Op hul troudag het hy haar toegesing met Vir My Is Jy Liefde. Hy was ook die man wat gereeld vir Ina en haar twee tienerkinders byeen geroep het vir "gesinsvergaderings" waartydens hy soms in trane vir hulle vertel het hoe lief hy hulle het.

Daar was glo voorvalle wat die waarskuwingsklokkies hard en duidelik laat lui het, maar wie sou kon glo dat een mens tot soveel ongebreidelde geweld en mishandeling in staat is?

Maar nadat ál meer inligting oor die skokkende voorval bekend geword het, het dit mense landwyd tegelykertyd met ongeloof en woede vervul.

Daar was nie meer 'n Johan Kotzé nie, daar was nou net iemand wat in die vrye omgang as die Modimolle Monster bekend staan . . .

Hier is ons eerste onderhoud met Ina Bonnett ná die voorval. 

WAARSKUWING: VAN DIE INLIGTING MAG SENSITIEWE LESERS ONTSTEL

Vermink deur ’n monster deur Herman Scholtz (EKSLUSIEF: Huisgenoot 19 Januarie 2012)

“Ounooi, jy het geen idee hoe lief ek vir jou is nie,’’ sê Johan Kotzé in ’n sagte stem vir sy vrou waar hy langs haar op die bed lê. Maar daar is geen liefde in die hande wat haar borste en geslagsdele vermink terwyl hy praat nie.

Kort tevore het drie wildvreemde mans haar verkrag terwyl haar vervreemde man toekyk in die slaapkamer van sy huurhuis in Modimolle.

Eers toe sy haar 19-jarige seun, Conrad, se voetstappe in die huis hoor, staak hy sy grusame handewerk.

Hy laat haar gebroke en bloeiend in die slaapkamer agter en stap haar seun tegemoet. Toe hoor sy hoe haar seun om sy lewe smeek.

En, terwyl sy magteloos daar lê en geen vinger kan verroer om hom te beskerm nie, hoe skote klap. En haar seun se gille . . .

Ina Bonnette (42) – sy het weer haar ou van aangeneem – huil terwyl sy vanuit haar hospitaalbed oor haar nagmerrie praat. Die polisie soek nog haar vervreemde man en daar is vrese dat hy haar weer sal aanrand of selfs vermoor.

Sy het pas chirurgie ondergaan om haar liggaamlike wonde te probeer genees.

“Maar die sielkundige moet nog kom,” sê sy verwese.

Sy weet nou sy het Johan (50) nooit werklik geken nie. Hy het oor haar pad gekom toe sy besonder weerloos was.

“Ek was jare lank alleen, ’n enkelouer wat oupa, ouma en twee kinders moes versorg,” vertel sy.

Toe hulle op 23 Oktober 2010 trou, het sy nie eens geweet tot watter kerk hy behoort nie. Sy geldsake was vir haar duister en sy moes hom ’n tyd lank onderhou.

“Hy het niks in sy naam gehad nie; alles was in trusts.”

Tydens hul verlowing het hulle hewige rusies gehad, onder meer omdat hy verskriklik beskermend was.

Toe hul troudag bo in die Korannaberg in die Vrystaat aanbreek, het sy ’n paniekaanval gehad en wou nie daarmee voortgaan nie.

“Iets het vir my gesê ek moet pasop.”

Conrad Bonnette en sy stiefpa.

Hulle het nietemin getrou en Johan het dadelik haar lewe begin beheer, sê sy. Dinge het begin skeefloop, onder meer omdat hy haar van haar familie probeer afsonder het.

“Ek het vir hom gesê die probleme tussen ons sal nooit opgelos word nie. Ek sal nie my familie doodwens nie.”

Toe het hy haar teen ’n muur vasgedruk met ’n Bybel in sy hand en gesê hy kan nie voor God staan en sê hy gaan skei nie.

Soms het hy spottend aan haar en ander mense gesê die vroue met wie hy tevore deurmekaar was, het selfmoord gepleeg of in ’n gestig beland.

Maar sy was nie van plan om hom toe te laat om haar sielkundig te breek nie, en verlede Julie is sy uit die huis uit wat hulle ná hul troue saam op Modimolle gekoop het.

Johan het haar verskeie kere gebel om te vra of hulle nie maar weer kan probeer nie; daarom was dit nie vir haar vreemd nie toe hy haar op Dinsdag 3 Januarie weer bel en vra of sy na sy huurhuis in Kerkstraat sal kom sodat hulle oor ’n skikking kan praat.

Hy was nog nooit gewelddadig nie. Sy was dus nie bang hy sou haar dalk leed aandoen nie.

Met haar aankoms het hulle in die tuin agter die huis gaan sit.

“Hy het gevra hoe dit met die kinders gaan en wou weet waar hulle is. Hy het selfs belowe om my enige geld te betaal wat hy my skuld.

“Hy het gevra of ek iets wil drink en ek het ’n glas water gevra. Hy het dit gaan haal en toe gesê daar is nog ’n boks vol goed van my in die huis.

“Ek het eers gesê hy moet dit maar weggee, maar hy het gesê: ‘Ek weet hoe erg jy oor jou goedjies is,’ en volgehou ek moet gaan kyk.

Die huis in Kerkstraat, Modimolle, waar die verkragting en moord plaasgevind het.

Sy het toe ingestem, want sy wou alles verbykry. In die gang het hy ’n handdoek opgetel en ’n klomp munte het op die houtvloer geval. Sy vermoed nou dit was ’n teken aan die drie mans wat haar verkrag het.

Toe het hy die handdoek oor haar kop gegooi en haar in die kamer ingedwing, waar hy haar met kabeltoue aan die bed vasgemaak het. Die mans, wat hy glo vroeër die dag gehuur het om tuinwerk te doen, het hom gehelp.

Hy het haar begin beskuldig van verhoudings met ander mans, want hy het haar op Oujaarsaand gaan afloer waar sy, haar kinders en ’n vriend gaan dans het.

Sy het tussendeur haar trane probeer verduidelik dat dit onskuldig was, maar Johan wou niks hoor nie.

“Niks daarvan is waar nie,” sê sy nou weer.

“My eksman het my verneuk; ek sal dit nooit doen nie.”

Die marteling begin

En toe vertel hy haar in kru, rassistiese taal dat die drie mans nou seks met haar gaan hê “omdat jy so lief is daarvoor”.

“En toe het hulle my verkrag,” sê sy, “die een ná die ander . . .”

Ina huil hartverskeurend. ’n Wyle lank is sy nie in staat om voort te gaan nie. Toe vertel sy terwyl die mans met haar besig was, het Johan haar aanhou vertel hoe sleg sy is.

Ina is op dié bed vasgemaak terwyl drie mans haar verkrag en Johan haar vermink het.

Nadat die drie weg is, het hy goed uit die kas langs die bed gaan haal, onder meer ’n draadtang, ’n vurk en ’n braaitang. Toe het hy langs haar op die bed gaan lê en die “ondervraging” voortgesit.

“My mond was met kleefband toegeplak en ek kon nie behoorlik antwoord op sy vrae nie. Dit het hom kwaad gemaak,” vertel sy.

Hoe meer sy ontken het dat sy ontrou was, hoe aggressiewer het hy geword. Niks wat sy kon sê, kon hom oortuig nie.

“Toe sny hy my tepels af, druk spykers in my borste en druk die braaitang en die vurk in my op.”

Ina weet nie eens waarmee die een tepel afgesny is nie.

“Dit was baie stomp,” sê sy. Die ander tepel is met die draadtang afgeknyp.

Sy dink die marteling het sowat twee uur geduur. Al waaraan sy kon dink, was of sy lewend daar sou uitkom. En haar geliefde familie . . .

Toe het hy haar selfoon gevat om haar seun, Conrad Bonnette (19), te bel. Toe sy die voetstappe op die houtvloer van die huis hoor, het sy geweet dis hy. Maar sy was nog vasgebind, met die kleefband oor haar mond.

“Ek het hom hoor skree: ‘Nee, oom, moet asseblief nie skiet nie!’ Toe klap ’n skoot en hy gil. Nog ’n skoot het geklap en hy het weer gegil. ’n Derde skoot het geklap, en toe’s dit stil.”

Toe kom Johan weer die kamer ingestap.

“Hy het vir my gesê hy gaan my ma en pa soek en hulle ook doodskiet.”

Hy wou hê sy moet leef met die pyn van haar familie wat dood is. Hy het haar ouers drie keer gebel, maar genadiglik het hulle nie geantwoord nie. Toe is hy eindelik daar weg.

Sy het nog ’n uur lank op die bed gelê voor die vrou van die eienaar van die huurhuis op haar afgekom en haar bevry het. Toe kon sy oplaas na haar kind toe gaan.

“Ek het na hom gehardloop waar hy in die kamer langsaan op die grond gelê het. Ek het hom probeer optel, maar hy het nie beweeg nie.”

Conrad was weg . . .

'Die volmaakte ou'

Die seun het pas sy kop begin optel ná moeilike tienerjare toe sy ouers geskei het en hy in ’n stadium depressief was. Maar verlede jaar was dit asof die son weer begin skyn het.

Die Bonnettes:Conrad, pa Rex en sus Angelique.

Hy het baie goed gevaar in sy eerste jaar aan die Universiteit van Pretoria, waar hy inligtingstegnologie studeer het. Sy pa het pas vir hom ’n motorfiets gekoop, wat ’n eindelose bron van plesier was.

En by die Bosfontein-kampeerterrein, waar hy vakansiewerk gedoen het, het hy verlief geraak op die 17-jarige Kayla Beukes, die werkgewer se dogter.

Kayla vertel Conrad was baie familievas. Hy het sy vakansiegeld gebruik om vir sy ma ’n muurbehangsel van hout met ’n boodskappie daarop te koop.

“Ek sal nooit weer so ’n opregte mens ontmoet nie,” sê sy.

“Hy was die volmaakte ou. Die Here het hom oor my pad gestuur om my te wys watter karaktereienskappe ek in ’n man soek.”

Sy vertel sy het nog die Dinsdag van sy dood vir hom ’n toebroodjie by die kampeerterrein gemaak. Hy en ’n vriend is later gimnasium toe, waar hy die oproep van sy stiefpa gekry het.

Kayla Beukes, wyle Conrad se meisie.

Kayla het eers ná die moord gehoor Conrad het die vriend gevra om saam met hom te ry omdat hy bang was vir Johan.

Maar toe die twee buite die huis stilhou, het Johan die vriend gevra om iets by die vulstasie te gaan koop. Conrad was alleen saam met die man wat hy nooit vertrou het nie.

’n Paar uur later het Kayla ’n selfoonboodskap gekry dat “iets groots fout is . . .”

Lewe in vrees

Angelique Bonnette (16) vrees ook steeds vir haar lewe. Die familie wil nie sê waar sy haar bevind nie. Sy het telefonies vertel sy het eenkeer op reis in die Vrystaat die ware kant van haar stiefpa gesien. Hy het skielik sy voertuig omgedraai en op ’n kind op ’n fiets afgepyl.

“Nie een van ons het dit gesien nie, maar die outjie het glo ’n papiertjie na ons kar toe gegooi.”

Johan het gesê ’n papier kan maklik ’n klip word en dit moet nóú gestop word. Hy het die fiets stukkend gery.

“As daar nie ’n afgrond was nie, het hy bo-oor die kind gery.”

Sy vertel haar stiefpa het van die begin af hul gesinnetjie oorheers. Hy het hulle gereeld bymekaargeroep vir gesinsvergaderinkies.

Hy het gepraat van hoe hy my boetie reggemaak het . . .

“Dan gaan sit ons in ’n kringetjie en hy vertel ons ons weet nie hoe lief hy ons het nie. En hy begin huil, asof hy homself jammer kry. Hy het altyd gesê dit is die huis van liefde dié.”

Sy vertel hy het “so ’n snaakse stem gehad, asof hy wou sê: ‘I’m the man.’ Ons is heeltyd uitgetrap en moes hoor ons is lui.

“Hy het gespog hoe hy ons familie kom help het. Hy het gepraat van hoe hy my boetie reggemaak het . . .”

Ina glo nie sy sal ooit weer in ’n verhouding met ’n man kan wees nie.

“Ek het altyd gesê as ek weer trou, soek ek net iemand wat vir my lief is en my respekteer,” sê sy.

“Geld en voorkoms was nie vir my belangrik nie.”

Sy moes plastiese chirurgie ondergaan in ’n poging om skade aan haar borste en geslagsdele te herstel. Die herstelproses sal nog lank wees.

Sy moet ook antiretrovirale middels neem weens die gevaar van MIV/vigs ná die verkragtings. Johan het selfs van haar tone gebreek.

Sy wil nou net hê hy moet gevang word sodat sy, haar kinders en ouers weer veilig kan wees.

“Ek is nou ’n halwe vrou,” sê sy. “Ek sal nooit weer in iemand kan belangstel nie.”

Johan Kotzé - die Modimolle Monster (saamgestel deur Annelene Oberholzer)

Kotzé het vir Andries Sithole, Pieta Mohlane en Frans Mphaka by sy verradelike wraakplanne betrek. Hulle het skuld ontken op die aanklagte van ontvoering, verkragting, seksuele aanranding, 'n poging tot moord (op Ina) en die moord van Conrad.

Volgens getuienis deur Ina afgelê, het Kotzé in 'n stadium tydens die marteling gedreig om haar seun te forseer om seks met haar te hê en as dit nie werk nie, sal hy hom doodskiet.

Kotzé sou vir agt dae daarin slaag om die polisie te ontwyk, maar twee kleuters wat nie aan die slaap wou raak nie, sou tot sy inhegtenisname in Modimolle lei.

Surinda du Preez het die aand van 11 Januarie 2012 met haar twee kleuters rondgery in 'n poging om hom aan die slaap te maak toe sy iets gewaar het wat haar laat kriewel het: 'n Toyota Fortuna met 'n Vrystaatse registrasie.

Ek het yskoud geword. Ek kon nie beweeg of asemhaal nie.

Haar sesde sintuig het ingeskop en sy het besluit om die bakkie weer op te spoor. Surinda het die bakkie weer naby 'n plaaslike supermark raakgesien en die volgende oomblik het sy oogkontak gemaak met die Modimolle Monster.

"Ek het yskoud geword. Ek kon nie beweeg of asemhaal nie. Ek het net na hom gestaar en toe word ek paniekerig," het sy aan IOL gesê. Dit het haar 'n halfuur geneem om die polisie te oortuig dat sy die man, wat ook nou op Interpol se lysie verskyn het, gesien het.

Kotzé het weer op vlug geslaan, maar Surinda sê God het hulle na hom gelei waar hulle sy wegkruipplek opgespoor het. Hy was self nie daar nie, maar is Donderdag deur 'n polisiehelikopter gewaar toe hy deur 'n woonbuurt geloop het op pad na 'n vriend toe.

Die vriend, Dirk van der Merwe, se vrou, Vivian, was die persoon wat op Ina afgekom het nadat Kotzé op vlug geslaan het en hulle was bewus van wat hy aangevang het. Kotzé het glo by hom opgedaag en gevra of hy kan stort. Dirk, 'n tandheelkundetegnikus, sê Kotzé is in sy laboratorium in hegtenis geneem.

Die vuurwapen en 'n brief

Ao Hendrik Kruger wat die saak ondersoek het, het die .22 vuurwapen op die tafel in die Krugerstraat-huis gevind. Daar was ook 'n brief waarin Kotzé oor sy obsessie en gevoel van verraad uitgewei het.

In die brief noem hy 'n paar name van mense wat gevra kan woord oor die manier waarop Ina met hom te werk gegaan het.

"Sy vernietig my lewe, leuens op leuens op leuens. Sy verkul my met (en hier noem hy 'n naam en verwys ook na "die man in die rooi Volvo"). Ek self het haar betrap. Sy het my lewe vernietig. Sy het gemaak dat ek my plaas moes verkoop. Ek is klaar, klaar, klaar. Vra my pastoor."

Hier is die tye wanneer Huisgenoot: Ware Lewensdramas uitgesaai word.
  • Huisgenoot: Ware Lewensdramas word Donderdae om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai.
  • Heruitsendings is Sondae om 21:00.

Bronne: sowetanlive.co.za, iol.co.za, thestar.co.za,

  • Huisgenoot: Ware Lewensdramas word Donderdae om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai.
  • Heruitsendings is Sondae om 21:00.