Conrad Bester van Jan Kempdorp is deur Xander as opdraggewende prokureur aangestel en adv. Sakkie Nel as sy advokaat.

Dié jongste verwikkeling kom nadat Xander, wat van die moorde op sy eksmeisie, Sharnelle Hough (17) en haar boesemvriendin, Marna Engelbrecht (16), aangekla word, se regspan in Mei vanjaar vir ’n derde keer onttrek het.

Conrad en Sakkie was voorheen by nóg ’n skoolkoshuis-saak betrokke waar vier tienerseuns van die verkragting van ’n mede-leerder in 'n koshuiskamer by die Hoër Landbouskool Noord-Kaapland aangekla is.

‘Slaggereed’

Op ’n vraag aan Conrad of hulle gereed sal wees om aan die einde van die maand die verhoor in die hooggeregshof in Mmabatho, Noordwes te hervat, wou hy slegs sê: “Die saak is neergesit vir 29 Julie (op die hofrol), so ons sal daar wees.”

Adv. Johan Smit SC, staatsaanklaer het ook aan Huisgenoot bevestig hy is “slaggereed” om op 29 Julie die verhoor te hervat.

Xander staan op twee aanklagte van moord met voorbedagte rade tereg weens die wurgdood van Sharnelle en Marna in die oggendure van Saterdag 26 Mei 2018. Sharnelle se lyk is aan die trapreling van die meisieskoshuis gekry en Marna met ‘n handsakband om haar nek op die vloer in die badkamer.

Xander ontken enige aandeel in die moorde en het ook ’n bekentenis aan die polisie onttrek.

Die privaatspeurder Chris Saunders
Die privaatspeurder Chris Saunders

Hy beweer hy het dit onder dwang deur die privaatspeurder Chris Saunders gedoen.

Die hof moet nog steeds beslis of dié betwisde bekentenis, asook die uitwysings wat Xander by die skoolkoshuis van die Hoërskool Stella gedoen het, as bewyse aanvaar gaan word.

Regslui onttrek

Huisgenoot het vroeër berig Xander se eerste advokaat, Ferdi van Heerden, het voor sy borgtogaansoek in De­sember verlede jaar aan die saak onttrek. Die Durbanse advokaat Niven Rai het toe sy plek ingeneem.

Toe die saak in Maart vanjaar hervat, is aangekon­dig Xander se prokureur, Moolman Wessels, het hom weens “botsende belange” onttrek. Hy is toe met ’n Bloemfonteinse prokureur, Adriaan Janse van Vuuren, vervang.

Met sy laaste verskyning op 15 Mei het Niven en Adriaan hulle albei aan die saak onttrek nadat Xander ge­tuig het Chris Saunders was teenwoordig toe die polisie sy bekentenis afge­neem het; dis iets waaroor Niven glo vroeër in die duister gelaat is.

Hy het homself toe weens “botsende belange” aan die saak onttrek.

“Vanweë die gedragskode waaraan regslui moet voldoen, kon ek nie my werk met Xander voortsit nie. Dit was vir ons albei teleurstellend omdat ons goeie vriende geword het. Ons het nie net oor die saak ge­praat nie; ook oor baie algemene dinge,” het Niven daarna aan Huisgenoot gesê.

Na verneem word is dit Xander se pa, Monte, wat sy seun se regskoste dek. Xander se ouers het hul seun van dag een deurgaans bygestaan.