Susters oor stiefsuster: 'Sy't ons pa én ma gesteel' – Marizka Coetzer, Huisgenoot 22 Maart 2018
Hul aangenome suster het hul stiefma geword en word nou van die moord op hul pa aangekla – boonop sit hul ma in die tronk.

Sy was hul aangenome suster sowel as hul stiefma – en boonop is dit sy wat na bewering hul pa vermoor het.

Dit is nou byna twee jaar vandat hul gesin aan skerwe geruk is, maar vir die susters Anita Brits en Maryna Roets is die seer van hul verlies nog net so rou soos destyds.

Biologiese ma én stiefma agter tralies

Nou is hul biologiese ma boonop agter tralies weens regsver­­ydeling omdat sy hul pa se vermeende moordenares gehelp het om die polisie te probeer mislei.

Hul aangenome suster, Cathy van Oudtshoorn (30), het hul pa sowel as ma van hulle “gesteel”, sê Anita (27) en Maryna (26).

En om sout in hul wonde te smeer, is Cathy eers vir psigiatriese waarneming verwys om te bepaal of sy wel toerekenbaar is in die moordsaak van hul pa, Chris van Oudtshoorn (58), 'n elektriese ingenieur.

Cathy van Oudtshoorn.

Cathy word daarvan beskuldig dat sy Chris – wat haar op driejarige ouderdom aangeneem, grootgemaak en later met haar getrou het – op 11 April 2016 in sy huis op Brakpan doodgeskiet het.

Volgens Netwerk24 het haar regsverteenwoordiger in die hooggeregshof in Pretoria aangevoer sy het tydens die moord ’n oomblik van waansin beleef.  

Maryna vertel sy en Anita het hul aangenome suster tydens haar laaste hofverskyning verlede maand gesien en dit was vir hulle ’n bitter pil om te sluk.

Tydens ons onderhoud met Anita en Maryna beaam die een gedurig met woorde en gebare wat die ander een sê. Ook huil hulle kort-kort saam, veral wanneer hulle praat oor hul ma, Jorina van Niekerk.

Jorina van Niekerk, Cathy se aanneemma, het ná haar eksman se skietdood tronkstraf gekry vir regs­very­deling.

Jorina (50) is Chris se eksvrou met wie hy in die 1980's getrou het. Sy was ook Cathy se aanneemma.

“Sy is onskuldig betrek,” sê Maryna en verduidelik dit is wat Jorina aanvanklik vir hulle gesê het.

Jorina is destyds kort ná Chris se skietdood saam met Cathy in hegtenis geneem. Albei is van moord aangekla, maar hulle het in die Brakpanse landdroshof onskuldig gepleit.

Albei vroue is borgtog toegestaan.

Psigiatriese waarneming

Maar toe hul saak vir verhoor na die hooggeregshof verwys word, het Jorina beken sy het Cathy die huis help omkrap sodat dit sou lyk asof inbrekers Chris vermoor het. Sy is verlede September skuldig bevind aan regsverydeling en vyf jaar tronkstraf opgelê.

Dit was toe dat Cathy se regsverteenwoordiger suksesvol betoog het dat sy vir psigiatriese waarneming verwys word. Regter Bert Bam het in reaksie daarop op 26 Februarie vanjaar haar verhoor tot Julie uitgestel, afhangend van die waarnemingsresultate.

Sedert sy op borgtog vrygelaat is, het Cathy swanger geraak met ’n tweeling, wat na verwagting gebore sal word sowat ’n maand voor haar volgende hofverskyning, in Julie.

Haar kind uit ’n verhouding voor haar huwelik met Chris is tydelik in pleeg­sorg.

“Na my mening moes Cathy lankal in die tronk gesit het,” sê Maryna bitter.

Die aanneming

Die Van Oudtshoorn-egpaar het aanvanklik gesukkel om kinders te hê; daarom het hulle destyds die driejarige Cathy aangeneem. Drie jaar later het Jorina die lewe ­geskenk aan Anita en ’n jaar later aan Maryna.

Ja, hulle was kleintyd na aan mekaar, sê die susters. Cathy was hul ousus, beaam die twee hier in Anita en haar man se huis op Brakpan.

Maryna, ook getroud, woon al lank in Pretoria. 

Maar Anita vertel: “Dit was asof Cathy verskillende persoonlikhede gehad het; sy was nooit dieselfde nie. Soms was sy vriendelik en soms kwaai.”

En Maryna voeg by: “Ons het baie met haar vasgesit.”

Die susters hou dikwels mekaar se hande ondersteund vas terwyl ons praat.

Dit was vir hulle erg toe hul ouers in 2002 skei. Maar toe, in 2007, tot oormaat van ramp, trou Chris met sy aangenome dogter.

“Ek was woedend. Ek wou niks met hulle te doen hê nie,” vertel Maryna. Anita beaam: “Dit was ’n groot skok!”

Die twee sussies was nog op skool. Hulle het by hul ma gewoon en elke tweede naweek by hul pa en aange­nome suster, oftewel stiefma, gekuier.

Die susters vertel hulle het hul ma, Jorina, vergewe omdat sy by die moord betrek is.

“Dit was regtig moeilik, maar het later beter geraak. Ons het haar steeds soos ons suster behandel. My ma het ook later vrede gemaak daarmee,” sê Anita.

Toe kom die dag van die moord.

Dit was Jorina, wat dié dag by haar eks­man en aangenome dogter gekuier het, wat Anita gebel het: “My kind, jy moet kom; jou pa is geskiet!”

Maar ek wou net na hom toe gaan. Ek wou hom ruk en vir hom skree om wakker te word.

Anita het op pad na haar pa se huis die gemeenskapspolisiëringsforum gebel.

“Ek het by die voordeur ingeloop en my pa op die bank sien sit,” vertel sy. Chris was dood.

“My man, Armand, het my dadelik laat uitgaan. Maar ek wou net na hom toe gaan. Ek wou hom ruk en vir hom skree om wakker te word.”

Cathy en Jorina het vertel rowers het die huis binnegekom en Chris geskiet waar hy gesit het.

Die susters het die storie geglo.

'n Gewete en 'n handvol pille

Maar die aand ná Chris se begrafnis, vyf dae ná die moord, het Cathy ’n hand vol slaappille gedrink. Maryna en Anita het ’n ambulans gebel wat haar na ’n plaaslike hospitaal geneem het.

Die volgende dag, 17 April, is Cathy en Jorina weens die moord in hegtenis geneem. Die susters twyfel geensins daaraan dat Cathy skuldig is nie, maar hulle verstaan nie die motief nie.

“My pa het haar op sy hande gedra,” sê Anita.

“Sy het alles gehad wat sy wou hê.”

Ná hul inhegtenis­neming is Cathy en Jorina ’n maand lank aangehou voor hulle borgtog gekry het. Maryna het Cathy se kind die volgende 18 maande versorg.

Cathy het aanvanklik een keer per week by Maryna vir haar kind kom kuier.

“Sy wou nie oor die moord praat nie, en haar besoeke het ál minder geraak.”

Later is die kind in pleegsorg geplaas.

Voor haar vonnisoplegging het Jorina, wat intussen van haar tweede man vervreem is, by Anita ingewoon.

“Die laaste ruk het die moord by haar gespook. Dis asof sy nie genoeg jammer kon sê nie,” vertel Anita.

Sy het hulle glo vertel sy het Cathy gehelp om die polisie te mislei omdat sy “bedreig” gevoel het.

Vergifnis?

Die susters sê hulle het hul ma vergewe en gaan kuier gereeld Sondae vir haar in die Kgosi Mampuru II-gevangenis in ­Pretoria.

Anita het ook al haar eie drie kinders saamgeneem, maar sy vertel vir hulle Jorina werk in die tronk.

“Ons gesels meestal met my ma oor wanneer sy eendag uit die tronk sal kom,” sê Maryna. “Sy sê sy is bly sy het die waarheid gepraat; dit het haar help berus.”

En Cathy?

Uit een mond sê die susters: “Haar sal ons nooit kan vergewe nie.”  

PSIGIATRIESE WAARNEMING

Dr. Llewelyn Curlewis, strafregkenner en senior lektor aan die Universiteit van Pretoria, verduidelik ’n beskuldigde kan deur die hof vir psigiatriese waarneming verwys word wanneer die verdediging byvoorbeeld aanvoer die beskuldigde het ’n oomblik van waansin beleef toe die misdaad na bewering gepleeg is.

Dit kan ook gebeur waar beweer word die beskuldigde is nie toerekenbaar nie en kan dus nie verantwoordelik gehou word vir sy dade nie.

Die hof word dan verdaag en die beskuldigde vir 30 dae in ’n psigiatriese hospitaal opgeneem.

“Die hoof van die hospitaal sal ’n span psigiaters en deskundiges aanstel om die beskuldigde te monitor.”

Die span kenners sal dan ’n verslag skryf waarin hulle aanbeveel of die beskuldigde toerekenbaar is en dus verhoor kan word, maar die hof beslis daaroor.

As die verslag aandui die beskuldigde is ontoerekenbaar weens ’n sielkundige toestand, sal hy nie noodwendig skotvry daarvan afkom nie.

Die hof kan dan beslis dat die beskuldigde as ’n staatspasiënt in ’n psigiatriese hospitaal opgeneem word – waarskynlik lewenslank aangesien die persoon ’n gevaar vir homself en die samelewing kan inhou.

Selfs as die pasiënt net ’n oomblik van waansin beleef het en die hof aanvaar dit so, kan dit daartoe lei dat hy as staats­pasiënt in ’n inrigting opgeneem word.

FOTO'S: LIZMARIE RICHARDSON, VERSKAF
  • Die heruitsending van program sal om 20:30 op 20 September 2020 op VIA (DStv-kanaal) plaasvind.