’n Paar maande nadat Louisa Chatburn se man, Graham, se lyk met ’n kruisboogpyl in die kop gevind is, het sy op aanklag van moord in die Kaapse hooggeregshof verskyn. Sy is in September 2007 op parool vrygelaat. Haar parool het in November 2015 verstryk.

Dit was egter nie die eerste skielike sterfte in haar lewe nie . . . 

Eers ’n koeël, toe ’n kruisboog – Deur Pieter van der Lugt, 29 Oktober 1992

Man dood weens ’n kruisboogpyl in sy kop . . . die moordsaak teen Louisa Chatburn het landwyd opslae gemaak. Maar dit was nie die eerste skielike sterfte in dié vrou se lewe nie. Haar vorige man is dood weens ’n koeël in sy kop. Wat het werklik daardie nag langer as drie jaar gelede gebeur?

Op ’n Kaapse somerdag in Februarie kry munisipale werkers ’n lyk in die Swartrivier digby Kaapstad. Die lyk van ’n man, net geklee in ’n blou onderbroek, met ’n kruisboogpyl in sy kop.

Die lyk word geëien as dié van Graham Chatburn (49), takbestuurder van ’n klereonderneming in Bellville.

Die polisie gaan praat met sy vrou, Louisa Chatburn. En etlike maande later verskyn sy in die Kaapse hooggeregshof op aanklag van moord.

Daar bars die bom. Sy erken sy het haar man met ’n kruisboog geskiet terwyl hy geslaap het nadat hy "onmoontlike" seksdade van haar gevra het. Hy het "sekere seksuele instrumente" gebruik.

Maar dit is nie die eerste skielike sterfte in Louisa Chatburn se lewe nie. Haar vorige man, Fanie du Toit, is drie jaar gelede dood nadat hy homself in die kop geskiet het.

Daardie drama het op ’n Vrydag in Julie 1989 sy krisispunt begin nader . . .

Vyfuur daardie middag het Louisa haar man op die Brackenfell-stasie gaan haal. Op pad huis toe het hy 'n halfbottel brandewyn gekoop. Hy het dit daardie aand alleen uitgedrink.

Die Saterdagoggend is hy saam met sy vrou supermark toe. Hy het begin praat oor dinge wat hom kwel: hy is moeg vir die lewe en die gesukkel. "Ek het nie eens geld vir kos vir ons dié maand nie," het hy gesê.

En hy sal sommer die vuurwapen vat en homself skiet. Moenie so ligsinnig wees nie, het Louisa hom berispe. Op pad huis toe het hy 24 biere en ’n groot bottel brandewyn gekoop.

In haar verklaring vertel Louisa haar man het onrustig gelyk. Hy het op en af geloop, deur die huis en buite. Hy wou nie die middag of die aand eet nie, maar het bier en brandewyn gedrink.

Later het hy gekla die kinders irriteer hom met hul videospeletjies. Louisa moes hulle dadelik laat ophou.

Van agtuur het Fanie, Louisa en hul twee dogters TV gekyk. Om elfuur is die kinders bed toe. Kort voor twaalf het Fanie gesê sy sigarette is op.

Sy het gesien die drank het hom aangetas, maar hy is nie dronk nie.

Jeff Benzien van die SAP wys hoe die pyl deur die oorledene se skedel geboor het. Voor lê die kruisboog waarmee hy geskiet is. Foto: Argief.

"Ek het hierna die sigarette gaan koop en my eggenoot het in die huis agtergebly. Toe ek terugkom was my eggenoot steeds in die sitkamer en hy vra toe ek moet vir hom ’n drankie ingooi.

"Ek het beswaar gemaak, maar later het ek weer ’n sopie brandewyn en Coca-Cola vir hom geskink, wat hy toe gedrink het."

So ’n halfuur ná middernag het Louisa gesê sy gaan slaap. Sy het eers gaan koffie maak terwyl hy slaapkamer toe is. "Nadat ek ’n tydjie in die badkamer besig was om my vel te versorg, het ek ’n harde slag in die slaapkamer gehoor."

Sy het kamer toe gehardloop. Fanie het op sy linkersy gelê met die beddeken tot by sy skouers opgetrek. Daar was bloed aan sy regterslaap en die rewolwer was nog in sy regterhand vasgeklem. Sy het aan hom geraak en sy naam geroep, maar hy het roerloos bly lê.

Die eerste konstabel op die toneel het gesê Louisa was in ’n erg geskokte toestand, al het sy "sober en normaal" voorgekom. Sy moes na ’n dokter in Brackenfell gebring word om vir skok behandel te word.

Die mediese verslag beskryf saaklik: "Aan die regterkant van die kop is ’n vuurwapenwond van sowat 0,5 cm in deursnee . . . Die koeël is aangetref in die been aan die linkerkant van die kop . . . "

Die lewer was reusagtig en vetterig. Die alkoholkonsentrasie in die bloedmonster was 0,17 g per 100 ml, effens meer as dubbel die maksimum vlak waarmee ’n mens mag motor bestuur. Die kinders het deur die drama geslaap.

Chatburn en haar vriend, ene Anton, verlaat die hof. Foto: Argief.

So koel en wetenskaplik soos die mediese verslag is, so emosioneel was Louisa se verklaring. Sy en haar man het goed saamgeleef en was lief vir mekaar en vir die kinders. "Ons het mekaar onderskraag en daar was geen vyandigheid tussen ons twee nie," skryf sy.

So vier jaar tevore is haar man deur die SA Vervoerdienste "in rang en loon verlaag as gevolg van ’n drankprobleem". Dit was ’n groot vernedering, en hy het ’n minderwaardigheidskompleks ontwikkel.

"Ons twee het in lewe ook gereeld ons kerk, die Apostoliese Geloofsendingkerk, besoek. My eggenoot het ook partykeer aan my gemeld dat sy gebede tot verbetering nie deur die Here verhoor word nie, en dit het hom baie ontstel en ’n sielestryd vererger."

Fanie was ’n gekwelde man. Dit het past. Owen Moore van AGS ook gesien. In sy verklaring het hy gepraat van ’n geweldig negatiewe houding en ’n ernstige geestelike sielestryd.

Louisa se "positiewe bystand en strydmoedigheid" het hom opgeval. "Volgens my mening was haar optrede dié van ’n Christenmens met goeie beginsels."

Fanie kon nie sy probleme verwerk nie en omstandighede kon hom tot selfmoord gedryf het, was die pastoor se slotsom.

Mediese, persoonlike en ander getuienis het die polisie tevrede gestel. Fanie se dood is as selfdood aangeteken.

  • Huisgenoot: Ware Lewensdramas word Donderdae om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai.
  • Heruitsendings is Sondae om 21:00.