In die uitgawe van 14 Julie 2016 het die Huisgenoot-joernalis Jana van der Merwe ’n eksklusiewe onderhoud met Marinda Steyn gehad oor haar twee kinders, Marcel en Le Roux, wat vir moord aangekla is.

Marinda het egter nie net vir Jana gejok nie, maar ook die hele land ’n rat voor die oë gedraai toe sy in 2018 11 keer lewenslange tronkstraf toegedien is. Jana onthou haar gesprekke met Marinda nadat sy skuldig gepleit het in die Krugersdorp-moordsaak.

Huisgenoot Ware Lewensdramas
Die finale episode word op 8 November om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai. Die program word weer op Sondagaand op dieselfde kanaal om 20:30 weer uitgesaai.


My pad met ’n reeksmoordenaar – Jana van der Merwe, 31 Mei 2018

Hoe voel dit wanneer jy ’n moordenaar in die oë kyk voor jy weet wat sy gedoen het? Voor jy uitvind haar praatjies was leuens? Voor jy besef sy het ook vir jou gelieg?

Toe drie raaiselagtige moorde in 2016 binne net drie weke die gemeenskap van die myndorp Krugersdorp aan die Wes-Rand ruk, was die “afspraakmoorde”, soos dit later bekend geword het, gou op almal se lippe. Op myne ook.

Die drie slagoffers, die twee versekeringsmakelaars Anthony Scholefield (64) en Kevin McAlpine (29) en die eiendomsagent Hanlé Lategan (52), het op hul sterfdag die aand om sesuur afsprake met kliënte gehad.

Al drie is in lokvalle gelei, beroof en verwurg. Die moordraaisel het die land se verbeelding aangegryp, veral toe die polisie sowat ’n maand ná die moorde in Mei 2016 ’n broer en suster, Le Roux (toe 20) en Marcel Steyn (toe 18), aankeer.

Ook ek, ’n joernalis met jare se ondervinding as misdaadverslaggewer, was verstom. Vir my het hulle net nie met die profiel van ’n reeksmoordenaar gestrook nie.

Marcel het immers die vorige jaar ses onderskeidings in matriek aan die Hoërskool Monument behaal. En hul enkelma, Marinda Steyn (52), was oënskynlik ’n ordentlike Engels-onderwyseres aan die Hoërskool Jan de Klerk in Krugersdorp.

Die verhoor van Marinda se dogter, Marcel, sal later vanjaar in die hooggeregshof in Johannesburg begin. Marcel, wat as ’n “bleeksiel” beskryf word, het ses onderskeidings in matriek gehad. Foto: Lubabalo Lesolle.

Wat het deur haar gedagtes gegaan, het ek gewonder; dié vrou wie se kinders na bewering sulke gruwelike moorde gepleeg het? Min het ek geweet die grootste skok sou nog kom.

Ek was vandeesmaand in die Johannesburgse hooggeregshof toe Marinda 11 keer lewenslange tronkstraf opgelê is, plus nog 115 jaar. Sy het skuld beken op 11 aanklagte van moord, sameswering tot moord, roof, bedrog en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.

Haar seun, Le Roux, is op dieselfde dag tot effektief 25 jaar tronkstraf gevonnis vir sy betrokkenheid by sewe van die moorde wat die Wes-Rand die afgelope paar jaar geruk het.

Maar die drie Krugersdorpse inwoners wat as’t ware op afspraak vermoor is, was nie die vermeende moordkliek se enigste slagoffers nie.

Nadat die polisie, onder leiding van kapt. Ben Booysen, die ondersoekbeampte van die Gautengse Valke, ses verdagtes se bloedspoor gevolg het, is nóg agt slagoffers in ses onopgeloste moordsake met dié vermeende misdaadkartel verbind.

In die hof, waar Le Roux die oggend en Marinda die middag gevonnis is, het ek weer gedink aan die sagte speelgoed, die beertjies, poppie en wurm, wat sy vir my gewys het kort nadat haar kinders in hegtenis geneem is.

Sy wys vir die Huisgenoot-­joernalis Jana van der Merwe die sagte speelgoed wat sy by haar kinders gekry het. Foto: Fani Mahuntsi.

Dit was geskenke en sentimentele aandenkings van haar liefdevolle seun en dogter, het sy vertel. Hy en haar “bleeksiel”-dogter sou mos nooit as te nimmer aan moord aandadig kon wees nie, het sy gesê.

Toe ons mekaar daardie dag kort ná haar kinders se inhegtenisneming ontmoet, het sy gevra: “Bid vir my kinders.”

Dit was voor ek besef het die bloedspoor lei ook na haar.

Wanneer nuusgebeure die hoofopskrifte haal, is dit joernaliste se werk om die storie agter die storie te gaan haal. Daarom wou ek ná die Steyn-sibbes se skok-inhegtenisnemings met hul ma gaan praat.

As enigiemand sou kon raai wat haar kinders na bewering na moord sou dryf, sou dit tog sy wees. Die dag toe ek Marinda in Julie 2016 sou ontmoet, het sy eers ’n kat-en-muis-speletjie met my gespeel en ons onderhoud gekanselleer.

Daarom het ek haar by die Cosanna-woonstelblok in Burgerstraat gaan soek, waar sy en haar twee kinders gewoon het. John Barnard (toe 40), ’n vriend wat daar gebly het, het die deur oopgemaak.

Ek het dit nie toe geweet nie, maar op daardie oomblik het ek op die drumpel gestaan waar Anthony, Kevin en Hanlé ingestap en nooit weer lewend uitgekom het nie.

Ek was ook nog onbewus daarvan dat John self bloed aan sy hande het. Dit sou ek eers met sy inhegtenisneming die volgende maand uitvind nadat Marinda, Cecilia Steyn (toe 35), die vermeende meesterbrein in die moordkliek, en hul vriend Zak Valentine (toe 31) in hegtenis geneem is.

John is in Desember daardie jaar tot effektief 20 jaar vir sy aandeel in die moorde gevonnis. Maar daardie dag het hy ewe hulpvaardig my selfoonnommer geneem om my te laat weet sodra Marinda tuiskom.

Marinda se seun, Le Roux, is op dieselfde dag as sy ma gevonnis. Hy het 25 jaar tronkstraf gekry. Foto: Lubabalo Lesolle.

Later die middag het sy my gebel en het ons afgespreek om mekaar ’n paar dae later by die Boomhuisie-restaurant in die noorde van Krugersdorp te ontmoet. Daar sou ek die duiwel in die oë kyk. ’n Wolf in skaapsklere.

Marinda was emosioneel toe ek haar ontmoet; kwansuis ontsteld omdat haar kinders vasgetrek is.

“Dit is soos ’n nagmerrie waar iemand jou mond toegeplak het en jy kry nie kans om te sê hulle is onskuldig nie. Dit is ’n onreg wat hulle aangedoen word,” het sy gesê.

Ek het daardie winterdag saam met Marinda koffie gedrink, van haar goedkoop sigarette gerook en selfs grappies gemaak. Sy wou op dié dag eers nie afgeneem word nie, glo uit vrees dat die mense haar “in die winkels sou voorkeer”.

Later het sy tog ingestem en ewe gemaklik vir foto’s poseer. Die dae het verbygerol en ek het bly dink aan die vrou wie se gesin uitmekaargeskeur is.

En toe, twee weke later, hoor ek Marinda is ook vasgetrek. Ek het naar gevoel. ’n Arsenaal wapens is in haar woonstel gevind en ammunisie in haar klaskamer.

Ek móés met haar praat. Ek het vir Marinda ’n boodskap in die vroue-afdeling van Johannesburg Sentraal, ook bekend as die Sun City-gevangenis, gelos.

Toe sy my uit die tronk bel, vra ek haar reguit: Is jy skuldig? “Ek is bly jy vra my!” het sy gesê. “Niemand vra my dit nie. Natuurlik nie.”

Dit was dieselfde manipulerende Marinda wat ek die dag by die Boomhuisie met ’n bemoedigende drukkie gegroet het.

Marinda Steyn in 2016 ’n paar dae ná haar onderhoud met Huisgenoot. Foto: Rowyn Lombard.

Toe sy op Woensdag 16 Mei vir haar aandeel in die moorde gevonnis word, het ek weer siek gevoel. My gedagtes het teruggedwaal na my ervaring met die welsprekende onderwyseres met die swart-en-grys kapsel en die eienaardige spinnekoptatoe in haar nek.

Tydens ons destydse onderhoud van byna twee uur lank het ek veral oor die moord op Hanlé uitgevra, want dié laaste slagoffer se motor is verlate in dieselfde straat gevind waar die Steyns toe gewoon het.

Toe al kon ek nie verstaan hoe sy dan niks opgemerk het toe Hanlé op 30 Mei 2016 vermoor is nie. Ek het vir haar gevra: “Marinda, wat het jy daardie aand gedink is besig om te gebeur?”

Sonder huiwering het sy geantwoord: “Weet jy, ons het gesien hulle vorm ’n kordon in die straat. Ons het gedink daar is seker ’n hijacking or something.

"En, net vir die rekord, my kinders was saam met ons. Hulle het saam met ons so deur die venster staan en kyk.”

So maklik glip ’n leuen uit die mond van ’n reeksmoordenaar. Toe Marinda die dag met haar vonnisoplegging met haar swartraambril en krullebolkapsel weer soos ’n fatsoenlike onderwyseres lyk, het ek gedink aan die enkele oomblik toe ek op daardie dag van ons onderhoud gedink het iets is dalk nie pluis nie.

Toe sy verduidelik hoekom ek haar nie by haar woonstel moet ontmoet nie, het sy agterdogtig gesê: “Ek dink die polisie agtervolg my.”

Nadat sy die dag gevonnis is, het familielede van haar slagoffers vanuit die hofgalery gevra of sy berou het.

Sy het hulle stip in die oë gekyk en gesê: “Nee!”

Dit was die naaste wat ek aan die donkerte gekom het.

Nuwe boek
Die Huisgenoot-joernaliste Jana van der Merwe en Marizka Coetzer se boek oor die Krugersdorp-moordkliek, Die Afspraakmoorde (uitgegee deur Penguin Random House), verskyn binnekort.
  • Huisgenoot: Ware Lewensdramas word Donderdae om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai.
  • Heruitsendings is Sondae om 21:00.