’n Bandopname tussen die privaat speurder Chris Saunders en die moordenaar Xander Bylsma (21) is in Maart 2019 te midde van dié opspraakwekkende moordverhoor tydens ’n binneverhoor in die hooggeregshof in Mmabatho gespeel.

Dié bandopname het die staat se saak versterk en was ’n sleutelbewysstuk wat op Vrydag 7 Augustus tot sy dubbele lewenslange tronkstraf gelei het.

Die privaatspeurder Chris Saunders
Die privaatspeurder Chris Saunders. Foto: Huisgenoot

Hoewel Conrad Bester, Xander se regsverteenwoordiger, aan Huisgenoot bevestig het dat hulle instruksie gekry het om namens hul kliënt appèl teen sy skuldigbevinding én sy vonnis aan te teken het, is dié verdoemende bewysstuk, wat teen hom in sy verhoor aanvaar is, een wat hy moeilik sal kan weerlê.

Die bandopname is deur die staat as bewysstuk ingehandig nadat Xander aangedui het die privaat speurder het hom voorgesê om aan die polisie te erken dat hy die moordenaar is.

Regter Ronald Hendricks het dit later as ’n bewysstuk teen Xander aanvaar dat hy inderdaad vrywilliglik erken het dat hy die een was wat sy eksmeisie Sharnelle Hough (17) en haar boesemvriendin, Marna Engelbrecht (16), op Saterdag 26 Mei 2018 in die meisieskoshuis van die Hoërskool Stella in Noordwes vermoor het.

Die bandopname

Chris Saunders, van Crime Busters Security op Hartswater, is Saterdagoggend op 26 Mei 2018 deur Richard Hobson, toe die skool se beheerliggaamvoorsitter, na die moordtoneel ontbied.

Sharnelle, oftewel Lallie soos haar vriende en familie haar genoem het, se lyk is vroeër daardie oggend aangetref waar sy aan die trapreling aan ’n tou gehang het.

Marna se lyk was onder naby die ingang by die badkamer. Sy het teen die bad op die badkamer vloer gelê.

Daar is dadelik vermoed dat Xander, Sharnelle se ekskêrel, betrokke kon wees omdat hy nie die verbrokkeling van sy en Sharnelle se verhouding kon aanvaar nie. Sharnelle het toe reeds ’n ander vriend, Brandon Victor, ’n matriekleerder aan dieselfde skool begin sien.

Chris het kort ná sy besoek aan die toneel daardie middag op Xander se pa, Monté, se plaas, in die naburige Louwna-distrik aangekom. Hier het hy Xander in ’n toestand aangetref terwyl hy besig was om op te gooi. Dit is hier waar Chris sy bandopnemer, aanvanklik net vir sy eie rekord, aanskakel het.

Die bandopname is van swak gehalte en nie alles wat gesê word is altyd hoorbaar nie.

Huisgenoot publiseer ’n verkorte weergawe van die 20-blad transkripsie van die gesprek, wat by die hof ingedien en as bewysstuk aanvaar is.

NOTA

Let wel dat Pietie Wentzel, Xander se vriend wat in die bandopname genoem word, geensins in enige stadium as verdagte beskou is nie.

Chris Saunders kom Saterdagmiddag op 26 Mei 2018 op Monté Bylsma, Xander se plaas in die Louwna-distrik naby Vryburg, aan. Monté en Stefaans Engelbrecht, Marna se pa, is reeds in ’n hewige woordewisseling betrokke. Xander sit verwese by hulle met braaksel langs hom. Dit is die eerste keer dat Chris die mans ontmoet.

CHRIS: Hallo, ek is Chris.
MONTE: Monté.
CHRIS: Aangenaam . . . Nou hoe lyk dit? Hoekom lyk hy so? Die kind?
MONTE: Ek weet nie. (Praat tussenin met ’n plaaswerker)
CHRIS: Het jy met hom gepraat?
STEFAANS: Ek wil nie praat nie, Chris!
MONTE: Nee, ons het nog nie gepraat nie.
STEFAANS: Ek wil nie praat nie, Chris!
CHRIS: Is julle saam? (Hy verwys na Stefaans en Monté)
STEFAANS: Nee, nee, ek is alleen. Dis my kind wat dood is!
CHRIS: Nee, ek verstaan. Nee, ek verstaan.
STEFAANS: Nou ja toe.
CHRIS: Maar, maar.
STEFAANS: Dis sy pa, dis sy pa!
CHRIS: Dis hoekom ek net by hom ook wil hoor. Dis reg, Stefaans.
STEFAANS: Okay, dankie.
CHRIS: Ek is jammer. Kan ons bietjie gesels.
MONTE: Ons kan gesels.
CHRIS: Sê vir my hoekom, hoekom, wat is fout met die kind as hy so lyk.
MONTE: Nou hoe moet ek weet, seker die spanning. (Praat tussenin met nog iemand, onhoorbaar)
CHRIS: Die spanning?
MONTE: Ja.
CHRIS: Mag ek vra. Het hy enigiets gesê?
MONTE: Niks. Hy het vanoggend hier aangekom, want ons was besig. Toe ek hom hier by die hek kry met die voertuig, die voorste hek, toe sê hy vir my Lallie is oorlede, is dood, selfmoord gepleeg.
CHRIS: Ja.
MONTE: Is julle net hierso om te beskuldig?
CHRIS: Nee, ons sal nie beskuldig nie.
MONTE: Nee, want dit is wat nou hier gebeur het. (Onhoorbaar)
CHRIS: Ja nee.
MONTE: Ja nee, want die dinges is nou hier rondgeswaai. As hy moet saamgaan, ry ek saam. Maar hy ry saam met jóú.
CHRIS: Ja, hy kan saam met my ry.
MONTE: Dan gaan ons dorp toe, dan gaan ons polisie toe. Dan handel ons hierdie dinge af.
CHRIS: Ek sal graag bietjie met hom wou gesels het.
MONTE: Jy kan, jy kan. Ek het nie ’n pyn daarmee nie.
Chris vra vir Stefaans ook dat hy eers met Xander gesels.
CHRIS: Xander, Xander. Is jy oraait? Mmm? Kan jy maar met my gesels? Xander? Kan jy met my gesels?

Monté vra hy moet eers ’n draai om die spilpunt gaan ry.

CHRIS: Xander, kan jy met my gesels?
XANDER: Ja, oom.
CHRIS: Wat het gebeur vanoggend? Wat het gebeur? Vertel vir my die waarheid. Asseblief. Sê vir my, ou seun.
XANDER: Ek het wakker geword, oom.
CHRIS: Ja . . .
XANDER: Toe ry ek hiernatoe. Toe ek by oom Stafford Cross stop om ’n sleutel op te tel, toe bel Limari Hough (Sharnelle se niggie) my en sê Lallie en Marna het selfmoord gepleeg.
CHRIS: Ja en toe het jy? Wat het jy met dit te doen, Xander? Wat het jy met die gedoen? Het jy dit gedoen?
XANDER: Nee, oom.
CHRIS: Sy kon nie haarself gehang het nie. Stefaans, wees rustig hoor.
STEFAANS: Wie werk met hierdie goed?
CHRIS: Ja, nee. Stefaans, wees rustig. Nee, nee, nee. Stefaans, luister asseblief.
STEFAANS: Nee, ek gaan k*k maak! Ek maak hom vrek! My kind is dood!

(Gesprek tussen Stefaans en Chris oor Pietie Wentzel, ’n vriend by wie Xander die vorige aand gekuier het. Stefaans praat tussenin en is steeds woedend.)

CHRIS: Laat hy saam met my ry. Stefaans, ek gaan hom optel. Los hom nou asseblief. Ons gaan die hele saak deurmekaar maak. Ons gaan k*k kry by die SAP, asseblief.
CHRIS: Ek verstaan, Stefaans. Kom ons gaan. Kom ons gaan.

(Stefaans en Chris praat oor Chris se betaling. Stefaans sê hy sal betaal. Hy wil Xander steeds te lyf gaan.)

CHRIS: (Aan Xander) Kom, is jy oraait? Hoekom lyk jy soos jy lyk? Hoekom lyk jy so?
XANDER: Dis vir my baie stres, oom.
CHRIS: Is dit baie stres?
XANDER: Ja, oom.
CHRIS: Wat het julle met die meisiekinders gedoen? Vertel my.
XANDER: Ek belowe oom, ons het niks met die meisiekinders gedoen nie. Oom kan nou my foon vat, oom, en vir Pietie Wentzel bel. Hy is ’n baie goeie mens. Hy sal nooit sy hand lig vir ’n vroumens nie.
CHRIS: Nee, maar hierdie ding, hierdie, iets het gebeur vanoggend. Iets het gebeur daar, Xander. Jy sal moet met my praat. Ek wil nie hê hierdie ou (Stefaans) moet so met jou pa praat nie. Is jy oraait?
XANDER: Ek wil net gou badkamer toe gaan, oom. Ek wil ’n skoon hemp aantrek.
CHRIS: Ou seun, ek wil nie hê jy moet nou net wegraak nie. Jy verstaan? Want dan gaan hierdie ou . . .
XANDER: Oom kan saam met my kom.
CHRIS: Kom, kom ons gaan badkamer toe. Waar moet ons gaan? Waar moet ons om loop? So om?
XANDER: Hierso, oom.
CHRIS: Jy weet, daar is nou mense wat gesê het jy was vanoggend op pad. Maar ons gaan nou-nou praat as ek en jy so ry.
XANDER: Dis reg oom.
CHRIS: Kom ons gaan trek vir jou ’n hemp aan.
CHRIS: Waar’s jou ma?
XANDER: My ma bly in Vryburg, oom.
CHRIS: O, o. Dis net jou pa hierso.
XANDER: Askies, oom?
CHRIS: Dis net jou pa hierso?
XANDER: Ja, en my stiefma.
CHRIS: Okay, gaan jy reg wees?
XANDER: Ja, oom, ek wil net gou badkamer toe gaan. Ek belowe oom ek sal nêrens heen gaan nie.
CHRIS: Asseblief, Xander, laat ons . . . Asseblief, ou seun.

(Monté kom aangestap. Hulle praat oor die voorval met Stefaans en Stefaans wat hulle glo gedreig het met ’n vuurwapen.)

CHRIS: Hy sê hy moet net gou ’n hemp gaan aantrek en gesig was, so hy is net in die badkamer.
MONTE: (Onhoorbaar.) Dit het amper op ’n skietgeveg uitgeloop, Chris. Ek sê vir jou reguit. As Xander nie hier was vandag nie, was hier ’n skietgeveg.
CHRIS: Ja, ja.
MONTE: Jy kom nie hier en f***** beskuldig almal hier en swaai: ‘Ek gaan almal doodskiet nie.’ Daar is nie ‘n f***** manier nie.
CHRIS: Nee, jy kan dit nie doen nie. Ek loop nie eens met ’n wapen nie.
CHRIS: Ja, jy weet ek het gekom om met hom te gesels.
MONTE: Ja, ja. Ek verstaan 100%.
CHRIS: Hy gaan saam met my ry. Ek gaan hom nie loslaat dat Stefaans die outjie rondslaan nie. Ek wil nie dit hê nie, glad nie.
MONTE: Nee, nee, ek sê, Chris, en ek het dit vir Stefaans ook gesê. Ek ken hom nie, ek het vir hom gesê: ‘Laat, die gereg sy gang gaan.’ Toe sê hy: ‘Hier is die regter,’ en swaai die pistool hier rond. Wie se senuwees kan dit hou?
CHRIS: Definitief. Kom ons kyk watse kant toe. Ek hoop nie jou seun is betrokke nie, maar sy naam is genoem.
MONTE: Ek weet. Ek weet dit, want ek het vanoggend vir hom gevra: Wanneer laas het hy kontak met Lallie gehad? Toe sê hy: ‘Pa, sy het my Donderdag laas gebel.’

(Chris en Monté praat oor tye van WhatsApps wat in die oggendure van Sharnelle se foon gestuur is en weer oor Xander se naam wat genoem is. Monté noem hy verstaan alles wat nou moet gebeur. Hy was self 11 jaar lank in die polisie.)

CHRIS: Ja, mens kan nie net beskuldigings links en regs rondgooi nie. Dit werk mos nie so nie. Ek hoop nou net nie Xander klim uit daai ruit en maak dit moeilik vir homself nie.
MONTE: Nee, hy sal nie.

(Chris en Monté praat oor Xander se foon. Chris dui aan hy gaan nie nou op die foon ingaan nie.

CHRIS: Laat ek eerder self met Xander praat. Ek is jammer hy (Stefaans) was voor my hier. Hy was nie veronderstel om te kom nie.
MONTE: Kom ek sê vir jou wanneer het ek eers gehoor van sy dogter. Halfeen vanmiddag.
CHRIS: Halfeen, ja.
MONTE: Vanoggend toe Xander hier aankom van sy ma af, toe sê hy net: ‘Pa, Lallie is dood . . .’
CHRIS: Lallie is oorlede?
MONTE: Toe sien ek net hy is in ’n f***** toestand en ek vra hom wat de hel gaan nou aan. Toe sê hy vir my nee, sy het selfmoord gepleeg. Want ek het nog hier buite met hom gestaan. Hy het daar gesit.
CHRIS: Die groot ding is: een lyk na selfmoord. Kan ons sê, gehang. Die ander ene is nie gehang nie. Sy sit met ’n handsak se handvastel wat twee keer om haar nek gedraai is. So sy kon haar nie gehang het nie. En haar hare het in die gang gelê. So waar sy (Sharnelle) gehang het, het die ander se hare in die gang gelê. So, ek was onder die indruk, as ek die toneel so kyk, sy het weggehardloop. Toe is sy in die badkamer, so in ’n hoekie langs die bad het sy gelê. So sy het nie haarself gehang nie.
MONTE: Nee, ek het so verstaan.
CHRIS: Dis eintlik wat my pla.
MONTE: Ek het verstaan daar is dinge wat maak dat dit nie selfmoord is nie.
CHRIS: Sal Xander vriende hê wat tot hierdie tipe ding in staat is, wat saam met hom kon wees.
MONTE: Nee.
CHRIS: Hy het nie vriende nie?
MONTE: Nee.
CHRIS: En blykbaar het hy nie gisteraand by die huis geslaap nie.
MONTE: Nee, ook nie. Hy is gisteraand halfsewe hier by my weg. Ons het opleiding gegee. Ja, toe ons vanoggend hier uit is weer, het ek gesê hy moet die sleutels by Stafford-hulle gaan optel. (Onhoorbaar). Vanoggend toe ek hier uitry by die hek toe kry ek hom en sien in watter toestand sy kop (onhoorbaar). Toe sê ek: Nee, jy ry saam.

(Chris verduidelik weer hulle gaan polisiestasie toe net om te gesels en dat Xander veilig sal wees.)

CHRIS: Ons sal met hom daar verder gesels. Miskien praat hy met my in die voertuig nou.
MONTE: Ja.
CHRIS: ‘n Mens weet nooit nie.

(Chris is weer bekommerd Xander het dalk die vlug geslaan omdat hy so lank neem. Monté verseker hom weer hy sal nie. Daar is diefwering in die badkamer. Monté gaan roep hom.)

MONTE: Hoe ek verstaan is dat Stefaans hom (Xander) positief verbind het.

(Monté en Chris praat weer oor Stefaans, wat hulle op die plaas kom dreig het om hulle te skiet.)

CHRIS: Nee, hy kan nie dit doen nie. Ons sal nie ’n onskuldige man laat wegsit nie. Ons wil net gesels. Ons sal wel agter die kap van die byl kom, glo ek.
MONTE: As dit wel so is, dan is dit so.
CHRIS: Ja.
MONTE: As dit nie so is nie.
CHRIS: Dan is dit nie so nie.
MONTE: Dan is dit nie so nie.
CHRIS: Is so. Daar is vingerafdrukke en alles geneem so hulle behoort iets op te tel, want daar is redelik vingerafdrukke gelos. Veral in die badkamer.
MONTE: Jinne tog, dis so. Mens het nie hierdie stront nodig nie.
CHRIS: Dit is so.
MONTE: Sê vir my, Chris, is dit nodig vir my om ’n prokureur teenwoordig te hê daar of hoe moet ek maak?
CHRIS: Dit is eintlik jou reg om ’n prokureur daar te hê.

(Hulle praat voort oor ’n prokureur.)

CHRIS: Maar hoe voel jy as jy so na jou seun kyk? Kyk, jy weet, ek het ook hierdie ouderdom seuns.
MONTE: Kyk, toe Stefaans hier aangery kom, was ons reeds besig om te praat. Toe sê Xander vir my: ’Daar is baie dinge wat hy nog nooit vir Lallie gesê het nie, wat hy gevoel het hy kon regmaak. Hulle het seker twee maande terug, het hulle . . .
CHRIS: Opgebreek ja.
MONTE: Ja.
CHRIS: Maar die persoon het beweer Xander is op pad soontoe. Dis nou vanoggend. Hy is op pad soontoe om te kom moeilikheid maak daar. Maar ja, vanoggend is die twee meisies toe nou . . . Ja. Sjoe, dis nie te sê hy is skuldig nie, laat ons eers sien. Ek glo nie ons moet te vinnig spring nie. Hy bly onder my beheer tot daar by die polisiestasie. Stefaans sal nie naby daai ou kan kom nie. Hulle sal hom toesluit as hy dit doen. ’n Mens kan nie so maak nie.
MONTE: Ja.
CHRIS: (Met verwysing na Stefaans) Hy is ’n pa en ek voel vir sy verlies.
MONTE: Nee, ek verstaan. Ek verstaan 100%.
CHRIS: Maar hoe sê jy vir ’n pa wat so is. Jy kan hom nie stil kry nie.

(Hulle praat voort oor Stefaans se dreigemente. Xander kom uit die badkamer gestap.)

CHRIS: Is jy oraait, Xander?

(Chris en Xander klim in sy bakkie om polisiekantoor toe te ry. Monté beduie hom na die nabye vulstasie en sê hy kom agterna. Chris vra Xander om sy foon af te sit. Xander wil weer hê hulle moet sy vriend Pietie Wentzel bel wat Xander die vorige aand gesien het.)

CHRIS: Was Pietie die heelnag saam met jou?
XANDER: Ek het hom so 22:15 by die huis gaan aflaai, oom.
CHRIS Gisteraand of vanoggend?
XANDER: Gisteraand, oom.
CHRIS: Okay, was jy enigsins op pad na die koshuis toe vanoggend?
XANDER: Nee, oom.
CHRIS: Het jy nie vir Lallie laat weet dat jy kom moeilikheid maak by die koshuis nie?
XANDER: Nee, oom. Ek belowe.
CHRIS: Want daar is nou iemand wat so praat wat sê jy het so gesê.
XANDER: Nee, oom.

(Chris pols hom steeds dat hy so dreigement na Sharnelle se foon gemaak het.)

CHRIS: Hoe lyk jou hande? Het jy nie plekke op jou hande waar jy enigsins seer of iets het nie?

(Hulle sien Xander se stiefma op pad uit. Xander vertel sy stiefma is kwaai.)

CHRIS: Jy sê jy was glad nie daar nie, nè? Met watse voertuig het jy gery vanoggend.
XANDER: Die Hilux, oom.
CHRIS: Waar was jy gisteraand ná jy jou vriend afgelaai het?
XANDER: Ek was eers na my een vriend toe.
CHRIS: Wat is jou vriend se naam?
XANDER: Jacques Viljoen, oom.
CHRIS: Okay, waar bly hy?

(Xander beduie in fyn detail waar sy vriend Jacques in Vryburg bly).

XANDER: Toe is ek na Pietie toe, oom.
CHRIS: Toe is jy weer terug na (Pietie) toe?
XANDER: Nee, ek was eers by Jacques gewees, oom. Toe gaan ek van Jacques na Pietie toe.
CHRIS: Waar bly Pietie?
XANDER: In Vryburg, oom.

(Hy verduidelik weer in detail waar Pietie bly)

CHRIS: Toe gaan slaap jy daar oor?
XANDER: Nee

CHRIS: Tot hoe laat?
XANDER: 22:15 oom. Ek het seker 22:20 daar gery oom.
CHRIS: Okay, en daarvan af?
XANDER: Toe gaan koop ek eers ’n pie, oom.
CHRIS: Okay, toe hoe laat was dit toe omtrent? So halfelf? Elfuur?
XANDER: Nee, seker 25 of 20 voor 11 se kant.
CHRIS: Okay, en toe.
XANDER: Toe gaan rook ek eers by die veldjie oom. Van daar af is ek huis toe.
CHRIS: Huis toe? Watter huis toe?
XANDER: Na my ma toe, oom.
CHRIS: Na jou ma toe?
XANDER: Ja, oom.
CHRIS: Hoe laat het jy by jou ma aangekom? Het jou ma jou gesien inkom?
XANDER: Nee, ek het eers so rukkie daar by die hek gestaan soos wat ek altyd staan. My ma het daar gesit daar vir ’n rukkie en dan rook ek my rokies daar en um, toe die lorrie uitkom, toe besluit ek maar ek gaan ingaan.
CHRIS: Toe die lorrie uitkom?
XANDER: Ja.
CHRIS: Watse lorrie?
XANDER: ’n Volvo, oom.
CHRIS: Sê weer?
XANDER: ’n Volvo, oom
CHRIS: ’n Volvo. So toe die lorrie uitkom, was dit toe al oggend?
XANDER: Ja, oom.
CHRIS: Hoe laat?
XANDER: Vieruur se kant, oom.
CHRIS: So vieruur, toe gaan jy in. Toe wie sien jou daai tyd dat jy ingaan?
XANDER: My ma en my stiefpa.

(Op die grondpad soos hulle uitgery kom, kom ’n ander voertuig van voor. Dit is een van hul bure. ’n Gesprek tussen die buurman en Chris volg. Die buurman vertel hy het Stefaans gesien en sy broer is saam met hom. Die buurman vertel Stefaans is baie emosioneel.)

BUURMAN: Stefaans sê net die respek wat hy vir Monté het, het hom teruggehou.
CHRIS: Ek verstaan hoe hy voel.
BUURMAN: Hy is stukkend en hy wil nou eer bewys aan sy kant.
CHRIS: Dit is so, maar dan moet ons dit nou op die regte manier doen, want as ons dit volgens die wet en bly ’n ou ook tussen die lyne.

(Die buurman vertel nadat Stefaans by die toneel weg is, was hy by sy broer. Hulle het nog sit en praat toe iemand Stefaans gebel het met inligting, toe jaag hy daar weg in sy bakkie. Chris verduidelik dis hoekom hy saam met Xander ry. Hy vra hom om ’n sekere polisieman te bel.)

CHRIS: Ek wonder . . . Gebruik Xander iets?
BUURMAN: Ek weet nie, maar hy lyk nie vir my vars nie. Die reaksies is heel vreemd. Ek weet nie is dit skok nie.

(Hulle ruil nommers uit. Die buurman vra oor die ander seuns by wie Xander glo was. Chris dui aan hy wil eers later gaan kyk of Xander was waar hy sê hy was.)

BUURMAN: Maar sy optrede is vreemd.
CHRIS: Is dit? Julle ken hom nie so nie?
BUURMAN: Nee, nee. Ek weet nie is dit skok nie.

(Chris is terug in die bakkie en vra weer vir Xander die buurman se naam. ’n Lang stilte volg. Chris bel die skool se beheerliggaamvoorsitter, Richard Hobson, en vertel ook vir hom van die situasie wat op die plaas met Stefaans afgespeel het. Hy sê hy wil nie te veel praat nie, want Xander is by hom. Hy sê hy gaan hom Vryburg toe bring.)

CHRIS: Ek wil nou eers brandstof gooi. Jou pa sê hulle maak sesuur toe.
XANDER: Ek dink so, oom.
CHRIS: Xander, sê my ou seun, die vriend van jou, was hy saam met jou deur voor daai tyd. Julle was glad nie by koshuis nie, sê jy?
XANDER: Nee, oom.
CHRIS: Glad nie?
XANDER: Ja, oom.
CHIRS: Xander?
XANDER: Ja, oom?
CHRIS: Jy moet die waarheid praat, ou seun. Hierdie ouens gaan dit uitvind. Dit beter, kom ons gesels en kyk waar kan ons jou help. Wat het gebeur? Xander? Xander? Jy moet met my gesels. Wat het gebeur? Jy is nou alleen saam met my. Nou kan jy maar met my praat.

(Stilte volg)

XANDER: Ek het so 25 voor of 20 voor elf . . .

CHRIS: Ja?
XANDER: Ek het veldjie toe gegaan en gerook.
CHRIS: En toe, Xander?
XANDER: Ek kan nie als onthou nie. Ek het ’n rukkie gesit en gerook.
CHRIS: Ja. Kyk, as dit jy is Xander. Jy en jou vriend. Iets moes gebeur het. Ek meen, wat het gebeur?
XANDER: My maatjie sal nooit selfmoord pleeg nie.
CHRIS: Nee, ek verstaan dit, maar wat het gebeur daar? Xander? Dis die groot ding. Wat het gebeur daar?
XANDER: Ek weet nie, oom.
CHRIS: Weet jy nie of wil jy nie weet nie. Sit jy dit uit jou kop uit, eerder? Wil jy nie daaraan dink nie, Xander?
XANDER: Ek dink gereeld daaraan, oom. Ek is baie lief vir haar. Daar is baie goed wat ek vir haar wou gesê het, saam met haar wou gedoen het en nooit die kans gaan kry nie.
CHRIS: Jy weet, die groot ding wat jou kelder, is hulle het jou voertuig opgemerk daar. Mense het jou voertuig gesien daar naby die koshuis. Hoe kom jou voertuig daar? Hoe sien mense jou voertuig daar daai tyd van die oggend?
XANDER: Waar by die koshuis, oom?
CHRIS: Ek kan nie vir jou sê waar nie. Daar is mense, getuies wat jou voertuiglisensie, registrasienommer gesien het.
XANDER: Enigste tyd wat ek naby die koshuis gekom het, was toe ons by die veldjie was en dis ver van die koshuis.
CHRIS: Maar dis in Stella?
XANDER: Dis verby Stella.
CHRIS: Okay, waar verby Stella?
XANDER: As jy nou uit die dorp gaan dan kry jy die beesfeesterrein, dan is daar ’n oop stuk kolletjie daar, langs die beesfeesterrein.

Chris pols Xander weer en Xander verduidelik weer waar die rookplek anderkant Stella is. Hy benadruk dít is sy rookplek.

CHRIS: Maar Xander, wat het by die koshuis gebeur? Ons weet jy was by die koshuis. Wat het presies gebeur daar. Vertel vir my. Jy kan maar met my gesels, Xander. Wat het gebeur by die koshuis, Xander? Praat met my ou seun? Moenie slaap nie.

(Stilte)

CHRIS: Xander, wat het gebeur daar by die koshuis? Ek weet jy wil nie daaroor praat nie, maar jy moet daaroor praat met my.

(Stilte)

CHRIS: Wat het gebeur by die koshuis, Xander. Vertel vir my. Wat het gebeur by die koshuis?
XANDER: Ons het gesit en so.
CHRIS: Ja?
XANDER: En . . .
CHRIS: En toe? Xander, wat het gebeur by die koshuis?
XANDER: Ons was saam gewees op ’n tyd, oom.
CHRIS: Ek weet julle was. Ek weet presies julle was boyfriend en girlfriend. Okay, wat het gebeur gisteraand, vertel vir my.
XANDER: (Onhoorbaar)
CHRIS: Vanoggend?
XANDER: Ek wou dinge met haar uitpraat.
CHRIS: Ja?
XANDER: Toe sê sy vir my sy kan nie, sy het ’n ander kêrel.
CHRIS: Ja.
XANDER: Toe sit ons nog so vyf minute daar.
CHRIS: Ja?
XANDER: En toe gaan ek.
CHRIS: En toe? Wie was saam met jou daar. Jy was nie alleen daar nie.
XANDER: Dit was net ek.
CHRIS: Dit was net jy?
XANDER: Ja.
CHRIS: Oraait. En hoe laat was dit toe jy daar by haar was? Was jy kwaad vir haar, Xander?
XANDER: Nee, oom, maar ek het haar baie lief.
CHRIS: Ek weet jy het haar lief. Maar op daai oomblik was jy kwaad vir haar?
XANDER: Ja, oom.
CHRIS: Hoe laat was jy by haar?

Xander staan tereg op aanklagte van moord op Marna Engelbrecht (links) en Sharnelle Hough.

(Stilte)

CHRIS: Hulle gaan in elk geval jou vingerafdrukke kry en alles daar. So gesels met my. Wat het presies gebeur?
XANDER: Ek was seker tot so 02:00, 02:15 daar.
CHRIS: Okay, wat het gebeur in daai tyd?
XANDER: Ons het gesit en gesels, oom.
CHRIS: Ja?
XANDER: Toe soen ons.
CHRIS: Ja, jy het my gesê. En toe soen julle, ja?
XANDER: Ek wou die dinge uitpraat, want ek het haar baie lief.
CHRIS: Ja.
XANDER: Toe sê sy vir my sy kan nie.
CHRIS: Ja.
XANDER: Toe sê sy vir my ek moet gaan.
CHRIS: Ja, maar toe wou jy nie gaan nie.
XANDER: Ek wou nie gaan nie.
CHRIS: Toe het jy kwaad geraak?
XANDER: Ja, oom.
CHRIS: Nou hoe hang sy haarself, Xander? Waar het jy die tou gekry?
XANDER: Ek het haar nie gehang nie.
CHRIS: Wie’t haar gehang? Pietie?
XANDER: Oom, Pietie was nie saam met my gisteraand gewees nie.
CHRIS: Daar moet iemand wees, Xander.
XANDER: Niemand was daar gewees behalwe ek nie.
CHRIS: Was daar enigiemand anders in die koshuis daar gewees saam met haar?
XANDER: Ek weet nie, oom.
CHRIS: Wel, as jy daar by haar was, sal jy mos geweet het of daar iemand by haar was.
XANDER: Ja, oom. Ons het op die trappe gesit.
CHRIS: Het julle op die trappe gesit?
XANDER: Ja.
CHRIS: O. Oukei. En dis waar sy haarself gehang het, by die trappe?
XANDER: Ek het haar nie gehang nie, oom.
CHRIS: En haar vriendin is gewurg in die badkamer, Xander?
XANDER: Ja, oom.
CHRIS: Wat het jy gerook?
XANDER: Niks nie, oom.

(Hulle kom by die vulstasie aan)

CHRIS: Wat het jy gerook?
XANDER: Ek rook RG. Dit kos R10 ’n pakkie, oom

(Chris praat intussen met die werknemer van die vulstasie).

CHRIS: Nou hoe is dit dat jy op die trappe gesit het saam met haar, en laat sy haar daar hang. Het haar vriend gekom, gehoor, kom kyk of wat?
XANDER: Nee, oom. Dit was net ons sover ek weet.
CHRIS: Nee, haar vriendin was in die kamer. Haar vriendin is ook dood. Daar’s ’n handsak gevat en daai handsakbande is om haar nek gebind en haar doodgemaak. Wat het gebeur? Dis beter jy vertel vir my. Ek kan jou help. Praat met my, wat het gebeur?
XANDER: Ek praat met oom! Maar oom luister nie!
CHRIS: Ek luister!
XANDER: Oom doen nie.
CHRIS: Jy het by haar by die trappe gesit.
XANDER: En toe gaan ek, want sy het gesê sy gaan my nie terugvat nie, ons moet aanbeweeg.
CHRIS: Wel, Xander, ou seun, ek kan nie vir jou help daar as jy nie wil hê ek moet jou help nie. En ek kan jou help. Nie nou soos Stefaans jou nou gehelp het nie. Ek sal jou help. Ons kan saam met jou pa werk. Ons kan kyk laat jy ’n goeie prokureur ook kan kry. Jy verstaan? En as jy self praat, Xander. Dis beter as wat hulle dit uit jou trek. ’n Man wat self praat. Ek kan nie sê, hoor hier, ek het jou hier kom haal nie. Jy het jouself oorgegee. Dit alles tel vir jou punte, jy verstaan? Dit alles tel vir jou punte. So, verduidelik vir my wat het daar gebeur.
CHRIS: Ek weet jy wil nie daaroor praat nie, ek verstaan dit 100%. Dis nie iets lekker om oor te praat nie.
XANDER: Wat moet ek sê as ek geskiet word.
CHRIS: Sê weer?
XANDER: Wat moet ek sê wat het gebeur sodat ek geskiet kan word.
CHRIS: Jy gaan nie geskiet word nie. Dit waarborg ek vir jou. Niemand sal dit weet nie. Dis net die polisie en dis dit. Stefaans, niemand is daar nie. Niemand gaan jou skiet nie.
XANDER: Maar ek wil hê hy moet my skiet.
CHRIS: Wíl jy hê hy moet jou skiet, Xander? Ek weet dit is moeilik. Ek weet jy het ook maar seer nou. Maar jy sal nie geskiet kan word nie. Dit werk nie so nie. Wat het gebeur?
XANDER: Ek het die belangrikste ding in my lewe verloor.
CHRIS: Ek stem met jou saam. Maar at least was jy ’n man, en jy kan staan vir jou ding. En dit gaan alreeds vir jou beter voel, luister, jy hoef nie met hierdie skuldgevoel saam te leef nie. Praat met my, Xander. Wat het daar gebeur. Ek sal jou help sover as moontlik as wat ek jou kan help, saam met jou pa. Jy moet weet dit is nie lekker om daaraan te dink nie, maar dit het wel gebeur. Verstaan?
XANDER: Ja, oom.
CHRIS: Dit het wel gebeur. Maar jy moet vir my sê hoe het dit gebeur, want daar moes iets gesê geword het sodat jy op daardie oomblik . . . miskien het jy nie gedink nie? Daai oomblik was jy . . . Vryburg is dié kant toe, nè?  Miskien het jy op daardie oomblik nie gedink nie, Xander. Dat jy eers daarna agtergekom het wat jy gedoen het? Wat het gebeur? Ek het hulle vanoggend gesien. Toe ek daar aankom, het ons hulle losgesny, die handsak van die ander een afgehaal in die badkamer. Wat het daar gebeur? Hoe het dit gebeur. Vertel my jou kant van die saak?

(Stilte)

CHRIS: (onhoorbaar.) Vertel my jou kant van die saak.

(Lang stilte)

Die trap van die Stella-koshuis.
Die trap van die Stella-koshuis.

CHRIS: Ek moet jou help op ’n manier. Maar ek moet dit by jou hoor, self. Het iets jou omgekrap?
XANDER: Ek weet nie, oom.
CHRIS: Wat het jou laat snap?
XANDER: Daai stuk was so onduidelik. Dit het vir gevoel soos ’n droom, en toe ek wakker geword het. So, dit het nie vir my waar gevoel nie. Ek dink dit is seker hoekom ek dit so erg vat.
CHRIS: Oukei, nou wat sê die droom van jou? Wat het gebeur in jou droom, Xander?
XANDER: Oom kan nog reguit gaan, oom.
CHRIS: Maar daar staan Kuruman, sal dit verkeerd wees? Verduidelik vir my wat het in daai droom van jou gebeur.
XANDER: Gee net kans, oom.
CHRIS: Vat jou tyd. Ons is reg.
Chris vra Xander of hy nog sigarette het.
CHRIS: Gesels met my. Wat het gebeur in daai droom van jou?
XANDER: Ek het haar gevra om terug te kom, oom. Toe sê sy, sy sal nie. Sy wil graag, maar kan nie.
CHRIS: Ja . . .
XANDER: Toe vra ek haar hoekom.
CHRIS: Ja . . .
XANDER: Toe sê sy niemand gaan dit toelaat nie. Ek is te ver.
CHRIS: Ja . . .
XANDER: Toe probeer ek dit uitpraat. En toe sê sy net vir my dit gaan nie uitwerk nie. Sy wil in Stella kuier. Van daar af is dit net, ek weet nie. (Onhoorbaar) Ek onthou net ek het verby Boereplaas gery terug huis toe. Ek het daar voor die hek gesit en gerook. Ek het gaan slaap. Dit het gevoel soos ’n droom. Toe ek wakker word toe is dit soos ’n nuwe dag. (Onhoorbaar).
CHRIS: Waar het jy die tou gekry. Watse tou is daai? Waar het jy die tou gekry, Xander? Dink vir my, waar het jy die tou gekry? Was die tou daar by die koshuis of was dit in jou voertuig? Waar het jy daai tou gekry?
XANDER: In die tas in die kamer.
CHRIS: In die wat?
XANDER: Tas in die kamer.
CHRIS: O, die tasse se kamer. En die handsak waarmee jy die ander een . . . Waar het jy hom gekry? Ook in die tassekamer? Hoekom is sy in die badkamer, hoekom het sy weggehardloop, Xander?
XANDER: (Onhoorbaar)
CHRIS: Wat het gebeur dat sy in die badkamer is en die een gehang is op die trappe. Het sy gesien? Toe hardloop sy weg?
XANDER: Nee, oom.
CHRIS: Nou hoe het dit dan gebeur, laat sy daar in die badkamer gelê het? Hoe het dit gebeur laat sy daar in die badkamer beland het?
XANDER: Sy het gesê haar vriende sal dit nie toelaat nie, toe gaan sy badkamer toe.
CHRIS: Die vriendin of sy?
XANDER: Die vriendin.
CHRIS: Ja, en toe?
XANDER: En toe probeer ek haar versmoor.
CHRIS: En toe probeer jy wat?
XANDER: Toe probeer ek haar versmoor.
CHRIS: Versmoor? En toe? Het jy haar probeer versmoor met die handsak? Nou waar het jy die handsak gaan kry?
XANDER: Hy het onder die trappe gelê op ’n matras.
CHRIS: Het hy daar gelê? Hoe laat was dit omtrent wat jy daar was? Watter tyd omtrent?
XANDER: Halfvier se kant.
CHRIS: Halfvier. Oukei, ek gaan laat hulle nou kyk. Was jy alleen, Xander? Was jy alleen, hoekom het haar hare in die gang gelê? Wat van haar hare, die een wat in die badkamer gelê het se hare het in die gang gelê?
CHRIS: Nou wat het sy in die badkamer maak? Hoekom het haar hare in die gang gelê? Haar hare. Die een wat in die badkamer gekry is, se hare het in die gang gelê. Dis asof iemand haar aan die hare gegryp het.
XANDER: Nee, ek het haar in die badkamer gekry.
CHRIS: Wat was sy besig om te doen in die badkamer?
XANDER: Op daardie oomblik was sy besig om haar hare te was.
CHRIS: O, was sy besig.
XANDER: Nee, nie besig om hare te was nie, hande te was.
CHRIS: Haar hande te was? Was sy saam met julle op die trappe?  
XANDER: Nee, oom.
CHRIS: Het sy geweet van die ander een wat jy nou gaan hang het, of het sy dit nog nie geweet daai tyd nie.
XANDER: Sy het nog nie geweet nie.
CHRIS: So jy het gegaan en jy het die vriendin (gesien) en toe gaan jy badkamer toe. Het jy geweet sy is in die badkamer?
XANDER: Nee, oom.
CHRIS: Wat het jy in die badkamer gesoek?
XANDER: Ek wou gaan piepie het.
CHRIS: Ná dit.
XANDER: Askies, oom?
CHRIS: Ná dit, nadat jy haar gehang het.
XANDER: Nee, oom voor dit.
CHRIS: Voor?
XANDER: Ja, oom.
CHIRS: So jy het haar eerste versmoor
XANDER: Ja, oom.
CHRIS: En toe die vriendin? Het sy gesien jy het haar versmoor? Haar vriendin.
XANDER: Nee, oom.
CHRIS: Oukei, en toe is daai ene nou klaar, en gaan jy na die en jou meisie toe, jou eksmeisie?
XANDER: Ja, oom.
CHRIS: En toe praat jy met haar en toe hang jy haar? Of het jy klaar geweet jy gaan? Is jy seker jy het nie jou vriendin eerste gehang nie, Xander?
XANDER: Vir wie oom?
CHRIS: Het jy nie eerste jou vriendin gehang en toe haar versmoor? Het jy haar eerste versmoor? Nou hoekom het jy toe teruggegaan en haar gaan hang? Wat was die rede? Wat het jy gedink, op daai stadium? Kyk, hier lê sy nou. Jy het haar klaar met die handsak verwurg. Nou wat laat jou nou dink hoor hier, wat was jou volgende stap, Xander?
XANDER: Ek wou praat, en dinge uitpraat.
CHRIS: Maar toe lê die vriendinnetjie klaar in die badkamer dood.
XANDER: Ja, oom.
CHRIS: Oukei, en toe?
XANDER: Sy het dit nie geweet nie, toe praat ons bietjie oor haar kêrel wat sy nou het.
CHRIS: Nou waar, jy moes toe opgestaan het en die tou gaan haal, of het jy die tou reeds saam gehad, of wat?
XANDER: Nee, oom, dit was daar om die trappe gevou.
CHRIS: Om die trappe gevou?
XANDER: Ons het daarmee gespeel by die trappe.
CHRIS: So, die tou was klaar daar gewees by die trappe. Oukei, oukei. Xander. Dis beter om daaroor te praat en kry dit van jou af en nooit met die skuld saam te leef nie as jy nie daaroor gepraat het nie. Laat ek net vir Richard (Hobson) bel, laat hulle net kyk, laat Stefaans nie daar is by die polisiestasie nie. Ek gaan nie met hom praat nie, jy hoef nie bekommerd te wees nie, hoor jy.
XANDER: Ek worry nie, oom.
CHRIS: Nee, man ontspan. Ek sal nie met hom praat nie.
XANDER: Dankie, oom.
CHRIS: Dis reg, moenie worry nie Xander, ek sal kyk laat jy hulp kry. Ek bel nou een van die komitee ouens, want hy is regtig hulp, hy is eintlik wat gekry het dat ek na jou toe kom. En hy sal jou help. Hoor nou wat ek vandag sê. Ons sal alles in ons vermoë doen om jou te help.

Chris bel vir Richard Hobson. Hy herhaal alles wat Xander aan hom vertel het oor hoe die moorde gebeur het. Hy vertel hom van die voorval op die plaas met Stefaans en dat hy gelukkig daar was om die situasie te ontlont. Hy hou vir Richard op die lyn terwyl hy verder met Richard praat.

CHRIS: Xander wat het jy gedoen met die tou, hoe het jy die tou om haar nek gesit?
XANDER: Hoe het ek dit om haar nek gesit?
CHRIS: Ja, by die trappe gehang. Nou hoe het jy dit gedoen?
XANDER: Ek het ’n knoop gemaak om die trappe se ding.
CHRIS: Ja, en toe?
XANDER: En toe maak ek weet nie watse knoop nie.
CHRIS: Ja . . .
XANDER: Toe ryg ek die tou deur en toe sit ek die tou om haar nek.
CHRIS: Ja, en toe? Toe stamp jy haar af, of wat? Wat het gebeur, Xander?
XANDER: Toe stamp ek haar af.
CHRIS: Toe stamp jy haar af.
XANDER: Ek het haar nie afgestamp nie, ek het haar net neergesit.
CHRIS: So, jy het haar opgetel en haar gelos?
XANDER: Nie gelos nie.
CHRIS: Nou hoe het jy dit gedoen?
XANDER: Haar afgetel en saggies neergesak.
CHRIS: O, haar saggies neergesak.

(Chris herhaal wat hy Xander pas vertel het aan Richard. Xander ontken voorts dat hy enige WhatsApp-boodskappe van Sharnelle se foon aan haar pa, Ronnie, gestuur het. Hulle is kort voor lank naby Vryburg. Xander onthul hy het nog nie ’n motorlisensie nie. Chris beantwoord ’n oproep van Sharnelle se pa, Ronnie. Hy vertel ook vir Ronnie in kort wat Xander pas alles erken het.)

CHRIS: Ronnie, ek dink, ek weet dit is nou moeilik, jy wil nou, maar laat hierdie ding sy loop neem, want hy sal ’n bekentenis maak, sonder dat daar dinges is, ek het vir hom gesê dis beter om self ’n bekentenis te maak, so laat hulle eers vandag die verklarings agter die rug kry en laat die ding sy verloop neem . . .

Xander is kort daarna in by die polisiekantoor en hy lê sy bekentenis af. Hy lewer ook die volgende dag uitwysings. Maar minder as twee weke later trek hy die bekentenis terug en ontken skuld in die hof.

Hy voer aan Chris Saunders het hom voorgesê.

(Hulle stop by die polisiekantoor waar Xander in hegtenis geneem word en ’n bekentenis aan die polisie aflê.)

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe