Sy is verkrag en talle kere met ’n mes gesteek.

Maar die moordenaar het die wrede moord ’n stap verder geneem en die tiener se liggaam vermink deur albei haar hande af te sny en van die toneel te verwyder.

Haar moordenaar is ná agt jaar nog steeds nie vasgetrek nie, en die vrae stapel steeds op.

Huisgenoot: Ware Lewensdramas
Die episode oor Anika Smit se moord word op Donderdag 4 Oktober om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai. Die program word op Sondagaand om 21:00 op dieselfde kanaal herhaal.

Vier jaar ná die raaiselagtige moord op die tiener stem haar gebroke ma in om eksklusief met Huisgenoot oor haar dogter se dood te praat.

Vermink – hoekom tog? deur Jaco Hough-Coetzee (Huisgenoot, 4 Oktober 2014)

Sy was ywerig aan’t skarrel, soos net ’n ma kan skarrel wanneer ’n geliefde dogter kom kuier. Die April-skoolvakansie was om die draai en daar was nog soveel te doen.

Sy het ekstra bottels vrugte en groente ingelê, haar dogter se slaapkamer reggekry en die dae afgetel.

Op ’n Woensdagoggend twee weke voor die vakansie tel Charlotte Eksteen toe die telefoon op en bel haar dogter, op die ingewing. Negeuur op ’n skoologgend en in skooltyd; gewoonlik sou sy dit nooit doen nie, maar sy het sommer net ’n kans gewaag.

Hoekom, sê sy vandag, weet sy steeds nie.

En heel toevallig was haar 18-jarige Anika die oggend by die huis met ’n oorinfeksie. Ma en dogter kon toe lekker gesels en Anika kon nog ’n laaste versoekie insit: “Ma, onthou om vir my ’n ekstra groot bottel beetslaai in te lê!”

Maar die kuier het toe nooit gebeur nie. Pleks daarvan was dit Charlotte wat die reis onderneem het, van Mosselbaai na Pretoria, om haar dogter te gaan begrawe.

En terwyl ’n ouerpaar gerou het oor die verlies van hul geliefde dogter, het Suid-Afrika in afgryse gestaan oor die koelbloedige manier waarop die jong meisie vermoor en toe vermink is.

Hoe lank nog voordat daar 'n antwoord op dié kwellende vraag kom?

Dieselfde oggend waarop Anika Smit nog so vrolik met haar ma gesels het oor die komende vakansie, is sy vermoedelik in haar huis in Theresapark in Pretoria verkrag, met verskeie steekwonde in haar nek en lyf vermoor – en toe is haar hande tussen elmboog en pols afgekap en weggedra.

Vir Anika se moordenaar het sy net een boodskap.

“Die wiel draai,” sê Charlotte in die huis waar haar dogter saam met Johan Smit, haar pa, gewoon het.

“Ek het haat, ja, ’n bitter woede. Maar die hartseer en die pyn is soveel groter.”

Toe Johan daardie middag ná werk by die huis kom, het hy die eetkamer in ’n chaos aangetref. Stoele was omgestamp en die tafel het skuins gestaan. Hy het na Anika geroep, maar sy het nie geantwoord nie.

Toe gaan hy na die slaapkamer van die gr. 11-leerder aan die Hoërskool Gerrit Maritz in Pretoria, en hier het hy in sy spore gestol toe hy die gru-toneel aanskou.

“Al wat in my kop bly vassteek, is haar naakte lyk in die plas bloed. En haar twee arms sonder die hande. Eers later het die polisie my vertel sy is ses keer in haar nek en lyf met iets soos ’n mes gesteek. Ook dat hulle nie haar hande kon opspoor nie.”

Die tafel staan nou weer op sy plek en die stoele is reggeskuif, maar voor die vertoonkas is die mat steeds gevlek met ’n kol bloed.

Pa Johan Smit in sy dogter se kamer. Bloedkolle wat deur die mat gesypel het, is sigbaar op die sement.

 Charlotte soek kort-kort na ’n sigaret wanneer haar stem wegraak. Sy skud haar kop.

“Ek weet nie; ek weet nie,” sug sy.

Hoekom moes hulle haar hande afkap? Was dit iets instinktiefs wat Charlotte daardie skoologgend na die telefoon laat reik het in die hoop dat sy dalk tog gou ’n woordjie met haar kind sou kon wissel?

“Dit was vreemd, maar ek was net lus om met haar te praat,” vertel sy.

“Miskien het ek gehoop dat sy tussen klasse sou wees. Of dalk het sy ’n af periode gehad. Ek weet regtig nie.”

Maar sy was baie dankbaar toe Anika wel haar telefoon antwoord. Sy het haar ma vertel dit gaan goed met haar en sy is baie gelukkig in die skool.

Opgewonde het ma en dogter gesels oor die komende skoolvakansie waarna albei so uitgesien het. Dit was immers verlede November laas dat hulle mekaar gesien het.

Anika was dankbaar dat sy vir die vakansie na haar ma kon vlieg en nie met die bus van Pretoria na Mosselbaai moes ry nie, “want dan is ek sommer binne ’n uur en half by Ma!” het sy nog verlangend gesê.

Haar laaste woorde aan haar ma was oor die beetslaai.

Charlotte Eksteen is verslae oor die moord op haar lieftallige kind Anika Smit.

Charlotte mymer: “Daardie meisiekind van my was altyd so lief vir beetslaai, weet jy.”

Haar hand soek-soek na haar man, Hannes Eksteen, ’n helikoptertegnikus in Mosselbaai, se arm.

Toe Hannes daardie middag ná werk by die huis kom, het sy dadelik geweet iets is verkeerd, vertel Charlotte. Johan het hom toe reeds gebel met die nuus, en op pad huis toe het hy eers by ’n apteek gestop.

“Ek het hulle gevra om vir my die sterkste moontlike kalmeerpille te gee wat ek sonder ’n voorskrif kon kry.”

In die eetkamer staan kartondose en tasse met Anika se klere, skoene en ander goedjies teen die muur gepak. ’n Beertjie loer onder een van die deksels uit. Die volvloermat in haar kamer is uitgehaal, want dit kon nie meer skoongemaak word nie.

Daar is nog twee halfsussies in Pretoria, maar sy was Johan se enigste kind.

Hulle het maar Anika se kamer so gou moontlik ontruim, vertel Charlotte.

“Om Johan te help. Ek wil nie hê hy moes elke dag teen haar goed vasstaar nie,” verduidelik sy.

Dit gaan nou aan ’n kinderhuis geskenk word.

“Anika sou dit so wou hê. Sy wou altyd ander mense help, weet jy? Baie saggeaard, net ’n bondeltjie liefde. Dit is hoe ek haar altyd sal onthou.”

Albei haar ouers sal haar ook onthou vir haar liefde vir diere.

“Haar lewensideaal was om eendag met diere te kan werk,” vertel Johan. Hy onthou die keer verlede jaar toe haar troetelrot siek geword en sy hom moes laat uitsit het.

“Sy het so erg oor hom gehuil.”

Anika het 'n groot liefde vir diere gekoester.

Johan het die oggend van die moord ’n apteek gebel en gereël dat hulle vir haar medikasie by die huis aflewer, maar skuins ná middagete het hulle teruggebel en gesê daar is niemand by die huis nie.

Hy het ook vir Anika probeer bel, maar sy het nie die oproep beantwoord nie. Hy het toe gedink sy het aan die slaap geraak.

Hy is oortuig Anika moes haar moordenaar geken het, anders sou sy nie vir hom die deur en veiligheidshekke oopgemaak en hul twee gevaarlike boerboele agter in die erf toegemaak het nie.

Hy het die oggend voor hy werk toe is, juis die honde vrygelaat sodat hulle reg rondom die huis kon beweeg. Die hangslotte wat aan die veiligheidshekke was, is ook weg.

“Anika was baie veiligheidsbewus,” beaam haar ma. “Sy sou nie ’n vreemde persoon in die huis toegelaat het nie.”

Insp. Annerie Robinson, hoof van die ondersoekspan, sê dit is ’n baie moeilike ondersoek. Bewyse is op die toneel ingesamel en hulle is nou besig om mense te ondervra.

In die sitkamer staan blomme met foto’s van Anika daarby. Op die vloer is roosblare gestrooi.

Charlotte trek die asbakkie nader; haar hande bewe toe sy nog ’n sigaret aansteek. Anika se slaapkamerdeur is nou toegemaak, asof dit die gruherinneringe binne moet hou.

Langs haar deur hang ’n muurbehangsel met ’n gebed op: “Here God, maak waar daar duisternis is, lig. Waar daar droefheid is, vreugde.”

Beskuldigings, erkennings en steeds geen antwoorde nie

Daar was inhegtenisnemings, beskuldigings het rondgevlieg, gissings oor die okkulte het die lig gesien en daar was ook ’n jong man wat beweer het hy het ’n einde aan die tiener se lewe gemaak.

André “Smiley” van Wyk (24) het Saterdagoggend 16 September 2016 by die polisiekantoor ingestap en beweer hy het Anika vermoor.

Maar dit blyk dit was net ’n verbeeldingsvlug en die klagtes van moord en verkragting teen hom word voorlopig teruggetrek.

’n Ekskêrel, Nico Venter, haar pa, Johan, en ma, Charlotte, se name duik ook op as persone van belang in die saak.

Damien Treeby, nog ’n oudleerder van die Hoërskool Gerrit Maritz, is deur Sarah “Sertjie” Huyser aanlyn beskuldig dat hy by Anika se moord betrokke was.

Damian Treeby. Foto: Facebook.

Sy is in Junie 2017 van naamskending en minagting van die hof aangekla omdat sy ’n hofbevel oor die identiteit van “persone van belang” bekend gemaak het. Landdros Pierre Wessels het op 31 Augustus dieselfde jaar die saak teen Sarah teruggetrek.

Sarah Huyser. Foto: Facebook.

Hanrika Beukes, Anika se skoolmaat, het in November 2017 in die hof getuig sy en Anika was deel van ’n “stout groepie” wat by die skool gerook en saam stokkies gedraai het. In Augustus 2018 voer Stef Kruger (vir Anika se pa) aan dat 99% van haar getuienis in die hof op geen manier ooreenstem met haar verklaring aan die polisie nie.

Hanrika Beukes. Foto: Facebook.

Sy het in die hof getuig daar was maar min reëls oor alkohol en rook by Anika se pa se huis. Maar volgens Anika se pa was daar wel streng reëls daaroor.

Huisgenoot: Ware Lewensdramas
Die episode oor Anika Smit se moord word op Donderdag 4 Oktober om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai. Die program word op Sondagaand om 21:00 op dieselfde kanaal herhaal.
Foto’s: Rowyn Lombard