Ons soek jou vlooie. Vang asseblief die pestilensies en stuur dit vir ons.

Dié vreemde versoek in koerante en oor ’n Kaapse radiostasie het onlangs ’n paar wenkbroue in ongeloof laat lig, maar vir ’n Kaapse bewaringsekoloog is dit ’n saak van erns. Van lewe en dood, om die waarheid te sê.

Die grillerige gediertes het immers in die 14de eeu die bakterie versprei wat die Swart Dood-pandemie veroorsaak het en so die helfte van Europa se bevolking uitgewis.

Vandag nog word dié bloedsuiers en draers van bakterieë wat mens sowel as troeteldier kan siek maak, verbind met ernstige toestande soos tifuskoors, katkrapkoors en selfs nog plek-plek builepes.

Maar alle vlooie is nie eenders nie en die laaste omvattende studie oor Suid-­Afrika se vlooie is dekades gelede, in die 1970’s, uitgevoer. Daarom doen dr. Luther van der Mescht nou navorsing oor die piepklein pestilensies in ons land, en dis hoekom hy die vlooie op ons honde en katte nodig het.

Waarom 'n studie oor vlooie?

Toe ons Luther (32) in ’n laboratorium by die Universiteit Stellenbosch (US) besoek, is dit duidelik hy vind dié verfoei­like klein insekte oneindig fassinerend.

“Daar is ’n verstommende 2 500 vlooi­spesies wêreldwyd, waarvan sowat 100 in Suid-Afrika voorkom,” vertel hy.

Die vlooigogga het Luther gebyt terwyl hy teen die einde van 2008 op soek was na ’n projek vir sy meestersgraad. Hy sê sy belangstelling is geprikkel deur ’n boek wat prof. Sonja Matthee, ’n parasitoloog by Maties, hom toe gegee het.

Hy wys na die groen boek langs hom, Siphonaptera of Southern Africa: Handbook for the Identification of Fleas, deur Joyce Segerman, wat op ’n manier Suid-­Afrika se “vlooibybel” is.

Vlooie behoort tot die insekorde Siphonaptera, oftewel “suiende vlerkloses”.

“Joyce, ’n wetenskaplike wat by die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes in Johannesburg gewerk het, het al die jare net vlooie bestudeer.”

Haar gesaghebbende boek het hom gefassineer.

“Ek het altyd gedink vlooie lyk almal dieselfde. Maar toe ontdek ek daar’s honderde spesies en hul morfologie (die bou en vorm) verskil soveel.”

Hy wys opgewonde na een van vier vlooibeelde op sy rekenaarskerm.

“Daar’s byvoorbeeld ’n vlermuisvlooi. Omdat hy in grotte voorkom, het hy glad nie oë nie.”

Hy was so geïnspireer deur Joyce se boek dat hy toe as deel van sy meestersgraadstudie Johannesburg toe gevlieg het om ’n paar weke lank haar kursus oor die montering en identifisering van vlooie te gaan bywoon. Hy vertel die montering verg baie tyd: Dit duur twee volle dae om een vlooi vir die mikro­skoop voor te berei.

“Jy sit die vlooi deur ’n lang dehidrasieproses waar jy ver­skillende etanolkonsentrasies gebruik. Dan laat lê jy dit in sederhoutolie en preserveer dit in kanadabalsem.”

Eers dan kan jy dit op ’n glasskyfie onder ’n mikroskoop bestudeer. Luther trek ’n katalogusboksie met talle glasskyfies nader.

“Hier’s nou ’n kosbare versameling met ­omtrent al die vlooi­spesies wat sover bekend in Suid-Afrika voorkom. Kyk, van dié monsters kom uit die 1960’s.”

Ja, glo hy, dit het tyd geword om 21ste- eeuse vlooie te soek.

Natdat hy in 2010 sy meestersgraad in bewarings­parasitologie en in 2015 sy doktorsgraad in bewarings­ekologie, albei aan die US, behaal het, het hy ook twee jaar lank in Israel by prof. Boris Krasnov, “die wêreldkenner” van vlooie, gaan kers opsteek op ’n afgeleë kampus in die Negevwoestyn, ’n satellietkampus van die Ben Gurion-universiteit.

“Hulle het ’n unieke laboratorium waar hulle al die wilde muise en rotte teel wat in die woestyn voorkom, asook hul ver­skillende vlooie,” verduidelik Luther.

Terug in Suid-Afrika fokus hy nou spesifiek op die katvlooi, Ctenocephalides felis. Maar die naam is misleidend, want dis die vlooisoort wat wêreldwyd die al­gemeenste op katte sowel as honde en ander troeteldiere voorkom.

“Ons wil vasstel hoeveel verskillende tipes katvlooie werklik in Suid-­Afrika is. Ons weet nie watter spesie waar voorkom en in watter getalle nie,” vertel Luther oor sy navorsing, wat deur die Claude Leon-stigting gefinansier word.

Sommige vlooie kan 20-30 cm ver spring. Foto: Gall
Sommige vlooie kan 20-30 cm ver spring. Foto: Gallo Images/Getty Images

Dié nuwe inligting kan moontlik help met doeltreffender bestrydingsprogramme, want van die katvlooie het blykbaar “ ’n weerstand begin ontwikkel teen baie van die chemikalieë wat gebruik word”.

Hy hoop sy navorsing kan lei tot beter vlooiteenmiddels en die beheer van vlooiverwante toestande en kwale.

“Ontwikkelaars fokus meestal net op een spesie, Ctenocephalides felis felis, maar wat van al die ander? As hul biologie verskil, sal ander, moontlik doeltreffender, produkte ook teen hulle gebruik kan word.”

Hy wil verder meer te wete kom oor moontlike veranderings onder vlooi­soorte, want verskillende soorte het vermoedelik gepaar en tot nuwe hibriede gelei. Vlooie se kort lewensiklus en vinnige evolusionêre ontwikkeling bemoeilik hul uitkenning, sê Luther.

Katvlooie is boonop nie kieskeurig oor wat (of wie) hulle byt nie; daarom kan hulle siektes en plae vinnig laat versprei.

“Hulle spring van wilde diere na byvoorbeeld honde of katte en daarvandaan soms na mense,” verduidelik hy.

Hy wys na ’n stewige lys wat bo sy rekenaar­skerm teen die muur opgeplak is – Suid-Afrikaanse dierespesies waarop katvlooie al gevind is.

Navorsers is ook bekommerd dat klimaats- en habitatsverandering vlooie plek-plek ’n veel groter probleem kan laat raak.

“Vlooie hou dikwels van ’n klammer klimaat, hoewel dit kan wissel tussen spesies,” sê Luther.

Daarby is katvlooie aanpasbaar, wat dit nog moeiliker maak om hulle te beveg.

“Hulle kan hul lewensiklus binne twee dae voltooi, of oor 170 dae terwyl hulle op die regte toestande wag.”

Luther en sy entomoloogvrou, Aileen Thompson (26), het self tuis op Klapmuts twee pragtige bont katte.

Die doktor maan dat teenmiddels net behoorlik werk as jy dit gereeld, soos voorgeskryf, aanwend. En dan, sê hy, “moet ’n mens ook alle stadia van die lewensiklus beheer, byvoorbeeld gereeld stofsuig – matte, banke, hoeke en donker areas in die huis – en die stofsuier dadelik op ’n veilige plek leegmaak!”

Verstommende vlooifeite

Almal ken die waansinnige gejeuk van ’n vlooibyt, maar die bewaringsekoloog dr. Luther van der Mescht deel ’n paar minder bekende vlooibrokkies.

  • Hoekom jeuk die bytplek so? Die pes se speeksel bevat ’n teenstollingstof wat bloedvloei aanhelp, en dié stof veroorsaak inflammasie.
  • Die swart spikkels op gasheerdiere (dis die troeteldier wat gebyt is) is droë bloed – vlooi-uitskeidings. Die vlooilarwes leef daarvan, benewens dat hulle mekaar vreet.
  • ’n Vlooi is ’n ding wat spring, en hulle span hul bene soos ’n valskerm in. Sommige vlooie kan 20-30 cm ver spring.
  • Met katvlooie wat net 1-3 mm lank is, kan ’n vlooisprong volgens sekere berekenings die ekwivalent wees van ’n mens wat meer as 250 m ver spring, meer as twee sportvelde.
  • Katvlooie kan tot 50 eiers per dag lê. Hulle lê hul eiers en paar ook net op hul gasheer, maar van die eiers val af.
  • Daar is wel iets soos ’n mensvlooi (Pulex irritans), veral in stedelike gebiede, maar dit kan ook op ander gasheerspesies voorkom.
  • Terwyl vlooie dikwels van ’n klam klimaat hou wat nie te koud is nie, kom vlooispesies voor in van die woestyn tot die Suidpool, waar die Antarktiese vlooi (Glaciopsyllus antarcticus) temperature ver onder vriespunt kan weerstaan.

So vang jy 'n vlooi

Die bewaringsekoloog dr. Luther van der Mescht het eers sy vlooimonsters by dierewelsynorganisasies bymekaargemaak, maar nou stuur talle veeartse ook vir hom studiemateriaal.

Om so ’n groot verskeidenheid moontlik in die hande te kry en ook burgerlike wetenskap te bevorder, het hy onlangs besluit om privaat skenkings by die publiek te vra.

Luther, ’n bewaringsekoloog, en sy entomoloogvrou,
Luther, ’n bewaringsekoloog, en sy entomoloogvrou, Aileen, fynkam by ’n dierewelsynorganisasie’n katjie vir vlooie. Foto: Engela Duvenhage

Hoe gaan jy te werk as jy hom wil bystaan?

“Jy soek vlooie deur oor die troeteldier se pels te vryf en, belangrik, ook daaroor te blaas. Want vlooie word deur beweging en koolsuurgas aangetrek,” sê hy.

“As jy een kry, is die maklikste om hom met die wysvinger en duim te vang.”

En moenie die outjie probeer vermorsel as jy hom eers het nie, pleit hy. “Sit hom net in ’n houertjie met etanol, wat jy by enige apteek kan kry.”

Dit sal ta sag laat heengaan en Luther verseker van ’n monster wat hy deeglik mikroskopies en geneties kan ontleed.

  • Vir nog inligting, ook oor waarheen jy skenkings kan stuur, kan jy hom by luthervdm@sun.ac.za e-pos.
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.