Driehoek-hoof groet skool met ’n swaar hart ná ramp — Cyril Blackburn (Huisgenoot 21 Februarie 2019)
Vanmôre het hy die laaste van sy besittings in die kantoor opgepak. Elkeen is versigtig toegedraai; weggepak en sorgsaam in sy motor gelaai. Toe net die dop van sy skoolkantoor oorbly, het hy ’n oomblik lank na die leë kantoor teruggekyk – en toe die deur vir ’n laaste keer agter hom toegetrek.

Tien jaar lank was hierdie kantoor sy hawe: ’n Plek waar hy ’n traan kon pink; waar hy soms uitbundig kon lag; waar stout kinders oor die vingers getik is en waar lang en betekenisvolle gesprekke oor ’n beker koffie gevoer is.

Maar vandag sluit Hein Knoetze, die oudhoof van Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark, hierdie hoofstuk af. 

In sy vorige onderhoud met Huisgenoot het Hein vertel dat hy oor ses weke sal aftree, en nou het hierdie dag gekom.  

“Dis die einde van ’n mooi seisoen,” vertel hy aan Huisgenoot nes hy by sy huis op hierdie dorp aangekom het.

Dit is ’n seisoen wat op 1 Februarie wreed onderbreek is toe ’n loopbrug op die skool ineengestort het en vier jong lewens geëis het: die van Roydon Olckers (17), Marli Currie (14), Marnus Nagel (16) en Jandré Steyn (13). Meer as 20 ander leerders is ook in die ongeluk beseer.

Dis skuins ná 10:00 toe Huisgenoot met Hein gesels – en vir hierdie skoolhoof voel dit amper vreemd om op ’n Vrydagoggend, nog lank voor die klok vir huistoegaantyd lui, reeds tuis te wees.

“Dis vreemd. Ek weet nie eintlik hoe om dit beskryf nie. Dis totsiens, maar nog nie finaal nie. Dis ’n tydperk wat verby is, maar dit het nog nie heeltemal by my ingesink nie,” vertel hy.

In sy kop herleef Hein Knoetze die verskriklike ge
In sy kop herleef Hein Knoetze die verskriklike gebeure van 1 Februarie oor en oor. Foto: Papi Morake

Die laaste week was een van die kosbaarste in sy tyd by die skool, meen die oudskoolhoof.

“Ons het gisteraand my afskeid hier by die skool gehad. Ag, dit was sommer emosioneel. En toe begin vanoggend soos ’n gewone oggend – eers die bestuursvergadering en toe die personeelvergadering. Ons was maar almal emosioneel en het maar ’n bietjie gehuil, ek is mos maar ’n emosionele mens.”

Vanoggend, nadat die leerders aan die skool toets geskryf het voor die skoolvakansie amptelik begin, het die hele skool eers die volkslied en die skoollied saamgesing voor past. Wian Storm die skriflesing en gebid gelei het.

“Dit was ’n volronde oomblik: Hy het verwys na ’n gesprek wat ek en hy ’n paar jaar gelede gehad het. Hy het my gevra wat my droom vir die skool is. Ek het gesê ’n skool waar Christenskap eerste gestel word; dat dit vir ons belangrik is om eers met die kinders se harte en dan met hul koppe te werk.

“En ag . . . Dit was so mooi toe hy sê dit is nou presies vervolmaak. Die Here was vir ons baie goed gewees.”

By die skool was gewone verrigtings ook reeds in volle swang: Die nuwe brug is amper klaar gebou; leerders kan amper uit die tente op die atletiekveld skuif en die kinders se gemoed is positief, sê Hein.

Van vandag sit Ricardo Erasmus, die skool se adjunkhoof, nou in dieselfde stoel wat voorheen Hein s’n was. Hierdie rol sal hy vervul tot daar later vanjaar ’n nuwe skoolhoof aangestel word.

Vir hom wat Hein is, gaan die pad ook nie nou onmiddellik eindig nie; daarom, bieg hy, het hy die skool nog nie finaal gegroet nie.

“Ons trek in volgende week see toe. Wanneer die skool weer op 2 April begin, sal ek ook daar wees. Alles het in die laaste paar maande teen ’n geweldige tempo gebeur. En ag, ek sal ook nie vrede hê as ek nie weet alles by die skool verloop glad en is heeltemal reg nie.”

Tog het hy vrede oor die toekoms van die skool, meen Hein.

“Die genade wat ons oor die laaste weke beleef het, is onbeskryflik . . . Die gemeenskap het hande gevat; die Here het ons gedra. Maar ek wil tog ’n laaste draai kom maak – net om koebaai te kom sê, die keer finaal, en om te sien of almal oukei is.”

Wanneer en waar?
Huisgenoot: Ware Lewensdramas word elke Maandag om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgsaai. Episodes word die daaropvolgende Maandag om 14:00 herhaal.