Simone Taylor van Duitsland wy sowat drie uur daaraan om haar 15 cm lange naels te verf en sê sy sukkel dikwels om aan te trek omdat dit so lank is, berig Unilad

Om pynlike gebreekte naels te vermy, moes die student nuwe maniere bedink om te skryf, tik en selfs te stort. “My naels is te lank om ’n pen behoorlik vas te hou,” sê Simone.

“Ek skryf op die oomblik eksamen en dis moeilik om te skryf, want ná ’n uur se geskryf is my hande seer. Ek moet my kneukels gebruik wanneer ek op die rekenaar tik.”

Volgens The Sun het die mooi brunet se obsessie met langs naels in 2014 begin nadat sy ’n paar naelkunsvideo’s op YouTube gekyk het – dit het haar inspireer om haar naels so lank soos die kunstenaars s’n te laat groei.

En al het sy nie beplan om haar naels so lank te laat groei nie, weier sy nou om dit te knip en is sy bang vir ’n naelknipper. 

Simone gebruik naelverharder om haar naels sterk en gesond te hou en naelvliesolie elke keer wanneer sy naellak aanwend. 

Die tiener het aan Good Fullness gesê daar is een vraag wat haar klasmaats gedurig vir haar vra. “Snaaks genoeg vra baie mense die toiletvraag wanneer hulle my naels vir die eerste keer sien,” sê sy.

“Om te stort is ’n bietjie moeiliker. My naels sit soms vas in my hare, so ek moet baie versigtig wees.” 

Bronne: Thesun.co.uk, Unilad.co.uk, Goodfullness.net