Ek sal nou nooit vergewe nie – Alet van Zyl & Sulaiman Philip, Huisgenoot 27 Oktober 2011
Shireen de Waal het 'n boodskap vir die Sondagverkragter wat haar dogter vermoor het . . .
Louise se ma, Shireen (52). Foto: John Liebenberg
Louise se ma, Shireen (52). Foto: John Liebenberg

Dit was hul spesiale rympie. Haar tienerdogter het haar vertel hoe lief sy haar het, en elke keer het Shireen de Waal dan geantwoord: “Ditto.”

Die Dinsdagaand was dit weer so. “Louise het uit haar slaapkamer geskree sy is lief vir my. En ek het soos altyd met ditto geantwoord. En nou sal ek haar nooit weer sien nie . . .”

By hul agterdeur staan Louise se naam in ’n hartji
By hul agterdeur staan Louise se naam in ’n hartjievorm saam met haar gesinslede, en haar ma se oorlede hondjie, Dinky, geverf. Foto: John Liebenberg

Die 52-jarige enkelma kan die woorde skaars uitkry. Enkele honderde meters van haar huis in Bergbron, Johannesburg,
het ’n man haar 16-jarige dogter op 12 Oktober na bewering ontvoer, toe verkrag en vermoor. Hy staan wyd bekend as die Sondagverkragter omdat hy meestal sy slagoffers op dié dag geteiken het.

Ses van die Sondag-verkragter se 10 slagoffers is op ’n Sondag ontvoer en verkrag. Louise se verkoolde liggaam is ’n paar uur ná die moord onder ’n bos op ’n plaas naby Krugersdorp gevind.

Eers wou Shireen dit nie glo nie. Nou vertel sy: “Ek wou haar so graag nog een laaste keer vashou en soen en ’n drukkie gee. Ek wou haar vertel hoe lief ek haar het.”

Haar oë pleit byna. Die tenger vroutjie begin onbedaarlik huil.

“Maar ek hét. Ek het dit alles gedoen terwyl sy nog hier was,” fluister sy.

Vroeër die oggend is sy by die begrafnisondernemer met ’n verseëlde wit kis gekonfronteer. By tye het sy soos ’n drenkeling aan die kis vasgeklou. Daar by die kis met die twee groot foto’s van Louise bo-op het die aanvaarding toe tog gekom: Haar meisiekind is vir altyd weg. Maar berusting, en vergifnis vir die verkragter, sal daar nooit wees nie.

’n Dag nadat Louise verkrag en verwurg en haar liggaam verbrand is, het Jaco Steyn (35) van Roodepoort hom aan die polisie oorgegee. Hy het intussen in die hof skuld beken op aanklag van die moord op Louise en ook 13 aanklagte van verkragting, 10 van ontvoering en 6 van seksuele aanranding.

Jaco Steyn (35) nadat hy homself by die polisiekan
Jaco Steyn (35) nadat hy homself by die polisiekantoor op Margate oorgegee het. Foto: Verskaf

“Hy moet net soveel en selfs meer ly as wat my dogter gely het,” sê Shireen in ’n ysige stem. “Ek is aangeraai om nie in die hof te kom nie. As ek ’n pistool gehad het, het ek hom net daar doodgeskiet . . .”

Dis die eerste keer dat sy haar hart oopmaak sedert die gruweldood van die jongste van haar vier kinders.

“Sy was al groot, maar ek het nog vir haar ’n kosblik skool toe gepak,” vertel Shireen van gelukkiger dae. Die laaste broodjie was met hoendermayonnaise.

“Dit was haar gunsteling.”

Haar broer Jamie (25) vertel die laaste ding wat hy vir haar gedoen het, was om haar hare met ’n stryktang mooi te maak. Trane stroom oor sy wange.

Louise (voor) saam met haar broers en suster, (van
Louise (voor) saam met haar broers en suster, (van links) Jamie, Jessica en Justin. Foto: Verskaf

Louise het gewoonlik teen halfagt skool toe gegaan terwyl die ander twee nog slaap. “Maar daardie oggend was sy laat. Sy het in die hardloop ’n bye-bye geskree,” vertel Jamie.

Natasha Gordon het haar oudergewoonte buite ingewag, en die twee gr. 11-leerders het saam gestap na die Hoërskool Die Burger, waar Louise onlangs tot prefek verkies is.

Minute ná hul vertrek het ’n histeriese Natasha vir Jamie gebel.

“Ek het net gehoor hy sê: ‘Moenie nonsens praat nie; jy jok vir my,’ ” vertel Shireen.

Toe sy die skoknuus hoor dat ’n man vir Louise in sy bakkie ontvoer het, het sy dadelik die paniekknoppie gedruk, en sommer met ’n sweetpak oor haar pajamas skool toe gejaag. Nou klink die selfverwyt in haar stem. “Ek wens ek het in my kar geklim en dadelik begin rondry. Hoekom het ek nie dadelik in my kar geklim nie? Hoekom nie?”

Die volgende paar uur is net ’n warboel in haar geheue. Elke dan en wan vra sy dat die kinders (Jessica (30) van North Riding, Johannesburg, en Justin (28) van Kaapstad is ook by) haar help onthou.

Die De Waal-gesin is verpletter nadat hul suster d
Die De Waal-gesin is verpletter nadat hul suster die jongste slagoffer van die selferkende Sondag-verkragter geword het. Van links sit Jamie (25), Jessica (30) en Justin (28) met foto’s van Louise. Foto: John Liebenberg

“Ná drie uur het ons nog geen nuus gekry nie. Ek is nie dom nie; ek het toe al geweet. Maar jy bly hoop,” fluister sy.

Nege uur ná die ontvoering het Shireen die polisie weer gebel.

“Hulle het gesê iemand is op pad om met my te kom praat. Ek het die foon doodgedruk en op my bed gaan lê. Ek het geweet.”

Sy het nie toe al geweet haar dogter het in die hande van ’n reeksverkragter beland nie. Ook nie dat sy vermoor en haar liggaam verbrand is nie.

’n Polisiebeampte op die plek waar Louise se oorsk
’n Polisiebeampte op die plek waar Louise se oorskot gevind is. Haar verbrande liggaam is drie ure nadat sy ontvoer is, in ’n stuk veld naby Krugersdorp gekry. Foto: The Star

“Ek het eers die volgende dag die flits onderaan ’n TV-nuusberig gelees en selfs toe het dit nie dadelik geregistreer nie. Niemand wou my vertel nie . . .”

Justin moes sy ma die wrede waarheid vertel. Sedertdien staan twee traumaberaders die gesin by. Koerante lê opgestapel eenkant. Eendag wanneer sy kans sien, sal sy dit lees. Haar kind is ontvoer, verwurg en verbrand, dis die feite. Dis al wat sy nou kan hanteer.

"Ek voel asof ek versmoor. Ek wil alles stukkend slaan." Foto: John Liebenberg

Daardie woord wat sy nie oor haar lippe kan kry nie, dat haar kind ook verkrag is, is nog nie vir haar ’n werklikheid nie.

“Dit voel asof my hele liggaam brand,” sê sy. “Ek voel asof ek versmoor. Ek wil alles stukkend slaan. Dit het goed gegaan met ons. En in een oomblik het hy alles van my af weggeneem.”

Einde van 'n skrikbewind

Die huis waarin die Sondag-verkragter sy laaste slagoffer verkrag het, lyk soos enige in ’n gegoede woonbuurt. Jaco Steyn en sy vrou, Melanie, het saam met hul sesjarige seun hier in Wilropark, Roodepoort, gewoon, 11 km van waar Louise de Waal ontvoer is.

Terwyl sy vrou by die werk was en sy kind by die skool, het hy haar na hul huis in Limonitestraat gebring en verkrag, het hy later beken.

Hy het in 2007 by Burger Ceiling & Partitioning Distributors as logistieke bestuurder begin werk kort nadat hy ’n opgeskorte vonnis van drie jaar vir seksuele aanranding opgelê is.

Dennis Burger, die mededirekteur van die onderneming, vertel hulle het Jaco-hulle deur die Sewendedagadventistekerk ontmoet en gevoel hy verdien ’n tweede kans.

In September is ’n 15-jarige meisie in Carltonville ontvoer en verkrag, en Dennis het koue rillings gekry toe ’n beskrywing van die verdagtese motor oor die radio ooreenstem met een wat Jaco daardie dag gebruik het.

Dennis het dadelik die motor se satellietstelsel laat nagaan, maar daar was geen teken dat Jaco in Carletonville daarmee was nie. Toe hy hom reguit daaroor uitvra, was daar niks in sy oë of lyftaal wat verklap het hy lieg nie, vertel Dennis.

Hy het intussen ontdek Jaco het geweet hoe om die satellietstelsel te manipuleer. “Jaco is nie ’n monster nie, maar daar is ’n monster wat binne-in hom leef,” sê hy.

Nadat hy Louise vermoor het, het Jaco KwaZulu-Natal toe gery. Op pad het hy sy vrou gebel, alles aan haar beken en haar gegroet, sê ’n bron.

Hy wou by die see selfmoord pleeg, het hy vir polisiebeamptes gesê, want hy was skaam omdat hy sy gesin in die skande gesteek het.

“Hy het sy broer gebel en dié het hom oortuig om nie die uitweg van ’n lafaard te kies nie,” sê ’n bron.

Alet van Zyl & Sulaiman Philip

Shireen, ’n persoonlike assistent wat onlangs haar werk verloor het, het haar kinders alleen grootgemaak vandat Louise vier jaar oud was. Hul pa, Lourens, woon in Kaapstad, en het op Shireen se aandrang al die jare nie kontak met sy dogter gehad nie. Maar twee maande voor haar dood kon hulle tog eindelik oor die foon praat, en hy het ook ’n brief vir haar geskryf.

Louise was Shireen se laatlam.

“Ek het gedink ek kon nie nog kinders kry nie, maar toe skielik swanger geraak. Dit was ’n wonderwerk. Ek het geglo sy is ’n engel wat vir my gestuur is.

Louise was ’n stil kind, maar het van pret gehou.
Louise was ’n stil kind, maar het van pret gehou. Foto: Verskaf

“Louise is so na aan volmaak soos wat jy kan kry,” sê sy, asof haar dogter nog hier is. “Sy is stil en ’n dame in elke opsig. Sy het nie baie vriendinne gehad nie; sy was nie die soort meisie wat gedrink en partytjies gehou het nie. Michael was haar beste vriend en haar kêrel.”

Sy reik uit na Michael Jooste (19), die donkerkopseun langs haar. “Sy wou ’n lewe saam met hom bou en saam met hom oorsee gaan.”

Michael ondersteun Shireen wanneer die hartseer ha
Michael ondersteun Shireen wanneer die hartseer haar oorweldig. Foto: John Liebenberg

Die twee het mekaar op skool ontmoet. Op 30 Oktober sou hulle ’n jaar saam gewees het. Louise se laaste dae was vol gelukkige oomblikke. Sy het in die September-skoolvakansie by Jessica gaan kuier.

“Ek het pas ’n baba gehad en sy was die peetma. Sy was gek oor Vida. Ons het heelvakansie Monopoly gespeel,” vertel haar suster.

Louise was ’n dromer met groot planne vir die toekoms, en sy het onlangs dramalesse begin neem. Net meer as ’n maand gelede het sy in Sandton by ’n modelagentskap aangesluit, en die uiteinde was dat sy en Jamie in Desember in drie episodes van die TV-sepie Generations as ekstras te sien sal wees.

Haar familie sal nooit weer verby die plek ry sond
Haar familie sal nooit weer verby die plek ry sonder om aan Louise se afgryslike lot herinner te word nie. Foto: John Liebenberg. Regs: Louise was ’n aspirantmodel wat pas by ’n modelagentskap in Sandton aangesluit het. Foto: Verskaf

“Sy het ook kursusse in toerisme ondersoek. ’n Onderwyser wou haar help aansoek doen vir ’n beurs. Sy wou by die Universiteit van Johannesburg studeer,” vertel Jessica.

Louise is ná haar kuier by haar suster terug huis toe. Die Saterdag is ma en dogter winkels toe. Die aand het sy by Michael gekuier. “Ek het baie na haar verlang. Ek het haar net in my arms vasgehou en ons het flieks gekyk,” vertel hy.

Louise en Michael Jooste (19), haar kêrel. Foto: V
Louise en Michael Jooste (19), haar kêrel. Foto: Verskaf

Die Dinsdag was die tweede skooldag van die laaste kwartaal. Die aand aan etenstafel was die laaste keer dat Shireen en Michael haar gesien het.

“Ek was geëerd om ’n kind soos sy te hê. Ek was geëerd om ’n ma vir haar te kon wees,” sê sy.

Op 16 Oktober sou Louise 17 geword het, en die plan was om haar verjaardag te vier nes sy dit wou gehad het. “Ons sal ’n piekniek hier in die binnehof by die huis hou. Almal wat lief en dierbaar vir Louise was, sal hier wees,” sê Jessica.

Teen skemer sou elkeen ’n lantern aansteek, ’n spesiale boodskap vir Louise opsê en dit in die lug opstuur.

“Van nou af sal ons dit elke jaar doen. Ons weet haar sterretjie sal altyd helder hier by ons skyn.”

Bedroefde familielede het ’n dag voor Louise se 17
Bedroefde familielede het ’n dag voor Louise se 17de verjaardag blomme en foto’s gaan neerlê op die hoek in Rinastraat waar sy ontvoer is. Foto: John Liebenberg

Justin neem ’n kruis wat met blomme gemaak is, en hy en ’n groepie familielede stap stadig in Louise se laaste voetspore in Rinastraat af tot by die plek waar sy ontvoer is. Hulle maak die krans saam met foto’s van Louise aan ’n lamppaal vas. Elkeen lê ’n bossie blomme daarby neer en sê iets oor die dogter, suster en kleinkind wat hulle nooit weer sal sien nie.

“Ek is lief vir jou, my baba,” snik Shireen.

Dis asof jy die “ditto” êrens in die stilte kan hoor.

Johannes Jacobus (Jaco) Steyn, die Sondagverkragte
Johannes Jacobus (Jaco) Steyn, die Sondagverkragter in die Palm Ridge-landdroshof is vyf lewenslange gevangenis opgelê. Hy is aan 33 va die 37 klagtes geen hom skuldig bevind. Foto: Gallo Images/Foto24/Nelius Rademan
Die verkragter agter die masker

Hy rook nie, drink nie, gaan gereeld kerk toe en word nooit kwaad by die werk nie, maar tussendeur ontvoer en verkrag hy minderjarige meisies, en nou het hy ook gemoor. Hoe rym sulke gedrag?

’n Persoon wat so optree, toon tekens van kompulsiewe seksuele gedrag, sê prof. Elna McIntosh, die president van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Seksuele Gesondheidsadviseurs, Opvoeders, Navorsers en Terapeute.

Hy word geprikkel as hy sy slagoffers seermaak.

Reeksverkragters kom dikwels uit ’n disfunksionele gesin, sê prof. Anna van der Hoven, ’n afgetrede kriminoloog van die Universiteit van Suid-Afrika.

Dit kan gebeur dat hy ’n normale seksuele verhouding met sy vrou het, maar fantaseer oor gewelddadige seks en dit later buite die huwelik gaan soek.

“Partykeer is die vaderfiguur afwesig of het drankprobleme; die ma is dominerend. Die kind het nie geleer om vir ander om te gee nie. Iemand anders is net ’n stuk vleis.”

Sy het in 2008 al die polisie gewaarsku dat, as ’n reeksverkragter nie gou gevang word nie, hy kan begin moor.

“Dit gaan oor beheer. Later raak die reeksverkragter verslaaf daaraan en word hy ál gewelddadiger.”

Dis ook moontlik dat so iemand as kind self seksueel gemolesteer is.

“Hulle verkrag om die wêreld terug te kry,” sê Judy dos Santos, ’n maatskaplike werker in privaat praktyk in Sandton.

  • Huisgenoot Ware lewensdramas word Maandagaand 21:00 op Via (Dstv-kanaal 147) uitgesaai.