In die 11de aflewering van die tweede seisoen van Huisgenoot se werklikheidsreeks Huisgenoot: Ware Lewensdramas, wat op 25 Oktober op VIA uitgesaai word, herbesoek ons die moord op die Van Breda’s van Stellenbosch.

In Junie vanjaar het regter Siraj Desai Henri van Breda drie keer lewenslank tronk toe gestuur vir die moord op sy pa, Martin (54), ma, Teresa (55), en ouboet, Rudi (22).  Hy dien tans sy vonnis in die Drakenstein-gevangenis naby die Paarl uit.

Sterker ná die bylmoorde – Hilda van Dyk, 27 Augustus 2015

Teresa van Breda se suster verbreek die familie se stilte en vertel vir Hilda van Dyk van Henri en Marli se lewe voor en ná die groot tragedie.

Die foto waarna Narita du Toit wys, is ’n prentjie van hoe twee gelukkige, mooi jong mense moet lyk. Daarop sit haar susterskinders Henri en Marli van Breda en kuier langs die see. Albei lag uit hul nate. Hul hond, Sasha, sit langs Henri.

Al leidraad dat iets verskrikliks ’n paar maande tevore met hulle gebeur het, is Marli se krullebol. “Ek sweer, die hare wil net nie groei nie,” sê Narita.

Marli se lang blonde hare is afgeskeer nadat sy ’n paar keer met ’n byl oor die kop geslaan is in ’n aanval waarin haar en Henri se ouers en ouer broer in Januarie in hul spoghuis op Stellenbosch met ’n byl vermoor is. Haar nekslagaar is afgeslaan en haar regterbrein beseer.

Henri en Marli het mekaar ná die aanval vyf maande lank nie gesien nie, maar op die foto wat hul tannie wys, is dit duidelik hulle is weer gelukkig in mekaar se geselskap.

Die familie het ná die moorde ’n sluier van geheimhouding oor die twee oorlewende Van Breda-kinders se doen en late getrek.

Maar die geheimhouding kom vandag tot ’n einde. Narita (54) is die eerste lid van die familie wat ingestem het om openhartig met Huisgenoot te gesels oor wat in die Van Breda’s se binnekring gebeur het voor en ná die aanval wat die land nou nog laat kopkrap.

Dit was ’n doodgewone oggend, vertel sy. Vroegoggend het Narita, van Bryanston in Johannesburg, vir haar suster, Teresa van Breda, ’n WhatsApp-boodskap met ’n grappie gestuur.

Elke dan en wan het Narita na haar foon gekyk, wagtend vir ’n antwoord van haar sus, wat gewoonlik flink geantwoord het. Maar niks.

Toe die foon om 10:30 lui, was dit nie die gewone “ha-ha”-boodskap van haar suster nie, maar ’n oproep van haar broer Francois du Toit van Pretoria.

Teresa (links) het elke dag met haar suster Narita du Toit gepraat. Foto: Verskaf.

“Narita,” was al wat hy gesê het. “ ‘Wat is fout?’ het ek geantwoord. Ek het uit sy stemtoon dadelik geweet iemand is dood.

“Francois het ’n paar oomblikke stilgebly. Toe sê hy: Martin is dood. En Teresa is dood. En Rudi is dood. Hulle is vermoor. Marli veg om haar lewe. Gelukkig het Henri net ’n paar skrapies.”

Daardie oomblik het alles vir Martin en Teresa se families verander. Waar hulle altyd net ’n gewone, lieftallige familie was, was hulle nou voorbladnuus.

Hul geliefde Martin (54), Teresa (55) en hul seun Rudi (22) was dood. Oral was die tweede kind, Henri (20), se naam op koerantplakkate. In gesprekke het mense openlik bespiegel of hy ’n moordverdagte is. Die lewe van die gesin se enigste dogter, Marli (16), het aan ’n draadjie gehang.

Teresa en Martin. Foto: Verskaf.

André, Teresa en Narita se ander broer, wat in die Kaap woon, het beheer geneem.

Hy is na die toneel. Die aand ná die moorde het hy Henri huis toe geneem, hom ’n bord kos gegee, in die bed gesit “en hom met liefde omhul”.

Narita vertel hoe erg dit was om elke dag die nuus te kyk of koerante te lees en te sien hoe tussen die reëls oor Henri bespiegel word. “Ek was histeries. Hy is ’n lieflingseun wat nooit so iets sou kon  doen nie. Jy weet as ’n kind stout is, kan jy in sy oë of liggaamshouding sien hy het iets verkeerds gedoen. Met Henri was daar niks.

“Tot vandag het die polisie nog nie een keer vir ons gesê Henri word as ’n verdagte beskou nie. Hy word nog heeltyd as ’n ooggetuie gehanteer.

“Dit is asof ek Teresa se hart in my dra. En Teresa se wens sou wees dat haar kinders met hul lewe kan aangaan.”

Marli was die eerste een wat verlede jaar na Suid-Afrika teruggekom het ná nege jaar in Australië. Die gesin het besluit om na hul geboorteland terug te keer nadat Martin se sakeondernemings hier vinniger gegroei het as sy onderneming in Australië.

Teresa het ook swaargekry in Australië, want sy was ver van haar familie en moes al haar huiswerk self doen, “al het sy nooit daaroor gekla nie”, sê Narita.

Marli moes in November op ’n jaareindkamp gaan by Somerset College op Somerset-Wes, waar sy vanjaar haar gr. 11-jaar begin het.

André en sy vrou, Sonja, die Van Breda-kinders se voogde, het seker gemaak Marli het alles wat sy nodig het vir die kamp.

Oorlede oupa Rudi du Toit saam met Rudi en Henri aan weerskante van hom en hul nefie Rudolph Müller regs. Foto: Verskaf.

Op 1 Desember het Martin en Teresa geland. Henri was die volgende een wat aangekom het. Hy het al Teresa se rywerk vir haar oorgeneem. Hy sou vir Marli gaan haal waar sy was of vir die gesin inkopies doen. Hy het ook dikwels kos gemaak. “Hy is ’n dierbare kind.”

Teen middel Desember was Rudi ook terug. Hy moes eers sy eksamen aan die Universiteit van Melbourne, waar hy ingenieurswese studeer het, aflê.

“Teresa was in ekstase om al haar kinders by haar te hê. Omdat sy, wat met die ondernemings gehelp het, en Martin so hard gewerk het en Martin so baie uitstedig was, was vakansies die tyd dat hulle as gesin gehaltetyd saam deurgebring het.

“Teresa het nog nooit oor Henri gekla nie. Die stories van dwelms is snert; dat hy in ’n dwelmrehabilitasie- en ’n psigiatriese kliniek was, snert. Ja, hy het vir ’n breinskandering gegaan, maar dit was omdat hy baie hoofpyne gekry het. Daar was toe net ’n vlekkie op sy brein.

“Ek en Teresa het elke dag gepraat. Ons kinders is dieselfde ouderdomme; ons sou vir mekaar raad gee, jy weet, oor tienerdinge. Sy sou my gesê het as daar probleme met Henri was.”

Die laaste foto wat van Rudi en sy ma, Teresa, geneem is. Foto: Verskaf.

In die maand voor die aanval het die Van Breda’s elkeen van Teresa se vier broers en drie susters en hul ma, sowel as Martin se tweelingbroers gesien – iets wat ongewoon was, sê Narita, want soos wat hulle deur die jare in Suid-Afrika en by hul vakansiehuis op Knysna kom vakansie hou het, was daar altyd die een of ander familielid wat hulle nie te sien kon kry nie.

’n Dag of drie voor die moorde het Narita nog vir Teresa ’n WhatsApp-boodskap gestuur en gevra of sy haar kinders geniet. Teresa se antwoord was: “Jip, ek doeeeeen.”

Die Saterdag voor die Maandag toe Teresa, Martin en Rudi vermoor is, het die gesin saam in ’n hok ingegaan om na haaie te kyk, iets wat Martin sy kinders al twee jaar lank belowe het. Die dag voor die moorde het Teresa nog ’n uur met haar broer Heinrich, wie se verjaardag dit was, oor die foon gepraat.

André was die een wat eerste deur die De Zalze-landgoed op Stellenbosch, waar die moorde plaasgevind het, gekontak is. Martin het sy naam gegee as die naasbestaande wat in nood gebel moes word.

Die laaste foto wat van Rudi en sy ma, Teresa, geneem is. Foto: Verskaf.

“André kry hierdie oproep van De Zalze wat sê hy moet kom. Hulle wil nie vir hom sê hoekom nie, net dat hy moet kom,” herroep Narita dié dag se gebeure.

“André bel vir Francois en vra of hy weet wat by Teresa-hulle aangaan. Francois sê hy het nog die vorige aand met Teresa gepraat.

“André bel weer De Zalze en sê hy wil weet wat aangaan, want hy wil nie verniet die hele pad van die Kaap af ry nie. Dis toe dat hulle vir hom sê daar is mense dood.

“Toe hy daar kom, was alles afgekordon. Daar word net vir hom gesê die dogter veg om haar lewe en Henri is by die polisie; hy word soos ’n ooggetuie behandel en is onder hul toesig; Henri mag met niemand praat nie.”

Narita was die laaste van die broers en susters wat van die moorde in kennis gestel is. Haar seun, Rudolph, het haar na haar en Teresa se ma, Rika du Toit (91), in ’n aftreeoord in Kempton Park geneem.

Een vir een het die hele familie by Rika opgedaag. Die familie het ’n WhatsApp-groep gestig en André en Sonja, wat op die toneel was, het almal op die hoogte gehou van wat aan die gang was.

Rudi en Henri by hul ouma Rika du Toit (91). Foto: Verskaf.

Leenta en Wessie du Toit, die oudste suster en broer, het inspirerende boodskappe gestuur. Die ander, Francois (59), Heinrich (61), Helena (54) en Narita (54), het vertel van die goeie tye saam met Martin en Teresa.

“Ons was almal verstom. Ons kon nie glo wat gebeur het nie. Martin en Teresa het nog nooit enigiemand skade aangedoen nie. Hulle het besef hulle is talentvol en bevoorreg en moet daarom amper daarvoor opmaak deur vir ander goed te wees. Hulle het die lewe reg geloop,” sê Narita.

Teen seweuur die aand is Henri in André en Sonja se toesig laat gaan. Sonja was Teresa se beste vriendin op universiteit en Teresa het André en Sonja aan mekaar voorgestel.

Die volgende oggend het die bespiegeling begin dat Henri ’n verdagte is. “Ons familie het almal geweet dit is onmoontlik. My ma sê never, nie Henri nie.In elke oproep wat ek kry, hoor ek die wonder in mense se stem.

“Dit het gevoel of my hart wil verbrokkel.

“As ek as ’n 20-jarige bogkind moes sien hoe my familie voor my vermoor word, sou ek in ’n gestig beland het. Maar nie Henri nie; hy het besef hy het hulp nodig. Die nagmerries, jy weet. Hy het vir berading gegaan en gedoen wat die polisie sê. Hy het aangegaan met sy lewe asof hy niks het om weg te steek nie. Toe Huisgenoot skryf hy rook, het hy ophou rook.

“Toe Marli uit die hospitaal ontslaan is en sy by André en Sonja gaan bly, het André opgemerk die polisie is half ongemaklik met hulle twee saam in een huis. Henri het gesê as dit tot Marli se voordeel is, sal hy op ’n ander plek gaan bly.

“Hy het toe in ’n gastehuis gaan bly.

“Ek is so trots op daardie kind; sy optrede in dié byna onmenslike omstandighede nadat sy familie voor hom afgemaai is en terwyl al hierdie aantygings teen hom gemaak word. Hy het dit alles soos ’n man hanteer.”

‘Dit is asof ek Teresa se hart in my dra’

Niemand in die familie weet wat daardie dag in daardie huis gebeur het en wie so iets kon doen nie. “Ons praat nie daaroor nie. Ons bespiegel ook nie, want wat sal dit help?” sê Narita.

“Wil ons hê iemand moet gevang word? Ja, seker. Dit sal goed wees vir geregtigheid. Maar dit sal nie vir Teresa, Martin en Rudi terugbring nie.”

Ná die moorde, sê Narita, is hul familie baie sterker en baie nader aan mekaar.

Wanneer hulle bymekaarkom, praat hulle oor goeie goed wat hulle van Martin en Teresa onthou. Maar nooit vra hulle hoekom nie. “Net waarheen nou – dis ons leuse.

“Drie van ons is weggeneem, maar daar is nog twee om na te kyk. Teresa se trane loop seker van dankbaarheid vir wat André en Sonja alles vir haar kinders doen.”

In die tyd dat Marli in die hospitaal was, het nie ’n week verbygegaan dat iemand van die familie nie na Kaapstad gevlieg het om by haar te kuier nie.

Toe vir Marli gesê is sy en Henri mag mekaar nie sien nie, het sy gesê dit is hoe dit moet wees. Haar enigste fokus was om gesond te word. En die familie se fokus was om Henri te beskerm. André en Sonja beskerm hom soos ’n tierkat.

“Marli is ’n lopende wonderwerk. Ek het gedink sy gaan doodgaan, maar sy het deurgedruk,” sê Narita. “Sy het 95 persent herstel. Gewoonlik duur dit minstens twee jaar vir ’n ernstige breinbesering soos hare om te herstel, maar as jy nou na Marli kyk, sal jy nie dink sy het net ’n paar maande terug so ’n breinbesering gehad nie.

“Sy het baie goeie maats wat haar ondersteun. As iemand haar iets die eerste keer verduidelik, verstaan sy nie so mooi nie. Ná die tweede keer verstaan sy beter en die derde keer het sy dit.

“Dit gaan by die skool so goed met haar dat ons nie eens dink dit sal vir haar nodig wees om die jaar te herhaal nie.

“Sy kan net niks van daardie aand onthou nie.”

Narita sê Marli pas nou alles toe wat haar ouers haar geleer het. Teresa was baie gesondheidsbewus. Marli is skielik net so gesondheidsbewus en kyk na wat sy eet. Marli dra ook Teresa se klere.

Narita Du Toit. Foto: Sharon Seretlo.

“Marli se oë straal wanneer sy van Teresa, haar pappa en Rudi praat.”

Henri beplan om volgende jaar aan die Universiteit Stellenbosch ingenieurswese of bourekeningkunde te studeer.

Marli en Henri hou van by die huis wees, maar sal soms saam met hul oom en tante strand toe gaan of gaan uiteet.

Henri gaan stap ook gereeld met die honde of kook kos vir die gesin.

Marli het haar oom en tante onlangs vir ’n biljoenêrenbergiepartytjie uitgedos.

Narita sê Marli en Henri kom kuier gereeld in Gauteng by hul ouma, ooms, tantes, neefs en niggies.

Toe hulle in Australië was, het hulle op die meeste twee keer per jaar hul familie gesien. Nou “drink Marli en Henri die familie se liefde in”.

Wanneer Henri Gauteng toe kom, doen hy altyd moeite om vir sy ouma Rika te gaan kuier. Nadat hy geland het, gaan drink hy eers koffie by haar. En met sy vertrek bespreek hy altyd ’n vroegoggendvlug en slaap dan sommer by sy ouma oor.

“Henri het nog nie hier in SuidAfrika maats gemaak nie, grotendeels oor sy omstandighede en omdat hy nege jaar in Australië gebly het.

“Hy kuier gevolglik baie by sy niggies en nefies.”

Marli het op Teresa se verjaardag op 19 Julie by haar ouma kom kuier. Marli, Narita en ouma Rika het “saam gelag, saam gehuil en dan weer saam gelag”.

“Wanneer Marli by my is, verlang sy na haar ma en pa. Maar sy het nou ’n nuwe lewe. André en Sonja is nou vir haar haar pa en ma.”

Marli en Henri praat oor hul ouers en dinge wat hulle saam gedoen het. Hulle sal praat oor wat hul pa oor ’n ding sou sê. Henri sal sê net sy ma was slim genoeg om sy grappe te verstaan.

“Henri en Marli gaan aan met hul lewe. Dit het gebeur, maar hulle sit hul lewe voort.

“Albei kry nog berading, maar albei is ook baie meer volwasse ná wat gebeur het.

“Marli en Henri is versot op mekaar. Maar hulle was nog altyd.”

  • Huisgenoot: Ware Lewensdramas word Donderdae om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai.
  • Heruitsendings is Sondae om 21:00.