Rachel Winnard (35) ly aan Fybrodysplasia Ossificans Progressiva – ’n siekte wat maak dat haar spiere stadig besig is om in been te verander.

Rachel van Rochdale, Engeland, is nou afhanklik van haar man, Paul, vir voltydse sorg.

Rachel Winnard,
Rachel is dag en nag van haar man se sorg afhanklik. Die egpaar word ook deur hul familie bygestaan. Foto: Caters News Agency/MagazineFeatures.co.za

Sy vertel: "Dit het alles in my lewe beïnvloed. Ek kan niks meer vir myself doen nie, my man moet alles vir my doen.

"Dit voel of ek ’n las is vir almal om my en dit maak dit emosioneel vir my moeilik.

"Wanneer ek in die openbaar verskyn, staar mense heeltyd na my. Ek probeer vir hulle verduidelik wat besig is om te gebeur, maar hulle staar gewoonlik net.”

Rachel Winnard,
Rachel kan nie die huis verlaat nie, maar veg hard om moedig te bly. Foto: Caters News Agency/MagazineFeatures.co.za

Haar toestand het in 2012 versleg, en Rachel het nou beheer oor haar nek, albei haar arms en albei haar heupe verloor, en haar man moet haar met die trap op dra.

Die manier hoe haar spiere saamgesmelt het, veroorsaak dat sy nie meer kan loop nie. 

Rachel Winnard,
In haar jonger dae. Foto: Caters News Agency/MagazineFeatures.co.za

“Dit is eers op 12-jarige ouderdom by my gediagnoseer,” sê Rachel.

"Dit het my nie werklik beïnvloed voor 20-jarige ouderdom nie. Ek was taamlik gesond, selfs toe ek getroud is.

“Sowat sewe jaar gelede het my linkerheup so erg 'gesluit' dat ek met fisio- en hidroterapie moes begin, en ek moes sedertdien met ’n kruk loop; maar selfs dit is deesdae ’n stryd.

"Ek neem elke dag soos dit kom, maar die lewe kan moeilik wees. Ek kan nie my vriende se huise besoek nie, want my beweeglikheid is so swak dat ek glad nie kan uitgaan nie.

"My man sorg vir my, en ander familielede help ons uit.

"Ek het eintlik nie woorde nie. Ek weet nie wat ek sonder hulle sou gedoen het nie.

"Ek probeer om, sover moontlik, my humorsin te behou.”

Rachel Winnard,
Rachel het heeltydse sorg nodig aangesien sy nie meer sonder bystand veel kan beweeg nie. Foto: Caters News Agency/MagazineFeatures.co.za

Paul wat sedert hul troue in 2010 voltyds vir sy vrou sorg, meen hy is steeds lief vir Rachel al is haar siekte ’n massiewe uitdaging.

Sy woorde was: "Dit was verskriklik, dit was uiters moeilik. Ek kan nie beskryf hoe dit my ontsenu om te sien wat met my vrou gebeur nie.

"Ons is lief vir mekaar en ons wil bymekaar wees, maar ons kan niks meer doen nie, ons is basies aan die huis gebonde.

Rachel Winnard,
Paul en Rachel is in 2010 getroud. Foto: Caters News Agency/MagazineFeatures.co.za

"Ons het ’n fantastiese sosiale lewe gehad, ons het saam met vriende uitgegaan vir etes en drankies. Nou is dit wat ons kan doen, baie beperk.

"Sy het drasties verander sedert ons getroud is, sy verswak heeltyd.

"Sy het 24/7-sorg nodig aangesien sy nie meer sonder hulp met die trap kan opgaan nie.

"Sy het ’n sterk wil, maar sy word erg gefrustreerd deur dit wat besig is om te gebeur.”

Rachel Winnard,
Haar toestand het in 2012 verswak. Foto: Caters News Agency/MagazineFeatures.co.za

Rachel is tans besig om R367,290 op GoFundMe in te samel vir die installering van ’n hyser wat haar tot op die onderste verdieping sal kry sonder dat sy die trap hoef te gebruik.

Sy het opgemerk: "As ek die geld vir die hyser op GoFundMe kan bymekaarmaak, sal dit dinge soveel makliker maak vir my.

"Paul sal my nie meer hoef te dra nie, en ek sal kan op- en afgaan soos ek wil.

Rachel Winnard,
Ten spyte van die uitdagings met Rachel se toestand, bly hulle baie lief vir mekaar. Foto: Caters News Agency/MagazineFeatures.co.za

"Dis baie geld, maar dit sal ’n yslike verskil aan my lewe maak.