Op 5 Oktober 2016 het ’n langverwagte gesinsvakansie in Mauritius in ’n tragedie ontaard toe ’n onderonsie tussen ’n 16-jarige meisie en haar stiefma tot die kind se dood gelei het.

Die Vosloo-gesin het die dag vantevore in Mauritius aangekom. ’n Dag later is die gesin se lewe verpletter toe Mundolene Vosloo (16) en haar stiefma, Marietjie Vosloo, stry kry. Woorde is gewissel, ’n glas is geslinger . . . en toe sterf die tiener.

Haar pa, Mike, het destyds hierdie laaste video van hom en sy dogter met Huisgenoot gedeel.

Huisgenoot: Ware Lewensdramas
Donderdae om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147). Heruitsendings is Sondae om 21:00 op dieselfde kanaal.

‘Jammer, Mike, ek wou haar nie doodslaan’ — deur Jana van der Merwe & Marizka Coetzer (Huisgenoot 20 Oktober 2016)

Die bedroefde pa van die dogter wat in Mauritius dood is ná ’n rusie met haar stiefma, vertel van sy hartseer.

Sonbruin vakansiegangers luier om die swembad en teug by die buitekroeg aan drankies terwyl die polsende segamusiek van die eilandparadys hulle vermaak.

Maar die man in die hotelkamer se gesig is vertrek van hartseer en die trane loop oor sy wange.

Hy en sy saamgestelde gesin het uitgesien na die vakansie van ’n leeftyd, vertel Mike Vosloo (46) van Margate skaars drie dae nadat sy wêreld aan skerwe gespat het.

Op Dinsdag 4 Oktober het hulle in Mauritius geland: Mike, sy tweede vrou, Marietjie (33), en hul seun, Morné* (11). Ook Mike se kinders uit sy eerste huwelik, Mundolene (17) en Willie* (14), wat by hul biologiese ma in Springs woon.

Mike by sy oudste seun en Mundolene op die vlug op pad na Mauritius.

By die ontvangsarea van die vakansieoord Hotel Riu Creole het Kreoolse dansers hulle verwelkom en blommekranse om hul nek gehang.

Vir Mike, wat in die Kongo in die mynwese werk en min tuis is, was dit ’n heerlike vooruitsig om ’n week lank saam met sy hele gesin vakansie te hou. Hy was hoopvol dat die twee vroue in sy lewe – sy rebelse tienerdogter, Mundolene, en haar stiefma, Marietjie – vir ’n slag oor die weg sou kom.

Almal het reeds hul wenslysie gehad, vertel Mike. Mundolene wou saam met die dolfyne swem, sonbaai en seekos eet tot sy lê. Die twee seuns wou op ’n boot op die blou Indiese Oseaan vaar en tussen die tropiese visse snorkelduik.

Die volgende oggend, Woensdag, was Marietjie en Morné vroeg uit die vere om die sonsopkoms te bewonder en langs die see te stap terwyl die ander laat gelê het.

Die oggend het almal saam ontbyt geëet voor Mike en die kinders die oord sou gaan verken het. Mike vertel Mundolene het by die Riu Creole se skoonheidsalon en spa ingeglip en toe gesmeek: “Daddy, kan ek ’seblief my naels laat doen?”

Hy wou weet wat dit sou kos.

“Maar, Daddy, dit is net vir my naels.”

Die dag van haar dood het Mundolene nog ’n salonafspraak gehad.

Sy “Pikkewyn”, sy “Wyntjie”, soos Mike sy dogter noem, het hom om haar pinkie gedraai, erken Mike. Natuurlik kon sy haar hande en voete laat versorg; hy het immers lank gespaar om almal met dié vakansie te bederf.

Maar sy sou nooit die salon besoek nie.

'Pa, kom help!'

Ure later was die gesin by die swembad toe Mundolene en Marietjie soos dikwels tevore stry kry, dié keer oor handdoeke. Later, in die hotelkamer, het Mike en Marietjie oor die voorval vasgesit. As dit weer gebeur, gaan hulle almal huis toe, het hy gedreig.

Marietjie is toe weer uit.

Die volgende oomblik kom Willie ingehardloop:

“Pa, kom help! Marietjie het Sussie geslaan en sy lê op die vloer!”

Hoe ernstig kan dit nou wees, het hy gedink en uitgestap om te gaan kyk.

Toe, in die besige deel tussen die ontvangsarea, swembad en die trap na hul kamer, sien hy sy dogter op die grond lê met ’n dokter en paramedici wat oor haar hurk.

Hulle het die beweginglose Mundolene in ’n rolstoel gesit en na die siekekamer gestoot, vertel Mike.

Toe hoor hy die verskriklike woorde van die dokter: “Ek is jammer, mnr. Vosloo, ons het 45 minute lank geswoeg; daar is geen polsslag nie.”

En Marietjie?

Terwyl ons praat, sit sy in die Sodnac-polisiesel, ongeveer 40 km noord van die hoofstad, Port Louis. Sy sal in Mauritius verhoor word weens strafbare manslag.  

Mike verkwalik homself vir wat gebeur het.

“Ek kan nie slaap nie; ek kan nie eet nie. Die gedagtes, die gebeure, alles wat ek moes gedoen het . . . Al die ‘asse’: as dit; as dat . . .”

Hy tuur hartseer oor die balkon na die blou see wat eindeloos voor ons uitstrek.

“Dis ’n diep saak dié, ’n diep, seer saak,” sê hy bitter.

“My Wyntjie is dood.”

Net ’n geel plastiekbord, van die soort wat skoonmakers gebruik om mense teen nat vloere te waarsku, dui aan waar Mundolene op die bruin marmervoer geval en bly lê het. Die hele oord gons oor die voorval wat nes in Suid-Afrika opslae maak in Mauritius.

Die toneel op pad na die gesin se kamer waar die voorval plaasgevind het.

“Dit was vir almal verskriklik traumaties,” vertel een van die personeellede ons in die swaar Frans-Kreoolse aksent van die eilandbewoners.

“Dit was druk besig hier, besiger as vanaand.”

Die personeellid vra dan besorg: “Is Mike oukei?”

In die Vosloos se hotelkamer lê Mundolene se tas nog, propvol skoon strandklere. Sy het nooit saam met die dolfyne in die warm seewater gaan swem nie.

Mundolene se bruin tas is nog vol skoon strandklere op die bed.

Haar lyk lê nou in ’n koue yskas in die vreemde nadat dokters Donderdag ’n lykskouing op haar uitgevoer het. Hulle het die oorsaak van dood as bloeding op die brein aangedui nadat Marietjie haar glo met drie vuishoue neergevel het.

Willie het glo sy ousus in sy arms gevang nadat die laaste hou – teen haar linkerkakebeen – haar na bewering inmekaar laat sak het. Mundolene het haar glo voor geskokte gaste en personeellede natgemaak.

Toe hy op die toneel kom, vertel Mike, kon hy ’n kneusplek sien waar daardie laaste hou haar getref het.

Mike, wat op ’n kopermyn in die Kongo meganiese opleiding gee, vertel hy is 12 jaar gelede geskei van Mundolene en Willie se ma, Mariska van Heerden.

Vakansietye en sterk bande

Kort daarna het hy Marietjie, ’n voormalige aptekersassistent, ontmoet en het hulle Morné saam gehad. Agt jaar gelede is hy en Marietjie getroud.

As baba was Mundolene baie sieklik.

“Die eerste drie jaar was nie maklik nie. Mundolene het op rooibostee en antibiotika grootgeword. Ek het haar ma (Mariska) die rus gegun en baie van die pajama drills gedoen.”

In die lang nagte het ’n baie sterk band tussen pa en dogter gevorm.

Ná die egskeiding het Mike, wat uit ’n gebroke huis kom, so betrokke moontlik by Mundolene en Willie gebly. Die kinders het vakansies by hom en Marietjie op Margate kom kuier.

Hy vertel dit het altyd sy hart gebreek om afskeid te neem wanneer hulle Springs toe moes gaan, na Mariska en haar tweede man, Johan.

Mundolene en haar biologiese broer het by hul ma in Springs gebly.

“ ‘My kind, wees sterk. Pappa gaan julle weer sien,’ het ek altyd gegroet. Dan sit Mundolene maar haar dapper gesig op.”

Mike vee weer sy trane af. As tiener het Mundolene rebels geword en met “die verkeerde vriende” deurmekaargeraak.

Mariska kon op ’n kol nie met haar huishou nie. Toe kom woon sy dogter omtrent twee jaar lank by hom en Marietjie. Maar Mundolene was net so haaks met haar stiefma.

Ek weet nie of Marietjie dalk jaloers was op my en my dogter se verhouding nie . . .

Mike het dit geweet en sleg gevoel daaroor, maar kon weinig daaraan doen omdat hy weens werk baie weg van die huis af was.

“Ek weet nie of Marietjie dalk jaloers was op my en my dogter se verhouding nie . . . Mundolene het al haar geheime met my gedeel en ek myne met haar, meer as met my vrou.”

Met Marietjie en Mike se huwelik het dit ook nie meer goed gegaan nie, maar ter wille van die kinders het hulle hard probeer. Dis dié dat hy besluit het om Mundolene en Willie te verras deur hulle saam met hom, Marietjie en Morné na Mauritius te neem.

Marietjie, ’n tuisblyma en Mike se tweede vrou, het Mundolene glo geslaan. Die tiener kon nie weer bygebring word nie.

Mundolene was aanvanklik teleurgesteld omdat haar kêrel van die afgelope sewe maande, Tyron Bothma, nie kon saamgaan nie, maar toe die vakansie aanbreek, was sy net so opgewonde soos die res.

Woensdagmiddag, nadat sy “Wyntjie” by die Riu Creole se salon ’n afspraak gemaak het, het die gesin weer saam geëet.

“Jissie, Pa, ek is nou sommer seer geëet,” het Mundolene gesê nadat sy aan die soesji en noedels weggelê het. Sy was besonder lief vir vars Oosterse kos.

“Dis hoekom die Chinese nie vet word nie, Pa,” het sy gespot.

Ten spyte van haar rebelsheid was Mundolene gesondheidsbewus en sportief. Sy het aan die Hoërskool Hugenote in Springs, waar sy in gr. 10 was, uitgeblink in atletiek, hokkie en gimnastiek.

Mundolene (17) was ’n lewenslustige, sportiewe tiener.

Ná ete het die seuns gaan snorkelduik en Mundolene het op die strand gaan ontspan. Later het Mike en die kinders in die swembad waterpolo gespeel, waar hulle mekaar met ’n waterdigte kamera gekiek het.

Intussen het Marietjie, wat ’n ruk lank in die kamer was, ook swembad toe gekom en ’n drankie bestel.

Handdoeke en houe

“Daar was nie genoeg handdoeke nie. Marietjie het Mundolene gevra of sy haar handdoek met die seuns sou deel,” vertel Mike.

Terselfdertyd het Marietjie haar oorbel probeer afhaal, maar dit het in haar hare verstrengel geraak en sy het Mundolene gevra om te help.

“Ek weet nie of die kind haar nie gehoor het nie, maar Marietjie het seker gedink sy ignoreer haar toe sy nie antwoord nie,” meen Mike.

Marietjie het haar vererg. Om die vrede te bewaar, het Mike Mundolene gestuur om nog twee handdoeke te gaan haal.

Toe Mundolene terugkom met die nuus dat daar nie meer hotelhanddoeke beskikbaar is nie, was die gort behoorlik gaar. Sy en haar stiefma het daar by die swembad vurig baklei.

“Ek het nog gesê: ‘Los dit, Wyntjie; dis nie die moeite werd nie,’ ” vertel Mike. Maar dit was te laat.

Marietjie het haar stiefdogter met haar glas gegooi en Morné beveel om saam met haar terug kamer toe te gaan.

Mike was baie skaam oor dié openbare rusie.

“Ek het ’n ruk lank net met my kop tussen my bene gesit,” vertel hy. Maar dit was nie die eerste keer nie.

Verlede Desember het die twee “by Sun City ook oor iets simpels vuisgeslaan . . . Albei het toe ’n paar houe ingekry.”

Mike meen ’n kind “kan ook net soveel vat. Marietjie was die volwassene in die verhouding.”

Hy is toe ook kamer toe, waar hy en Marietjie oor die voorval gestry het. Toe hy dreig om die vakansie kort te knip as die onenigheid nie einde kry nie, het Marietjie uitgestorm.

Mundolene se bruin tas is nog vol skoon strandklere op die bed.

Dit was skaars sewe minute later toe Willie met die nuus oor die slanery kom . . .

Toe hy sy dogter in die deurgang na die trap sien lê, het Mike dadelik geweet: “Dis ICU-sake.”

Terwyl die dokter met Mundolene in die siekekamer besig was, het Mike vir die steeds woedende Marietjie – wat intussen terug kamer toe is – gaan sê dinge lyk ernstig. Hy is toe weer na die siekekamer, waar die dokter hom die tyding meegedeel het.

“Ek het op my knieë neergesak en gehuil. Toe is ek terug hotelkamer toe en het ek vir Marietjie gesê sy moet kom; Mundolene is dood.

“Sy het aanhou sê dit kan nie wees nie,” vertel hy. “Selfs toe sy haar sien, wou sy dit nie glo nie.”

Mike Vosloo is verpletter ná sy dogter, Mundolene, se dood.

Mauritius se polisie het Marietjie daardie Woensdagaand in hegtenis geneem. Mike het haar iewers die Vrydag in die polisieselle besoek om haar medikasie, wat kalmeerpille en antidepressante insluit, te neem.

“Die eerste ding wat sy vir my gesê het, was: ‘Ek is so jammer, Mike, jy moet my glo, ek het nie bedoel om jou dogter dood te slaan nie . . .’ ”

Ons word onderbreek deur Morné wat die kamer in ’n nat swembroek binnekom.

Mike sê dis die eerste keer sedert die treurspel dat die seun weer gaan swem het. Hy het drie dae lank feitlik ononderbroke gehuil oor sy halfsussie, wat so graag sy siel uitgetrek het.

“Ek het ’n boodskap in die hemel gesien, Daddy. Dit was Sussie wat sê sy mis ons,” vertel hy, voor hy weer in trane uitbars en sy pa omhels.

Mike se jongste seun is stukkend nadat hy sy halfsuster verloor het. In die agtergrond is die weelderige Hotel Riu Creole waar die gesin uitgespan en die kinders voor die voorval in die swembad waterpolo gespeel het.

Mundolene en haar halfboetie was so geheg aan mekaar, vertel Mike.

“Sjoe, sy was so in haar noppies toe die klein boggertjie gebore is. Hoe hul verstand werk, hoe hulle dink en praat en redeneer, was identies, al het hulle verskillende ma’s.”

Dan troos hy: “Ons gaan vir Mamma ’n Bybel reël; ons gaan haar hierdeur help.”

Morné gaan maak hom in die badkamer toe en luister oor sy selfoon na harde musiek.

“Hy vat dit die swaarste,” sê Mike. “Vir hom is dit ’n dubbele verlies: sy ma en sy sussie. Sy ouer boetie (Willie) het nog sy ma, niggies, nefies, ooms, tannies en vriende; Morné het net vir my. Sy wêreld is in ’n miljoen stukkies geskeur.”

Mike weet nie hoe om sy seun te troos noudat sy halfsuster weg en sy ma toegesluit is nie.
Die gebroke Mike en sy jongste seun op die oord se strand, waar hulle sou baljaar het.

Mike wil hê die regsproses in Mauritius moet regverdig wees. Hy’t al derduisende bestee om die proses te probeer bespoedig om Mundolene se lyk in Suid-Afrika te kry. En die seuns moet terug skool toe.

Ter wille van Morné wil hy hê die Suid-Afrikaanse ambassade in Mauritius moet regshulp vir Marietjie help kry.

Vergifnis

Hy vergesel ons na die deur. Kan hy Marietjie vergewe?

Hy kyk na hul kind voor hy sê: “As ek ’n wrok in my hart dra, sal dit wees soos ’n kruis op my skouers. Ek het klaar vergewe, maar daar is so baie dinge wat ek anders moes gedoen het.”

Die volgende dag vertel Mike dit was hartverskeurend om sy seun se laaste uur saam met sy ma te sien voor hulle terugkeer Suid-Afrika toe.

“Hy het vir haar foto’s gewys van die dansopvoering wat hy aan sy sussie opgedra het.”

Morné het saam met die vermaakgroep by die oord opgetree nadat hulle by die kinderdisko gesien het hoe goed hy dans. Hy beoefen dans op Margate en het met sy laaste kompetisie twee medaljes gewen.

Sy kind weet nie wanneer hy weer sy ma gaan sien nie, sê Mike.

“Sy was sy wêreld; dis nou van hom weggeskeur.”

Marietjie word in ’n enkelsel aangehou en mag met niemand praat nie. Mike het haar vakansieklere vir haar gegee en twee sweetpakke gaan koop vir as dit koud word.

“Ons het mos vir die strand en nie die tronk gepak nie.”

* Skuilname, want Mike wil sy kinders se identiteit beskerm. 

Marietjie en die reg – Joanie Bergh
Marietjie tydens Mike en hul seun se laaste besoek aan haar voor hul vertrek.
Marietjie word in die Sodnac-polisiekantoor in ’n enkelsel aangehou.

Marietjie Vosloo sal in Mauritius verhoor word omdat die voorval daar gebeur het, verduidelik William Booth, ’n strafregprokureur van Kaapstad.

Sy sal ook in Mauritius gevonnis word as sy skuldig bevind word.

Die eilandstaat se regstelsel verskil heelwat van Suid-Afrika s’n omdat hierdie voormalige Franse en toe Britse kolonie ’n mengsel van dié twee moondhede se regstelsels gebruik; daarom sal die hofproses anders verloop.

Dit is dus onmoontlik om te raai wat haar moontlike vonnis vir strafbare manslag sou kon wees, sê William.

“Dit sou afhang van verskeie faktore, wat gedurende die verhoor bepaal sal word.”

Volgens William kan strafbare manslag ’n oortreder tussen vyf en 15 jaar tronkstraf in Mauritius besorg.

Mundolene se beserings – Joanie Bergh

Dr. Leon Wagner, ’n forensiese patoloog van Bloemfontein, verduidelik wanneer iemand met die plathand of vuis teen die kop geslaan word, kan die brein binne-in die skedel beweeg.

Dit kan drukking in die brein veroorsaak, wat bloeding op die brein tot gevolg kan hê.

Die plathand versprei die impak oor ’n groter oppervlak, wat beteken daar kan swelling wees, maar gewoonlik nie bloeding nie.

Met ’n vuishou word groter druk op ’n klein gebied toegedien. Dan kan ’n mens duideliker sien as daar gekonsentreerde bloeding is of as die bloedvate beskadig is.

Die bloedvate kan met die trefslag beskadig word en bloeding kan aan die buitekant van die brein voorkom, tussen die brein en die skedel.

“ ’n Mens kan nie iemand net (teen die kop) slaan en hulle so doodmaak nie. Dit gaan oor wat ná die hou gebeur,” verduidelik Leon. As so iemand val en sy of haar kop iets tref, kan dit skadelik wees.

“In boks en rugby leer die ouens hoe om te val, hoe om ’n hou te kry, om met die hou kant toe te beweeg . . . Die tienermeisie was nie by daardie soort oefening betrokke nie.”

Leon meen dis ook hoogs onwaarskynlik dat Mundolene, wat 17 jaar oud was, so kwaad geword het dat ’n aar in haar kop gebars het (soos sommige mense in die sosiale media gewonder het). Dit sou net moontlik wees as sy met ’n vaskulêre afwyking gebore
is.

Konflik tussen jou kind en 'n stiefouer – Joanie Bergh

Konflik is in enige saamgestelde gesin moontlik en kan baie stresvol wees, verduidelik Jeanne Meiring, ’n opvoedkundige sielkundige van Brits.

In sulke situasies beveel sy terapie vir die hele gesin aan.

“Tydens gesinsterapie kan die gesinslede hul vrese of ongelukkigheid bespreek en saam werkbare oplossings vind. So ’n gesin kan onder meer saam besluit wat almal se verwagtings is, hoe dissipline toegepas word (en deur wie), hoe hulle met mekaar kommunikeer en wie watter rol in die gesin speel.”

Dis ook baie belangrik dat die ouer terapie vir die kind kry sodra hy of sy besef die kind kry emosioneel swaar.

Jeanne sê die stiefouer moet besef die kind kan hom of haar as ’n buitestander beskou omdat die biologiese ouer en kind se verhouding veel langer bestaan.

Dis normale gevoelens.

Die stief- en die biologiese ouer moet verstaan dit kan ’n ruk duur om ’n liefdevolle band met die kind te smee. Dit kan nie op die kind afgedwing word nie.

Laat die kind bepaal hoe die verhouding met die stiefouer moet wees en hoe vinnig dit ontwikkel.

“Dis belangrik dat die stiefouer verstaan hy of sy kan nie die biologiese ma of pa se plek inneem nie.

Die stiefouer moet in ag neem die kind se emosionele uitbarstings of onaangename optrede hou verband daarmee dat hy of sy ongelukkig is of nie verstaan wat aangaan nie. Dis ’n manier om emosionele pyn te verwerk.

“Die kind moet ook weet daar is iemand met wie hulle oor hul gevoelens kan praat en dat dit nie die stiefouer se bedoeling is om die ander biologiese ouer se plek in te neem nie, dat almal verbind is tot mekaar (se welstand) en wil sien dat die saamgestelde gesin goed werk,” sê Jeanne.

Huisgenoot Ware Lewensdramas
Donderdae om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147). Heruitsendings is Sondae om 21:00 op dieselfde kanaal.

FOTO’S: LUBABALO LESOLLE, FACEBOOK, VERSKAF