Johannes Kerkorrel: Ná 20 j. maak seun, eksvrou oop oor hul verlies – Cyril Blackburn, Huisgenoot 18 Junie 2020
Amper 20 jaar ná sy dood maak die ikoon van Afrikaanse protesmusiek se eksvrou en seun oop oor die Ralph wat hulle geken het.

Hy was die groot troe­badoer van plaaslike protesmusiek, die riet­skraal sanger wat ’n generasie jong Afrikaanse mense aangemoedig het om apartheid en die konvensies van ’n Calvinistiese bestel te bevraagteken en selfs te bespot.

By konserte dwarsoor die land het die gehore “Sit dit af, sit dit af!” gebulder wanneer hy sy satiriese liedjie oor PW Botha gesing het. Hoor ’n mens daardie lirieke 30 jaar later, is dit kompleet asof jy die stroewe gesig van die Groot Krokodil en sy waarskuwende vinger weer op die televisieskerm sien opdoem . . .

As een van die groot geeste van die groep musikante bekend as die Voëlvrybeweging was Johannes Kerkorrel ’n legende van die laat 1980’s en ’90’s – ’n tyd van politieke en sosiale verandering in Suid-Afrika.

Hy en sy Gereformeerde Blues Band het aan Afrikaanse musiek ’n maatskaplike gewete gegee.

Lede van die Gereformeerde Blues Band en Die Swart
Lede van die Gereformeerde Blues Band en Die Swart Gevaar: Voor (van links) is Kerk­orrel, ­Tonia Möller, Mark Bennett en Gary Herselman. Agter is Steve ­Howells, James Phillips, Dirk Uys en Jannie van Tonder.

Weg van die verhoog en skares was Ralph Rabie, sy doopnaam, ’n privaat mens. En wat in sy gemoed was toe hy homself in November 2002 aan ’n boom op die kusdorp Kleinmond opgehang het, sal ons nooit weet nie.

Maar twee mense het die ware Ralph soos min ander geken: sy eksvrou, Anne Grobler, en hul seun, Reuben Rabie. Albei het verkies om die kollig te vermy ná ­Ralph (toe 42) se dood.

Tot vandag toe . . . Want Anne en Reuben het besluit om hul lang stilswye te verbreek en hul harte oop te maak oor die Ralph wat hulle geken het en na wie hulle steeds verlang.

“Ek wonder dikwels hoe dit sou gewees het om hom hier te hê, veral wanneer ons ’n verjaardag vier,” sê Reuben (36) vandag. “Ek wonder wat hy sou dink van my vrou en waaroor hulle sou gesels het. Sou hy trots wees op my? Ek dink gereeld aan watter raad hy my sou gee.”

Anne (65) praat saam. Reuben se gewoontes laat haar dikwels aan Ralph dink, vertel sy. “Soms ruk dit my aan die hart . . . Ek mis steeds die magic wat ons gehad het.”

Anne en Ralph is in die 1980’s geskei, maar hulle het hegte vriende gebly.

 Vir Kerkorrel se eksvrou, Anne Grobler, en sy seu
Vir Kerkorrel se eksvrou, Anne Grobler, en sy seun, Reuben, gaan die verlange nie weg nie, selfs ná al die jare sedert sy dood in 2002.

“Hy’s steeds deel van ons,” beaam Anne. “My ma draai steeds die radio harder as daar ’n liedjie van hom speel, en my suster bel ons steeds as daar ’n ou ­onderhoud met Ralph uitgesaai word.”

Vir hulle was hy meer as net die protessanger Johannes Kerkorrel. As eg­genoot en pa het hulle die skaam, sensitiewe kant geken wat hy vir ander versluier het – die kant wat net in sommige van sy sielvolle ballades deurgeslaan het.

Reuben vertel die armoede waarin sy pa grootgeword het, was een van die dryf­vere agter sy sukses as musikant. En hy het vele kante gehad, onthul Anne.

“Hy was ’n omgeemens, maar ook selfsugtig. Sag dog onverskrokke. Vatbaar vir die vleiery van die groupies, maar ongelooflik eerlik oor homself.”

Hulle twee het vandag steeds baie vrae oor sy dood. Die jare het vir hulle aanvaarding gebring, maar nie vrede nie, sê Reuben.

“Ek sou nie sê ’n mens het ooit volkome vrede wanneer jy op so ’n manier van iemand afskeid neem nie. Veral as jy die dinge wat ’n mens die graagste vir mekaar wou sê nooit kon sê nie. Maar dis water onder die brug. Daar’s niks wat ons kan doen om hom terug te bring nie.”

Reuben was 21 toe sy pa dood is. “Die verlange is blywend, selfs ná soveel jare,” sê hy.

En hoewel hy volgens Anne baie van sy pa se gewoontes het, volg hy in sy ma se voetspore. Anne is ’n professor in gesondheidswetenskappe aan die Noordwes-universiteit in Potchefstroom en Reuben ’n omgewingswetenskaplike.

Dit word gou duidelik waarom Reuben gekies het om al hierdie jare uit die openbare oog te bly.

“Daar’s al van my geboortedag af verwag dat ek in my pa se voetspore sou wandel. Of dat ek sommer gou-gou in die geselskap ’n bietjie vermaak moet verskaf – nés hy het. Dis iets waaraan jy gewoond moet raak,” sê hy.

“Ons het ongelooflike waardering vir die manier waarop kunstenaars hul families beskerm van ’n lewe wat hulle nie noodwendig gekies het nie. Nes my pa gedoen het,” sê Reuben.

“Daar is altyd positiewe en negatiewe ervarings. Mense praat gewoonlik met soveel heimwee en verlange oor Johannes Kerkorrel. En dis omtrént ’n storie wanneer jy dan vertel jy is sy seun.”

Maar hy het wel geleer om dit te verstaan en beter te hanteer namate hy ouer geword het.

Vir sy geliefdes was Ralph nie dieselfde mens as sy alter ego op die verhoog nie.

Hy was ’n persona met absolute vryheid. Ralph was die skrywer agter die masker, die stil mens wat die samelewing fyn waargeneem het.

“Hy was baie kompleks,” sê Anne. “Maar onderliggend tot alles was daar ’n staaldraad van integriteit en toewyding tot dit waarin hy glo.”

Reuben vertel: “Kerkorrel het met tyd nader aan Ralph beweeg. Kerkorrel was die hofnar; die een in wie my pa sou verander as hy laf wou wees, skoor wou soek en die gek wou skeer met die samelewing.

“Hy was ’n persona met absolute vryheid. Ralph was die skrywer agter die masker, die stil mens wat die samelewing fyn waargeneem het.”

Dit is Ralph, weg van die verhoog, na wie Anne verlang. Met al sy geite . . .

“Ralph het byvoorbeeld gedink die ­petroltenk van die ou Mini was soos die weduwee se kruik. Ons het talle kere sonder petrol gaan staan,” onthou sy.

“Hy was erg oor soel dae op die strand, en oor berge en riviere. Hy was verknog aan troeteldiere, veral aan Max, die staffie wat altyd op sy motor se passasier­sitplek gesit en die wêreld besigtig het. En Natasha, die dobermann wat ons as klein hondjie in ’n hotel in Seepunt ­ingesmokkel het toe ons Kaap toe verhuis het.”

En sý herinnerings, sê Reuben, is aan ’n sorgsame pa.

“Hy het eenslag, nog op die golf van roem pas nadat Eet kreef uit­gereik is, met sy ou Renault 5, bedek met plakkate oor opkomende gigs, al die pad Bosveld toe gery. Tot by ’n plaas 120 km noordwes van Thabazimbi, daar langs die Matlabasrivier,” onthou Reuben.

Ná sy egskeiding van Anne – net toe die Voëlvrybeweging ’n nuwe era in Afrikaanse musiek begin het – was Ralph steeds betrokke by haar en hul seun.


“Hy het die 120 km stof-en-sinkplaatpad gery om vir my te kom kuier waar ek gereeld skoolvakansies by my oupa en ouma deurgebring het. Ons het die Bosveld, die plaas en dierelewe verken en in die ronde plaasdam geswem.”

Ná sy egskeiding van Anne – net toe die Voëlvrybeweging ’n nuwe era in Afrikaanse musiek begin het – was Ralph steeds betrokke by haar en hul seun.

“Ons het tydens my vroeë kinderjare in Woodstock en Parow gebly. Ek was seker so ses jaar oud toe my ma en pa geskei is,” onthou Reuben.

“Maar hy het alles gedoen wat hy kon om vir my ’n goeie pa te wees. Ma en Pa het later gereël dat ek gereeld by hom gaan kuier in sy woonstel in Seepunt.

“Buiten sy lewe as Johannes Kerkorrel was hy maar ’n gewone mens – hy’t gehou van nuwe plekke besoek en van lekker ontbyt by die Wimpy in Seepunt. Hy was net ’n pa.”

Wat sou Kerkorrel oor vandag se samelewing sê?

“Dis ’n moeilike vraag,” sê Reuben. “Dalk sou hy praat oor hoe ’n mooi land Suid-Afrika is. Hy sou sê die politiek sal homself uitwoed en goeie tye sal weer kom. Ek dink aan die woorde van Nic de Jager: ‘Wees goed vir mekaar.’ Ek kan my pa dit hoor sê.”

Vir Kerkorrel se aanhangers, en ’n geslag musikante vir wie hy ’n inspirasie was, is die musikale bevrydingsending van die Voëlvrykonserte sy nalatenskap. Maar vir Anne en Reuben is dit daardie dele van Ralph wat hy net aan sy geliefdes openbaar het wat hulle bybly.

“Ek verlang na hom as mens, as pa. Na die tyd wat ek saam met hom deurgebring het, ons gesprekke en sy fyn sin vir humor,” sê Reuben. “Maar sy musiek en woorde sal altyd met ons wees.”

En Anne?

“Na sy warmte en deernis,” antwoord sy. “Sy intellek en vinnige begrip – dat ek niks aan hom hoef te verduidelik het nie.”

Half bewoë sê sy dan: “Ek gesels nog met Ralph. Ons kon so lekker lag, soms met ’n tikkie melancholie. Dís wat blywend is – dís wat ons onthou.”

  • Die heruitsending van program sal om 20:30 op 20 September 2020 op VIA (DStv-kanaal 147) plaasvind.

Luister saam na van Johannes Kerkorrel se treffers







FOTO'S: GALLO IMAGES/MEDIA24, VERSKAF, FACEBOOK/JOHANNES KERKORREL BIOGRAPHY PROJECT
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe