Toe die Huisgenoot-joernalis Jana van der Merwe in Julie 2016 ’n eksklusiewe onderhoud met ’n geskokte Marinda Steyn, ma van twee jong moordbeskuldigdes, gevoer het, het niemand die onverwagte wending voorsien wat sou volg nie.

Dieselfde Marinda Steyn, wat oënskynlik verpletterd gebede afgesmeek het vir genade vir haar kinders, is op 16 Mei 2018 11 keer lewenslange tronkstraf opgelê, juis vir haar direkte betrokkenheid by die afgryslike moorde. En tydens die opspraakwekkende hofsaak het een ná die ander skokkende onthulling die familie en vriende van hul slagoffers soos ’n hou in die wind getref.

Koelbloedig, wreed en skynbaar sonder enige berou het hulle 11 mense se lewens geneem. Die tergende vraag is: hoeveel sou nog gesterf het as Marinda, haar kinders en die res van die moordgroep nie gestuit is nie . . .

Huisgenoot Ware Lewensdramas
Die finale episode word op 8 November om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai. Die program word weer op Sondagaand op dieselfde kanaal om 20:30 weer uitgesaai.

'Bid tog vir my kinders' – deur Jana van der Merwe, 14 Julie 2016

Hulle was dan self geskok oor die Krugersdorpse afspraakmoorde, sê die verbaasde ma van die laaste twee verdagtes wat aangekeer is.

Hulle is die soort kinders op wie enige ma sou trots wees. Haar dogter is ’n boekwurm wat verlede jaar ses onderskeidings in matriek behaal het. Haar seun is sjarmant, liefdevol en die beskermende een in die gesin.

Maar Marinda Steyn se twee kinders wat nou die dag nog nes enige ouboet en kleinsus sou stry oor wie se beurt dit is om koffie te maak, stry nou in die landdroshof in Krugersdorp met borgtogaansoeke om hul vryheid.

Marcel Steyn (18) en haar broer, Le Roux (20), is die jongste verdagtes in die vreesaanjaende reeks “afspraakmoorde’’ wat die Wes-Rand geruk het. Hulle word saam met Fabian Luff (32) en Tiaan Kruger (29) van die moorde aangekla.

Twee versekeringsmakelaars, Anthony Scholefield (64) en Kevin McAlpine (29), se lyke is onderskeidelik op 10 en 26 Mei in die bagasiebak van hul voertuig langs die pad in Krugersdorp gekry. ’n Eiendomsagent, Hanlé Lategan (52), se lyk is ’n dag ná haar verdwyning op 30 Mei langs ’n stroom in Randfontein gevind.

Die eiendomsagent Hanlé Lategan en die makelaars Anthony Scholefield en Kevin McAlpine is in Mei in Krugersdorp vermoor. Foto: Facebook.

Al drie raaiselagtige moorde het een skrikwekkende besonderheid gemeen gehad: Op die aand van hul verdwyning het elk van die slagoffers om sesuur ’n afspraak met kliënte gehad.

“Ons was net so geskok,” sê Marinda (50) oor die moorde. Sy het haar kinders daarna nog gewaarsku om op hul hoede te wees. In ’n stil Krugersdorpse koffiekroeg waar sy op dié wintermiddag eksklusief met Huisgenoot oor haar seun en dogter se inhegtenisnemings praat, trek sy ’n pers mussie styf oor haar kop.

Marcel het dit vir haar gebrei. Marinda trek ’n papiersak vol sagte speelgoed nader. “Kyk, die katjie se naam is Issie en die beertjie met die kolletjies is Rascal.” Le Roux het albei vir haar gegee, net omdat hy lief is vir haar.

Dieselfde seun word nou van moord aangekla.

Sagtespeelgoed wat die ma en haar kinders as geskenkies vir mekaar gegee het. Foto: Fani Mahuntsi.

Tydens hul borgtogaansoek op 30 Junie het die staat aangevoer Le Roux het Hanle na bewering gewurg, terwyl Marcel na bewering in die eiendomsagent se laaste oomblikke haar die PIN-kode vir haar bankkaart laat herhaal het.

Marinda weier om die aantygings te glo dat haar seun ’n vrou “wat byna net so oud soos sy ma is” met ’n tou om die nek sou wurg en dat haar dogter aan so iets aandadig sou wees.

So seker is sy van haar saak dat ’n mens nie eens durf verwys na die staat se skrikwekkende bewerings dat Marcel na bewering ’n foto van die eiendomsagent se lyk op haar foon gehad het nie.

Dit alles kan onmoontlik waar wees, lees ’n mens in die ma se desperate, indringende blou oë. “Marcel is dan ’n regte nerd.”

Haar kinders se geaardhede verskil hemelsbreed, vertel Marinda terwyl haar sigaret saampraat. “Le Roux kom soos ’n ekstrovert voor, maar hy hou ook daarvan om sy eie ding te doen.”

As sy haar seun met een woord moet beskryf, sal dit “charming” wees. “As kind was hy lief vir buite speel en boom klim. Hy was ’n gehoorsame seun,’’ onthou sy.

Deesdae geniet hy dit om rustig by die huis te wees, rekenaarspeletjies te speel en kos te maak. Hy het nie op die oomblik ’n werk nie, maar maak planne om na ’n sjefskool te gaan.

Die enkelma se oë blink van trots toe sy oor haar dogter begin praat. Marcel het vanjaar ’n brugjaar geneem en as au pair gewerk. Sy het universiteitstoelating gekry om volgende jaar medies te studeer, maar besluit nog of sy dit wil doen.

Marinda en haar gewese man het destyds gesukkel om kinders te hê, vertel sy. Toe Le Roux, die eerste kleinkind in die familie, eindelik gebore is, het sy skaars kans gekry om hom vas te hou. Toe sy swanger raak met Marcel, was sy in ekstase.

Le Roux het op skool ’n gemiddeld van in die 70’s behaal, maar Marcel het al haar ma se verwagtings oortref. “Ek meen ek is intelligent,” sê Marinda, “maar ek is nie so briljant soos my dogter nie.”

Marcel was vier en Le Roux ses toe hul ouers skei, maar hulle het in ’n stabiele, liefdevolle huis grootgeword, sê Marinda. By die Hoërskool Monument, waar Marcel verlede jaar gematrikuleer het, het sy ses onderskeidings verwerf.

Sy het in gr. 11 by haar ou skool selfs in die biblioteek gewerk. “Haar favourite skrywers is Shakespeare, Jane Austen . . .” Marcel is ewe lief vir boeke en brei. “Sy brei vir al die ou bejaarde tannies (onderwysers) by die skool vir ’n geldjie. Sy is so ’n meelewende mens,” vertel Marinda en vir die eerste keer skiet haar oë vol trane.

“Dit ontstel my,” sê sy en vee die natheid met ’n handpalm weg.

“Ons praat asof hulle dood is, asof ek hulle nooit weer gaan sien nie.”

Marinda Steyn ’n paar dae ná haar onderhoud met Huisgenoot. Rowyn Lombard

’n Spesiale polisieondersoekspan het die broer en suster die aand van 23 Junie in hegtenis geneem – Marcel by haar ma se woonstel en Le Roux later die aand by ’n familielid se huis.

Marinda is ook vir die nag opgesluit omdat drie daggaplantjies na bewering tussen ander plante in ’n bak by haar tuiste gevind is.

Sy hou vol nie sy of haar kinders was al by dwelms betrokke nie. Dié klag word nog ondersoek.

Sy en haar kinders het skaars drie weke tevore gesien hoe die polisie die vermiste Hanle se verlate motor in Burgerstraat vind. Hulle bly naby die hospitaal. Terwyl die polisie die toneel afgesper het, het sy en haar kinders nog bespiegel oor wat aangaan.

Marinda het gedink daar was seker ’n kaping. Sy kan nie onthou dat haar kinders vreemd opgetree het nie.

Volgens die polisie is daar bewyse dat ’n vrou die aand saam met Hanle met kringtelevisiekameras afgeneem is. Die staat voer ook aan daar is na bewering beeldmateriaal van Le

Roux en Marcel wat met van die slagoffers se gesteelde bankkaarte geld trek.

Uit Hanle se rekening is R3 000 onttrek en haar handsak, iPad en trouring het onder meer verdwyn. Uit Anthony se rekening is R9 600 gesteel en sy kaarte is die volgende dag ook by ’n slaghuis, klerewinkel en kafee gebruik.

Haar kinders se geaardhede verskil hemelsbreed, vertel Marinda terwyl haar sigaret saampraat. Foto: Rowyn Lombard.

Altesaam R1 300 is uit Kevin se rekening weg. Sy trouring, skoene en beursie is ook gesteel.

Tiaan, wie se borgtogaansoek saam met dié van Le Roux en Marcel op 13 Julie voortgesit word, word na bewering deur selfooninligting met die misdade verbind. Fabian het aangedui hy gaan nie om borgtog aansoek doen nie. Marinda sê sy het nog nooit van die ander twee verdagtes gehoor nie.

’n Week voor sy en haar kinders in hegtenis geneem is, het die polisie haar en haar kinders by hul woonstel oor “gesteelde goedere” kom ondervra. Haar kinders was net so verbaas daaroor soos sy.

Toe het sy nog geen idee gehad dat hulle met die afspraakmoorde verbind word nie. Sy wens sy kon vir die wêreld skree Le Roux en Marcel is onskuldig. “Dis soos ’n nagmerrie waar iemand jou mond toegeplak het en jy kan nie sê jy is onskuldig nie.”

Sy onthou hoe sy ná die inhegtenisnemings van die ander twee verdagtes ’n video op sosiale media gesien het waarin ’n familielid van Hanle sê hy bid vir die naasbestaandes van die beskuldigdes. Toe sou sy nooit kon raai haar kinders sou beskuldigdes word nie.

Dan vra sy sag: “Bid asseblief vir my kinders.”

Ekstra bron: Krugersdorp News

  • Huisgenoot: Ware Lewensdramas word Donderdae om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai.
  • Heruitsendings is Sondae om 21:00.