UIT DIE ARGIEF: Christoff Becker het 'n nuwe meisie en die liefde blom

Dit is nog ’n “jong verhouding”, maar daar is geen twyfel dat die liefde tussen Christoff Becker en die Brakpanse model Lieryn van Niekerk, oftewel Lilly, blom nie.

Christoff (31) mag in die stadium kragtens sy paroolvoorwaardes nie met die media praat nie, maar Lieryn het aan Huisgenoot gesê dit is nog ’n jong verhouding en hulle kyk nog die kat uit die boom.

Lieryn van Niekerk en Christoff Becker is dolverlief.

“Ons wil nog nie rêrig te veel daaroor (hul verhouding) sê nie. Ons is maar nog baie vars in hierdie ding. Ons wil nog kyk waarheen dit gaan, waarheen ons paadjies kan lei,” het Lieryn (20) aan Huisgenoot.com gesê.

Sy het vertel hulle albei se vorige verhouding is onlangs beëindig.

Die twee liefdesduifies krul snoesig voor die televisie op in hul prettige pantoffels.

Huisgenoot het in Februarie 2017 met Veronika Geyer, ’n 20-jarige somatologiestudent van Centurion, gepraat. Haar en Christoff se verhouding het intussen skipbreuk gely. 

Christoff, het bekend geword as een van die sogenaamde Waterkloof-vier. Hy het tronkstraf uitgedien vir die opspraakwekkende voorval waartydens hy en drie vriende ’n hawelose man wreed om die lewe gebring het. Hy sal in Desember 2017 drie jaar op parool uit wees.

Agter tralies het Christoff ’n bemarkingsgraad behaal en hy werk deesdae saam met sy pa, dr. Christo Becker, in Benoni as bemarkingbestuurder vir ’n telekommunikasie-en-eiendomsontwikkelingsmaatskappy waarin hy en sy pa ook aandele het.

Die spiertier word sedert sy vrylating selde sonder ’n mooi vrou aan sy sy gewaar. Lieryn, wat in vele selfies met haar strykplankmagie en sonbruinvoorkoms pryk, kyk klaarblyklik net so mooi na haarself soos haar kêrel.

In een plasing sowat 10 dae gelede skryf sy by nog ’n selfie waar sy met haar smeulende lippe en deurdringende groen oë na die kamera kyk: “Daai gevoel wanneer jy besef jy is werklik verlief . . .”

Wanneer en waar?
Huisgenoot: Ware lewensdramas word elke Maandag om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai. Episodes word elke Maandag om 14:00 herhaal.