Christina Storm praat openhartig oor James Small – Pieter van Zyl (Huisgenoot 26 Julie 2019)
In ’n openhartige onderhoud gee Christina Storm ons ’n kykie na James Small soos sy en hul dogter hom geken het.

Hy word as ’n rugbylegende onthou, ’n lid van die Springbok-wenspan wat in 1995 die eerste keer die Wêreldbekertrofee omhoog gehou het, maar ook as die stoutseun van rugby met sy tatoes, motorfiets en stormagtige liefdeslewe.

Maar vir sy enigste dogter was James Small net haar Pappabeer. Dis hoe Ruby (14) hom wil onthou; nie soos hy met sy skielike dood in raaiselagtige omstandighede in koerantopskrifte beskryf is nie, sê haar ma, Christina Storm (45), in ’n eksklusiewe onderhoud met Huisgenoot.

“Hy was iemand wat haar alles gegee het wat sy nodig gehad het,” vertel die voormalige model wie se agt jaar lange aan-af-verhouding met James destyds gereeld die media gehaal het.

“James was nie die troutipe nie. Veral nie wat twee rebelle met sterk persoonlikhede soos ons betref nie.”

Maar vir sy kinders, Ruby en haar halfbroer Caleb (8), wat uit ’n latere verhouding gebore is, was hy ’n liefdevolle maar streng pa. Een wat Ruby aangemoedig het om haar bes te doen op skool en geweier het dat sy ’n partytjie bywoon waarop seuns ook was.

Ná James (50) se skokdood op Woensdagaand 10 Julie is berig dat hy in ’n klub vir volwasse vermaak in Bedfordview, Johannesburg, ineengestort het en naak in ’n Uber-taxi na ’n nabye hospitaal geneem is.

“Toe ek dit hoor, het ek gedink: Hy was alleen in die Uber sonder iemand wat sy hand vashou om hom te vertroos. Was hy bang?” sê Christina.

“Oor die kaalstorie was my eerste gedagte: How undignified. Hy sou nooit so gesterf het nie. Hy was skaam vir sy lyf. Hy sou hom nie so expose het nie. Sy broek het dalk afgeskuif toe die mense hom moes hospitaal toe sleep. Hy was baie swaar,” sê sy.

Die gerugte het ook Ruby se ore bereik, maar sy het geweier om dit te glo. “I don’t believe it. Not my dad,” was haar reaksie.

“Sy het geweet haar pa is nie ’n onskuldige engeltjie nie. Hy was haar beste vriend. Hulle is albei rebels at heart, gypsies en reisigers wat nie vasgepen wil wees nie. Sy het haar pa beter as enigiemand anders geken . . .”

Christina Storm op St. Francisbaai. Foto: Michael Sheehan

Die trane wel in Christina se helderblou oë op en loop saam met haar grimering teen haar wange af toe sy sê: “My kind, my arme dogter . . .”

Tien dae nadat James vermoedelik weens ’n hartaanval oorlede is, sukkel Christina nog om die skok te verwerk.

“Ek het nou so gebewe terwyl ek make-up moes aansit,” sê sy en trek haar hande deur haar donker hare – iets wat sy gereeld doen terwyl sy by haar ma, Kitta de Bruyn (75), se huis op Astonbaai in die Oos-Kaap met ons gesels.

Dis net 21 km van St. Francisbaai, waar Christina en haar man, Paul Nel (48), ’n jaar gelede nesgeskop het saam met hul kinders, Evie (4) en Vincent (2). Die kleingoed kan hul ma se hartseer aanvoel en is vandag ekstra soet.

“Ek het ’n ouer sussie, Ruby,” vertel Evie later op die strand waar ons foto’s neem. Ousus Ruby het ná haar pa se gedenkdiens in Johannesburg agtergebly in ’n kothuis agter James se huis in Sandton waar Caleb en sy ma steeds woon.

Sy het aanvanklik saam met Christina en Paul St. Francisbaai toe getrek, maar die verlange na die stadsliggies het gou vir haar te groot geword.

“Sy is nes Erin (Paul se 14-jarige dogter uit sy vorige huwelik) ’n city girl. Sy woon nou by haar ma in Johannesburg.

St. Francisbaai was vir hulle ’n one-horse town met net ou mense,” gesels Christina, en ’n laggie borrel oor haar lippe.

“Ruby moet naby Starbucks en Sandton City wees met al die winkels. Nes haar pa dra sy net labels: Armani, Diesel en ander. Dis unbelievable.”

Christina haal diep asem en blaas dit stadig uit. Die erns is terug in haar stem toe sy sê: “James het so ’n groot gat in ons almal se lewe gelaat.”

James Small se ma, Vourn, het dié foto van haar seun op haar Faceboekprofiel gesit.

Sy het die tyding om 12:00 die dag ná sy dood gekry.

“Ek het Evie by haar voorskooltjie gaan oplaai,” onthou Christina. Op pad huis toe het sy op haar selfoon gesien sy het 37 oproepe van James se suster, Kelly Small, misgeloop.

“Ek het net geweet iets ernstigs is fout.” Sy het teruggebel, maar almal se fone was afgeskakel.

“Ek het Ruby se foon gebel. Dit was ook af. Ek was vreesbevange iets het met haar gebeur.”

Christina het eindelik haar suster, Willemien Storm, wat in Durban woon, in die hande gekry, maar dié het so gehuil dat sy nie kon praat nie.

“Is dit Ruby?” het Christina bly herhaal tot Willemien kon uitkry: “James het ’n hartaanval gehad. Hy het dit nie gemaak nie.”

Christina het dadelik planne beraam om ’n vlug van Port Elizabeth na Ruby in Johannesburg te haal. Haar tante Kelly het haar intussen oor Ruby ontferm. Op die dag van sy dood het James uit Kaapstad teruggevlieg waar hy vir ’n sakevergadering was.

Die oud-Bok was ’n knap sakeman wat met eiendomme gespekuleer het. Hy het ook by sy ma, Vourn Small (77), in Tamboerskloof gekuier.

Voor hy uit Kaapstad vertrek het, het hy Caleb se ma gebel en gesê: “Sê vir die kinders ek is lief vir hulle.”

Hoewel sy en James ná ’n verhouding van 12 jaar van bed en tafel geskei was, het hulle steeds in dieselfde huis gewoon, sê Christina. Sy verkies om nie haar naam te gee nie.

James was bang vir vlieg; daarom het hy gewoonlik ’n slaappil gedrink en die uitwerking daarvan ná ’n vlug by ’n vriend se huis gaan afslaap. Dus was niemand bekommerd toe hy nie ná die vlug dadelik huis toe kom nie.

Maar toe hulle vyfuur die oggend nog nie van James gehoor het nie, het die familie hospitale gebel en verneem hy is na die Bedford Life Gardens-hospitaal geneem en dat hy dood is.

“Hy het by die kroeg gesit en vir sy girlfriend gewag,” vertel Christina oor James se laaste oomblikke by die klub. Sy en sy familie het geweet dat daar die afgelope ruk weer iemand in sy lewe was.

“Hy was op sy foon toe hy inmekaarsak.”

Ruby het die hartseer nuus die volgende oggend by Kelly se huis gehoor waar dié se seun, Kieran Houlston (20), dit aan haar oorgedra het.

“Onthou ons is baie lief vir jou. Jou pa het ’n hartaanval gehad en hy is nie meer met ons nie.” Sy was verpletter, sê Christina. “Hy was haar caretaker. Eintlik ons almal s’n,” voeg sy by.

Sy en James het gedeelde toesig oor hul dogter gehad.

Christina sukkel om die skok van James se dood te verwerk.

Die eerste aand nadat sy by James se familie in Johannesburg aangekom het, was sy kwaad vir James, erken Christina. “Hoe kon hy dit aan my kind doen?”

“Wat my die meeste gevang het, is toe hulle die Maandag die klere moes uitkies vir James om in die kis te dra,” vertel sy.

“Ruby, hou jy van hierdie hemp?” het Caleb vir Ruby daar voor hul oorlede pa se klerekas gevra. “Tekkies of fancy shoes?”

Hy dink sy pappa gaan terugkom, vertel Christina hartseer. “Die hospitaal gaan hom fix.”

Ruby het die begrafnisreëlings oorgeneem. “Dán lag sy en haar nefie en niggie oor iets wat hulle van James onthou en wil celebrate. En dán huil hulle.

“Sy het haar pa se Hawaii-hemp gedra op die eerste dag sonder hom. Wanneer hy op sy happy-ste was, het hy daai hemp aangetrek,” onthou Christina.

’n Roudiens is op Donderdag 18 Julie vir James by die Wanderers-rugbyklub gehou. “Ek het tranquilizers by die begrafnis geneem en kan van die eerste uur niks onthou nie. Rugbyspelers wat ek lank laas gesien het, het uit die woodwork gekom. Mense soos James Dalton, en dan was daar ’n ou met ’n swart baard.”

Ruby het met ’n outydse kamera wat digitaal is, ’n geskenk van James, foto’s van die rouklaers geneem.

“Dit was haar manier van processing,” sê Christina. “Ons het agter die kis aangeloop om vir hom vir oulaas baai te sê.”

Die emosies oorweldig Christina weer asof sy dit opnuut beleef. Sy onthou hoe Ruby toe die lykswa wegtrek teen die venster geslaan het as ’n laaste groet aan haar pa. “Ek moes Vourn regop hou,” snik Christina. “Dit was so horrendous.”

Sy familie het geweet hy het hartprobleme. Hy het gereeld ’n pyn op sy bors gekry. Maar James wou nie dokter toe gaan nie. “I’d rather not know,” was glo sy verweer.

Hy was mal oor biltong met baie vet aan. Christina onthou toe hulle nog saam was, het sy hom ironies genoeg altyd gewaarsku terwyl hy daaraan kou: “Ek kan hoor hoe jy doodgaan.”

James Small en Christina Storm toe hulle in die jare negentig 'n paartjie was. Foto: Argief

Hul romanse het in 1996 begin, ’n jaar ná die Wêreldbekertoernooi wat James help wen het deur die All Blacks-reus Jonah Lomu van die doellyn weg te hou.

“Ons het baie break-ups gehad. Ek kan nie eens onthou hoeveel nie,” vertel sy.

Wat sy wel onthou, is die keer dat hy op haar verjaardag met drie bosse rooi rose op sy bromponie aangery gekom het. Die dorings het in sy arms gesteek en dit gekrap.

“Ek weet dis cheesy. Hy het ’n diamantring in sjampanje gegooi toe hy die eerste keer verloof wou raak. Ons wou by Zimbali Lodge trou.”

Dit was in 2000 en almal wou die glanspaar se troue borg. Christina onthou nog James se woorde aan haar: “Jy gaan in wit-en-rooi trou as Coca-Cola betrokke raak!”

Maar ’n troudag het toe nooit vir hulle aangebreek nie. “Ons het baklei en dan het die verlowing uitgef**.

“Drie jaar later het hy by die Fancourt-bal in George my die tweede keer gevra om te trou. Blommetjies het van die stort deur die kamer tot op die balkon gelê. Op die tafel het so ’n chunk diamant gelê. Dit was nog nie geset nie. Dit het alles voor Ruby se geboorte gebeur.”

Net so vurig soos hul romanse was, was hul rusies. ’n Twisappel in hul verhouding was Christina se loopbaan as model.

“Hy het nie daarvan gehou dat ek as ’n poster girl in ouens se kamer is nie.

“Hy was baie besitlik. Hy kon dit glad nie handle wanneer ek in ’n bikini of lingerie poseer nie. Dit was my loopbaan, en hy het geweet ek was daardie persoon toe hy op my verlief geraak het.”

Ondanks berigte en gerugte dat James haar geslaan het, ontken Christina dit.

“Nooit,” sê sy beslis.

Foto: Michael Sheehan
Foto: Michael Sheehan

“Daardie stories het vir James jare se pyn veroorsaak. Hy het klein kindertjies ge-coach, dan hoor hy hoe praat die ouers van hom as ’n vroueslaner.”

Tog erken sy hulle was “wild” in daardie dae.

“In die 1990’s was ons punk. Ons het gesuip. Ons het mekaar rondgestoot en gestamp. Ook in die openbaar.”

Hy was ook nie altyd getrou aan haar nie.

James loved the girls. Al die aandag. Hy het gebieg oor een keer wat hy my verneuk het.”

Al sou hulle nooit ewige trou voor die kansel beloof nie, wou hulle graag ouers word.

“Ons wou albei ’n kind hê, al was ons later nie meer saam nie. Ons het immers mekaar die langste geken – agt jaar.”

Hulle is Thailand toe, waar Ruby tussen ritte op waterponies deur verwek is. Ná James se dood het Christina op ’n rekenaarskyf met video-opnames afgekom wat met hul dogter se geboorte in 2004 geneem is.

“Ek het dit drie dae gelede vir die eerste keer gesien,” sê sy en wys dit op haar selfoon. In die eerste video is sy in die kraamsaal, en James soen haar op haar kop en vee haar hare oor haar voorkop weg. Hy gesels saggies met haar.

Sy en James het Ruby liefdevol saam versorg en James was ’n baie betrokke pa. Foto's: Verskaf

“Hy het kliphard gehuil toe sy gebore is. Die trane het geloop,” onthou sy. In die tweede video het Christina ’n slapende James en baba Ruby in hul huis in Clifton, Kaapstad, afgeneem.

“Kyk, hulle het presies op dieselfde manier lê en slaap.” In die derde video hou James Ruby vas soos ’n rugbybal wat hy vir ’n spanmaat wil aangee. Hy fluister liefdeswoordjies vir sy eersteling.

“Is sy wakker?” vra Christina. “Wawyd wakker.”

“Is sy happy?”

“Sy is in haar knoppies,” laat die soutie hoor. Hy bedoel eintlik “noppies”.

Jare later het James alles saam met haar en Caleb gedoen wat hul kinderharte begeer.

“Hy het saam met Ruby van Johannesburg na Kaapstad op die trein gery. Hy was amper dood van verveling, maar sy het dit geniet.”

Klein Ruby saam met haar pa by ’n troue waar sy ’n blommemeisie was. Foto: Verskaf

Ruby was gelukkig by haar pa. “Sy is al vier jaar ’n vegetarian, maar sy het in die aande vir haar pa steak gebraai,” vertel Christina.

“Hy was ’n beter ouer as ek. As daar socials was, het hy nee gesê, want daar sal seuns wees. Dan vat ek haar maar.

“As Ruby se broek of hempie te kort was, het hy vinnig gesê: ‘Nee, gaan trek vir jou reg aan.’ ”

James het Christina en haar man, Paul, met wie sy ses jaar gelede getroud is, na al Ruby se verjaardae genooi.

“Dan het hulle op Franse musiek gedans. James was mal oor Serge Gainsbourg. Hy’t ook van Engelbert Humperdinck gehou. Hy het dit kliphard in sy Maserati gespeel.”

“Ons was goed met co-parenting. Ons was saam by al die geleenthede. As Ruby moeilik was, het ons mekaar ontmoet en met haar gesels.”

Christina saam met haar en die sakeman Paul Nel se
Christina saam met haar en die sakeman Paul Nel se kinders, Evie (links) en Vincent. Hulle is mal oor die strande op St. Francisbaai waar hulle nou woon en speel.

Sy was van gr. R tot gr. 8. ’n leerder aan die St. Stithians-kollege in Sandton naby Johannesburg. Verlede jaar in gr. 8 het sy nege onderskeidings behaal en in wiskunde uitgeblink, spog haar ma. Die res van haar skoolloopbaan gaan Ruby aanlyn voltooi.

“Sy wou nie aan skoolure gebonde wees nie,” sê Christina. “Sy wou net meer vryheid hê en nie deur leerders of onderwysers ge-judge word nie. Ek is glad nie bekommerd oor haar toekoms nie. Haar kop is reg aangeskroef.”

Sy gaan nog ’n rukkie lank in haar kothuis by James se huis aanbly. In Augustus gaan sy by Christina-hulle op St. Francisbaai kom kuier. En daarna gaan Ruby in Durban by haar tante Willemien, wat ook haar peetma is, op ’n eko-landgoed woon.

Dit lyk asof sy eerder in haar modelma pleks van haar sportheldpa se voetspore gaan volg. Ruby is nie atleties nie, sê Christina.

“Wanneer sy hardloop, sien jy net arms wat rondflap,” lag sy. Sy straal van die trots toe sy vertel die bekende agentskap Boss Models stel in haar oudste dogter belang.

“Met haar persoonlikheid gaan sy ver kom. Sy is baie verstandiger as wat ek op haar ouderdom was. Ek kyk letterlik op na haar. Sy is langer as ek. Sy wil ook pilot, president of argitek word.”

Ná die hartseer afskeid van ’n geliefde pa wat diep spore in die sportwêreld getrap en diep in soveel harte ingekruip het – stoutseun ofte nie – gaan die lewe vir Ruby aan.

En ook vir haar ma. Christina bedryf ’n gastehuis uit haar en Paul se huis op St. Francisbaai.

“Ek bak soggens eiers vir Duitsers,” spot sy. “Ons hoef nie meer in die Seychelle of Hawaii te gaan vakansie hou nie. Dis ’n downgrade. Ons woon in die hemel . . .” 

Wanneer en waar?
Huisgenoot: Ware Lewensdramas word elke Maandag om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai. Episodes word die daaropvolgende Maandag om 14:00 herhaal.