Ma 7 jaar ná dogter se moord: ‘Hy moet knak, nes ek het’ – Cyril Blackburn (Huisgenoot 18 Oktober 2018)
Sewe jaar nadat haar dogter wreed vermoor is, is haar vermeende moordenaar steeds soek.

Op ’n vertoonkas in die tienerkamer skuif sy ’n geraamde foto van haar oorlede dogter nader aan die voorpunt van die kas. ’n Oomblik lank leun sy met haar kop gebuig teen die kas, en dan vorm ’n wrang glimlag om haar afgematte, moeë mondhoeke.

Dit is nou sewe jaar sedert Chantelle Barnard (toe 20) op 1 April 2011, 10 dae voor haar mondigwording, op ’n kleinhoewe by Benoni vermoedelik ure aaneen gemartel, verkrag en eindelik koelbloedig vermoor is.

Die verdagte, Jurgen Vandekeere (40), het in 2013 spoorloos verdwyn terwyl hy op borgtog uit was en dis vir Suzette Barnard (60), Chantelle se ma, ’n bitter pil om te sluk dat die “vermeende moordenaar nog vry rondloop”.

Gerugte doen die ronde dat Jurgen na bewering met ’n vervalste paspoort landuit gevlug het.

Jurgen Vandekeere, die vermeende moordenaar. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Huisgenoot het in Oktober 2013 ’n brief gepubliseer waarin Vandekeere sy verdwyning aan sy ouers verduidelik het: “Ek is jammer ek het nie totsiens gesê voor ek weg is nie. Ná my laaste vergadering met die advokate wat gesê het ek kyk na minimum 25 jaar of lewenslank vir ’n misdaad wat ek nie gepleeg of gedoen het nie. (sic)

“Ek is regtig jammer ek moes weggaan.”

Die huis hier in die stil straat in Tulisa Park, Johannesburg, is die derde een waarin Suzette, haar man, Fanie (59), en hul seun, Jacques (30), woon sedert die grusame moord wat die land geruk het.

Maar Tellie, soos hulle Chantelle genoem het, se kamer lyk nog nes die dag toe sy destyds uit haar ouerhuis getrek het om saam met haar kêrel, Brandon Ackerman, en sy ma, Letitia, op ’n kleinhoewe te bly.

Haar ma rig elke keer in die nuwe huis vir haar dogter ’n kamer in nes die een waarin Chantelle destyds gebly het. Voor die vensters hang dieselfde grys gordyne en op die kas oorkant die bed staan die twee vase met gedroogde blomblare van rose wat sy destyds by Brandon gekry het.

Op die dubbelbed lê ’n wit-en-swart blommetjieskombers, en toe die wind opsteek en die kombers se linkerhoek opvou, vee Suzette dit vinnig weer glad. Dié kamer, wat dikwels ’n pleister vir die seer is, is die enigste onveranderde element in die huis sedert Chantelle se dood, wat die gesin van al hul vrede gestroop het.

Dalk sal die vrede weer oor hulle spoel wanneer die moordenaar agter tralies is, hoop die gebroke ma.

Haar dogter se grusame dood laat Suzette steeds in trane. Foto: Rowyn Lombard.

Fanie, wat ’n houtwerkonderneming besit, en Jacques, ’n masjienmaker in ’n staalfabriek, wou nie met Huisgenoot oor hul hartseer gesels nie. Maar Suzette is onstuitbaar in haar soeke na geregtigheid. “Dit maak my siek om te dink dat die moordenaar saans rustig slaap en nie gekry het wat hom toekom nie.

“Ek raak boos wanneer ek aan hom dink – en my enigste doel is om hom agter tralies te sien. Dan wil ek hê hy moet knak soos hy my geknak het.

“Ek sal hom nooit kan vergewe nie. Nooit.”

Die dag van haar dogter se moord spook nog al die jare by haar en die beeld van die moordtoneel speel elke dag oor en oor in haar kop af, vertel Suzette met ’n boks vol ou herinnerings langs haar.

‘Ek wil hê hy moet knak soos hy my ­geknak het’

Chantelle was naak, haar voete vas teen mekaar, haar bene oopgespalk, en ’n swart doek was skuins oor haar liggaam gedrapeer toe haar lyk gevind is op die kleinhoewe waar sy saam met haar kêrel gewoon het.

Vroueonderklere was oor haar gestrooi en ’n grimeersakkie is langs haar neergesit. Die snye aan haar keel en ken was dik en diep, maar nie ’n druppel bloed was aan haar liggaam nie.

Die moordenaar het haar kind ná die moord gebad en haar toe op ’n rooi kombers op die grond neergelê. “Dit het gelyk of haar liggaam reggemaak is vir ’n fotosessie,” onthou Suzette. “Sy het soos ’n porseleinpoppie gelyk. My engeltjie wat ure vantevore soveel pyn moes verduur, het leweloos op die grond gelê.”

Chantelle, ’n skoonheidsterapiestudent aan Camelot International, en Brandon was in die week van die moord besig om uit die woonstel op die hoewe te trek omdat Letitia Kaap toe sou verhuis.

Alles in “Tellie” se kamer lyk nog dieselfde. Foto: Rowyn Lombard.

Die middag voor die moord is Chantelle terug na die leë woonstel om ’n paar bokse en haar drie katte te gaan haal en die woonstelsleutel te oorhandig toe Vandekeere haar vermoedelik oorrompel, verkrag en vermoor het. Hy was saam met sy pa, Roland, opsigter by die hoewe.

Dit was ’n grusame voorval: Chantelle is met ’n mes in die bors gesteek terwyl sy vermoedelik met die aanvaller gestoei het, want haar liggaam was vol kneusplekke, en ’n nadoodse ondersoek het selfs gewys dat sommige van die tande in haar mond los was. Haar keel is gesny nadat sy verkrag is.

Vandekeere is later daardie aand vasgetrek nadat sy bloed op die toneel aangetref is. Hy is van moord en verkragting aangekla. Hy was agt maande in aanhouding voor die hooggeregshof in Johannesburg borgtog aan hom toegestaan het.

Die media het destyds wyd oor die moord berig. Foto: Rowyn Lombard.

Die vermeende moordenaar moes op 9 September 2013 in die hof verskyn, maar het nooit opgedaag nie en is sedertdien soek.

Dis asof sy sedert daardie noodlottige dag steeds haar asem ophou, vertel Suzette. “Ek is nog elke liewe dag kwaad. Ek wil net weet: Hoekom my dogter? Sy was so onskuldig. Sy wou niemand skade berokken nie; sy het soveel vir ander omgegee.”

Suzette huiwer ’n oomblik. “As Hy my dogter moes vat, hoekom op so ’n wrede wyse? Ek kan nie in die kerk sit en sê ‘prys die Here’ as alles binne my wil breek nie,” sê sy huilend.

Haar lewe ná die moord het soos handomkeer verander, sê sy. In haar werk as ’n kredietbeheerder sukkel sy deesdae om te fokus. Sy sê sy kanaliseer nou al haar liefde na Jacques. “Hy is my rots. As dit nie vir hom was nie, weet ek nie of ek vandag sou wou leef nie.”

Suzette het talle pogings aangewend om die verdagte op te spoor, onder meer dié plakkaat wat in die sosiale media versprei is. Foto: Rowyn Lombard.

Selfs berading kon haar nog nie oor haar dogter laat rou nie, sê sy terwyl sy aan ’n foto vasklou. “Ek wonder altyd hoe haar trourok sou lyk en of sy dalk al kinders sou hê. Ek sien iets waarvoor sy sou lag, en dan breek my hart. Jare lank het ek ’n kluisenaarsbestaan gevoer. Selfs om net klere te sien waarvan sy sou hou, het my van voor af laat breek.”

Suzette het al telkemale self probeer om haar dogter se moordenaar op te spoor deur derduisende plakkate te laat druk met die vermeende verkragter se gesig daarop, maar hy het oënskynlik spoorloos verdwyn.

Dit vul haar met ’n woede wat sy nie kan beskryf nie. “Ek hoor van soveel moorde wat opgelos word, dan raak ek woedend. Waar is die geregtigheid vir my dogter? Hoe kan die polisie kwansuis nie die mannekrag hê om ’n moordenaar en verkragter in die buiteland te soek nie? Wanneer ek elke nou en dan bel, is daar nog geen antwoorde nie.

“Tellie verdien geregtigheid; sy is dit tog werd . . . Is sy nie?”

Teen druktyd het woordvoerders van Interpol en die Gautengse polisie nog nie kommentaar gelewer nie.

Wanneer en waar?

Huisgenoot: Ware Lewensdramas word elke Maandag om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai. Episodes word die daaropvolgende Maandag om 14:00 herhaal.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.