie meer hier is nie; ’n fabelagtige gedenkskrif aan iemand se verbeelding.

’n Paadjie van houtplanke kronkel na die glasvoordeur. Bo-oor die paadjie groei ’n blaredak en hier onder, in die koelte, word die paadjie ’n brug bo-oor die visdam wat soos die grag van ’n sprokieskasteel reg rondom die huis strek. Koivisse maak helderoranje en -rooi strepe deur die donker water.

Sien ’n mens die reusagtige wit skulpe wat as wasbakke in ’n badkamer dien, wonder jy of dit nie die woning van ’n bosnimf is nie. Die grasdakhuis met sy houtvloere en dik boomstomppilare lyk immers soos ’n plek waar feë bymekaarkom.

By die lang eetkamertafel sal die sewe dwergies heel gemaklik kan aansit. Maar die magiese huis is nie iets uit die sprokies van die broers Grimm nie. Dit is ’n regte woonhuis naby Houtbaai, ’n klipgooi van Kaapstad se geroesemoes.

Blackwood Manor, soos die huis bekendstaan, is ook nie enige rykmanshuis in die Kaap nie. Dit is die spoghuis van wyle Keith Rose, wat ’n kreatiewe genie van die advertensiewêreld was. Die huis is in Maart vanjaar gelys om opgeveil te word.

Die tuin is ’n groen wonderwêreld van rotse en kabbelende waterstrome. Foto: Property24.com.
Die huis se asemrowende uitsig. Foto: Property24.com.

“Ons het belangstelling gehad, maar niks ernstigs nie,” vertel ’n eiendomsagent wat in die Houtbaai-omgewing werk. Sedert Junie is die huis teen ’n allemintige R45 miljoen in die mark.

Maar die eienaar wie se droom hier verwesenlik is, put nie meer vreugde uit sy skepping nie, want Keith is begin Oktober vanjaar langs Chapman’s Peak-weg dood aangetref nadat hy glo sy eie lewe geneem het.

Die Sunday Times het berig sy sprokieshuis het moontlik tot dié briljante regisseur se probleme bygedra en dat hy die huis na bewering as sekuriteit vir ’n lening aangebied het.

Die 63-jarige Keith was die bekroonde regisseur van ikoniese televisieadvertensies, onder meer die 1993-BMW-advertensie met die witmuis wat op die stuurwiel hardloop om die voertuig se kragstuur ten toon te stel.

Die onlangser advertensie van die Volkswagen Amarok-bakkie wat laatnag deur ’n museum ry en die Allan Gray-advertensie van die meisie wat haar neus toedruk en blaas om tyd vinniger verby te kry, was ook Keith se handewerk.

Hy is in 2007 deur die Britse reklametydskrif Shots as een van die 100 voorste reklamebreine in die geskiedenis aangewys. Sy vriende en kollegas het ná sy dood op ’n gedenkblad hul herinnerings aan dié “reus van ’n man” gedeel.

’n Onthaalgebied op die stoep. Foto: Property24.com.
Een van die nege badkamers. Foto: Property24.com.

“Keith was ongelooflik nederig, vrygewig en ’n goedhartige mens,” het Gerry Human van die advertensiemaatskappy Ogilvy in Londen in ’n gedenkbrief geskryf. “Keith se reusetalent het gehelp om ondernemings, loopbane en reputasies en ’n positiewe, kreatiewe beeld van Suid-Afrika in die wêreld se oë te bou.”

Hy het die grense van kommersiële verfilming in Suid-Afrika verskuif, het Bobby Amm, uitvoerende hoof van die advertensievervaardigersvereniging in Suid-Afrika, in ’n huldeblyk geskryf. “Benewens dat hy ’n ikoon in die bedryf was, het sy werk die verbeelding van die publiek vasgevang.”

Naby Constantianek, teen die agterste hange van Tafelberg, het Keith een van die uniekste huise in ons land agtergelaat. “Vir seker een van Suid-Afrika se nasionale skatte,” beskryf ’n eiendomsagent in Kaapstad die huis.

“Dit is nie net ’n huis nie; dit is ’n lewende kunswerk,” het die eiendomsagent Tanya Jovanovski van Rawson Auctions in die Wes-Kaap die eiendom op die webtuiste Property24.com beskryf. “Maar selfs al die beskrywings doen nie die prag, majestueusheid en kreatiwiteit van Blackwood Manor gestand nie.”

Natuurlik het dit ’n borrelbad. Foto: Property24.com.
Die reusesitkamer. Foto: Property24.com.

Keith en sy vrou, Marie-Louise, het 26 jaar gelede Houtbaai toe getrek en later hul vier kinders hier gehad.

Aanvanklik was die woonplek, wat hulle glo in 1997 teen R550 000 gekoop het, ’n beskeie voorafvervaardige houthut. Maar deur die jare het hulle aan die huis begin bou, uitgebrei en voortdurend veranderings aangebring, het Keith verlede jaar in ’n onderhoud met die tydskrif Visi gesê.

Die huis is gebou op ’n erf van 3 000 m2 en het vyf slaapkamers, nege badkamers, ’n gimnasium en wynkelder. Die motorhuis van 400 m2 het plek vir 17 karre. Die keurig versierde sitkamer het ’n reusekaggel, sandklipmure en ’n hoë grasdak.

Die groot vensters laat dit lyk en voel asof jy binne-in ’n boom woon. Alles in die vertrek is in aardse kleure wat ’n rustige atmosfeer skep, en ’n groot vistenk, wat 2 500 L water bevat, skei die vertrek van ’n ander leefgebied.

Uit die sitkamer spiraal gietystertrappies op na nog ’n verdieping. In ’n tweede, kleiner sitkamer is boomstompe dwars teen die plafon gedraai. Oordadige kandelare hang laag oor die eetkamertafel.

Een van die luukse slaapkamers. Foto: Property24.com.
Die huis het ’n wynkelder met plek vir 1 800 bottels. Foto: Property24.com.

In die wynkelder, met plek vir 1 800 wynbottels, vorm die mure en plafon ’n boog. Dit herinner aan ’n Middeleeuse kasteel wat van klip gebou is. Jy kan deur die vensters kyk hoe die koivisse buite swem.

Volgens die eiendomsagentskap word die kelder deur die koidam omring, wat help om die korrekte temperatuur vir die wyn te handhaaf. In een van die ruim slaapkamers staan ’n koperbad.

Elke slaapkamer het ’n buitestort. Een badkamer is van bo tot onder in mosaïekteëls bedek.

Stap jy na buite, slaan die huis se uitsig op die Oranjekloof-natuurreservaat en Vlakkenberg jou asem weg. Die L-vormige swembad het ’n klim-en-klouterraam van hout. Op ’n balkon, een van die talle onthaalgebiede buite, is ’n borrelbad met plek vir 18 mense.

’n Mens wonder watter glansryke swembadpartytjies al hier gehou is; nou net herinnerings aan ’n vergange tyd.

  • Nie Tanya Jovanoski van Rawson Auctions in die Wes-Kaap of Keith se vrou, Marie-Louise, wou enige kommentaar lewer nie.

Ekstra bronne: Property24, Sunday Times, visi.co.za