In die 10de aflewering van die tweede seisoen van Huisgenoot se werklikheidsreeks Huisgenoot: Ware Lewensdramas, wat op 18 Oktober op VIA uitgesaai word, herbesoek ons dié ongelooflike verhaal.

‘Die hartseer is groter as die vreugde’ – Deur Marelize Potgieter, 18 Junie 2015

Celeste Nurse vertel hoe dit voel om haar gesteelde kind ná 17 jaar te sien – maar haar ook ná elke naweek te groet

Jy vind jou bloedkind terug nadat sy 17 jaar gelede as baba uit haar hospitaalwiegie gesteel is, maar sy verkies om by die mense te bly wat haar na bewering onwettig as hul eie grootgemaak het . . .

Dis die pyn waarmee Celeste Nurse, Zephany Nurse se biologiese ma, daagliks worstel.

“Ja, dit is beter vandat ons haar gekry het, maar as ek eerlik moet wees, is die hartseer groter as die vreugde,” vertel die 36-jarige Celeste in haar ouers se huis in die Kaapse voorstad Delft. “Ons weet sy ken ons nie, maar om jou kind so by iemand anders te sien . . . Dis swaar dat sy daardie mens kies.”

Zephany (18) is die naam wat Morné (38) en Celeste Nurse destyds hul eersgebore dogter gegee het. Sy is onder ’n ander naam grootgemaak, maar die hof het gelas dit mag nie bekendgemaak word nie.

En die enigste vrou wat Zephany tot einde Februarie vanjaar as haar ma geken het, word weens haar ontvoering aangekla.

Nogtans verkies sy om in haar grootmaakouers se huis in ’n Kaapse voorstad te bly, by die man wat sy haar lewe lank onder ’n waan as haar biologiese pa beskou het.

Haar grootmaakma is tans op borgtog en hulle mag nie kontak hê nie. Zephany kuier net naweke by haar eie ma en drie sibbes, wat sy tot onlangs ook nie geken het nie.

Hoe voel dit om Zephany ná elke naweek as’t ware weer te verloor? “Dit is amper asof jy haar vir aanneming gee, maar jy het nie ’n keuse nie; jy moet dit net doen.”

Mense landwyd is vroeër vanjaar aangegryp deur die verhaal van die gesteelde baba wat ná soveel jare toevallig deur haar biologiese ouers gevind is. Maar van ’n sprokieseinde is daar nog nie sprake nie.

Vir Celeste is daar saam met die pyn van haar dogter se verdeelde lojaliteit ook haar onlangse stryd teen kanker, wat tans in remissie is. En sy en Zephany se pa, Morné, is in Februarie geskei nadat hulle byna ’n jaar gelede uitmekaar is.

Celeste vryf kort-kort oor ’n sleutelbeen wat sigbaar maer is onder haar blou trui. Terwyl sy praat, hel haar lyf oor na die regterkant van die stoel.

“Dis moeilik,” sê sy. “Dis waar sy grootgeword het en gemaklik voel. Sy het haar eie kamer. Dis soos enige kind wat in haar ma se huis gemaklik voel.”

“Baie moeilik,” herhaal sy en vryf-vryf aan die maer sleutelbeen. Vir haar en vir Zephany.

Die huis waarin die Nursegesin woon, is bedrywig met ons aankoms. Zephany se boetie en sussies kom groet ons. Oupa Lionel Francis (58), wat sy bene weens diabetes verloor het, sit op ’n bank en kyk TV.

Celeste kry die koffie en beskuit reg. Dis haar naasoudste dogter wat onwetend haar ousus, Zephany, “gevind” en met haar bloedfamilie herenig het. Toe sy begin vanjaar na ’n nuwe skool gaan, het die ander kinders haar gedurig vertel hoe baie sy na een van die matriekmeisies lyk. Gou het die twee vriendinne geraak en sy het haar pa daarvan vertel.

Celeste en haar naasoudste dogter. Foto: Noncedo Mathibela.

“Hoe het pappie altyd gesê?” vra Celeste en kyk na Lionel. “Voor die Here my wegvat, sal ek haar sien,” antwoord hy.

Aan ’n tafel in die hoek van die vertrek raak Celeste ernstig oor die afgelope paar maande.

“Ek sê soms: ‘Dit is eintlik ’n baie hartseer storie dié.’ Dink net, iemand sê op ’n dag vir jou jy is gesteel. Wie sal jy kies? Jou biologiese ma of die een wat jou gesteel het?”

Sy antwoord self: “Jy sal by die een bly wat jou gesteel het. Jy sal jou biologiese ma leer ken, maar jy sal by die een bly wat jou grootgemaak het; dis jou ma.”

Zephany konsentreer nou hard op haar matriekjaar, vertel Celeste. Sy wil ná matriek maatskaplike werk studeer en is reeds by drie universiteite aanvaar.

Volgens Celeste vra Zephany “groot vrae”, soos: “Hoe was jou lewe 17 jaar lank sonder my, Mammie? Hoe voel jy daaroor dat ek terug is in jou lewe?”

“Ek het vir haar gesê my hart was stukkend. Ek het dae, maande, jare gehuil. ‘Elke keer dat dit jou verjaardag was, het ek gewonder: waar is jy? Wat maak jy? Gaan fliek jy saam met jou vriende? Speel jy buite? Is jy veilig?’ ”

Maar sy het altyd gevoel haar dogter is naby en sal eendag terugkeer huis toe.

Die ontvoering het hulle albei seergemaak, meen Celeste. Sy dink nie hulle sal ooit heeltemal daarvan genees nie, maar hulle probeer.

“Zephany is deurmekaar. Sowat twee weke gelede het sy skielik net in trane uitgebars. Toe huil ons twee darem lekker saam. Toe sê ek vir haar: ‘Alles gaan oukei wees, al voel dit nou of alles uitmekaarval.’

“Jy sien, dit voel vir haar of haar lewe ’n leuen was. En nou het sy uitgevind haar biologiese ouers is geskei. Dit is nie vir haar maklik nie.”

Sy verstaan dit dat Zephany nog baie lief vir haar grootmaakma is. “Natuurlik; dis mos haar moeder. Maar sy praat nie baie van haar by my nie. Soms vra ek haar: ‘Mis jy haar? Wil jy haar sien?’

“Dis Zephany wat op die ou end die seerste gaan kry as ek haar van Maria (’n skuilnaam) probeer weghou. Ek kan dit nie doen nie.”

Daarby is haar dogter, wat net drie dae oud was toe sy uit die wiegie langs Celeste se bed in die Groote Schuur-hospitaal gesteel is, nou 18. “Sy moet haar eie keuses maak.”

Celeste met die pasgebore Zephany veilig in haar arms in die hospitaal. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Zephany het vir Celeste foto’s gebring van die kleintydmylpale wat sy misgeloop het, soos haar eerste treetjie. “Wanneer ek so na die foto’s kyk, kry ek baie seer. Daar is een foto waar sy melkies aan haar mond het . . . Wanneer ek daarna kyk, loop die trane. Dis mý kind. Ek het dit alles misgeloop. Dis so seer.”

Sal sy die vrou wil ontmoet en met haar gesels?

“Ja, maar nie nou al nie. Ek wil net vir haar vra hoekom sy dit gedoen het. Hoekom het sy my kind gekies en 17 jaar gehou?”

Morné en Celeste het Zephany aanvanklik saam gesien, maar later besluit om dit afsonderlik te doen. Die Sunday Times berig haar eksman en sy ma, Zephra, het Zephany by Maria se onlangse hofverskyning as onbeskof en selfgeregtig beskryf. Sy verstaan dit nie.

“By my is sy die liefste kind.” Baie sag van binne,is hoe sy haar dogter beskryf.

Celeste was nie in die hof nie. Sy dink ook nie sy sal gaan nie. Sy sal nie genoeg tyd kan af kry by die visummaatskappy waar sy werk nie, verduidelik sy.

Die dag waarop haar babadogter verdwyn het, is in haar geheue ingebrand. Sy was destyds 18 en vir die eerste keer ma.

Celeste Nurse. Foto: Noncedo Mathibela.

Sy onthou ’n vrou wat soos ’n verpleegster gelyk het, het in ’n stadium langs Zephany se wiegie gesit.

“Daardie tyd het Groote Schuur nog die maroen broek en die bruin trui as uniform gehad. Ek het gehoor hoe Zephany huil, maar hulle het my morfien gegee en ek het ingesluimer. Ek kan glad nie die vrou se gesig onthou nie, maar ek weet daar het iemand gesit.”

Dit was al skemer toe ’n verpleegster haar kom wakker maak. “Sy vra toe: ‘Mammie, waar is jou baba?’ Ek het nog gedink: ‘Waarvan praat sy? Sy is mos in die wiegie.’ ”

Celeste het oral gesoek. “Ek was op elke vloer, in elke saal. Ek het nog met drup en al rondgeloop. Sy was weg. Sy het spoorloos verdwyn.”

Die besef dat haar baba werklik weg is, het eers drie dae later by haar ingesink. “Ek het so gehuil. Daar was nie een dag dat ek ophou huil het nie.”

Daarna kon sy ’n ruk lank nie swanger vroue verdra nie. “Ek het hulle gehaat. Ek het gedink: ‘Ja, jy is nou swanger; jy gaan jou baba hê en jy gaan gelukkig wees.’ Dit was aaklig.”

Morné en Celeste het nooit ophou soek nie, maar dit sou eindelik ook hul huwelik knou. Morné het Celeste blameer en Celeste het haarself verkwalik.

Die ander drie kinders het later gekom, maar ’n stuk van haar hart was weg.

Joshua kom loer in. Hy vat aan sy ma se wang en sy stuur hom weer kamer toe. “Hy is my beskermer,” vertel sy en glimlag. “Hy en Zephany het na aan mekaar geraak.”

Saam met die hartseer en verlange was daar ook ’n vreemde gerustheid. “Ek het altyd die gevoel gehad dat die vrou Zephany gevat het omdat sy bang was haar man gaan haar los; daarom het ek geweet sy sal haar nie seermaak nie.”

Terwyl Zephany weg was, het die Nursefamilie elke jaar op 28 April vir haar ’n verjaardagpartytjie gehou. Daar was ’n groot koek, gelukspakkies vir al die kinders en ’n gebed dat Zephany na hulle sou terugkeer.

Vriende en familie van Celeste en haar eksman, Morné, bid saam op een van Zephany se verjaardae wat hulle in haar afwesigheid gevier het. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Op verlede jaar se partytjie was Celeste baie negatief, want sy het siek gevoel en baie pyn gehad. Dit was net maande voor kanker by haar gediagnoseer is.

“Ek het vir iemand gesê: ‘Ons hou ’n partytjie, maar die kind is nie hier nie.’ Dit het ek nooit voorheen gesê nie.”

Maar 28 April vanjaar was heeltemal anders. Zephany was op die partytjie, maar dit was by ’n familielid van Zephany se grootmaakouers in Lakeside. En Celeste en haar familie was genooide gaste.

“Sjoe, dit was so nice,” sê Celeste. “Ek was nogal verbaas. Zephany het net eendag gesê: ‘Mammie, jy moet na my partytjie kom.’

“Aan die begin was dit ’n bietjie ongemaklik; die mense het almal vir ons gekyk.” Sy het toe besluit om almal met oorgawe te groet en later het hulle mekaar spontaan omhels. Sy is ook gevra om ’n toespraak te maak. “O,” lag sy en sit haar hand oor haar mond. “Ek het almal net bedank dat hulle deel van haar lewe is en so mooi na haar gekyk het. Almal se traantjies het geloop.”

Die aand het sy vir die eerste keer met Zephany se grootmaakpa gesels. “Ek dink dit is swaar vir hom.

“Ek het hom gedruk en gesê ons moet die een of ander tyd gaan koffie drink; ons is mos nie kwaad vir mekaar nie.

“Hy is baie nice en baie sweet. Hy het ook ’n baie oulike familie.”
Celeste sal nooit met sekerheid weet hoeveel keer haar en Zephany se paaie in die 17 jaar amper gekruis het nie. Maar daar is twee voorvalle wat by haar spook. Albei hou verband met hoe baie Zephany en haar suster na mekaar lyk.

Oupa Lionel Francis, Zephany se jonger suster en Celeste. Foto: Noncedo Mathibela.

Sy raai Zephany sou die eerste keer seker so agt jaar oud gewees het.

Haar eksman, Morné, en sy pa, Adam, het destyds saam gewerk in ’n winkel in Dieprivier.

’n Kollega het Adam gevra wat sy kleindogter in die winkel maak. Adam het dadelik na die voorkant van die winkel gegaan en verwag om sy naasoudste dogter daar te sien, maar sy was nie daar nie. Later sou die familie hoor sy was glad nie daar nie.

Die tweede keer was ’n paar jaar later, toe Zephany seker so 13 was. Celeste en haar naasoudste dogter was in ’n supermark in die Kaapse buurt Capricorn. “Die vrou agter die till het uit die bloute vir haar gevra: ‘Is jy weer terug?’ Ek het die vrou gevra wat sy bedoel. ‘Sy was dan gisteraand hier,’ het sy geantwoord.”

Celeste het lt.kol. Mike Barkhuizen, wat met die jare aan Zephany se saak gewerk het, daarvan laat weet, maar dié leidraad het niks opgelewer nie.

Sy het intussen uitgevind Zephany het toe net om die draai van dié supermark gewoon.

“Sy was heeltyd net hier onder my neus.” Hoe beter sy en haar ander kinders Zephany leer ken, hoe meer kom hulle agter hoeveel hulle gemeen het.

Zephany is lief vir sing, en sy was verstom toe sy besef sy het dit by Celeste geërf. “Sy sê vir my: ‘Mammie, ek was altyd al een wat gesing het; niemand anders het gesing nie.’

“Toe sê ek vir haar: ‘Maar ek sing. En jou sussie sing.’ En my ander dogter sing.”

Volgens haar geniet Zephany die kuiers saam met haar bloedfamilie. Soms gaan hulle na die Canal Walk-winkelsentrum om speletjies te speel en pizza te eet.

Dan is die nuwe liefde in Celeste se lewe, Justin Smit, ook by. “Hy is wonderlik en ondersteun my ongelooflik baie,” vertel sy.

Daar is groot opgewondenheid oor Zephany se matriekafskeid in Oktober. “Ons kyk rokkies. Op die oomblik lyk dit of sy lus het vir so ’n antiekegodinrokkie, daardie rokkies wat jy saam met die bandjie om die kop dra.” Celeste lag uitbundig. “Dis ’n eerste keer vir my. Ek kan nie glo ek het ’n dogter wat al 18 is nie.”

Celeste kan nou eindelik ook lewenswyshede met haar oudste kind deel. “Ek sal vir haar sê: ‘Wees ’n vrou. Wees onafhanklik. Staan op vir jouself. Moenie dat iemand jou as vrou afkraak nie.’

“Sy sal dan altyd sê: ‘Ja, Mammie, ek luister. Ek luister.’ ”

Om jou dogter raad te gee is dalk alledaags vir sommige ma’s, maar nie vir Celeste nie; sy het immers 17 jaar op dié kans gewag.

  • Huisgenoot: Ware Lewensdramas word Donderdae om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai.
  • Heruitsendings is Sondae om 21:00.