Chanélle het kort voor haar tragiese dood vir haar kleinsus, Monique Habberton, ’n SMS gestuur waarin sy haar voorspoed met ’n komende eksamen toegewens het. Haar laaste woorde was: "Lief vir jou".

Nooit weer sal Chanélle dit weer vir haar kleinsus kan sê nie. Die oggend van 8 November 2011 is Chanélle voor die kleuterskool waar sy haar seuntjie afgelaai het, afgemaai.

Hier vertel Monique aan Huisgenoot van haar suster se laaste SMS aan haar.

Laaste SMS, toe die dood — deur Danél Blaauw (Huisgenoot 8 Desember 2011)

Die teksboodskap van haar suster het laataand gekom, en toe sy dit die oggend van 8 November lees, was Monique Habberton te haastig om dadelik daarop te reageer.

Dit kon wag tot later, het sy besluit. Maar “later” sou toe nooit kom nie . . .

Dit was net voor sewe die oggend toe Monique, die geliefde kleinsus van Chanélle Henning, haar ousus se boodskap lees. Net ná sewe is Chanélle buite die kleuterskool in Pretoria waar sy pas haar seuntjie afgelaai het, van ’n motorfiets af deur haar motorruit doodgeskiet.

Die boodskap waarop Monique (22) toe nooit gereageer het nie, was om haar sterkte toe te wens met die eksamen wat sy as Unisa-student die oggend moes aflê. Haar sussie se heel laaste woorde aan haar was: “Lief vir jou.”

Monique Habberton, Chanélle Henning se suster, het eers minute voor die sluipmoord op haar ousus ’n teksboodskap (ONDER) van haar gelees wat die vorige aand laat gestuur is. Foto verskaf.

Sy wou dit eers nie glo toe sy die tyding ontvang van die gruweldaad wat by haar vierjarige susterskind se skool in Faerie Glen gepleeg is nie. Maar op die toneel het die bloed op die gras die verhaal vertel, en Monique het in haar ma, Sharon Saincic, se arms in gehardloop.

Sharon kon haarself nie van die toneel wegskeur nie. Uur ná uur het sy daar buite die skool gebly waar Chanélle se lyk gekry is. Mense het later kampstoele aangedra sodat sy en Monique daarop kon sit.

Eers toe mense ’n kring om hulle vorm en vir hulle bid, kon sy dit regkry om die plek te verlaat waar haar kind so wreed van haar geliefdes weggeneem is.

Chanélle se gesinslede vertroos mekaar op die toneel waar sy op 8 November 2011 doodgeskiet is. Foto: Gallo Images/Getty Images.

’n Paar dae ná die begrafnis maak Sharon en Monique ’n kasdeur in Chanélle se woonstel oop, en daar sien hulle dit: ’n hele stapel Kersgeskenke, reeds in vrolike geskenkpapier toegedraai.

So was Chanélle . . .

Die woonstel waar die 26-jarige Chanélle en haar seun ingetrek het sowat 18 maande nadat sy en haar man, Nico, uitmekaar is, is skaars 200 m van die plek waar sy doodgeskiet is.

“Sy het reeds vir ons almal geskenke gekoop. Ek verjaar op 6 Desember en daar was selfs ’n aparte verjaardaggeskenk vir my,” vertel Monique hartseer.

Sy het nog nie die geskenk oopgemaak nie. Dis gebêre vir die dag dat sy haar eerste verjaardag sonder haar suster moet vier.

“Dis net die soort mens wat sy was. Sy was onselfsugtig en het elke oomblik spesiaal gemaak.”

Die skatryk sakeman en die student

Chanélle en Nico het mekaar in 2005 by haar ouerhuis in Rustenburg ontmoet, vertel Monique. Sharon het die binneversiering van ’n paar van Nico se huise op Thabazimbi gedoen.

Nico was reeds ’n skatryk sakeman en 19 jaar ouer as Chanélle, destyds ’n onderwysstudent by Tuks.

“Daar was dadelik ’n vonk tussen hulle,” vertel Monique. Nico het Chanélle se voete onder haar uitgeslaan.

“Hy besit sy eie vliegtuie en sou haar en ’n paar vriende sommer vir ’n aand Durban toe vlieg vir ’n ete. Hy het haar baie bederf.”

Binne ses maande was hulle verloof.

Tog was daar vroeg reeds probleempies. Chanélle het hul verlowing verbreek, maar ’n paar dae later weer die ring aan haar vinger gesit nadat Nico beloof het dinge sou verander.

Ses maande later is hulle by die spoggerige Avianto-huweliksplaas buite Muldersdrift getroud.

“Daar was gesprekke oor hul ouderdomsverskil, maar g’n bohaai is daaroor gemaak nie. My ouers was nie gelukkig daaroor dat sy haar studie los nie, maar die twee het hulle oortuig dis beter en dat sy verder deur die pos sou studeer. Nico wou rustig raak en kinders hê.”

Chanélle se seun in gelukkiger dae saam met sy ouers op sy eerste verjaardag. Foto verskaf.

André Gouws, ’n vriend van Nico en een van die vyf mans wat intussen weens die moord op Chanélle in hegtenis geneem is, was ook op die troue.

“Chanélle het hom twee keer ontmoet. Ek ook. Sy het nie van hom gehou nie.”

Chanélle was twee maande ná die troue swanger. Die paartjie het toe in Rustenburg gewoon, waar haar ouers en Monique ook gebly het. Hul seuntjie is op 7 Mei 2007 gebore.

“Chanélle was ’n gebore ma. Sy het vir haar seuntjie geleef. Sy het sy kamer so mooi versier met ’n vliegtuigtema en vliegtuigies wat uit die dak hang.”

Ma en seun was so na aan mekaar dat hulle selfs spesiale fliekaande gehad het. Foto verskaf.

Maar Monique het reeds die krake in hul huwelik gesien.

“Chanélle was baie alleen. Nico het verskriklik hard gewerk en baie gereis. Ek kon sien sy is nie gelukkig nie.”

In dieselfde jaar het die paartjie na die Peacanwood-gholflandgoed op Hartbeespoort getrek omdat dit sentraler was.

Haar ouers het reeds ’n maand tevore na dieselfde landgoed getrek omdat haar broer, Romano (20), sy droom daar kon uitleef om beroepsgholf te speel.

In 2008 het die huwelik finaal verbrokkel. Hul seun was skaars 18 maande oud. Chanélle het by haar ouers ingetrek en haar ouerhuis was die daaropvolgende 18 maande haar seuntjie se tweede huis.

Chanélle en haar seun (4). Foto verskaf.

“Chanélle het die afgelope ruk weer haar lewe op dreef gekry. Sy het geldelik gesukkel, maar genoeg gehad om haar kind se skoolgeld en buitemuurse aktiwiteite te betaal. Sy was gelukkig in haar woonstel en by die werk. En sy was besig om haar studie te voltooi.”

Met haar dood was sy en Nico steeds nie geskei nie.

“Daar was baie rusies en ’n lang toesigstryd oor hul kind. Nico was bereid om haar te laat gaan, maar nie sy seun nie.”

Terwyl sy en haar ma op die moordtoneel was, het Ivan Saincic, Chanélle se pa, sy kleinseun vergeefs uit die kleuterskool probeer wegneem.

“Die maatskaplike werker was van die eerste mense op die toneel. Weens Nico en Chanélle se lang toesigstryd is hul seun dadelik weer in pleegsorg geplaas. Ons het hom ’n paar dae later gesien toe hulle hom oorgebring het vir middagete by die familie.”

Nico en Chanélle se seun was al voorheen in die sorg van die pleegouers by wie hy nou tuisgaan.

“Die hof het destyds toe die toesigstryd so fel was, bepaal hy moet in ’n neutrale omgewing wees. Chanélle en Nico is deur baie sielkundige toetse. My ouers moet nou deur dieselfde toetse gaan omdat hulle volgende in die ry staan vir toesig oor hul kleinseun.”

Dit is vir die familie baie hartseer dat hulle nie aan die seuntjie kan verduidelik wat gebeur het of waarom hulle nie nou daar is vir hom nie, sê Monique.

“Ek het hom by die begrafnis ’n soentjie gegee en gevra hoe dit met ons grootman gaan.’’

Nico Henning, Chanélle se vervreemde man, op haar begrafnis. Foto: Gallo Images/Getty Images.
Chanélle se ouers, Sharon en Ivan Saincic, groet hul vermoorde dogter vir oulaas. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Kersfees is net om die draai, maar vir die eerste keer sien Monique nie kans vir die jaarlikse familiesaamtrek nie.

“Ons hele familie het elke tweede naweek saam by my ouers gekuier. Die laaste naweek was dit Chanélle se verjaardag. Ek het vir haar ’n vanillasponskoek met suurlemoenversiersuiker gebak.

“Sy het nie daarvan gehou dat al die aandag op haar is nie. Maar sy was gek oor familiebyeenkomste en het verjaardae en Kersfees altyd spesiaal gemaak.

Kort voor haar dood het Chanélle by haar ouers gepleit: “As ek enigiets moet oorkom, belowe my julle sal tot die einde vir my seun veg.”

Sharon en Ivan sal nou alles in die stryd werp om dié laaste wens van hul dogter te eerbiedig.

  • Huisgenoot: Ware Lewensdramas word Donderdae om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai.
  • Heruitsendings vind Sondae om 21:00 plaas.