Dis waarskynlik die laaste ding wat jy sou verwag om op die uitgestrekte vlaktes van die Suid-Vrystaat te sien: die ­ronde ore en gestreepte gedaante van ’n tier.

Maar sowaar, sowat 25 km wes van Philippolis woon nie net een verdwaalde uitheemse roofkat nie, maar sommer ’n hele paar . . . 

Nee, hulle het nie regtig die pad byster geraak uit Asië en toe kom afdraai hier langs die N1 tussen Bloemfontein en ­Colesberg nie – hulle is ewe tuis hier in die Tiger Canyon-wildreservaat.

Die reservaat het ook ander diere, onder meer jagluiperds, springbokke en volstruise, maar verreweg die grootste trekpleister is die ongewone inwoners: die 17 tiere.

Ons meld op ’n snerpende Saterdag­oggend by die hoofhek van die reservaat aan vir ’n wildrit saam met die veldgids Connor Thompson.

Die reservaat het ook ander diere, onder meer jagluiperds, springbokke en volstruise, maar verreweg die grootste trekpleister is die ongewone inwoners: die 17 tiere.En dis g’n wonder nie: Geen tiere kom natuurlik in Afrika voor nie; dié roofdiere kom van Asië – die meeste van hulle van Indië.

Daar is boonop slegs ’n geraamde ­sowat 4 000 vrylopende tiere in die wêreld oor, en die trop wat hier woon, is uitsonderlik.

Tiger Canyon is die enigste wildreservaat in Suid-Afrika waar tiere vry kan rondloop en self hul prooi, onder meer springbokke, sebras, duikers, blesbokke en vlakvarke, jag.

Die reservaat is 6 100 ha groot – so groot soos 6 100 rugbyvelde – verduidelik ­Connor terwyl ons koffie drink om die koue uit ons bewende ledemate te probeer verdryf.

“Dit beteken die diere is nie vasgevang nie, en hul prooi het ’n 50% kans om weg te kom wanneer die roofdiere hulle jag. Wanneer ’n plek so klein is dat die prooi ingehok word en dus eintlik lewendig gevoer word, is dit diere­mishandeling waarvoor jy aangekla kan word.”

Sit jou voete by die deur uit en jy is dood.

Omdat die tiere vry rondloop en baie beweeg, weet ’n mens nie altyd waar jy hulle te sien gaan kry nie, maar ’n ver­kenner van die reservaat het Connor laat weet waar ’n trop vroegoggend opgemerk is, en hy stuur sy Land Cruiser in daardie rigting terwyl hy met sy hand oor die veld – waar olifantsgras en fluitjies­riet welig groei – beduie.

Sowat 15 minute later hou hy stil en wys na ’n klomp rotse ’n ent verder.

tier,dier,vrystaat
Tiere geniet die oggend­son in die ysige Vrystaatse winter. Foto: Papi Morake

En daar lê hulle in die oggendson – vyf ­majestueuse tiere. 

Toe Connor stadig ­nader ry tot sowat 20 m vanaf die trop, lig hulle hul koppe luierig.Die tiere is al van kleins af gewoond aan die reuk en klank van ’n voertuig; daarom hardloop hulle nie weg nie, verduidelik Connor.

Omdat hulle die insittendes en die voertuig as ’n geheel sien, en die voertuig nie as prooi beskou nie, is ons veilig hier. Dié diere lyk so rustig dat dit voel asof ’n mens selfs veilig kan uitklim om effens nader aan hulle te kom. 

Maar Connor merk droogweg op: “Sit jou voete by die deur uit en jy is dood.”

John Varty

Tiger Canyon is ’n bewaringsprojek wat in 2000 deur die tierkenner en fliekmaker John Varty hier begin is – hy was bekommerd oor die afname in die spesie wêreldwyd, vertel Connor.

John het twee tierwelpies by ’n Kanadese dieretuin gekoop en hulle hier gerehabiliteer tot hulle weer vir hulself kon sorg en in die natuur kon oorleef. 

Nog twee tiere is later na Tiger Canyon gebring, en in 2008 is die eerste wilde welpies hier gebore. 

In 2013 het Rodney Drew, ’n sakeman van Johannesburg, in die projek belê, en in 2017 het hy by John as besturende direkteur oorgeneem, maar die twee bly vennote. 

Enigste plek ter wêreld

Die doel van die projek bly onder meer om tiere vanuit gevangenskap – soos in dieretuine en sirkusse – te neem en te rehabiliteer om in die natuur vrygelaat te word.

Tiger Canyon is die enigste plek ter wêreld wat dit doen.Vandag is al die tiere in die reservaat wild; nie een van hulle is met die hand grootgemaak of het al enige direkte kontak met mense gehad nie. 

Voor ons staan die grootste tier in die trop op, strek sy gestreepte lyf en stap stadig weg.

Nie een van die tiere vandag in die reservaat is m
Nie een van die tiere vandag in die reservaat is met die hand grootgemaak of het al enige direkte kontak met mense gehad nie. Foto: Papi Morake

“Dit is Bird, ons grootste mannetjie,” vertel Connor. “Hy is vyf jaar oud, weeg 300 kg en is sowat 1 m hoog.”

Twee welpies kom van agter ’n bos uit en draai hul koppe skeef terwyl hulle na die voertuig staar. 

Dan stap die hele trop weg.

“Tiere sit nie sommer stil nie,” sê Connor. “Hulle is die hele tyd aan die beweeg.”

Geblikte jag

Daar is ’n paar plekke in Suid-Afrika waar tiere in klein veldkampe aangehou word sodat hulle maklik gejag kan word, vertel Connor.

tier,dier
Connor Thompson wys ons waar die groot katte hulle bevind. Foto: Papi Morake

Hy sukkel om die ergernis in sy stem weg te steek.

“Dit is mos wat ons geblikte jag noem. Die bene word gewoonlik in die Ooste verkoop waar die mense glo dit het die een of ander genesingswaarde.”  

Dié mite is een van die ­redes dat tiergetalle wêreldwyd afneem, en dié spesie op die Internasionale Unie vir die Bewaring van die Natuur se rooilys as “bedreig” geklassifiseer word. 

Habitat

Maar die hoofrede is die feit dat hul ­natuurlike ­habitat ál kleiner word.

In ­Indië, waar 70% van die wilde tiere ter wêreld voorkom, moet die diere vir leefruimte meeding met dorpe en stede wat ál groter word. Die sleutel om tiere van totale uit­wissing te red, glo Rodney, lê in groot omheinde gebiede en toerisme.

“Dit is die hoofdoel wat ons wil bereik met die trop tiere in die reservaat,” sê Rodney. 

Al stem die Vrystaatse omgewing nie heeltemal ooreen met die spesie se natuurlike habitat nie, is die diere aanpasbaar en aard hulle goed in Tiger Canyon se riete, spruite en klipkoppies, met die lang gras wat dekking gee wanneer hulle prooi bekruip.

dier,tier
'n Trop blesbokke wei in die reservaat. Foto: Papi Morake

Ons eet later ontbyt by ­Tiger Canyon se lodge, waar die kloof onder die balkon meer as 100 m na benede tuimel. Gaste wat hier oorbly, kan snags die tiere in die verte hoor grom, sê Chantelle de Bruin, die lodgebestuurder.

“Party  gaan staan selfs op die balkon om te kyk of hulle die tiere kan sien al is dit donker.”

Ná ontbyt ry ons weer deur die ­reservaat en Connor hou stil by ’n trop jagluiperds.

Anders as sy gestreepte verlangse ­nefie, is dié dier inheems tot die Vrystaat.

Maar sedert die vroeë 1900’s is daar geen vrylopende jagluiperds in dié provinsie oor nie. Die reservaat wil ook vir ander bedreigde wilde katte ’n hawe wees. 

Deur die eeue het die mens wilde diere amper met ’n bisarre passie doodgemaak, in so ’n mate dat ontelbare spesies uitgesterf het, sê Connor toe ons stilhou. “Dit is die belangrikste doel van groot reservate: om te keer dat daar eindelik geen spesies oor is nie.”

Wanneer ons by die hoofhek uitry, staan ’n klompie meerkatte kiertsregop langs die pad en staar ons aan. Asof hulle saamstem en hul koppe wil knik. 

Bykomende bronne: tigercanyon.com; citizen.co.za

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.