Kerkleier onthul: Bankrower André Stander was my pa — Cyril Blackburn (Huisgenoot 21 Maart 2019)
Ernie het eers as volwassene ­uitgevind sy pa was die berugte André Stander, en hy vertel sy storie in die bediening.

Iets aan die imposante man herinner ’n mens aan iemand wat jy al iewers gesien het: die saamgeperste lippe en prominente ken; die ooglede wat halfmas hang, sy lang neusbrug.

Wanneer hy op dae soos vandag in ’n koffiekroeg rustig aan ’n cappuccino teug, kyk ’n mens sommerso in die verbystap ’n tweede keer na hom.

Dan besef jy: Die man met die baard wat plek-plek grys word en hare wat yl begin raak, lyk soos André Stander, die berugte bankrower wat in die laat 1970’s en vroeë ’80’s meer as 30 banke beroof het.

Kan dit wees?

“Ek is presies wie jy dink ek is. Ek is André Stander se seun,” vertel Ernie Amos (46), ’n Potchefstroomse musikant en evangelis.

Ernie is deesdae ’n kranige bedieningsleier vir ’n
Ernie is deesdae ’n kranige bedieningsleier vir ’n Potchefstroomse gemeente. Dat sy pa ’n wêreldberugte bankrower was, pla hom nie, sê hy. Hy verwys dikwels daarna wanneer hy preek.

Hier in Potchefstroom in Noordwes sou inwoners dalk nie verwag om in ’n koffiekroeg vas te loop in die seun van ’n wêreldberugte misdadiger nie. Dan is hy nog so vriendelik ook, én by die grootste kerk hier betrokke.

Maar hier weet almal van sy herkoms, spot Ernie. Dit het hy op 21 reeds uit­gevind toe sy ma dit op ’n dag teenoor hom erken. Huisgenoot weerhou haar naam omdat Ernie haar nie in die media by sy verhaal wil betrek nie.

“Dit was ’n geweldige skok,” sê Ernie vandag oor die onverwagte nuus wat sy ma destyds met hom gedeel het.

“Nie omdat my pa ’n berugte bankrower was nie, maar omdat ek nog altyd daarvan oortuig was dat ek my pa nog eendag sou ontmoet.”

Maar dié ontmoeting het nooit gebeur nie, want Stander is al op 13 Februarie 1983 in Florida, Amerika, doodgeskiet. Hy het daarheen gevlug nadat hy uit die Zonderwater-gevangenis op Cullinan ontsnap het.

Ernie was toe 11 jaar oud en nog on­bewus van sy bestaan.

Die berugte bankrower André Stander.
Die berugte bankrower André Stander.

“Ek het nooit werklik vrae oor my pa gestel nie en altyd maar aangeneem niemand wil werklik daaroor praat nie. En ek was oukei daarmee. Natuurlik was dit ’n helse verrassing toe ek die dag uitvind presies wie hy was.

“Maar lewensver­anderend? Nee wat. Nie regtig nie.”

Die legkaartstukke van sy genetika het so een-een bymekaargekom. Hy het sy pa se oë, het familie van Stander later aan hom gesê. Ook sy liefde vir sport en musiek en dalk selfs sy humeur.

“Toe kon ek dit nie meer ontken nie; nie dat ek ooit wou nie. Maar ek moes besef ek deel sy gene; dat dit ’n integrale deel van my bestaan is. Toe moet ek dit so aanvaar,” sê Ernie.

Dis eers toe hy as volwassene uitvind wie sy biologiese pa is dat hy besef het hoe intensief sy familie die nuus­dekking rondom Stander vroeër jare gevolg het, sê Ernie vandag.

Die bankrooftogte het destyds die verbeelding aang
Die bankrooftogte het destyds die verbeelding aangegryp.
: Die bankrooftogte het destyds die verbeelding aa
Die bankrooftogte het destyds die verbeelding aangegryp.

Nooit voor dit het hy die familie se belangstelling in die berugte bankrower se lewe verstaan nie.

Stander se pa was genl.maj. Frans Stander, ’n prominente figuur in die Suid-Afrikaanse Gevangenisdiens.

Nadat Stander byna 30 banke beroof het, is hy op 6 Mei 1980 tot 17 jaar tronkstraf ge­vonnis. Agter tralies het hy Allan Heyl en Lee McCall ontmoet. Toe dié drie uit die Zonderwater-gevangenis ontsnap, het hulle die plundertogte voort­gesit.

McCall is op 30 Januarie 1984 tydens ’n skietery met die polisie in Houghton, Johannesburg, dood.

Heyl is in dieselfde jaar in Engeland in hegtenis geneem en op 18 Mei 2005 op parool vrygelaat. Hy het sedertdien die boek Bank Robber: My Time with André Stander geskryf. Dit is einde verlede jaar uitgereik.

Grootwordjare

“Dis moeilik om te verduidelik. Ek het nooit werklik ’n behoefte daaraan gehad om te weet wie my ‘regte’ pa is nie. Ek het ’n ma en ’n stiefpa gehad, en dit was ­genoeg,” vertel Ernie.

Sy van, Amos, is sy ma se nooiensvan.

Hy het grootgeword saam met ’n halfbroer (nou 39) en -suster (nou 43). Sy halfbroer is gebore uit sy stiefpa se eerste huwelik voor hy met Ernie se ma getrou het en sy halfsuster uit ’n verhouding wat sy ma – ná sy geboorte en voor haar troue met sy stiefpa – met ’n ander man gehad het.

“Ek het maar altyd aan­geneem ek en my halfsuster het dieselfde pa en niemand het ooit met my daaroor gestry nie,” sê Ernie.

Sy grootwordjare was onstabiel, sê hy.

Sy stiefpa, wat vyf jaar gelede aan kanker dood is, was ’n boorman wat gereeld vir sy werk moes trek.

“Ek het van ’n jong ouderdom af met depressie gewroeg,” vertel hy.

“Ek was 10 jaar oud toe ek al vir my ma vrae gestel het soos wat die punt van die lewe is en hoekom ons dan leef as ons in elk geval eendag gaan sterf.

“Ek het ’n ingewikkelde verhouding met my ouers gehad. Omdat my stiefpa baie weg van die huis moes werk, het ons baie tyd by my oupa en ouma deur­gebring. En my ma het nooit met my gesels oor die dieperliggende goed soos my pa nie.”

Op 14 is Ernie na die koshuis van die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria. In dié tyd het sy ma en halfsuster na Botswana geëmigreer.

Tennis, rugby, hoogspring, spiesgooi. Net nie hardloop nie, o hel, daarin het ek nooit belanggestel nie.

“Ons het nie veel kontak gehad nie en het so amper-amper van mekaar vervreem geraak. Dis maar hoe die familie was en vandag nog is. Maar hier het ek vir die eerste keer werklik begin leef.

“Ek het ’n ontsettend groot liefde vir sport ontwikkel, ’n liefde wat ek later uitgevind het ek met my pa deel.

“Vandag nog wanneer ek ou skoolmaats raakloop, onthou hulle dalk nie my naam nie, maar hulle onthou my as die outjie wat byna elke sportsoort beoefen het: tennis, rugby, hoogspring, spiesgooi. Net nie hardloop nie, o hel, daarin het ek nooit belanggestel nie.”

Aan die einde van sy matriekjaar was dit gholf wat sy hart verower het. Hy het as ’n beroepsgholfspeler geregistreer en wou ná sy verpligte weermagdiens ’n loopbaan daarin volg.

'Jy moet oppas of jy draai net soos jou pa uit'

Dit was in die vroeë 1990’s dat sy ma op ’n dag teenoor hom met die waarheid oor sy pa vorendag gekom het.

Hy was in Botswana met vakansie ­tydens sy verpligte diensjaar.

“Ons het gestry; ag, oor alles. Sy wou nie hê ek moes gholf najaag nie; sy was bang daar is nie geld daarin nie.

“In ’n oomblik van woede sê sy toe vir my: ‘Jy moet oppas of jy draai net soos jou pa uit.’

“Die skok het deur my liggaam gesypel. Ek onthou nog hoe verdwaas ek daar gestaan het. Ek het strak na haar gekyk en gevra: ‘Wat?’ Toe sê sy vir my: ‘Ja, jou pa is André Stander.’ ”

'Ek wou nie huil nie'

Eers is hy stil . . .

“Ek onthou ek was nie kwaad nie. Ek het geweet van hom; van die Standerbende. Dit het my nie regtig gepla dat hy ’n misdadiger was nie; hy was nie regtig deel van my lewe nie. En soos dinge maar in my familie is, is dit toe daar gelaat. Ons het nie weer daaroor gepraat nie.”

Eers het hy nie daarin belang­gestel om nog oor Stander te weet nie, bieg Ernie. Maar later, nadat hy vir ’n vriend daarvan vertel het, het hy besluit om tog nog oor die afwesige pa uit te vind.

“Ek sê nog my lewe lank ek kan nie my omstandighede kies nie, maar wel hoe ek daarop reageer. Dit was ook my benadering toe ek uitvind. Ek wou nie huil nie, ek was nie kwaad nie, ek het nie verstote gevoel nie. Life is life. Dis hoe dit was. Hy was my pa, hy wou my nie ken nie, einde van die verhaal.”

In die jare hierna het hy uit gesprekke met ou vriende en familie meer oor sy eie geskiedenis uitgevind, vertel Ernie.

“Ek het geleer ek is buite die eg gebore. My ma en André het ’n kort liefdes­verhouding gehad toe sy nog ’n jong vrou was. Sy het swanger geraak. My pa wou nie hê sy moes die baba hê nie, maar my ma het my tog gehad,” sê hy.

“Oor hom het sy nooit ’n woord gerep nie: geen foto’s nie, geen briewe nie, absoluut niks.”

Weer ’n doodse stilte. Hy peins diep.

“As ek sê ons het nog nooit werklik ’n gesprek daaroor gevoer nie, is dit presies wat ek bedoel: Nooit. Alles wat ek vandag weet, het ek eintlik deur ander partye uit­gevind,” sê hy.

Die Standerfamilie

Deur die jare het hy lede van die Standerfamilie opgesoek, vertel Ernie. In een stadium het ’n verlangse niggie hom opgespoor en hom eindelik met Stander se ma en pa in kontak gebring.

“Ek onthou hoe vreesbevange ek was om met hulle kontak te maak. Ek was versigtig; ek het besef ek verskyn nou hier uit die bloute en was bang hy (Stander se pa) dink ek wil ná al die jare vrae stel wat niemand dalk kan of wil beantwoord nie.

“Hy het gesê dis reg; ek kan kom. Maar hy was siek ná ’n hart­omleiding en sou my laat weet het wanneer ’n gepaste tyd is. Hy het nooit daarby uitgekom nie en is kort ná ons gesprek oorlede. Maar ná sy dood het ek vir Stander se ma, my ouma, gaan kuier.

“Sy het vertel hulle het van my geweet, nog al die jare. Maar ag. Hulle is posh mense. Dit was sekerlik vir hulle erg dat hul kind ’n bankrower was en boonop nog ’n liefdeskind ook het. Hulle het dit maar stil gehou.

“Sy was gaaf, die tannie. In ’n stadium het sy gesê ek herinner haar aan Stander. Maar ek het nie ’n werklike band – soos wat ’n mens met ’n ouma behoort te voel – met haar gevoel nie.”

Sy is ’n jaar ná hul ontmoeting oorlede.

'Almal het met lof van hom gepraat'

Later jare het hy nog inligting gekry. Oudvriende, -kollegas en verlangse familie het met Ernie kontak gemaak en staaltjies oor Stander met hom gedeel.

“Almal het met lof van hom gepraat. Hulle het gesê hy was mal oor musiek, veral Bob Dylan. Hy was ’n goeie sportman en het baie selfvertroue gehad. Hy was verskriklik lief vir diere.

“Alles ooreenkomste wat ek in myself kon sien. Maar het dié dinge my ooit bedroef of kwaad gemaak? Nooit. Dit was nooit my lewe nie. Dit was soos om van buite na iemand se lewe te kyk en staaltjies te hoor.

“Ek het nog altyd geweet wie ek as Ernie was, en dit het nie verander bloot omdat dié deel van ’n lewe wat ek nooit geken het skielik aan my geopenbaar is nie.”

Tog was daar eenkeer ’n groot mate van hartseer oor sy pa, bieg Ernie: toe hy in 2003 na die fliekpremière van Stander, sy pa se lewensverhaal, genooi is.

“Een ding was erg: toe die akteur Thomas Jane, wat my pa gespeel het, in die fliek doodgeskiet is.

“Dit het my getref. Ek het besef dis werklik hoe dit was; dis werklik wat gebeur het. En die tyd kan nooit teruggedraai word nie.

“Oor sy berugte rooftogte en alles wat daarmee gepaardgegaan het, het ek my nog nooit bemoei nie, maar in daardie bepaalde toneel het ek besef: Ek sal werklik nooit my pa ken nie.”

Allan Heyl

Hy en Ernie het mekaar in 2008 ontmoet, sê Allan Heyl, drie jaar nadat hy op parool vrygelaat is.

Oor sy ontmoeting met Ernie sê hy: “Toe ek hom die eerste keer sien, het ek onmiddellik gevoel of ek weer vir André sien. Hulle het verskriklik baie na mekaar gelyk, veral die onderste gedeelte van hul gesig. Dit was asof ek in ’n tydkapsule vas­gevang was.”

Volgens Heyl het Stander openlik oor Ernie, wie se naam hy nooit geken het nie, gepraat.

“Hy het vir my vertel dat hy ’n liefdesverhouding gehad het en dat die vrou hom laat weet het sy is swanger. Hy het van die begin af besluit om sy afstand te hou, maar vriende het hom aangemoedig en vir hom gesê: ‘Toe, man, gaan hou net die seuntjie vas; jy sal dadelik ’n verbintenis met hom voel.’

“Hy en sy het mekaar toe op ’n dag in Nelspruit ontmoet.”

Hy het die seuntjie gesien – vir die eerste en laaste keer.

“Ag, en daar was nooit oordeel tussen ons nie. Ons het maar almal issues. Maar ja, tog was ons hart seer vir die seun; dit was ’n onreg.”

Stander het nooit weer oor sy seun gepraat nie, vertel Heyl.

Maar Ernie het vrede.

“Ek het vrede met hoe die Here die verloop van die lewe vir my uitgewerk het. Ek dink nie my pa was ’n slegte man nie; nie as ek luister na hoe die mense van hom praat nie. Ek is nie kwaad vir enigiemand nie.”

Boonop is hy dankbaar dat hy eers as volwassene van sy pa uitgevind het, meen hy.

“Ek dink dinge het uitgewerk soos dit moes. Ek kan myself nie ’n lewe op koshuis indink waar almal weet jy is ’n misdadiger se kind nie.”

Stander was twee keer met Leonie “Bekkie” Stander getroud en van haar geskei. Sy het haarself in 1990 om die lewe gebring; sommige meen tot vandag toe dit was omdat sy nooit Stander se dood kon verwerk nie.

Die bediening

Nadat Ernie en sy vrou, Hanli (43), en drie kinders, Joel (16), Abigaill (12) en Emma (8), in Januarie vanjaar na Potchefstroom verhuis het, is hy voltyds as bedieningsleier by die Duetgemeente hier betrokke. Voor dit was hy in Rustenburg in Noordwes in die bediening.

Ernie vertel hy het self nooit enige streke soos sy pa uitgehaal nie.

“Ek is gelukkig getroud en het great kinders; nie een van hulle gee vir my ’n dag se probleme nie. Ek wil vir hulle wees wat ek dink ’n ouer vir ’n kind behoort te wees,” vertel hy.

Vandag gebruik hy juis sy sonderlinge verhaal in die bediening.

Ek en my pa het albei ’n talent om mense te kry om hul hande omhoog te hou – hy om te roof; ek om die Here te dien.

“Ek het niks om oor skaam te wees nie. Om die waarheid te sê terg ek soms die mense in die kerk, dan sê ek vir hulle: ‘Julle moenie jul oë toemaak tydens die bediening nie, hoor. Netnou vorder ek die kollekte in; my pa was immers ’n bekende bank­rower.’ ”

Hy lag uit sy maag. “Of ek sê graag: ‘Ek en my pa het albei ’n talent om mense te kry om hul hande omhoog te hou – hy om te roof; ek om die Here te dien.’

“Ag, dis hoe ek met mense connect. Hulle geniet dit, en ek dink dis nodig om grappe te maak oor die dinge waaroor ’n mens absoluut geen beheer het nie.”

Hy wys na die tatoeëermerk aan sy regterarm. Dit lees: “His beloved”.

“My vrou het gedink ek tref ’n midlife crisis toe ek op 40 ’n tatoe en ’n Harley-Davidson-motorfiets kry,” sê hy laggend.

“Dalk het sy gedink al dié dinge haal my nou eindelik in. Maar dit was g’n krisis nie,” sê hy.

“Ek wou die lewe vier, want hoe wonderlik is dit om in my skoene te staan en te sê: Ek is regtig heeltemal oukei.”

FOTO'S: GALLO IMAGES/MEDIA 24 KOERANTE, SHUTTERLIFE, FACEBOOK/ERNIE AMOS
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.