Op die dag waarop sy vandeesmaand 36 jaar oud sou geword het, het haar ouers en ousus oudergewoonte saam haar verjaardag gevier.

Aan tafel, waar hulle Chinese wegneemetes – destyds haar gunsteling – geëet het, was Leigh Matthews se plek pynlik leeg, soos wat dit al die afgelope 15 jaar is. Die laaste keer dat Rob en Sharon Matthews hul jongste gesien het, was die dag ná haar 21ste verjaardag.

Leigh
Leigh Matthews Foto: Verskaf

Sy is daardie middag in 2004 deur Donovan Moodley (toe 24), ’n medestudent aan die privaat Bond-universiteit in Sandton, Johannesburg, ontvoer. Haar lyk is byna twee weke later in die lang gras buite Walkerville ontdek.

Donovan is maande later aangekeer en eindelik, ná ’n opspraakwekkende verhoor, aan ontvoering en moord skuldig bevind en lewenslange tronkstraf opgelê.

Ek dink ek het my gesin in die steek gelaat; ek het Leigh in die steek gelaat.

Op Leigh se verjaardag, 8 Julie, moes Rob vanjaar weer die seer in Sharon en hul oudste dogter, Karen, se oë aanskou en worstel met die skuldgevoel dat hy as beskermende pa destyds nie sy dogter uit haar ontvoerder se kloue kon red nie.

“Ons is nou weer deur nog ’n verjaardag. Dít is moeilike tye, selfs nou. Daar is situasies en tye van stilte waarin ek dink ek het my gesin in die steek gelaat; ek het Leigh in die steek gelaat,” sê Rob.

Al het soveel jare – en verjaardae – gekom en gegaan sedert Leigh so wreed van haar gesin weggeruk is, dra Rob steeds aan die onmiskenbare droefheid van ’n ouer wat ’n kind aan die dood moes afstaan.

Tog sê hy: “Ons het ná haar dood nie ophou leef nie. Dit is nie wat Leigh sou wou gehad het nie.”

Vir die eerste keer sedert die tragiese gebeure het Rob (68) ingestem om met Huisgenoot daaroor te praat.

Hy en Sharon het ook pas hul verhaal vertel in die eerste episode van die nuwe seisoen van die televisiereeks Huisgenoot: Ware Lewensdramas op VIA.

Sy besluit om oor die seer pad te praat, is ’n manier om hom sielkundig voor te berei vir die dag dat Moodley om parool kan aansoek doen, verduidelik Rob.

Onbeantwoorde vrae

Al sal dít eers in 2030 wees. Selfs al is sy dogter se moordenaar met die hulp van die speurder wyle Piet Byleveld aangekeer, skuldig bevind en steeds agter tralies, bly talle vrae oor haar laaste ure nog onbeantwoord.

“Ek dink Leigh moes so verskriklik bang gewees het,’’ het Sharon in die televisieprogram vertel. “Hy het haar niks gegee om te eet of drink nie. Daar was niks in haar maag nie. Sy was kaalvoet. Sy moes koud gekry het . . .’’

Sharon sien nie kans om vandag saam met haar man weer ’n onderhoud toe te staan nie, maar by die huis praat hulle nog baie oor Leigh, vertel Rob in ’n restaurant in Fourways.

Leigh wat geweld verag het, maar so gewelddadig gesterf het met ’n koeëlwond in haar agterkop.

“Ek dink dit is deel van die genesingsproses,’’ sê hy. “Ons wil nie haar bestaan misken nie. Ons het 21 wonderlike jare saam met haar gehad. Ons praat oor die goeie tye.”

Dit is soms asof hulle Leigh nog op die rusbank voor die televisie met ’n koppie tee en beskuit kan sien sit, vertel die ouerpaar in die televisieprogram.

Hulle stil, omgeedogter wat so lief was vir kralewerk en haar plakboeke. Leigh wat geweld verag het, maar so gewelddadig gesterf het met ’n koeëlwond in haar agterkop.

Vrydag 9 Julie 2004

“Leigh was ’n huishen. Sy was regtig ’n modelkind. Sy was lief vir die natuur en gesinstyd. Sy het eenvoudige smaak gehad. Sy was nie spandabel of ’n partytjiedier nie,” onthou Rob.

Die aand voor haar verdwyning het die gesin gaan uiteet om haar 21ste verjaardag te vier.

Opgewonde het sy haar mondigwordingspartytjie vir daardie Saterdag beplan. Maar die volgende dag – op Vrydag 9 Julie 2004 – is Leigh, ’n B.Com.-student in haar finale jaar, in die parkeerterrein van die Bond-universiteit ontvoer.

Sharon het onraad vermoed toe sy Leigh die middag op die kampus wou oplaai om die laaste inkopies vir die partytjie te gaan doen en haar dogter nie haar selfoon beantwoord nie.

Toe Rob sy dogter bel, antwoord die toe nog onbekende ontvoerder Leigh se selfoon en eis ’n losprys van R300 000. Rob, ’n sakeman wat in die IT-bedryf werk, het met die man op ’n bedrag van R50 000 ooreengekom.

'Ek dink ek het my gesin in die steek gelaat; ek het Leigh in die steek gelaat.' Foto: Papi Morake
'Ek dink ek het my gesin in die steek gelaat; ek het Leigh in die steek gelaat.' Foto: Papi Morake

Dit was die meeste geld wat hy so vinnig bymekaar kon kry. Toe ry Rob daardie koue winternag alleen om die geld anderkant die Grasmere-tolhek op die N1-hoofweg buite die stad te gaan aflewer. Maar die ontvoerder het nie woord gehou en sy dogter aan hom terugbesorg nie.

En 12 spanningsvolle dae later is Leigh se lyk in ’n veld, 10 km daarvandaan, gevind.

“Dit het my slapelose nagte gegee. Dit was naïef om te dink die ontvoerder sou by die ooreenkoms hou.

Karen het nie net ’n suster verloor nie, maar ook ’n beste vriendin.

My grootste berou is dat ek die geld daardie nag alleen gaan aflaai het,’’ verwoord Rob sy jare lange selfverwyt.

“Ek is vandag spyt ek het nie die polisie saamgevat nie. Miskien kon ons hom daar en dan vasgetrek het. Miskien sou daar ’n ander uitkoms gewees het. Ek weet nie. Ek leef saam met die skuldgevoelens van of ek meer kon gedoen het.”

Die rouproses was pynlik en moeilik.

“Ons almal het op ons eie manier gerou,” verduidelik Rob.

“Ek dink die rouproses hou nooit regtig op nie. Daar is altyd dié leemte in jou lewe.”

Ook vir Leigh se suster was die seer van haar dood byna ondraaglik.

“Ons is ’n baie hegte familie, veral sy en haar suster. Karen het nie net ’n suster verloor nie, maar ook ’n beste vriendin,” sê Rob oor sy twee dogters, tussen wie daar ’n ouderdomsverskil van twee jaar was.

“Ek het toe nie genoeg gedink aan hoe dit Karen raak nie. Sy is deur hel. Miskien het ek dit nie toe goed verstaan nie, maar mettertyd het ek.”

Die lewe gaan noodgedwonge aan, maar die seer verdwyn nooit.

“Daar is steeds goeie tye in jou lewe, ’n gelag, die plekke waar ons was, die vriende wat ons gesien het,” sê Rob.

Rob en Sharon by die hof
Rob en sy vrou, Sharon, spreek die media toe te midde van die soektog na Leigh in 2004. Foto: Gallo Images/Foto24/Felix Dlangamandla

“Die hartseer tye is wanneer ons sê ons wens Leigh was hier. Sy sou nou 36 gewees het. As die lewe verloop het soos sy dit wou gehad het, sou sy dalk getroud gewees het, miskien met kinders. Ek weet nie. Dit sou nie saak gemaak het nie, solank sy gelukkig was.”

Jy sal nooit vergeet nie. Daardie verlies, daardie pyn gaan nooit weg nie.

In die jare sedert die moord op Leigh was daar al soveel ander ouers wat die skoknuus moes kry dat ’n geliefde kind vermoor is. Rob ken die pad wat dié ouers stap goed, en sy hart gaan uit na families wat deur dieselfde beproewing is. Tog probeer hy trooswoorde soek.

“Jy sal nooit vergeet nie. Daardie verlies, daardie pyn gaan nooit weg nie. Maar dit raak beter. Jy is daartoe in staat om daarmee saam te leef, meer as tydens die gebeure.”

Dan voeg hy by: “Maar ek dink dit is tog makliker vir daardie families wat wel geregtigheid gekry het. Om ’n misdaad van hierdie aard te moet trotseer en niemand het om daarvoor verantwoordelik te hou nie, is verskriklik.”

Vir ’n oomblik flits ergernis deur sy oë. Deur die jare was daar baie ander jong moordslagoffers, baie van hulle vroue, nes Leigh.

“Dít is skrikwekkend. Ek loop nie in ander mense se skoene nie, maar ’n mens het baie ondersteuning en begrip nodig, en ek dink nie ons land het die infrastruktuur daarvoor nie. Veral nie in die armer gemeenskappe nie.

“Die verkragtings en moorde, veral van vroue, is te erg, en dit lyk asof niemand in ons regering omgee nie. Ek wil graag sien dat iemand met lewenslange tronkstraf dit regtig lewenslank uitdien.”

Parool

Dit krap hom om dat misdadigers vir parool kan aansoek doen voor hulle hul straf uitgedien het.

“Hierdie fantasie-benadering tot parool is onaanvaarbaar. Limpho Hani, die vrou van die vermoorde politikus Chris Hani, moet elke keer na die paroolraad gaan om parool teen te staan. Sy is nie die misdadiger nie; sy is die slagoffer, maar elke keer moet sy weer gaan probeer verstaan hoekom haar man se moordenaar op parool vrygelaat wil word. Sy moet oor al die hekkies spring om dit te voorkom.”

Hy sug mismoedig.

“Soms voel ek die misdadigers in Suid-Afrika is beter daaraan toe as die slagoffers. Kyk nou maar vir Moodley wat sy regsgraad agter tralies voltooi het. Dít terwyl talle ander studente vir bekostigbare onderrig baklei.”

Moodley (nou 39) dien sy vonnis uit in die Johannesburg-Sentraal-gevangenis en het ná sy vonnisoplegging deur die jare verskeie kere aansoek gedoen om te appelleer – eers teen sy vonnis en later ook teen sy skuldigbevinding. Hy het selfs ’n herverhoor geëis.

Donovan Moodley
Donovan Moodley Foto: Gallo Images/Foto24/Bongiwe Gumede

Hy het ná sy vonnisoplegging sy weergawe van die gebeure verander en aangevoer hy is deur drie dwelmhandelaars, ene “Frank, Allie en Jemba” gedreig en het uit vrees met Leigh se ontvoering gehelp.

Om die waarheid weg te steek, is net so wreed.

In 2018 het die saak vir oulaas in die konstitusionele hof gedraai, maar die uitspraak het bly staan. Volgens adv. Zaais van Zyl SC, die aanklaer in die saak, is al Moodley se opsies nou uitgeput.

Rob meen met sy voortdurende appèlaansoeke het Moodley bloot hul hartseer uitgerek.

“Wat hy aan my dogter gedoen het, was wreed. Maar wat hy daarna gedoen het en steeds doen om die waarheid weg te steek is net so wreed.”

Al het Piet Byleveld en sy span drie maande ná Leigh se moord, in Oktober 2004, op Moodley toegeslaan en is hy skuldig bevind aan ontvoering en moord, heers daar steeds onsekerheid oor wat Leigh in haar laaste ure deurgemaak het nadat Moodley haar vir ’n saamrygeleentheid gevra en toe ontvoer het.

Hy het beweer hy het haar kort ná haar ontvoering doodgeskiet op die plek waar haar lyk gevind is, maar tydens sy verhoor het getuienis en bewyse voor die hof gewys sy is waarskynlik binne 12 uur ná haar ontvoering vermoor en haar lyk is toe vermoedelik dae lank in ’n verkoelingseenheid gehou voor dit in die veld geplaas is.

Regter Joop Labuschagne het ook bevind dit is onwaarskynlik dat Moodley dié fyn beplande misdaad alleen kon uitgevoer het. Die onsekerheid oor wat presies met hul dogter gebeur het, is vir die Matthews-gesin byna net so wreed soos die moord op Leigh self.

“Tot ons die volle verhaal ken, sal ek nooit vrede vind nie,’’ sê Rob.

“Is Leigh dood voor ek die geld afgelewer het of eers daarna? Net Moodley sal weet.”

Het Leigh haar moordenaar geken?

Moodley het destyds drie dae voor die ontvoering in die Formula 1-hotel naby die universiteit gaan bly en in dié tyd Leigh as sy teiken gekies. Hy het tydens die verhoor erken hy het gesien by dié universiteit is daar baie studente met welgestelde ouers.

Hy het Leigh, wat ’n geoktrooieerde rekenmeester wou word, toe as sy teiken gekies. Piet het destyds die kloutjie by die oor gebring toe Rob vertel die ontvoerder het in hul telefoongesprek ’n Indiese aksent gehad.

Moodley en die speurder
Die baasspeurder wyle Piet Byleveld het as onder­soekbeampte ’n sleutelrol in Moodley (REGS) se inhegtenisneming en vervolging gespeel. Foto: Gallo Images/Foto24/Bongiwe Gumede

Piet was oortuig Leigh, wat baie sekuriteitsbewus was, het haar moordenaar geken. Hy het toe op Moodley se naam op die klasregister afgekom. Sharon vertel in die VIA-program hoe erg dit vir haar was om haar dogter se moordenaar die eerste keer in die hof te sien.

“Ek onthou die dag toe hy by die hof se trappe opgestap kom. Ek het gedink: Maar jy lyk so gewoon? Jy hoor mense sê hulle verwag dat iemand wat boos is, ook boos lyk, maar nie hy nie. Ek het gedink as iemand gedoen het wat hy gedoen het, sou hulle wegkyk, maar hy het nie. Hy het vir ons gekyk en hy was nie veel gepla nie.”

Die raaisel verdiep

Al het Moodley tydens die verhoor volgehou hy het Leigh geskiet op die toneel waar haar liggaam gevind is, was daar geen bloed daar nie. Die medikasie wat in haar lyf gevind is, het gewys sy is dood op dieselfde dag as wat sy ontvoer is. Maar terwyl haar lyk volgens Moodley se weergawe dae lank in die veld gelê het, het dit teen daardie tyd nog nie ontbind soos dit sou as sy weergawe van die gebeure wel waar was nie.

’n Spinnekopkenner het ook tydens die verhoor getuig dat die tregterspinnekop wat op haar lyk gevind is, gewoonlik dadelik ’n web begin spin, maar toe haar lyk gevind is, was daar nog net ’n paar spinnerakdrade.

‘Ons het ná haar dood nie ophou leef nie. Dit is nie wat Leigh sou wou gehad het nie’

Terwyl die staat aangevoer het iemand het Moodley bygestaan, het hy nooit onthul wie hom gehelp het nie. “Die hartseer deel vir my is dat Moodley se medepligtiges nog daar buite is,” sê Rob.

“Moodley se paroolaansoek sal sy eie ondergang wees, want hy kan nie op parool uitkom terwyl geregtigheid nog nie geskied het nie.”

Oor die onbeantwoorde vrae wat steeds by hulle spook, sê Rob: “Hoe sou jy voel as ’n ouer? Dit speel tot vandag toe oor en oor in my kop af. Ons het al baie tyd en hulpbronne bestee om bewyse in te samel; eendag sal die hele saak opgelos word. Die sleutel lê by Moodley.”

Rob en Sharon by die hof
Rob en sy vrou, Sharon, spreek die media toe te midde van die soektog na Leigh in 2004. Foto: Gallo Images/Foto24/Felix Dlangamandla

Hulle het aanvaar Leigh kom nie terug nie, maar hy sal nie rus voor hy die waarheid weet nie.

“Moodley se ouers kan hom nog besoek as hulle wil. Al wat ons kan doen, is om soggens op te staan en aan te gaan. Ons het die besluit geneem omdat Leigh sou wou hê ons moet aanhou lag en lekker dinge doen. Daarom het Moodley dalk ons dogter doodgemaak, maar nie haar gees nie.”

Rob neem weer ’n lang sluk van sy koffie wat intussen koud geword het. “Ek weet nie wat ons anders sou kon gedoen het nie,” sê hy.

“Dalk as ons die res van die storie ken, sal ek ’n antwoord daarop hê.”

Op ’n vraag of hy Moodley vergewe het, lag hy mismoedig.

Die Matthews-gesin
Die eens hegte Matthews-gesin, Rob en Sharon saam met hul dogters, Leigh (links) en Karen. Foto: Verskaf

“Het ek hom vergewe? Dit is nie vir my om hom te vergewe nie; nie in hierdie leeftyd nie. Hy moet net vir my bevestig wie nog betrokke was en wat in daardie 12 dae gebeur het voor haar liggaam gekry is.”

En as hy vandag iets vir Leigh sou kon sê – sy dogter wie se lewe so wreed kortgeknip is?

“Ek sal sê: ‘Ek wil jou terughê, Leigh. Al is dit net vir ’n uur,” antwoord Rob. “En ek is jammer. Ek is jammer ek kon jou nie red nie.”

Tydlyn van 'n tragedie

21 Julie 2004: Haar lyk word in ’n veld by Walkerville in die suide van Johannesburg ontdek.

24 Augustus 2004:  Die speurder Piet Byleveld neem die ondersoek oor.

25 Julie 2005: Moodley beken skuld in die hooggeregshof in Johannesburg op aanklagte van moord, ontvoering en afpersing.

4 Augustus 2005: Hy word gevonnis tot lewenslange tronkstraf vir moord, asook 15 jaar vir ontvoering en 10 jaar vir afpersing.Moodley doen 11 dae ná sy vonnis aansoek om verlof tot appèl teen sy vonnis in die hooggeregshof, maar onttrek dit in November.

Junie 2006:  Moodley verander sy weergawe en voer aan hy wil aansoek doen om ’n herverhoor.

November 2009:  Moodley vra weer verlof tot appèl teen sy vonnis in die hooggeregshof, maar dit word geweier.

Mei 2010: Die appèlhof wys sy aansoek om teen sy vonnis te appelleer van die hand.

Augustus 2010: Moodley wend hom tot die konstitusionele hof vir verlof om teen sy vonnis te appelleer, maar dit word geweier.

Februarie 2012:  Hy appelleer teen sy skuldigbevinding in die hooggeregshof en vra om ’n herverhoor, maar dit word geweier.Oktober 2018  Moodley se appèl teen sy skuldigbevin- ding in die konstitusionele hof word van die hand gewys.

  • Nuwe episodes van Huisgenoot: Ware Lewensdramas word op Maandagaande om 20:00 op VIA, kanaal 147 op DStv, uitgesaai.
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.