Die geheime wêreld van seks, kettings en swepe . . . — Pieter van Zyl (Huisgenoot, 29 Maart 2018)
’n Kaapse man wat van sy vrou se moord aangekla word, is na bewering behep met dominerende seks. Wat behels dit?

Op die oog af lyk dit soos ’n doodgewone huis in ’n doodgewone stil voorstedelike buurt in die Jakarandastad.

Maar in ’n kamer op die eerste verdieping kom jy af op rye rottangs, plakke, swepies en ander slaandinge saam met boeie, leermaskers en kettings.

Uit die dak hang hysapparate. Dis ’n sogenaamde strafkamer, want op die stoele in die hoek kom sit kliënte om gemartel te word.

Hulle doen dit weliswaar op hul eie voorwaardes, vertel Miss Paige.

Dit is die skuilnaam waaronder dié 45-jarige vrou van Pretoria met ’n bemarkingsgraad agter haar naam die rol van “dominatrix” vertolk vir kliënte onder wie volgens haar ’n predikant, boere en gesiene sakelui tel.

Foto ter illustrasie: Gallo Images/ Getty Images.

BDSM, oftewel Bondage, Discipline, Dominance, Submission, Sadism en Masochism, is die naam vir die soort tonele wat hier afspeel – iets wat jy dalk gereken het net in boeke en rolprente soos Fifty Shades of Grey gebeur.

Maar toe het die moordsaak teen Rob Packham (57), ’n Kaapse sakeman en pa van twee, iets opgelewer wat mense nou behoorlik aan die gons het. 

Rob Packham en sy vermoorde vrou, Gill. Rob was volgens verklarings aan die polisie na be­wering verslaaf aan swepe en dominante seks. Foto: Facebook

Hy het volgens verklarings wat sy vermoorde vrou, Gill (55), se vriendinne glo by die polisie afgelê het na bewering ’n voorliefde vir dominerende seks, kettings en swepe.

Met sy onlangse borgtogaansoek in die landdroshof in Wynberg het die aanklaer aangevoer Rob ly aan ’n “verslawing”, maar nie daaroor uitgewei nie.

In die weke voor Gill se verkoolde lyk in die kattebak van haar uitgebrande BMW gevind is, het sy volgens haar vriendinne se polisieverklarings in WhatsApp-boodskappe aan hulle geskryf Rob wil nie met sy “nonsens” ophou nie.

‘Ek het al ’n dominee en ’n boer gehad. Hul vroue het die afsprake gemaak’

Sy het glo in die boodskappe haar man se beweerde verslawing as “verraad” beskryf en vertel sy ly weens haar man se ontrouheid.

Kettings en swepe en ’n verslawing aan dominerende seks in die verhouding van ’n oënskynlik doodgewone egpaar?  

Terwyl hierdie soort seksuele voorkeure dalk talle wenkbroue laat lig en daarom ook dikwels ’n dig bewaarde geheim bly, sê die Kaapse seksterapeut Marelise Swart daar is niks “abnormaals” daaraan nie.

“Dit verander nie iemand in ’n geweldenaar nie,” beklemtoon sy.

Binne BDSM verteenwoordig voete die gewildste seksuele fetisj (’n seksuele behoefte aan ’n voorwerp of liggaamsdeel wat nie gewoonlik by seks betrek word nie).

Sowat 3% van Suid-Afrikaners beoefen BDSM, sê Marilet Kotzé, ’n seksterapeut van Bloemfontein. Dit was juis die blitsverkoper en lokettreffer Fifty Shades of Grey wat dit skielik onder baie Suid-Afrikaners gewild gemaak het, meen Marelise.

Dit word in klubs, by sekspartytjies in voorstedelike huise en aanlyn beoefen, maar ook in die slaapkamer van doodgewone, lank getroude pare, verklap sy.

Tog is dit iets wat soms onmin in ’n verhouding kan veroorsaak – en kan meebring dat een lid van die egpaar elders vervulling soek.

“Baie vroue besluit selfs ná berading om so ’n man te los omdat hulle nie kan of wil saamspeel in die BDSM-wêreld wat deel van sy seksidentiteit is nie. Dan moet daardie mens ’n maat soek wat reeds deel van die leefstyl is.”

As die Packhams huweliksprobleme weens Rob se beweerde verslawing aan dominerende seks gehad het, sou sy hulle daarmee kon gehelp het, meen Marelise.

“In terapie kon hy en sy vrou tot ’n kompromis gekom het – of tot ’n gesamentlike besluit dat hul paadjies weens hierdie obsessie eerder moet skei.”

Sy het al huwelike gered met die aktiwiteite in haar strafkamer, vertel Miss Paige, wat al 13 jaar die sweep inlê.

Waaroor gaan dit?

Die pyn is nie die hoofsaak nie, maar om mense te leer om hul behoeftes in die slaapkamer aan hul maat te kommunikeer, sê sy. Sy verduidelik dit raak ook nie gevaarlik as paartjies saam daaraan deelneem nie.

“Die sub (die sogenaamde onderdaan) is altyd in beheer, en net dit wat sy of hy wil hê moet gebeur, gebeur. Onderdanigheid is ’n geskenk en daarom moet die dom (die domineerder) seker maak die sub is oukei,” verduidelik sy.

Dan haal Miss Paige vir Spider-Man aan: “Met groot mag kom groot verantwoordelikheid,” en voeg by: “Dit is ook so in my beroep.”

Haar kliënte moet eers ’n dokument van 27 bladsye invul wanneer hulle by haar aanklop.

Op ’n skaal van nul tot 10 moet hulle aandui hoe graag hulle sekere dinge wil beproef en waarvan hulle alles hou. “Tensy jy daarvoor vra, gaan ek dit nie doen nie. Daar kan tussen drie en ses maande onderhandeling wees voor ek aan jou raak.”

Miss Paige het selfs al liefde in haar folterkamer gevind. “Ek het die een goue reël oortree en verlief geraak op ’n kliënt en nou is ons al 11 jaar bymekaar.

Hy is ’n fetisjis. Hy raak gestimuleer deur hoë hakke, suspenders en sykouse,” vertel sy. Haar kliënte is meestal mense met tersiêre opleiding, sê sy.

Van die uitvoerende hoofde, direkteure, dokters, advokate en ander mense in hoë posisies wat haar kom besoek, het juis die behoefte om vir ’n slag beheer oor te gee.

“Ek plaas mense wat my kom sien op ’n reis. Hulle bepaal self hul bestemming – heel dikwels om seks met hul vrou by die huis te gaan hê.

"Ek het al ’n dominee en ’n boer van die een of ander plattelandse dorpie ook by my gehad. Hul vroue het die afsprake gemaak omdat hulle nie aan hul behoeftes kan voldoen om pyn te ervaar nie. ‘Gaan doen wat julle moet doen en kom dan huis toe,’ was hul boodskap aan hul mans.”

Waarom BDSM?

Party kliënte kom soek seksuele ontlading, maar ander soek bevryding van traumatiese kinderjare, sê sy en verduidelik BDSM het al in sommige gevalle ’n uitlaatklep gebied vir mense wat as kinders gemolesteer is.

Tog waarsku sy mense moet weet wat die risiko’s kan wees. “Baie vroue kom hierheen om gefix te word. Ek kan hulle ’n veilige plek gee om van frustrasie ontslae te raak.

"Maar daar is mans wat wil mishandel en die BDSM-gemeenskap infiltreer om hierdie vroue as prooi te misbruik. Dit kan gevaarlik raak. Jy moet weet wat jy wil hê en bereid wees om perke te stel, anders kan jy vernietig word,” erken sy.

Ook Delene van Dyk, ’n seksualiteitsopvoeder en bestuurslid van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Seksuele Gesondheid, waarsku dat BDSM fisiek en psigies gevaarlik kan wees as “mag misbruik word”.

Foto ter illustrasie: Gallo Images/ Getty Images.

Die reëls moet nagekom en grense gerespekteer word, beklemtoon sy.

“Party geniet die streel van ’n veer, ander weer ’n piets met ’n rottang teen ’n boud of blad, soms ’n lek of knibbel aan ’n groottoon of die sagte pluk aan ’n bos hare. Ander wil hangend vasgebind en gemuilband word tussen twee pilare,” sê Delene.

Die domineerder moet bewus wees van die fisieke gevaar van versmoring, die toediening van pyn en om iemand vas te bind.

“Op ’n sielkundige vlak is dit ’n intieme en sensuele ervaring om iemand te vertrou en hulle beheer te gee. Solank daar met liefde en deernis gespeel word en elkeen vry voel om te onttrek wanneer hulle oorweldig voel, kan dit ’n positiewe en koesterende ervaring wees.

"Dit is deel van mense se gesonde sekslewe, al praat hulle nie daaroor nie. Dit voeg kreatiwiteit en opwinding by die intieme spel,” meen Delene.

“Op ’n fantasievlak voldoen dit aan die behoefte om vreesloos te leef,” sê Marilet.

“Maar soos met alle fantasieë moet dit met ’n knippie sout geneem word. Dalk geniet jy dit glad nie.”

Vertroue is baie belangrik by BDSM, beklemtoon sy.

“Beserings kan opgedoen word as albei nie nagelees het en presies weet hoe om die tegnieke toe te pas nie of iets doen wat te gevorderd is."

‘Party geniet die streel van ’n veer, ander weer ’n piets met ’n rottang teen ’n boud of blad’

Marelise beveel die gebruik van “veilige woorde” aan, soos “rooi” vir nee of stop, “geel” vir dalk en “groen” vir dis oukei, jy kan aangaan.

“Dis soos bergklim of stap. Daar is gevare na gelang van of jy ’n heuweltjie of die berg Everest wil uitklim,” verduidelik sy.

Sy help pare uitvind waarvan hulle hou en waarvan nie.

“As jy net 5 km wil hardloop en jou maat wil die Comrades-marathon voltooi, is dit dalk beter dat hy vir hom ’n ander oefenmaat kry,” is haar raad.

“Natuurlik met toestemming.” 

Wanneer en waar?
Huisgenoot: Ware Lewensdramas word elke Maandag om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgsaai. Episodes word die daaropvolgende Maandag om 14:00 herhaal.