Die 26-jarige Chanélle Henning is op 8 November 2016 in haar wit Hyundai doodgeskiet toe sy haar seuntjie by die kleuterskool afgelaai het.

Haar verpletterde familie kom op die toneel bymekaar, té geskok om te verwerk wat met hul geliefde Chanélle gebeur het. 

'Pike' Pieterse, die man wat die motorfiets bestuur het.
Nico Henning se vriend, André Gouws. Hy en Ambrose Monye het na bewering die aanslag op Chanélle se lewe beplan.
'Doepie' du Plessis het homself ses dae ná die moord oorgegee. Hy het die sneller getrek.
Preshan Singh het die rewolwer verskaf waarmee Chanélle doodgeskiet is.

Na die klagte teen haar eksman, Nico Henning, in 2016 laat vaar is, het Huisgenoot se Hilda van Dyk ’n in-diepte onderhoud met haar ouers gevoer.

Genoeg is by ons gesteel — deur Hilda van Dyk (Huisgenoot 27 Oktober 2016)

Die ouers van die vermoorde Chanélle Henning het kalmte nadat die klagte teen haar man laat vaar is en wil nou voluit leef.

Die blondekopseuntjie kom ingehardloop. Kaalvoet. Hy het ’n skamerige kyk in sy oë. Eers gee hy sy oupa ’n drukkie en dan sy ouma. Dan warrel hy weer net so vinnig by die deur uit.

“Love you!” roep hy voor hy uit sig verdwyn. Hy is op pad na sy pa, Nico Henning.

Moordaanklagte is vroeër vandeesmaand in die hooggeregshof in Pretoria teruggetrek teen die 49-jarige sakeman van Hartbeespoort.

Nico is daarvan beskuldig dat hy die meesterbrein was agter sy vervreemde vrou, Chanélle (26), se skietdood naby hul seun se kleuterskool in Faerie Glen in die ooste van Pretoria.

Toe Sharon (48) en Ivan (54) Saincic die nuus kry dat hul skoonseun vyf jaar ná die moord op hul lieflingdogter as ’n vry man uit die hof stap, het hulle dieselfde kalmte gekry as die dag toe Chanélle doodgeskiet is.

“Ons het besluit ons gee die hele ding aan die Here,” sê Sharon.

“Hy is nie onskuldig bevind nie; die saak is net teruggetrek. Vir ons is die saak nog nie verby nie, maar ons het besluit ons gaan nie eens meer ’n minuut lank aan die moord op Chanélle en die negatiewe aspekte van die saak dink nie.

“Ons gaan nou voluit leef en ons kinders, kleinkinders, familie en vriende geniet. Ons het genoeg tyd aan hierdie goed afgestaan.”

Benewens Chanélle se seun (nou 9), het die Saincics nog twee kleinseuns van onderskeidelik sewe en vyf jaar oud.

Toe Nico daardie dag uit die hof stap, het Sharon en Ivan hul kleinseun (sy naam mag volgens ’n vorige hofbevel nie genoem word nie) by die skool gaan haal en hom by die gholflandgoed op Hartbeespoort gaan aflaai waar sy pa woon.

Hy weet sy pa was van die moord op sy ma aangekla, sê Sharon. Daar was al dae dat sy moes skool toe gaan om haar huilende kleinseun te gaan troos nadat iemand iets daaroor gesê het, maar meestal is hy ’n gelukkige kind. ’n Kind wat uitblink in sokker, swem en karate.

’n Kind wat sy ouma gereeld aan sy ma laat dink, soos wanneer hy slaap of iets op ’n sekere manier doen.

“Hy verlang baie na sy ma. Elke speelding wat sy ooit vir hom gekoop het, koester hy,” vertel Sharon.

“Langs sy bed lê sy ma se begrafnisbrief. Wanneer ons saans bid, hou hy sy ma se begrafnisbriefie vas.”

Dan en wan sal hy hulle iets oor sy ma vra, en al probeer hulle hom “so lank moontlik kind hou”, vertel hulle hom die waarheid.

“Dit is net baie sleg vir die kind, want dit (die moord op sy ma) sal altyd deel van sy lewe wees.”

Die afgelope vyf jaar het Sharon en Ivan bitter moeilike tye deurgemaak. Nie net moes hulle hul dogter se dood verwerk nie; hulle moes ook die besonderhede van die fyn beplande moord op haar aanhoor toe haar moordenaars verhoor is.

Ambrose Monye (42) en André Gouws (52) dien nou ’n lewenslange vonnis uit weens hul betrokkenheid by Chanélle se dood. Gouws het Monye opdrag gegee om iemand te kry om haar te vermoor.

Monye het met Pike Pieterse (47) en Gerhardus du Plessis (35) reëlings daaroor getref.

Op 8 November 2011 het Du Plessis Chanélle twee keer in haar motor geskiet net nadat sy haar seun (toe 4) by die kleuterskool afgelaai het. Pieterse en Du Plessis dien albei 18 jaar tronkstraf uit nadat hulle ’n pleitooreenkoms met die staat aangegaan het.

Vir Sharon was een van die ergste goed van haar dogter se sterfdag dat sy weens omstandighede buite haar beheer nie self die tyding van sy ma se dood aan haar kleinseun kon oordra nie. Daar was tye daarna dat sy net in die bed bly lê en vir die Here gesê het sy kan nie meer nie.

Maar wanneer sy ’n laagtepunt bereik het, het Ivan haar moed ingepraat, en wanneer hy die dag troos nodig gehad het, kon hy weer op haar skouer huil.

Chanélle Henning. Foto: Facebook.

Vandag weet sy hulle sou hierdie beproewing nie sonder hul geloof in God kon deurgemaak het nie. Die Saincics was by hofverskyning op hofverskyning, tot die skuldiges gevonnis is.

Toe, in Desember 2013, word Nico van die moord op sy vervreemde vrou aangekla.

Weer sou hulle keer op keer hof toe gaan.

“Toe ons hoor die saak gaan teruggetrek word, het ons besluit dit is nou finaal; nou gee ons nie om wanneer die saak weer voorkom of wat die redes is nie. Ons wil niks weet nie. Dit moet gebeur soos dit gebeur,” sê Sharon.

“Genoeg is by ons gesteel. Genoeg tyd. Genoeg geld. Genoeg alles. Ons gaan dit nie meer toelaat nie. Niks van hierdie goed gaan ons dogter terugbring nie, al is daar die een hofsaak ná die ander. Dit gaan haar nie terugbring nie,” sê sy weer.

“Dit beteken nie ons mis haar nie of verlang nie meer nie. Ons sal haar altyd mis en altyd na haar verlang, maar sy is op ’n baie beter plek as ons. Sy hoef nooit meer oor haar skouer te kyk nie.

Daar was 'n baie hegte band tussen Chanélle en haar seuntjie. Foto verskaf.

“Sy hoef nooit meer te wonder wie haar agtervolg nie. Sy hoef nooit meer te hoor hoe sleg van haar gepraat word en dat slegte, onwaar goed gesê word nie.

“Sy word nie meer emosioneel en verbaal mishandel nie. Sy is op ’n baie, baie beter plek. Ons is dankbaar dat sy is waar sy is.”

Sharon en Ivan is opgewonde oor die nuwe fase in hul lewe.

Van nou af leef hulle vir hul familie, vriende en veral hul kleinseun, wat hul eerste prioriteit is.

Ja, dit is nie maklik om nog kontak te moet hê met die man wat daarvan beskuldig was dat hy verantwoordelik was vir hul dogter se dood nie. Al is die klagte teen hom teruggetrek.

“Ons het ’n verantwoordelikheid teenoor ons kleinseun om beskaaf teenoor Nico op te tree,” sê Sharon

“Hy bly ons kleinseun se pa.”

Hulle gaan laai hul kleinseun af by die hek van Nico se gholflandgoed op Hartbeespoort en laai hom weer daar op. Verder het hulle nie kontak met Nico nie.

“Hy was lid van ons familie. Ons het hom met ope arms aanvaar. Ná wat gebeur het, weet ek hy bestaan, maar ek wil niks van hom weet nie,” sê Sharon.

Deur alles het die Here haar en Ivan ’n “bonatuurlike kalmte” gegee. Hulle het dit gekry die dag toe die staatsaanklaer, adv. Gerrie Nel, sê die klagte teen Nico gaan teruggetrek word.

“Ek en Ivan het besluit ons gaan ons nie meer siek maak deur met haat en bitterheid in ons rond te loop nie,” sê Sharon.

“Ons het almal vergeef wat Chanélle vermoor en laat vermoor het.”

Kyk Huisgenoot: Ware Lewensdramas op VIA
  • Huisgenoot: Ware Lewensdramas word Donderdae om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai.
  • Heruitsendings vind Sondae om 21:00 plaas

Bykomende bronne: enca.com, iol.co.za, pressreader.com, ewn.co.za