Dié ongelooflike verhaal van ’n verlore ring en ’n onsterflike liefde het so ontvou: Shawn McKenna (toe 17), ’n student aan die Morse-hoërskool in Portland, het in 1973 sy klasring aan sy meisie, Debra Colby (toe 16), gegee kort voor hy sy studies by ’n kollege in Orono, Maine, sou begin.

Die ring was effe te groot vir Debra en sy het ’n toutjie om die ring gedraai om seker te maak dit bly aan haar vinger.

Maar Debra het later die die ring verloor. Sy het dit in ’n badkamer in ’n winkelsentrum vergeet toe sy die ring van haar vinger afgehaal het omdat sy nie die toutjie wou laat nat word nie. 

Weldra het sy besef die kosbare simbool van haar en Shawn se jong liefde is nie aan haar vinger nie. Maar tevergeefs. Die ring het verdwyn en niemand het na vore gekom om dit in te handig nie.

Vir Debra was dit ’n verskriklike slag, maar Shawn het hom nie te veel aan die verlies gesteur nie.

Hul skool- en kollegeliefde het gedy en in 1977 is die paartjie getroud. Hulle het 40 gelukkige jare gehad tot Shawn in 2017 in die ouderdom van 61 aan kanker gesterf het.

In ’n verrassende wending het die Fin Marko Saarinen (38) in Januarie vanjaar die kysring sowat 20 cm onder die grond in ’n woud met ’n metaalverklikker gevind.

Maar hoe het die ring in Finland beland? Alhoewel Debra en Shawn die land in die vroeë 1990’s besoek het, was hulle glad nie naby Kaarina, die klein dorpie in die suidweste van Finland waar dit gevind is nie.

En boonop het Debra die ring toe al meer as 20 jaar gelede in Amerika verloor.


Marko Saarinen. Foto: Facebook
Marko Saarinen. Foto: Facebook

Marko het heeltemal per abuis op dié ring afgekom: Hy is ’n metaalwerker wat dit geniet om na geskiedkundige artefakte in die woud naby Kaarina te soek.

Hy kry gewoonlik musketkoeëls of bottelproppies, maar toe hy dié ring van naderby beskou het, het hy besef dit het sentimentele waarde.

Daar was graveerwerk op die ring: Morse High School, 1973 en die voorletters “S.M.”

Marko het sonder weifeling ’n foto van die ring op die skool se Facebook-blad vir leerders van 1973 geplaas.

Sy boodskap was kort en kragtig: “Hallo van Finland. Ek was besig om metaal op te spoor diep in die woud en het die hoërskoolring gevind. Is dit julle klasring?”

En kort voor lank was daar ’n naam: Shawn MacKenna, die enigste seun met daardie voorletters in die klas van 1973.

Marko het dadelik die ring aan Debra gepos.

“Dit was ’n ongelooflike vonds. Die beste ooit,” het hy gesê.

En Debra?

Sy sien die vonds van die ring as ’n boodskap van haar oorlede man.

Volgens haar het Shawn nooit in toeval geglo nie, maar sy is oortuig dat die vonds van die ring sy manier is om ’n boodskap aan haar te stuur.

Die skool waarin hulle was, staan bekend as die skeepsbouers-hoërskool. Marko sélf is in die skeepsboubedryf.

Sy sê sy het ná Shawn se dood rigtingloos gevoel en dat die skielike verskyning van die ring ’n boodskap is: “Alles wat verlore is, sal weer gevind word.

“Hy vertel my ek moet myself regruk. Om aan te gaan met die res van my lewe.”

Bronne: desmondfuneralhomes.com, cnn.com, bangordailynews.com, is.fi, msn.com

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.