Saterdag, 28 November 1987, sal vir baie Suid-Afrikaners die datum wees waarop talle mense se lewens eensklaps uitmekaar geruk is.

Maar anders as in so baie gevalle, is daar tot vandag toe nog geen sinvolle antwoord verskaf oor wat werklik op daardie noodlottige vlug verkeerd gegaan het nie.

Kort na middernag het die SAL Helderberg, ’n Boeing 747-244 B Combi, met 159 mense aan boord op ’n onverklaarbare wyse 250 km vanaf Mauritius in die Indiese oseaan neergestort.

Kapt. Dawie Uys (49) was in beheer.

Die Combi het vir kombinasie gestaan omdat die tuig ewe goed vrag as passasiers kon vervoer. Op die rampvlug het die Helderberg 47 ton vrag gedra.

Die slagoffers

  • Suid-Afrika: 71
  • China: 30
  • Japan: 47
  • Mauritius: 2
  • Hongkong: 2
  • Australië: 2
  • Denemarke: 1
  • Duitsland: 1
  • Suid-Korea: 1
  • Nederland: 1
  • Engeland: 1

Agt lyke, wat uiterste trauma getoon het, is in die water gevind. Daar was tekens van roet in hul keel gevind.


Die soektog

Soekspanne van Amerika en Frankryk het ook aan die aanvanklike soektog deelgeneem. Onder hulle was daar ook 'n span onderwaterherwinningsdeskundiges van Amerika wat betrokke was by die soektog na die gedoemde Amerikaanse pendeltuig, die Challenger.

Regter Cecil Margo is aangestel om 'n kommissie van ondersoek na die ramp te lei. Opsporing van die wrakstukke het mer as twee jaar geneem. Uit die wrakstukke, sowat 600 m uiteen, het dit duidelik geword dat daar 'n brand in die agterste vragruim uitgebreek het.

Mark D. Young, wat reeds vir meer as 23 jaar vliegongelukke navors, het in Oktober 2014 beweer dat die regering nie iets wegsteek nie.

"As dit waar was dat daar gevaarlike items aan boord was, sou jy verwag dat diegene in beheer 'n sug van verligting sou slaak. Hulle kon bloot net 'n verklaring uitgereik het wat sê: 'Jammer oor die ongeluk. Daardie deel van die see is egter te diep om enigiets te vind' en dit net daar gelaat het."

Die laaste kommunikasie
Vlug SA295 het om 14:23 van Taipei in Taiwan opgestyg op pad na Suid-Afrika. Om 23:49 stel die kajuitbemanning Mauritius se lugbeheer in kennis dat daar ’n brand aan boord is. Teen 23:50 bevestig die bemanning dat vlug Springbok Two Nine Five ’n algehele noodoproep stuur.

Kwalik ’n minuut later kom die boodskap deur: “Ons het baie van die elektronika verloor, ons het nou niks op die … op die vliegtuig nie.

Daar word vinnig laer gedaal as deel van ’n nood-maneuver. Toestemming vir landing word verleen, maar dit sou nooit uitgevoer word nie. Dit was die laaste kontak met die vliegtuig.

Aan boord kry Joe ( die vlugengineer Guiseppe “Joe “ Bellagarda (45) die opdrag om die suurstof aan die linkerkant af te skakel. Daarna word gesê hulle het die deur oopgemaak. “Ons behoort okei te wees,” kom dit oor die eter.

’n Kragwoord volg: “Donderse deur t . . .” en dan kry Joe weer die opdrag om die gat aan sy kant toe te maak. Vier sekondes later word gehoor: “Anders kan ons vlug verongeluk”.

Om 04:02 word sover bekend die laaste woorde vanaf die Helderberg gehoor nadat hulle ingelig is die aanloopbaan is gereed vir hulle. “Kay”.

Mauritus se lugbeheertoring verklaar om 00:44 ’n noodgeval na 36 minute van radiostilte. Dit is 04:44 Suid-Afrikaanse tyd.

Brand

Die brand het in alle waarskynlikheid die bemanning buite aksie gestel. Digte rook in die kajuit kon tot verwarring gelei het, die brand kon die tuig se struktuur verswak en verskillende beheerkabels verbrand het. Daarna . . .  algehele verlies van beheer oor die tuig.


Vuurpyl-brandstof

In 2014 het Allan Dexter, destyds ’n konsultant vir SAL, beweer daar was ammunisie en vuurpyl-brandstof aan boord van die Helderberg. ’n SAL-werknemer in Taiwan het hom glo gebele en gesê die vrag was destyds verbode vanweë sanksies wat teen Suid-Afrika ingestel was.

Volgens Dexter wou Uys, 'n veteraan-vlieënier, met meer as 13 843 vliegure agter die blad, nie vlieg nie maar Gert van der Veer, SAL se hoof het om aangesê om te vlieg of hy sal sy werk verloor.


Rooi kwik

Van die gerugte wat destyds die ronde gedoen het, was dat daar “rooi kwik” aan boord van die Helderberg was.

Terwyl die bestaan van die produk talle kere hewiglik ontken is, is dit na bewering ’n produk wat gebruik word in die vervaardiging van kernbomme en ander wapenstelsels. Die vermoede bestaan ook dat “rooi kwik” bloot ’n kodenaam is vier iets anders of dat dit ’n vals gerug is wat daarop gemik is om potensiële kernwapensmokkelaars mee vas te trek.

  • Heruitsendings van Ware lewensdramas vind op Sondae om 20:30 op VIA (DStv-kanaal 147) plaas. 

Bronne: ewn.co.za, aviaton-safety.net, southafrica.to