Haar man, Christopher Panayiotou, word as die vermeende baasbrein agter haar moord en ontvoering beskou en na sy verhoor in die hooggeregshof in Port Elizabeth word hy hieraan skuldig bevind en tot lewenslange tronkstraf gevonnis.

Ons het dubbel so seer as die Inggse – Deur Joanie Bergh, 7 Desember 2017

In hul eerste onderhoud sedert die moord op Jayde praat Christopher Panayiotou se familie oor die verlies van ’n dogter en ’n seun.   

Die skouers van die man aan die oorkant van die konferensietafel ruk liggies terwyl hy huil. Hy laat sy kop in sy hand sak en haal sy bril af om die trane af te vee.

Hy onthou die dag nog pynlik goed toe hy sy lewelose skoondogter met ’n kopwond in die veld sien lê het. Hy en sy skoondogter se pa.

Daar in die veld by haar lyk het die twee mans saam oor haar gehuil. En dan, in ’n sterk Griekse aksent, sê hy: “Ek ken my seun. Hy sou nooit so iets gedoen het nie.”

Die Panayiotou- gesin is kloksgewys van links agter Chloe, Kalleope, Costa en Fanoula. Hulle verbreek hul stilte nadat hul seun en broer, Christopher, tot lewenslange tronkstraf gevonnis is.

Aan die woord is die 65-jarige Costa Panayiotou. Sy seun, Christopher (31), is kort tevore in die hooggeregshof hier in Port Elizabeth lewenslank tronk toe gestuur vir die moord op sy vrou, Jayde (27).

Vroeër die dag was dit Christopher se ma, Fanoula (55), wat saggies in die hofbank gehuil het nadat regter Dayalin Chetty die vonnis aan Christopher en sy twee medebeskuldigdes voorgelees het. Costa het vertroostend sy arm om sy vrou se skouers gesit.

Hier in die konferensiekamer van ’n regsfirma waar die Panayiotous hul eerste mediaonderhoud sedert die skokmoord in April 2015 aan ons toestaan, sit hulle heg verenig: pa, ma en hul dogters, Chloe (28) en Kalleope (25).

Nes vroeër in hofsaal 1. Agter hulle het Jayde se familie gesit: haar pa, Derrick Inggs, ma, Michelle, en suster, Toni. En hul ondersteuners in hul “Justice for Jayde”-hemde.

Die ondersteuners se reaksie op die vonnis was baie anders as die Panayiotous s’n: Hulle het hande geklap en gefluit. Dis deel van die Panayiotous se pyn sedert daardie dag toe Costa en Derrick saam in die veld gehuil het: nie net die verlies van hul skoondogter aan die dood en hul seun aan die tronk nie, maar ook die skeuring met die Inggse en die veroordeling en selfs teistering deur die publiek.

Ek weet net ek het my seun reeds liefgehad as ’n baba, as ’n fetus. Hy is my seun. Ek het nou my kind verloor, en ons huil daaroor.

In die hof moes die gesin die swaar vonnis hoor. Fanoula kon die trane nie keer nie.

“Ons het besluit om uit respek stil te bly. Ja, Jayde se familie het seer, maar ons het dubbel so seer,” sê Fanoula langs haar man en die trane dam in haar oë op. “Dit maak nie saak dat ander dink ons het Jayde nie liefgehad nie. Hulle is baie, baie verkeerd. Ons het ook ’n dogter verloor. En nou het ons ons enigste seun verloor.”

Die Panayiotous en die Inggse het saam om die braaivleisvuur gekuier in die jare toe Christopher en Jayde ’n paartjie was. Maar nadat Jayde voor hul huis in die woonbuurt Stellen Glen ontvoer en haar lyk twee dae later in ’n veld buite Uitenhage gevind is, het alles onherroeplik verander.

Christopher is die dag ná haar begrafnis in hegtenis geneem en daarvan beskuldig dat hy haar huurmoord gereël het. Sedertdien sien die twee families mekaar net in die hof.

Die dag voor vonnisoplegging het Christopher se jongste suster, Kalleope (25), die getuiebank ingeneem. Tranerig maar dapper het sy om genade gepleit vir haar broer en gesê daar steek veel meer in hom as wat in die media uitgebeeld is. Nie net die Inggs-familie kry swaar nie; haar familie sukkel ook om alles te verwerk, het sy uit ’n brief voorgelees wat sy ter strafversagting aan die hof geskryf het. Haar broer en Jayde, wat in 2013 getroud is, het langer as 10 jaar ’n verhouding gehad, en die Panayiotou-gesin koester herinnerings aan wonderlike en gelukkige oomblikke saam met haar.

“Ons voel die leemte van haar dood en mis haar verskriklik,” het Kalleope gesê.

Jayde, Christopher se oorlede vrou.

Vandag is Christopher se prokureur, Alwyn Griebenow, en hul advokaat, Terry Price, ook by terwyl die Panayiotous hul hart teenoor ons uitpraat. Sedert die aanvang van die hofsaak het hulle talle dreigboodskappe ontvang, vertel Terry.

“Ons kry boodskappe van mense wat sê die Panayiotous moet opgehang word of dat hulle almal agter ’n kar gesleep moet word.”

Haar familie is wyd gekritiseer omdat hulle “nie genoeg emosie” in die hof wys nie, sê Chloe. Sy en Jayde was baie geheg aan mekaar. Hulle was nie net skoonsusters nie; hulle was ook kollegas by dieselfde skool.

Jayde se familie het seer, maar ons het dubbel so seer.

“Ons raak ook emosioneel, maar ons kan nie reageer nie. Of ons op- of afkyk of huil, ons word steeds veroordeel.” Ook hul kleredrag het kommentaar ontlok. “Ons is as deel van die ‘Mafia’ bestempel omdat ons gereeld swart dra hof toe,” sê Fanoula. “Maar dit is deel van ons geloof as Ortodokse Grieke wanneer ons rou.”

Sedert die moord op Jayde was hul lewe ’n nimmereindigende nagmerrie. Die dag van haar verdwyning het Christopher hulle almal gebel en gevra of hulle Jayde gesien het. Toe hulle besef sy word vermis, het Costa, Fanoula en Chloe saam na haar begin soek.

“Christopher was angstig, senuagtig, bang. Met elke uur wat verbygegaan het, het ons geweet die kans raak ál skraler om Jayde lewend te kry,” onthou Fanoula. Pols jy hulle oor die dag dat Jayde se lyk gevind is, is dit asof jy ’n sneller trek en al vier gesinslede raak emosioneel.

“ ’n Mens kan nie verduidelik hoe ons gevoel het nie. Dis ’n oomblik wat ek nooit sal vergeet nie. Dit voel selfs nou onwerklik om te dink sy is weg,” sê Chloe. “Nee, ’n mens kan dit nie verduidelik nie,” beaam Costa saggies.

Ons het nooit van enige probleme in Christopher en Jayde se huwelik geweet nie

Ná haar dood het berigte verskyn oor Christopher se jare lange buite-egtelike verhouding met Chanelle Coutts (29), ’n werknemer by een van die Panayiotous se ondernemings.

“Ons het nooit van enige probleme in Christopher en Jayde se huwelik geweet nie,” sê Costa. “Ek het voorheen ’n gerug oor die affair gehoor en Christopher daaroor uitgevra. Maar hy het dit ontken. Hy het gesê: ‘Pa, ek het Jayde lief.’”

Chanelle Coutts, sy minnares.

Hulle glo in sy onskuld, selfs al het hulle al die getuienis teen hom aangehoor.

“Is dit waar? Is dit nie waar nie? Hoe weet ’n mens?” vra Fanoula. “Ek weet net ek het my seun reeds liefgehad as ’n baba, as ’n fetus. Hy is my seun. Ek het nou my kind verloor, en ons huil daaroor.”

Hulle beplan om teen die skuldigbevinding te appelleer, sê Alwyn. Sinethemba Nemembe (28), een van die medebeskuldigdes, is ook tot lewenslank gevonnis en Zolani Sibeko (35) tot 15 jaar.

Adv. Marius Stander, vir die staat, sê hy is tevrede met die vonnisse. Met Christopher gaan dit goed onder die omstandighede, sê Alwyn.

“Hy wys dalk nie emosie in die hof nie, maar wanneer hy daar uitgaan, is hy heeltemal anders. Hy probeer sterk wees ter wille van sy ouers, want hy weet hoe moeilik dit vir hulle moet wees.”

Toe ons groet, sê Costa: “Christopher het my al verskeie kere gesê hy het niks met Jayde se moord te doen gehad nie. En ek glo hom. So hulle kan maar hande klap soveel hulle wil en lag; ek ken my seun. “En daar is nog duisende onbeantwoorde vrae.”

  • Chanelle wil nie kommentaar lewer oor Christopher se vonnis of hul verhouding nie, sê haar prokureur, Danie Gouws, aan Huisgenoot. Volgens ’n bron het sy hom tydens sy verhoor gereeld by die North End-gevangenis besoek en sukkel sy om die nuus oor sy lang vonnis te verwerk.

Foto's: Corrie Hansen, Gallo Images/Netwerk24/Lulama Zenzile, Gallo Images/Getty Images, Facebook

  • Huisgenoot: Ware Lewensdramas word Donderdae om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai.
  • Heruitsendings is Sondae om 21:00.