Ina Bonnette se vervreemde man, Johan Kotzé, en drie ander mans het by sy huis haar wreed aangerand, verkrag en vermink en haar seun, Conrad, doodgeskiet.

Hier is ons volledige onderhoud met Ina Bonnette twee weke ná die voorval.

WAARSKUWING: VAN DIE INLIGTING MAG SENSITIEWE LESERS ONTSTEL

Ek sal dié storm oorleef – Deur Herman Scholtz, 2 Februarie 2012

Ina Bonnette praat met ons oor die wrede aanval op haar deur die sogenaamde Modimolle-monster en die verlies van haar lieflingkind.

Wanneer Ina Bonnette in die spieël na haar geskende lyf kyk, sien sy haar liggaamsdele asof dit stoele en tafels is.

Johan Kotzé het eers haar menswees afgetakel en nou voel haar liggaam ook vir haar dood.

Digte reën versluier die eksklusiewe wegbreekplek in die berge van Limpopo waar sy en haar dogter, Angelique, ’n paar dae lank stilte kom soek het ná die storm van geweld wat in hul lewe losgebars het.

Vanoggend het sy nog ’n druppel op ’n blaar gesien en gedink dis baie simbolies. 

Elke druppel beteken nuwe lewe, iets waarna sy nog smag, want toe sy kort daarna in die spieël kyk, het ’n lewelose beeld na haar teruggestaar.

Tog wil sy eendag weer Kotzé, haar vervreemde man en folteraar, in die oë kyk. “Ek wil vir hom sê hy het baie dinge van my af weggevat, maar hy sal my nié breek nie. Ina Bonnette is ’n taai toffie.”

Johan Kotzé en Ina Bonnette op hul troudag. Foto: Verskaf.

Twee weke ná die wrede aanval op haar en die moord op haar seun, Conrad, is Ina die eerste keer regtig ’n wrak. Sy was eers sterk. Dalk te sterk.

Sy vertel sy het die vorige aand nagmerries gehad waarin sy die pyn van die verminking en verkragting kon voel. Dis pyn wat sy nou eers onthou sy ervaar het.

Voorheen het sy net gedroom hoe sy by die huis in Modimolle inloop en oorval word. “Ek het vanmôre wakker geword en die eerste keer iets gevoel. Haat. Wraak. Selfverwyt,” sê sy waar sy uitkyk oor Limpopo se berge en valleie.

Haar hand wat die koffiebeker vashou, bewe en druppels loop oor haar hand. Tot nou het die kalmeerpille en slaappille die emosies uitgedoof. Sy was nog heeltyd bang sy kom hard en gevoelloos voor.

Sy het nie meer trane oorgehad nie. Nou begin sy besef sy vertel nie die verhaal van ’n fiktiewe karakter hier waar ons by die uitkykplek sit nie.

Ook nie die verhaal van ’n buurvrou nie. Dit is háár verhaal.

“Ek is soos ’n hardekoolboom – moeilik om af te breek.” Die aanval op haar en die verlies van haar seun het nou eers vir Ina ’n werklikheid geword. Foto: ER Lombard.

Die storie van Ina Bonnette. Ina besef nou die nagmerrie wat sy die vorige aand gehad het, was haar eie onuitspreeklike herinneringe van hoe sy aan die bed vasgebind is terwyl Kotzé vir haar gesê het hy wil haar vieslik maak sodat niemand weer in haar sal belangstel nie.

Hy wou die familie uitwis wat vir haar so belangrik is en haar alleen los met letsels wat haar altyd aan sy dade sou herinner.

Sy vat-vat aan haar agterkop, waar hy haar hare afgesny het.

Al was Kotzé die baasbrein agter die aanval en verkragting, was die drie verkragters beslis nie gyselaars nie. Daar was geen sprake van vuurwapens wat op die drie gerig is om hulle te dwing om haar te verkrag nie, sê sy.

Kotzé het hulle immers aangesê om hulle te gaan “regmaak” om haar te verkrag. Kotzé het self voorwerpe in haar opgedruk – voor en agter – en selfs staaldruppels oor haar gegooi om die bloeding te keer . . .

Hy was so siek dat hy haar afgelek het ná die verkragtings. Nogtans moes sy in koerante lees hoe emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu kapsie maak dat Kotzé die “Modimolle-monster” gedoop is. Hy bly ’n kind van God, redeneer die geestelike.

Haar oë skiet vol trane toe sy oor Desmond se uitlatings praat, maar sy weeg haar woorde versigtig. “Hoe kan ’n kind van God iemand anders se onskuldige kind wegneem?”

Ina het die dominee wat die 19-jarige Conrad se begrafnisdiens behartig het, vooraf gewaarsku hy moenie sê haar kind se dood was die Here se wil nie.

Hy moet uit Psalm 10 (1953-vertaling) preek oor die booswig, was haar opdrag: “Sy mond is vol van vloek en bedrog en verdrukking; onder sy tong is moeite en onreg. Hy sit in die hinderlae by die dorpe; in skuilplekke maak hy die onskuldige dood; sy oë loer op die ongelukkige.”

Maar die Here sien ook die pyn van die slagoffers, sê sy.

Sy steek nog ’n sigaret op – Kotzé het haar rokery verpes – en die trane vloei weer vrylik oor haar wange. “Hy kon wat hy aan my gedoen het, 66 keer oor gedoen het, maar moes hy my kind vat?”

Ina by haar vermoorde seun, Conrad (19), wie se lag sy nooit weer sal hoor nie. Foto: Facebook.

Dit sink nou eers by haar in sy sal Conrad se lag nooit weer hoor nie, hom nooit weer kan soen soos daardie laaste oggend toe hulle op die bed gelê en lag en gesels het nie, min wetende hy sou die dag sterf.

Sy het ’n briefie in Conrad se kis gesit waarin sy sê hulle het saam baie brûe oorgesteek, maar mamma kon nie die laaste een saam met hom oorsteek nie.

Sy wou bitter graag nog iets byskryf voor die kis toegemaak is: “Ns. Hy is dood. Jy hoef hom nooit weer te sien nie, want jy gaan reguit hemel toe en hy sal nie daar wees nie.”

Ina se swaarkry het einde 2009 begin toe sy in ’n besonder weerlose tyd ’n oproep kry. Sy het destyds gesmag na ’n spesiale man wat net goed vir haar sou wees, ongeag hoe hy lyk of hoeveel geld hy het.

In ons gesprek noem sy hom net op sy van en spreek dit uit asof dit haar mond walg. “Kotzé,” sê sy, met die klem ironies sterk op die “o”.

Met sy “gladde bek” het hy haar oor die telefoon beïndruk, vertel sy. Toe hulle ’n maand later die eerste keer by ’n Pretoriase vulstasie ontmoet, het dit nie vir haar saak gemaak dat hy nie aantreklik is nie.

Dit was die begin van ’n verhouding en huwelik wat in rampspoed sou eindig, nes hoeveel vorige verhoudings wat Kotzé met weduwees, geskeides en weerloses aangeknoop het. Almal ryk vroue.

“Hy het gedink ek is ryk, ja. Nou het ek niks,” sê Ina.

Wanneer sy nou terugkyk, was die gevaartekens altyd daar. Hy sou fyn luister na wat sy sê en die bal dan na haar terugspeel.

So het hy geweet wat haar grootste vrese is. Sy het altyd gesê sy sal “haar kar om ’n boom vou” as sy verkrag word. En hy het geweet hoe geheg sy aan haar familie is.

Hy het haar van die begin af gemanipuleer. Hy het haar opdrag gegee om haar lang lokke af te sny, sy moes gewig aansit en ophou rook.

Op hul huweliksonthaal in die Korannaberg in die Vrystaat het hulle baklei omdat sy kwansuis te veel by haar ouers se tafel gekuier het.

In Maart 2010 het Ina hom die eerste keer gelos toe sy uitvind hy het haar ouers gedwing om uit Modimolle te trek omdat hy meen hulle meng in sy huwelik in.

Hoekom het sy hom ’n paar maande later teruggevat? “Simpelgeit,” sê sy.

Foto: ER Lombard

Ina is nie seker of sy ooit regtig vir hom lief was nie. Behalwe dat hy haar en haar familie heeltyd afgekraak het, was hy ook ’n verleentheid.

Johan sou sommer winde in ’n restaurant los en het “varksige” eetgewoontes gehad, vertel Angelique oor haar stiefpa.

Ina het twee oproepe gekry waarin sy teen hom gewaarsku is, een van Sarita Venter, ’n eksverloofde wat deur Kotzé as “die mal vrou van Bloemfontein” gebrandmerk is.

Sarita se kinders sê nou hy het haar in haar graf in gedryf. Die ander was naamloos.

Die oproepe het gekom in ’n tyd toe hy haar volkome gebreinspoel het. Sy het hom met die waarskuwings gekonfronteer, maar hy kon altyd verduidelik.

Hy het haar selfs stilgepraat toe sy op vier selfone in ’n boks afkom met boodskappe van ander vroue.

In die middel van 2010 het hy vir haar gesê hy het bloedkanker. As makelaar wat lewenspolisse verkoop, het dit “net drie oproepe” geverg om uit te vind hy lieg.

Maar nogtans het sy hom nie dadelik gelos nie: “Ek was verward. Ek was verlief.”

Sy moes geleidelik die selfvertroue opbou om hom te verlaat. Die pad vorentoe lê nou soos ’n berg voor Ina.

Midde-in al haar liggaamlike en geestelike pyn is daar ook die stres van ’n eksamen in Maart wat ’n groot impak op haar werkslewe sal maak.

“Ek dink baie oor hoe ek ooit weer ’n lewenspolis aan iemand gaan verkoop. Hoe gaan ek vir hulle verduidelik ek weet waaroor dit gaan?”

Sy het juis verlede jaar ’n lewenspolis op Conrad se lewe uitgeneem en toe weer gekanselleer. As sy maar geweet het . . .

Conrad sal ook nie sy stiefpa, Johan Kotzé, eendag in die hemel hoef te sien nie, sê sy ma. Foto: Facebook.

Weens die verkragtings wag Ina ook nog op die uitslag van haar MIV-toetse. Die antiretrovirale middels wat sy as voorsorg gebruik, maak haar heeltyd naar.

Sy bid elke aand dat die Here nie nog swaarkry op haar laai nie. “En as ek positief is . . . Nee, dit sal nie gebeur nie.”

Die pleisters op haar borste moet volgende maand af en sy kan in April rekonstruktiewe chirurgie kry om die tepels te vervang wat hy afgesny het.

Haar borsinplantings, wat sy vroeër om mediese redes gekry het, was stukkend en is reeds vervang.

Twee van die wonde aan haar bors waarin Kotzé spykers gedruk het, het septies geraak. Aan die inwendige skade aan haar geslagsdeel, waarin hy ’n braaitang en fonduevurk opgedruk het, kan die dokters niks doen nie.

Sy sit moeilik en moet maar wag dat die beserings self genees.

Haar eerste prioriteit is nou om ’n nuwe blyplek te soek waar Kotzé nog nooit op die sitkamerbank gesit en pleit het vir nog ’n kans nie; êrens waar daar geen herinneringe aan hom is nie.

Dan wil sy as ’n motiveringspreker optree om ander mense te help om nie dieselfde foute as sy te begaan nie. “Ek wil mense se oë oopmaak.”

En as haar dogter ooit in ’n kêrel belangstel, sal sy persoonlik sy hele lewensgeskiedenis nagaan.

In ’n brief waarin Ina haar gevoelens verwoord, skryf sy: “Ek is soos ’n hardekoolboom met vier lieflike uitgroeisels.

“Oupa, ouma, Angelique en Conrad.

“Een is van my weggeneem daardie onvergeetlike dag toe daar ’n woeste storm opgekom het. Die boom is nou ietwat onstabiel weens die verlies van my lieflingkind Conrad.

“Gebede en ondersteuning van die gemeenskap is voeding tot ons behoud.

“Kotzé moet net een ding weet: Ek is soos ’n hardekoolboom – moeilik om af te breek.”

  • Huisgenoot: Ware Lewensdramas word Donderdae om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai.
  • Heruitsendings is Sondae om 21:00.