In die 11de aflewering van die tweede seisoen van Huisgenoot se werklikheidsreeks Huisgenoot: Ware Lewensdramas, wat op 25 Oktober op VIA uitgesaai word, herbesoek ons die moord op Henri se pa, Martin (54), ma, Teresa (55), en ouboet, Rudi (22). In Junie vanjaar het regter Siraj Desai Henri drie keer lewenslank tronk toe gestuur, hy dien tans sy vonnis in die Drakenstein-gevangenis naby die Paarl uit.

Toe kon ek Henri weer vashou – Deur Almari Wessels en Nadia Honiball, 30 Junie 2016

Hulle is ’n verliefde jong paartjie, en wanneer dié twee saans in haar woonstel kuier, is min goed vir hulle so lekker soos om saam kos te kook of flieks te kyk, veral die komedies en animasierolprente waaroor hulle albei so mal is.

Maar op ’n onlangse aand, vertel Daniellé Janse van Rensburg (20), was die beste ding – die lekkerste van alle lekkertes – om haar blonde kêrel, Henri van Breda (21), se lang, sterk lyf net styf teen haar vas te hou en saam met hom na die komedie Sisters te kyk.

“Dit was amazing,” sê sy.

“Dit was net die lekkerste ding om daardie nag weer lekker warm langs hom te lê.”

Vir baie jong paartjies is drukkies en snoesig saam lê iets wat hulle mettertyd as vanselfsprekend aanvaar. Maar Daniellé het daardie aand weer besef hoe kosbaar sulke oomblikke is, want vroeër die dag moes sy vanuit ’n bankie in die Stellenbosse landdroshof toekyk hoe Henri alleen en koponderstebo in die beskuldigdebank staan.

Haar geliefde was net ’n paar treë van haar af, maar sy kon nie eens haar wang teen sy skouer rus om hom te troos nie.

“Ek kon hom nie in die hof vashou nie. Maar nadat die borgtog betaal en hy vrygelaat is, kon ek hom weer vashou. Dit was lekker om hom terug te hê; dit was die beste.”

Henri is die liefde van haar lewe en Daniellé sal sy omhelsing nog baie jare lank wil voel.

Die twee studente bakei omtrent nooit en Daniellé en die voormalige ingenieurstudent het altyd iets om oor te gesels; albei het ’n wye algemene kennis.

Vir haar is daar geen sprake dat Henri, met wie sy nou amper vier maande uitgaan, skuldig bevind kan word aan die aanklagte dat hy drie lede van sy gesin met ’n byl afgemaai, die vierde probeer vermoor en toe boonop met die bebloede moordtoneel gepeuter het nie.

“As enigiemand net ’n dag saam met Henri deurbring, sal hulle weet hy is nie tot so iets in staat nie,” sê Daniellé.

“Ek sal by hom staan. Ek glo 100 persent in sy onskuld.”

Voor ons sit ’n jong meisie met ’n onskuldige, selfs goedgelowige gesigsuitdrukking. Haar gitswart hare staan uit teen haar wit trui en grys serp; sy het dit ná Henri se hofverskyning donkerder gekleur in die hoop dat minder mense haar sal herken nadat ’n stormloop van joernaliste en fotograwe haar by dié hoëprofiel-borgtogaansoek gesien het.

Sy is gemoedelik, skaam en praat sag, maar vandag gaan sy haar skaamheid oorkom om in ’n eksklusiewe onderhoud teenoor Huisgenoot hart oop te maak.

Die wêreld moet weet dit is onmoontlik dat die “sagte” mens wat haar hart gesteel het, sy ouers en ouboet met ’n byl kon doodmaak.

Haar herinnerings neem haar terug na die tyd toe hul romanse begin het. Sy was nuut in die Kaap nadat sy van Malalane in Mpumalanga af getrek het om aan die Capsicum-sjefskool in die voorstad Soutrivier te kom studeer.

Haar pa, dr. Wannie Janse van Rensburg, en stiefma, Mara, het haar gesteun en gehelp om dié skuif te maak. Haar ma, Heloise Brown, is met ’n Skot getroud en woon in Skotland.

En dit was daar in die sjefskool dat sy die lang jong man met die sonderlinge blou oë opgelet het wat in haar klasse vir haar loer.

Henri van Breda en Daniellé Janse van Rensburg het by ’n sjefskool ontmoet.

“Hy het ’n groep vriende gehad en ek ’n groep vriendinne; in die klas het hy altyd vir my gekyk en ek vir hom. Ons vriende het ons aangemoedig om mekaar beter te leer ken.

Ons was baie soet. Ek het vir hom gesê ek is anders: Ek gaan hom nie soen voor ons nie behoorlik saam is nie.

“Ons het toe middagete by die Devil’s Peak-bierbrouery naby die sjefskool gaan eet. Ek was baie skaam,” onthou sy.

Al wat sy toe van Henri geweet het, was dat hy pas van Australië af teruggekeer het. Hulle het dadelik gekliek.

“Ons was baie soet. Ek het vir hom gesê ek is anders: Ek gaan hom nie soen voor ons nie behoorlik saam is nie. Ons klasse het twaalfuur opgehou en ons het elke middag saam deurgebring: gaan middagete eet of parkie of strand toe gegaan.

Hulle hou ook daarvan om saam ’n rookpouse te neem wanneer hulle die fynere kunsies van hul kospassie by ’n sjefskool in Soutrivier, Kaapstad, leer.


"Ek het eers in ’n backpackers gebly, en toe ek my eie plekkie kry, het hy my help trek en daardie dag vir my ’n bos blomme en sjokolade gebring en gevra om amptelik sy meisie te wees.”

Skaars twee weke ná die begin van haar sjefstudie was hulle ’n paartjie.

Sy het toe maar baie onlangs by iemand gehoor hy is die Henri wie se ouers en broer in ’n bloedbad uitgewis is.

“Dit was vir my hartseer toe ek daarvan hoor; dis vir my baie hartseer dat iemand deur so iets moet gaan en wat nou met hom gebeur.”

Henri het nooit iets vir haar weggesteek nie, vertel sy.

“Hy het gesê as ek enige vrae het, kan ek hom vra waaroor ek wonder; hy sal altyd eerlik wees met my.”

Wanneer hulle saam gekuier het, het hulle die soort goed gedoen waaroor baie jong paartjies erg is, soos om saam kos te maak en flieks te kyk. Hulle het nooit juis uitgegaan nie, want Henri drink of dans nie, vertel Daniellé en lag.

Sy het toe nog nie ’n motor gehad nie en Henri het haar dikwels soggens in sy wit BMW kom oplaai sodat hulle saam klas toe kon ry.

Dit was op so ’n oggend – hulle twee saam in sy BMW op pad apteek toe om medisyne te koop vir Daniellé wat siekerig gevoel het – toe die oproep kom wat die koers van hul sorgelose bestaan verander het.

Dit was Henri se prokureur, Lorinda van Niekerk: Die polisie wil Henri in hegtenis neem weens die moorde op sy ouers en broer, en hy moet by die polisiekantoor op Stellenbosch aanmeld.


“Henri het nie vooraf ’n idee gehad dat hy polisiekantoor toe sou moes gaan nie; hy het die inhegtenisneming glad nie verwag nie,” onthou Daniellé dié dag.

“Hy het ’n bietjie geskrik, maar was sterk.”

Sedert die aanval op sy gesin het gerugte oor Henri koerantopskrifte gehaal: Hy het vroeër vermoed hy het ’n breingewas; hy was met dwelms deurmekaar en het selfs al tyd in ’n luukse rehabilitasiesentrum deurgebring.

Al hierdie bespiegelings is totaal onwaar, sê Daniellé beslis.

Maar met al dié stories in omloop het die jong paartjie vermoed ’n hofsaak sou eendag volg. En tog het dit as ’n skok gekom toe Henri op Maandagaand 13 Junie in ’n polisiesel moes slaap.

“Hy het nie geweet hulle gaan hom aankla nie; ons het eintlik glad nie geweet wat gaan gebeur nie. Hy wil natuurlik geregtigheid vir sy gesin hê en ek dink hy wil vir homself rustigheid daaroor hê.”

Henri was ontsettend lief vir sy oorlede pa, Martin (54), ma, Teresa (55), en ouboet, Rudi (22), vertel Daniellé; dit kom sy duidelik agter uit hoe hy oor hulle praat.

Die stories wat Teresa se vriendinne vertel dat Henri as kind gehakkel het omdat sy pa so streng was, is sommer bog.

“Henri was baie lief vir sy pa. Hy hakkel nog soms wanneer hy in ’n stresvolle situasie is, maar eintlik glad nie meer nie.”

Teresa was ’n baie, baie slim vrou en baie interessant, gesels Daniellé.

“Wanneer Henri oor sy gesin praat, sal hy emosioneel raak, maar hy vaar baie goed. Hy is sterk; regtig baie sterk. Hy sal hulle gereeld ophaal en veral oor sy boetie praat, maar hy onthou net die goeie.”

Die familielede wat Henri deesdae bystaan, is vir hom ontsettend kosbaar. Hulle en sy vriende is al mense wat Henri regtig ken, vertel Daniellé.

“Hulle doen baie vir hom.”

Alles het so vinnig gebeur dat dit nog nie behoorlik by hom ingesink het dat daar sommige familielede is met wie hy nou nie meer mag praat nie omdat hulle dalk staatsgetuies kan wees.

As deel van sy borgvoorwaardes mag Henri met geen staatsgetuies kontak hê nie. Ook haar gesin staan volgens haar bankvas agter haar en Henri. Pa Wannie en stiefma Mara het hom in April ontmoet toe hy saam met haar op Malalane gaan kuier het.

Daniellé is geheg aan haar pa, dr. Wannie Janse van Rensburg, en haar stiefma, Mara. Hulle aanvaar haar verhouding met Henri onvoorwaardelik.


“My pa-hulle het van die moorde geweet voor hulle hom ontmoet het; hulle ondersteun ons absoluut.”

Henri het saam met die Janse van Rensburgs gaan kampeer. Hy en Wannie het ure en ure gepraat, terwyl Daniellé en haar stiefma al vroeg by hul tente ingekruip het.

“My familie is die warmste mense en hulle steun hom, want hulle kan sien hoe baie hy vir my beteken.”

Dis ’n ernstige verhouding tussen haar en Henri, vertel sy. Dit is die tweede verhouding van haar jong lewe, maar sy beskryf hom as die liefde van haar lewe.

Sy is Henri se “babe” en hy haar “possum.”

“Ek dink nie iemand anders sal my ooit so gelukkig kan maak nie. Ek het nog nooit iemand ontmoet wat my so mooi hanteer nie; hy is glad nie selfsugtig nie en dink altyd eers aan ander mense voor hy aan homself dink.

“Henri is my beste vriend.”

Erger nog as sy eerste hofverskyning was die aand vooraf toe Henri in die selle geslaap het.

Dit wasvir haar erg toe hy ’n nag in ’n polisiesel moes deurbring. Sy het hom die oggend daarna by die hof bygestaan.

“Al wat ek kon doen, was om sterk te bly vir hom; ek moes dit doen, al is ek eintlik ’n emosionele mens,” sê Daniellé.

Henri het in sy eie sel geslaap en was meer besorg oor haar en sy familie wat hulle oor sy koue nag in die polisieselle bekommer het as oor homself.

“Hy het darem ’n mussie gehad en handskoene en goeters; dit was ’n koue aand. Hy het daardeur gekom en is nou sterker.”

Sy is voorbereid op die chaos wat gaan volg wanneer die moordsaak waarskynlik teen volgende jaar in die hooggeregshof in Kaapstad draai en nuuskieriges soos miere op hulle gaan toesak.

“Wat kom, gaan kom. Die gerugte en bespiegelings pla Henri glad nie. Die mense na aan hom weet wie en wat hy is en hulle ken die waarheid – en dit is nie net een of twee mense wat so voel nie.

“Hy kan deur enigiets kom; hy is regtig ’n baie sterk mens.”

Hy kan nie. Hy kan regtig nie. Dit is onmoontlik. Dit is regtig onmoontlik.

Vir Daniellé is dit ondenkbaar dat Henri aan die einde van die hofsaak skuldig bevind kan word aan die aanklagte teen hom. Sy weet niks van wat hy met sy prokureurs bespreek nie, maar haar Henri kan nie aan moord skuldig wees nie.

“Hy kan nie. Hy kan regtig nie. Dit is onmoontlik. Dit is regtig onmoontlik,” sê sy herhaaldelik.

Sy glo vas iemand het by die Van Breda-woning ingebreek en hulle vermoor. Sy droom nog van hul toekoms saam.

Hulle besluit nog of hulle volgende jaar saam ’n patisserie-kursus aan die sjefskool gaan volg. En eendag wanneer dié nare hoofstuk in hul lewe verby is, glo Daniellé sy en Henri sal dalk in Australië gaan woon. Daar sal die twee graag saam ’n restaurant wil begin.

Hul liefde vir kook en kos is ’n gemene deler in dié verhouding.

“Dit is veiliger oorsee; Suid-Afrika is nie regtig ’n baie veilige plek nie. Dit is al rede waarom ons sal trek.”

En wanneer hulle eers veilig saam oorsee is, kan sy elke aand van die res van haar lewe styf teen die man lê wat haar soveel vreugde gee.

Uitspraak op 21 Mei 2018

Henri van Breda word op 21 Mei 2018 skuldig bevind aan die moord van sy ouers, Martin en Teresa, asook dié van sy broer, Rudi.

Hy word ook skuldig bevind aan poging tot moord op sy suster, Marli, asook van regsverydeling.

Die saak word tot 5 Junie uitgestel vir getuienis rondom sy vonnisoplegging. Sy borg word opgeskort en hy sal in die gevangenis se hospitaal-eenheid aangehou word omdat hy vir depressie en epilepsie behandel word.