’n Gesin van Struisbaai in die Wes-Kaap het die tyd gebruik om ’n legkaart met 7 500 stukke te voltooi ná die legkaart vir sowat 21 jaar in die kas gelê het. 

“Van kleintyd af was ons lekkerste tydverdryf om legkaarte te bou, en toe ek trou en kinders kry, het die liefde vir legkaarte ook vinnig deel van ons gesin geword,” vertel Sandra Oosthuizen. Dié dat sy altyd op die uitkyk was vir ’n nuwe interessante, vreemde of anderste legkaart. 

“Of dit ’n wêreldkaart of landkaart is, selfs wanneer ons reis, sal ek plek maak in my tas vir ’n spesiale legkaart, soos die legkaart van die eiland Malta of in Turkye van die Galata Tower.”

Stefan by die voltooide legkaart. Foto: Verskaf
Stefan by die voltooide legkaart. Foto: Verskaf

Baie jare gelede, toe Sandra en haar man, Johan, verby ’n stokperdjiewinkel in Johannesburg gestap het, het ’n legkaart van New York hul oog gevang. Hulle kon nie die versoeking weerstaan om dié “Super Jigsaw Puzzle” aan te skaf nie. Maar toe hulle by die huis kom, het hulle vinnig agtergekom dat dié legkaart beslis nie op die eetkamertafel gaan pas nie. Hulle moes ’n ander plan maak om ’n groot genoeg bou-oppervlak te kry. 

“Ons moes toe spesiaal ’n plank laat sny,” vertel Sandra. 

Ná hulle dié plank gekry het waarop die legkaart van 260 cm by 95 cm gebou kon word, het Sandra, Johan en hul twee kinders Este (toe 11) en Stefan (toe 9) aan die legkaart begin bou. Hulle het die gedeeltes met New York se hoë geboue en blou water aanmekaar gesit. Maar toe besluit Johan en Sandra om Johannesburg vir ’n rustiger lewe in Struisbaai te verruil. 

Die 7 500-stuk-legkaart. Foto: Verskaf
Die 7 500-stuk-legkaart. Foto: Verskaf

“Saam met die legkaart, het ons ook legkaartgom gekry en het ons die dele wat ons klaar gebou het, vasgeplak en opmekaar gestapel tussen harde karton. So trek ons toe Struisbaai toe en raak besig met ons rustige lewe in Struisbaai,” vertel Sandra. 

En die opgestapelde legkaartstukke word toe weggepak.Toe die inperking in Maart aangekondig is, het die Oosthuizens weer onthou van die onvoltooide legkaart wat iewers gebêre is. 

“Stefan sê toe dit is dalk ’n goeie tyd om die legkaart klaar te bou. Met ’n groot soektog, en nadat ons eers die motorhuis en later die tuinhok buite uitgesorteer het in die soektog na die legkaart, kry ons eers die plank en toe die legkaart in swart plastiek toegedraai,” vertel Sandra.

Este moes egter dié keer morele ondersteuning bied aangesien sy deesdae in Duitsland woon. 

Die stukke wat 21 jaar gelede reeds gebou is, was
Die stukke wat 21 jaar gelede reeds gebou is, was in swart plastiek verpak. Nie een stukkie het verlore geraak nie.

Hulle het die groot plank in die sitkamer op ’n tafel neergesit en eindelik die legkaartstukke begin uitpak. 

“Die blou lug en wolke was bitter moeilik en êrens in die proses het Stefan besef daar is vorms wat herhaal – soveel as ses vorms is presies dieselfde. Mettertyd het ons gesien dat elke 24ste stukkie in ’n horisontale ry presies dieselfde is. Dieselfde stukkie kan dus op ses plekke pas en net die kleurverskil is ’n aanduiding of dit reg is.”

Johan en Stefan probeer elke stukkie se plek vind.
Johan en Stefan probeer elke stukkie se plek vind. Foto: Verskaf

Die Oosthuizens het gehoop om die legkaart binne die aanvanklike inperking van drie weke klaar te bou.

“Hoe nader aan 17 April ons gekom het, hoe meer bekommerd was ons dat ons dit nie gaan klaarkry nie. Ons was nogal verlig dat die grendeltyd verleng is, net ter wille van die feit dat ons nog grasie gekry het om die legkaart te voltooi,” vertel Sandra. 

Op 17 Mei het hulle die laaste stukkie van die legkaart op sy plek gesit. 

“Daar het absolute genoegdoening oor ons gespoel,” vertel sy, en sê hulle het ’n glasie op dié prestasie geklink. 

Sandra en haar seun Stefan by die legkaart wat hul
Sandra en haar seun, Stefan, by die legkaart wat hulle tydens die inperking voltooi het. Foto: Verskaf

Agter op die legkaartboks het die vervaardigers van die legkaart gesê dat enigiemand wat die legkaart binne drie ure kan voltooi, in aanmerking kan kom vir ’n wêreldrekord.

“Ons het lekker daaroor gelag,” sê Sandra. “Ek dink ons kwalifiseer vir die rekord vir die langste tyd geneem tot voltooiing . . .  En vir die feit dat ons dit vir 21 jaar gebêre het sonder om ’n stukkie te verloor!”

En wat gaan nou met dié groot legkaart gebeur?

“Vir eers gaan ons die legkaart laat blok en teen ons gangmuur hang,” sê sy. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe