In 1997 het baba Zephany enkele dae ná haar geboorte uit die Groote Schuur-hospitaal in die Kaap verdwyn. Sowat 18 jaar later het kinders by die skool opgemerk Zephany en ’n ander leerder lyk op ’n druppel water na mekaar en so is Zephany met haar biologiese ma, Celeste, verenig.

’n Ander vrou het Zephany vir my gegee – Deur Marelize Potgieter, 12 November 2015

Sy het nie die kind gesteel wat 18 jaar gelede uit die hospitaal ontvoer is nie, vertel haar grootmaakma vir Marelize Potgieter.

Aamper niemand ken haar naam nie. Mense weet nie eens hoe sy lyk nie. Net een ding weet die publiek van haar, en daaroor stem omtrent almal saam: sy moet ’n besonder gewetenlose en wrede mens wees, ’n babadief wat ’n pasgebore meisietjie in die hospitaal uit haar ma se arms gesteel en as haar eie grootgemaak het.

Maande lank, sedert dit onthul is dat haar tienerdogter eintlik ander mense se kind is wat 18 jaar gelede ontvoer is, hoor Maria* hoe sy oral as Zephany Nurse se “steelma” gebrandmerk word.

Tot dusver het sy maar haar woorde gespaar vir die dag dat sy op aanklagte van onder meer menseroof en bedrog gaan voorkom.

Maar nou het sy genoeg gehad. Te veel onwaarhede word vertel, sê sy. “Steelma?!” vra sy verontwaardig. “Nee, nog nooit! Daardie babatjie is deur iemand in my arms geplaas. Haar gesteel? Dit het ek nie gedoen nie.”

Die nuus het mense vroeër vanjaar landwyd aangegryp dat Zephany, ’n pasgebore kind wat in 1997 uit die Groote Schuur-hospitaal ontvoer is, die afgelope byna twee dekades grootgemaak is deur Maria, wat net ’n paar blokke van haar geboortema af woon.

Daar het Zephany, vir wie hulle natuurlik ’n ander naam gehad het, asook die res van haar grootmaakfamilie geglo Maria is die biologiese ma wat die lewe aan haar geskenk het.

Nou vertel Maria vir die eerste keer stuk-stuk haar weergawe.

Sy was destyds ’n 33-jarige vrou wat kort tevore haar ongebore baba op vier maande verloor het. Haar destydse verloofde, Peter*, en familie het nie van die miskraam geweet nie en het gedink Maria, wat effens mollig was, is nog swanger.

Dis toe dat sy ’n vrou ontmoet wat Maria oortuig het sy sal haar help “om weer swanger te raak”.

Een oggend het die vrou haar laat weet daar is ’n pasgebore baba vir haar van ’n jong ma wat nie kans sien om die kind self groot te maak nie.

Maria het die vrou se storie geglo en ’n paar dae later het ’n vreemde vrou die babameisietjie aan haar oorhandig. By die huis was daar groot vreugde; sy het almal, haar verloofde inkluis, vertel sy het natuurlik die lewe geskenk.

Oor die nader besonderhede – soos hoe die vrou haar van die storie oortuig het en talle ander kwelvrae – het Maria antwoorde, maar sy wil nie nou daaroor uitbrei nie. Dit sal wel aan die lig kom wanneer sy in Februarie volgende jaar in die hooggeregshof in Kaapstad voorkom, sê sy.

Maar een ding moet die wêreld nou weet: “Ek het nie die baba in die hospitaal gevat nie. Ek was nie naby die hospitaal waar sy ontvoer is nie.”

Ná alles wat Maria die afgelope jaar beleef het, lag sy nog gereeld uit haar maag terwyl sy met ons gesels. Sy sê ’n ding prontuit en maak geen geheim van haar gevoelens nie.

“Ek is nie bang vir die polisie nie; ek is nie bang vir die howe nie, want ek het haar nie gevat nie,” sê sy. “Ek het haar met die hand van die Here grootgemaak; ek het nie die kind gevat nie.”

Foto: Misha Jordaan.

Zephany se verhaal klink soos iets uit ’n rolprent. Tot op 17 jaar het sy sorgeloos grootgeword onder die toesig van Maria en Peter, met wie Maria toe jare gelede getroud is, min wetend dat haar ouers nie haar biologiese ma en pa is nie.

Maria en Peter het nie nog kinders gehad nie.

Zephany se geboorte-ouers, Morné en Celeste Nurse, het in al die jare nooit ophou soek nie. Ná Zephany het hulle nog drie kinders gehad, en toe hul naasoudste dogter hoërskool toe gaan, kon haar maats skaars ophou om haar te vertel hoe baie sy soos ’n matriekmeisie in die skool lyk.

Die dogter het vir haar pa vertel, en omdat Zephany dieselfde ouderdom as sy verlore dogter was, het hy die Valke se hulp ontbied.

Hulle het op 25 Februarie DNS-toetse op Zephany, haar biologiese ouers en haar grootmaakouers uitgevoer, wat bewys het sy is inderdaad die verlore Zephany Nurse.

Zephany is uit Maria se sorg verwyder en kon sedertdien geen kontak met haar grootmaakma hê nie. (Sy woon nou by Peter, terwyl Maria elders moet woon.)

Daar was die afgelope ruk allerlei gerugte in die media wat die pyn vererger het, vertel Maria, soos ’n maatskaplike werker se bewerings dat Zephany ’n senu-ineenstorting gehad het.

En dan die stories dat Zephany weggeloop het na ’n hotel met ’n kêrel wat sy skaars ken en dat sy boonop besluit het om nie haar matriekeksamen te skryf nie.

“Sy het nie ’n senu-ineenstorting gehad nie. Ek wil weet waar die maatskaplike werker daaraan kom. Almal sê sy is normaal.”

Ja, die tiener wat sy grootgemaak het, het ’n paar dae saam met haar langtermynkêrel in Seepunt gekuier by een van sy vriende se woonplek.

“Ek dink dit het net haar gedagtes ’n bietjie van alles weggevat. Sy het net ’n blaaskans nodig gehad.”

Oor die eksamen sê Maria ook sy neem net ’n blaaskans en sal in Januarie volgende jaar skryf. “Sy sal skryf. Sy het Peter belowe.”

Die verlange na Zephany kom lê kort-kort oor Maria se gesig. Sy probeer die verlange stil deur elke oggend wanneer sy wakker word, na foto’s van haar Zephany op haar foon te kyk.

‘Ek sal altyd in haar lewe bly, wat ook al gebeur, of ek tronk toe gaan of nie’

Sy het haar kind op Woensdag 25 Februarie laas gesien.

“Ons het altyd saam van die huis af stasie toe gegaan en daar afskeid geneem. Dan het sy skool toe geloop en ek het die trein werk toe gehaal.”

Maria het tot voor haar inhegtenisneming by ’n vrou in Ottery gewerk wat sportklere vervaardig.

“Nadat ons by die stasie gegroet het, het ek geloop.

“En toe skielik draai ek terug. Sy kyk om en ek kyk om. En ek sê net vir haar: ‘Ek is lief vir jou.’

“Min het ek daai dag geweet ons neem afskeid.”

Peter het in die dae daarna vir Maria vertel Zephany het vir hom ook gesê hoeveel dié laaste woorde tussen hulle vir haar beteken. “Elke keer dat ek gaan lê, sien ek mammie wat omdraai en sê: ‘Ek is lief vir jou.’ ”

In die maande sedert haar inhegtenisneming was daar net een keer dat sy Zephany se stem gehoor het. Dit was toe Maria en Peter se huishulp haar bel om te hoor watter take sy die dag moet doen. Terwyl die vrou met haar op die foon was, het Zephany die foon uit haar hand gegryp.

“Sy sê toe: ‘Hallo, Mammie!’

“Dit was die beste iets wat met my kon gebeur het; net om haar stem te hoor, maar ek was doodstil.

“Ek het niks met haar gepraat nie, want ek mag mos nie.”

Haar stem raak sag. “Ek het net geluister en geluister. En toe sê sy vir die huishulp: ‘Ek weet dit is my mammie; ek weet dis sy. Hoekom wil sy nie met my praat nie?’

“Toe druk ek die foon dood.”

Foto: Misha Jordaan.

Die wete dat Zephany nie haar eie kind is nie, het Maria nooit met rus gelaat nie.

“Ek het haar met ’n vreeslike deurmekaar gemoed grootgemaak. Ek het altyd gewonder: wie is jou ouers?

“Dit het nie reg gevoel nie, want ek het geweet ek het nooit papierwerk vir haar aanneming gekry nie. Die vrou by wie ek haar gekry het, het vir my gesê ek gaan die kind se ma ontmoet, maar sy was skielik net weg.”

Met die jare het Maria wel begin vrede maak daarmee dat sy ’n kind grootmaak aan wie sy nie die lewe geskenk het nie.

“Soos sy grootgeword het, het ek ’n ander soort liefde vir haar gekry.”

Dis verspot dat iemand kan dink sy het die kind uit die hospitaal gesteel, sê Maria. Dan sou sy Zephany mos nooit in die plaaslike laerskool, so naby aan haar biologiese ouers se huis, gesit het nie.

Sy sê ook dat sy die Nurse-gesin se huis in die koerant gesien het en dat Zephany as kind gereeld op Sondae op die sportveld daar naby gespeel het. “Ek kan nie glo hulle het nie daai kind gesien nie.”

Foto: Misha Jordaan.

Sy voel daar is ’n besliste band tussen haar en haar meisiekind. “Ek sal altyd in haar lewe bly, wat ook al in die saak gebeur, of ek nou moet tronk toe gaan of nie.”

Daar was oomblikke dat sy teenoor Peter wou bieg dat hul kind aangeneem is en nie sy biologiese dogter is nie, sê Maria. Maar nes sy reg was, het iets voorgeval.

Later het die band tussen Zephany en Peter so sterk geword, Maria kon dit nie oor haar hart kry om dit te breek nie.

Toe Peter haar ná haar inhegtenisneming in Bellville se polisieselle besoek, was die gesig waarin sy vasgekyk het, een vol blydskap om haar te sien. “Ek vra toe vir hom: ‘Is jy oukei?’

“Hy sê toe: ‘Ja,’ en: ‘Ek staan 100 persent agter jou.’ Toe kom dit by my op: hoekom het ek nie lankal vir hom vertel nie. Hy sou dit seker ook net so aanvaar het.”
Later het Peter vir haar gesê: “Daai is onse kind en klaar. Sy is geseën met twee ma’s en pa’s.”

“Hy (Peter) is so sweet. Zephany weet nie van ouers wat stry en skel nie; sy weet niks daarvan nie.”

Terwyl Maria wag op die verhoor wat haar óf kan tronk toe stuur óf met Zephany sal herenig, probeer sy soveel moontlik goedjies doen vir die kind wat sy grootgemaak het.

Sy kook graag vir Zephany en Peter kos wat sy na hul huis stuur. Sy doen ook Zephany se wasgoed.

“Zephany hou baie van roti en kerrie, stir-fry en vis. Ek kook ’n storm los op ’n Saterdag (vir die Sondagmaal), en wanneer daar ’n ekstra versoek is, dan weet ek dit kom van haar af.”

En, vertel Maria, daar is maar net geen plaasvervanger vir ’n ma se kos nie.

“Soms, wanneer sy die kos kry, sê sy glo sommer: ‘Ek weet mammie het vanaand dié aandete gemaak.’ ”

* Skuilname.

  • Huisgenoot: Ware Lewensdramas word Donderdae om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai.
  • Heruitsendings is Sondae om 21:00.