Van die wêreld se bekendstes het voor hul sjarme geswig. Die gholfspeler Tiger Woods, die aktrise Jennifer Aniston, noem maar op. En wie kan hulle verkwalik? Daardie sagte krulhare en liefdevolle donker oë is haas onweerstaanbaar.

Maar nou sê die man agter dié “ontwerpershonde” hy het die grootste fout van sy lewe begaan toe hy hulle aan die wêreld bekendgestel het. “Ek het Pandora se boks oopgemaak en ’n Frankenstein-monster geskep,” het hy aan die nuusprogram ABC News in Australië gesê.

Dis Wally Conron, teler van die labradoodle, wat so bieg. Hy was aanvanklik in sy noppies toe hy in 1989 sy labrador-poedel-kruis bekendstel. Maar toe begin dinge handuit ruk.

Die gewildheid van dié buitengewone hondsoort het ’n teel-tsoenami ontketen, soms deur geldgierige en onverantwoordelike telers.

“Die meeste het óf ’n geestesversteuring óf ’n gesondheidskwaal gehad,” sê Wally.

Als het 30 jaar gelede begin toe Wally die hoofteler was vir die koninklike gidshondvereniging in Australië. ’n Blinde vrou van Hawaii, Patricia Blum, se man was vir hondehare allergies, en sy was op soek na ’n gidshond waarmee hy kon saamleef.

Wally het geweet poedels se hare veroorsaak nie ’n allergiese reaksie nie. Drie jaar lank het hy probeer om ’n poedel as gidshond op te lei, maar hul geaardheid was nie reg nie.

Wat hy nodig gehad het, was ’n labrador met poedelhare. En so besluit hy om een te teel. Hy het ’n labradorteef, Brandy, aan ’n kollega, John Gosling, se poedelreun, Harley, voorgestel.

Nege weke later is die eerste werpsel gebore. Die drie hondjies se speeksel en pels is getoets, en wraggies, een van hulle was ’n geskikte kandidaat om by Patricia en haar man te woon.

Dié hondjie, Sultan, is toe deur Wally as ’n gidshond opgelei en na Hawaii gestuur. Maar Wally het gesukkel om vir Sultan se sibbes ook huise te kry. Niemand wou ’n kruis as gidshond hê nie.

Wally het toe hul reklameafdeling gevra om te help, en die oulike naam “labradoodle” is aan die hondjies gegee. En skielik het die versoeke ingestroom. “Maar ek het binne dae besef wat ek aangevang het,” vertel Wally.

Tog sê John hy’s nie spyt nie: “Ek dink dit het fantasties uitgewerk.”

Die labradoodle was toe boonop die inspirasie vir talle ander ongewone hondekruise. Hier’s ’n paar van die nuwe hondesoorte wat hul eienaars dalk vreugde gee, maar mense soos Wally bekommerd maak.

Cockapoo

Hierdie spanjoel-poedel-kruis is energiek en spelerig. Hulle is glo die eerste beplande hibriedhonde en het in die 1960’s hul verskyning in Amerika gemaak. Dié liefdevolle, slim hondjies verloor min hare en het teddiebeergesiggies.

Cockapoo
Cockapoo

Hulle is glo geskik vir gesinne met kinders en aard goed in woonstelle.

Die Mooimaak-televisieaanbieder, Clare Wiese-Wentzel, het onlangs een vir haar pa, die sakeman Christo Wiese, aangeskaf. Cockapoo’s word ook in Suid-Afrika geteel en kan jou tot R10 000 uit die sak jaag.

Puggle

’n Puggle is ’n kruis tussen ’n mopshond (pug) en ’n beagle en het in die laat 1980’s of vroeë ’90’s in Amerika die lig gesien. Puggles het gewoonlik ’n ligte taankleur- pels met gevoude ore en ’n swart snoet.

Puggle
Puggle

Hul gesiggies is vol karakter met effense plooie, wat dit kan laat lyk of hulle frons. Hulle het gewoonlik die groot, donker oë van ’n beagle, en hul snoet is so kort soos ’n mopshond s’n. Puggles aard maklik in woonstelle of op klein erwe en is liefdevolle skoothondjies.

Hulle kos tot R8 000, maar is nie sommer in Suid-Afrika beskikbaar nie.

Dalmaschund

Wat kry jy as jy ’n dalmasiër en ’n worshond kruis? ’n Liefdevolle middelslaghondjie met kolle en ’n spelerige geaardheid. Hulle is glo lojaal en volg hul eienaars soos ’n skaduwee.

Dalmaschund
Dalmaschund

Omdat dit ’n nuwe kruis is, is daar nog nie ’n standaard-dalmaschund nie en geen twee hondjies lyk dieselfde nie. Hulle word as goeie, lojale gesinshonde beskou. Die hondjies kan ongelukkig met onder meer heup- en rugprobleme sukkel omdat dié kwale algemeen by worshonde en dalmasiërs voorkom.

Die honde is skaars, ook in Suid-Afrika, en hul pryse wissel nog.

Cavoodle of Cavapoo

’n Poedel
’n Poedel

’n Cavoodle of cavapoo is ’n kruis tussen ’n miniatuurpoedel en ’n Cavalier King Charles-spanjoel. Dié hondjies, wat in die laat 1990’s in Australië geteel is, het sagte, golwende hare.

Cavoodles of cavapoos is woelig en spelerig maar nie aggressief nie. Aanhangers glo hulle is goeie speelmaats vir kinders. Hulle kos tot R5 000 elk, maar is nie sommer in Suid-Afrika te kry nie.

Chusky

Ook bekend as chowskies, chow-huskies en husky chows. Dis ’n kruis tussen ’n Chinese keeshond en ’n Siberiese poolhond. Chuskies het soms blou oë of een bruin en een blou oog.

Chusky
Chusky

Hul lang hare veroorsaak dat hulle moeilik in warm klimaatstreke aanpas. Hulle verloor baie hare in die hitte en hul pels het baie sorg nodig.

Dié honde het aktiewe eienaars nodig en aard nie in klein ruimtes nie. Hulle moet baie speel en oefen. Opleiding by ’n hondeskool is ideaal. Chuskies is skaars in Suid-Afrika, maar kan tot R7 000 oorsee kos.

Corman Shepherd

Dié hond is ’n kruis tussen ’n Duitse herdershond en ’n Walliese corgi. Hulle word die afgelope 15 jaar as “ontwerpershonde” geteel. Hulle het lang lyfies, kort bene en ’n lang stert.

Hul kop is breed, dikwels met spits ore, en hulle het ’n donker snoet en kykers. Hulle verloor baie hare vanweë hul swaar, dik pels.

Corman Shepherd
Corman Shepherd

Corman shepherds aard glo goed in woonstelle en is intelligent maar besitlik. As hulle nie genoeg aandag kry nie, kan hulle uit verveling dinge stukkend kou en baie blaf.

Dié jaloerse brakke hap glo maklik na mense of klein kinders, wat beteken hulle moet opgelei word. Hulle kos tot R11 000 in Amerika.

Neem liewer ’n hond aan

Meg Wilson, ’n woordvoerder van die Nasionale Raad van Dierebeskermingsverenigings, moedig mense aan om honde aan te neem pleks daarvan om sogenaamde ontwerpershonde te koop.

“DBV’s en diereskuilings is onder ongewenste diere toegegooi. As iemand wel ’n spesifieke honderas soek, moet hulle ’n verantwoordelike teler identifiseer.”

Dring aan om eers na die teelfasiliteit te gaan en die babahondjie en ouers te sien. Maak seker die ouers en babahondjie het geen oorerflike siektes of toestande soos swak heupe nie.

Dit kan veroorsaak dat jy later die dier sal moet laat uitsit.

Verantwoordelike telers verkoop net hondjies ouer as 12 weke. Die teler moet rekords hê van inentings, veeartsbesoeke en hul teelplan, met ander woorde hoeveel werpsels die teelpaar per jaar lewer. 

Foto's: GALLO IMAGES/GETTY IMAGES, GALLO IMAGES/ALAMY, GLOBALDOGBREEDS.COM, ABC RN FIONA PEPPER, INSTAGRAM/@RECORDEDD
Bronne: ABC.NET.AU, 101DOGBREEDS.COM, THEHAPPYPUPPYSITE.COM, ALLTHINGSDOGS.COM, PETGUIDE.COM, PURINA.COM, DOGSTER.COM, DOGGYPEDIA.ORG