Hul “gryswolf/malemoet”-tefie het wel 2 kg in haar tyd in die natuur verloor, maar ná ’n besoek aan die veearts is vasgestel sy het siektes en ander kwale genadiglik vrygespring.

Shakira het op Saterdag 30 September 2017 die hasepad gekies toe twee troppe ape hulle in die egpaar se tuin in Berea, Durban, tuismaak. “Ek het geweet Shakira sal bang wees, maar sy was skoonveld toe ek haar gaan soek,” het Paula aan Huisgenoot vertel.

“Ons reun, Shaka, het my dadelik na die hek geneem waar sy oorgespring het, asof hy wou sê: ‘Kyk, mamma, hier is waar sy oorgespring het’.”

’n Sekuriteitswag het bevestig dat ’n hond soos blits in die pad afgehardloop het. Sedertdien het die egpaar die Dierebeskermingsvereniging in Durban, sowat 6 km van hul huis, twee keer per week besoek.

Dit is hier waar Philip eenkeer ’n wit hond gewaar het wat moontlik Shakira kon wees. “Dit was ’n Switserse herdershond, wat ons toe huis toe geneem het. Ek het haar Lila genoem,” vertel Paula.

Die besluit is ook aangewakker deur Shaka wat sy maat vreeslik gemis het. “Hy het baie stug geraak en lusteloos opgetree. Hy wou niks meer doen nie en het dae lank net gesit.”

Hoewel ietwat laat, was geluk aan hul kant toe hul seun, Ashley (41), onlangs uit Umhlanga Rocks vir hulle kom kuier en ’n wit hond op die Windsor Park-gholfbaan naby hul huis gewaar.

Ná talle oproepe van verskillende mense wat die hond gewaar het, het hulle eindelik besluit om die onsekerheid hok te slaan en ondersoek te gaan instel. 

“Daar was ’n groot afvoerpyp naby die 12de putjie waar die bestuurder, Lloyd Naidoo, verneem het Shakira moontlik wegkruip,” verduidelik Paula.

Sy het toe alleen by die ingang van die pyp gaan sit en saggies met Shakira begin praat. “Sy was baie sku. Gelukkig het ek voor ons gery het my arms met Shaka se reuk bedek deur dit oor sy lyf te vryf.”

Die woef het eindelik nader beweeg en dadelik aan haar arms geruik. “Sy was buite haarself van vreugde en ek kon haar eindelik streel.

“Hoewel sy steeds baie honger is, het sy heeltemal herstel en kom sy wonderlik met Lila en Shaka oor die weg,” sê Paula.

“Sy is nie eens meer bang vir die ape nie, want Lila jaag hulle weg. Sy hardloop selfs saam met Lila en het avontuurlustiger geword,” voeg sy by.

Maar gou gaan Shakira nie haar moeilike tyd in die natuur vergeet nie. “As ek met die honde in die tuin loop, bly Shakira altyd aan my sy. So asof sy vir my wil sê dat sy nie weer gaan wegraak nie.”