Haar man, Christopher, word later as die baasbrein agter haar moord beskou en word eindelik skuldig bevind aan haar moord en ontvoering op sy 31ste verjaardag in November 2017.

In die hof het Christopher se buite-egtelike verhouding met Chanelle Coutts op die lappe gekom. 'n Huisgenoot-joernalis het vroeër ’n eksklusiewe onderhoud met haar gevoer.

In die vyfde episode van die tweede seisoen van Huisgenoot se werklikheidsreeks Huisgenoot: Ware Lewensdramas, wat op 13 September op VIA uitgesaai word, kyk ons terug op die skokkende moord op Jayde Panayiotou.

Jayde is nie dood oor ons affair – Deur Joanie Bergh, 2 Julie 2015

Sy wil die leuens regstel wat oor haar versprei word, sê Christopher Panayiotou se minnares, en sy is steeds lief vir hom en glo in sy onskuld.

Hoe verduidelik jy dit vir mense? Die skok toe jy hoor jou minnaar se vrou is met twee koelbloedige kopskote vermoor.

Hoe laat jy hulle glo jy was net so ontsteld soos die res van die wêreld toe jy uitvind die lyk van dié vrou, met wie se man jy al drie jaar ’n buite-egtelike verhouding het, is in ’n afgeleë veld gevind?

En hoe laat jy mense verstaan dat jy jou minnaar steeds liefhet, selfs nadat hy weens dié moord in hegtenis geneem is? Dat jy steeds onwrikbaar in sy onskuld glo?

In hotelkamer 1116 sit die jong vrou met die lang swart hare wat eindig in rooi punte en ’n swart kuif wat saggies oor haar voorkop val. Haar neus is klein en sy is fyn gebou.

Ja, sy weet sommige koerante het geskryf sy lyk nogal soos Jayde Panayiotou, sê sy, maar sy dink nie so nie; Jayde was baie mooi.

In ’n eksklusiewe onderhoud met Huisgenoot verbreek Chanelle Coutts, die vrou wat net bekend geword het as Christopher Panayiotou se minnares, ná byna twee maande haar stilte.

Christopher Panayiotou. Foto: Rowyn Lombard.

Haar kop is seer en sy kan nie nou aan die regte woorde dink nie. Sy leun vorentoe in die rooi stoel en vryf ’n ruk lank haar nek.

Niemand glo haar nie. Almal dink sy was “verlig”, dalk selfs bly oor Jayde se dood.

Want sedert die lyk van dié aantreklike onderwyseres van Port Elizabeth twee maande gelede gevind is, is almal haastig om Chanelle ook met die moord te verbind.

Sy het selfs doodsdreigemente van vreemdelinge gekry. Sy is deur hel.

“Plaas jouself in my skoene. Jy kon in my posisie gewees het. ’n Mens word betrek by ’n storie, en nou gaan als meer oor my en Chris se verhouding as oor enigiets anders.”

Die vertrek is ’n oomblik doodstil. Sy vou haar hande op haar skoot en praat stadig en sag terwyl sy die gebeure rondom Jayde se dood probeer onthou.

Sy, Chanelle, ’n doodgewone 26-jarige Afrikaanse meisie van Algoapark, Port Elizabeth, van wie niemand nog gehoor het nie, het letterlik oornag bekend – eintlik berug – geword toe dit op die lappe kom sy is al Christopher se minnares sedert ’n jaar voor hy en Jayde getrou het.

‘Ek sê nie een keer dat ons verhouding reg was nie’

Ná Christopher en Jayde se troue in 2012 het die buite-egtelike verhouding gewoon net aangegaan. Niks het regtig vir Christopher en Chanelle verander nie, buiten dat die groot donkerkop Griekse man wat haar voete onder haar uitgeslaan het, ’n troupand aan sy vinger gedra het.

Toe word Jayde in April vanjaar vermoor en Christopher word kort daarna daarvan aangekla dat hy die meesterbrein agter sy vrou se moord is.

Chanelle hou skielik haar linkerhand voor haar mond en hoes. Sy het ’n verkoue wat net nie wil weggaan nie en als voel wasig voor haar. Sy leun op die stoel se armleuning terwyl sy weer die regte woorde soek.

“Die media het die slegste prentjie van my geskets en het maklik skinderstories oor my geglo.”

Haar stem word sagter. “Ek sê nie een keer dat ons verhouding reg was nie. Ons was nie onskuldig wat ons verhouding betref nie en ek weet dit. Ek kan nie verduidelik waarom dit gebeur het en waarom ons met die verhouding aangegaan het nie.”

Dan lig sy haar kop vir die eerste keer, vou weer haar hande inmekaar en kyk ’n mens reguit in die oë.

“Ons verhouding maak Chris nie skuldig aan moord nie. Ons verhouding het niks met die moord op Jayde te doen gehad nie . . .

“Ek dínk nie Chris is onskuldig nie; ek wéét dit. Ek glo 100 persent in sy onskuld, want ek ken hom.”

Haar lewe was op die regte pad en sy het geweet waarheen sy wou gaan. Ná skool het sy aan die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit ingeskryf vir ’n B.Com.-graad in rekeningkunde. Sy het die graad amper voltooi; sy moet nog net een module afhandel.

Sy onthou daardie dag goed, die dag in September 2011 toe sy hom die eerste keer by die OK Grocer gesien en haar lewe ’n ander koers ingeslaan het.

Die OK Grocer in Algoapark wat Christopher besit en waar Chanelle ’n bestuurder is. Die twee het mekaar in 2011 hier ontmoet toe Christopher en sy familie dit oorgeneem het. Foto: Corrie Hansen.

Christopher en sy familie het die winkel ’n maand later gekoop en hy sou haar nuwe baas wees.

Was hulle dadelik aangetrokke tot mekaar? Chanelle glimlag skaam en knik net haar kop. Ja, hulle was.

“Daardie gevoel was dadelik daar, van albei kante.” Hulle was nie net fisiek aangetrokke tot mekaar nie; hulle het ook ’n goeie verstandhouding gehad.

Sy glimlag liggies toe sy aan hom dink. “Almal wat hom ken, sal dieselfde vir jou sê: Chris was nie net ’n baas vir sy werknemers nie; hy was ook ’n vriend vir hulle almal. Hy is nie die man wat almal in die beskuldigdebank in die hof sien of wat die media van hom wil maak nie. Hy praat ’n bietjie Afrikaans, is baie saggeaard, hy lag verskriklik baie en kom met almal oor die weg. Hy is ’n baie ordentlike man.

“Baie,” beaam sy later weer.

Christopher het haar vroeg in 2012 die eerste keer uitgevra om saam met hom iets te gaan drink. Hy en Jayde was nog nie getroud nie, maar hulle het reeds nege jaar uitgegaan.
Hulle het daardie aand heerlik gesels en hy het haar ook vir die eerste keer gesoen.

Eers later het hulle vir die eerste keer intiem verkeer. Volgens ’n polisieverklaring wat in die hof voorgelees is, was dit soms by Christopher en Jayde se huis wanneer Jayde smiddae skoolgehou het. Soms was dit in Chanelle se huis wanneer haar ma nie daar was nie.

Die meenthuiskompleks Kabegapark waar Christopher en Jayde gewoon het en waarvandaan sy ontvoer is. Foto: Corrie Hansen.

“Niemand het geweet ons is in ’n verhouding nie. My ma, broer en suster het geweet ons is goeie vriende en hulle het net so lief vir hom geraak,” vertel Chanelle.

Maar die twee verliefdes het die verhouding dig probeer wegsteek.

Aangesien Christopher ’n bekende sakeman in die omgewing was, het hulle soms na ’n hotel gegaan of sommer net ná werk in die motor geklim, rondgery en gesels, sê sy.

“Aan die begin het ons mekaar gesien wanneer ons kon. Dit was nie ’n daaglikse ding nie. Dit het nie net oor seks gegaan nie; hy is my beste vriend.”

Maar hulle het nooit oor Jayde gepraat nie, sê sy, en kyk vir die soveelste keer af grond toe. “Wanneer ons bymekaar was, het ons nie daaroor gepraat nie. Ek het niks gesê nie en hy het niks gesê nie.”

‘Ek het hom lief. En ek sal vir hom wag tot hy onskuldig bevind word’

Christopher het later in 2012 vir Chanelle gesê hy het besluit om met Jayde te trou. “Ons het nie daaroor baklei nie en ek het hom nie daaroor verwyt nie. Ek het dit net so aanvaar en ek was oukei daarmee, want ek het geglo hy is lief vir my. Hy moes tog ook lief gewees het vir Jayde omdat hulle al so lank bymekaar was.

“Ek weet dit maak nie sin nie, maar ek kan dit nie verduidelik nie. Hoe is jy lief vir twee mense?” sê sy met vraende oë.

Het Jayde voor die troue iets vermoed? Chanelle is ’n oomblik stil. “Nee, sy het nie,” antwoord sy eindelik.

Christopher en Jayde op hul troudag in 2012. Foto: Facebook.

Sy het op Facebook die eerste keer van Jayde se verdwyning gelees. Sy sukkel om alles in besonderhede te onthou.

“Toe ek dit lees, toe SMS ek vir Chris daaroor. Hy het net geantwoord dat hy nie nou kan praat nie, want Jayde is weg.”

’n Rukkie later het hy haar gebel en gevra om iemand vir werk op te laai omdat hy dit nie self kon doen nie.

“Almal by die werk het die storie gevolg, want hulle het geweet dis Chris se vrou.

“Die oggend daarna het ons op die internet gesien ’n vrou se lyk is gevind . . .”

Trane wel op in Chanelle se oë voor sy verder praat.

“Hulle het bevestig dat dit Jayde se lyk is. Dit was ’n geweldige skok vir my. Al het ek haar nie goed geken nie, weet ek Jayde was nog altyd vriendelik met my wanneer sy my by die winkel gegroet het. Niemand het daardie dood verdien nie.”

Op 29 April, ’n dag ná Jayde se begrafnis, het die polisie Chanelle by die OK Grocer aangekeer en byna vier uur lank ondervra. Sy het toe besef sy moet haar familie van die verhouding vertel.

Jayde het dié foto op haar Facebookblad gehad. Foto: Facebook.

Daardie aand, nadat sy haar skof klaargemaak het, het sy met haar ma, broer, skoonsuster en suster in hul sitkamer gepraat.

Sy het vir hulle gesê sy en Chris is meer as net vriende en het hulle alles van die buite-egtelike verhouding vertel. Haar ma het begin huil. Chanelle het besef sy het haar familie teleurgestel.

Dit is duidelik alles vreet nog aan haar. Ja, sy voel skuldig, sê sy. “Die volgende oggend hoor ek oor die radio dat twee mans, van 28 en 30, in hegtenis geneem is weens die moord op Jayde. Dit was vir my ’n verligting, want ek het gedink die skuldiges is gevang en hulle moet betaal vir wat hulle gedoen het.

“Toe vind ons later uit die 28-jarige man is Chris. Ek het soos ’n baba by die huis gehuil. Ek kon dit nie glo nie en het dadelik gedink dit is ’n fout.”

Toe die media van Chanelle uitvind, het sy besluit om na Christopher se ouers, Costa en Fanoula, te gaan en hulle van die verhouding te vertel voor hulle dit in die koerante lees.

Ook Fanoula het begin huil toe sy van die verhouding hoor. Maar waarom het sy besluit om nou haar stilte oor die saak te verbreek?

“Ek wil ’n paar onwaarhede regstel wat oor my versprei word, want dit maak seer wanneer ek dit hoor.”

Dit is twee weke sedert Chanelle terug is by die werk nadat sy ’n maand lank weens akute spanning afgeboek was. Sy moes antidepressante drink en ’n sielkundige spreek, want als het te moeilik vir haar geword, sê sy.

En hoewel sy daardie maand amper nooit haar huis verlaat het nie, weet sy presies watter leuens oor haar versprei is, vertel sy.

Chanelle. Haar en Christopher se jare lange verhouding het ná die moord op Jayde op die lappe gekom. Foto: Facebook.

Sy en haar ma het die Panayiotou-saak noukeurig saam met die res van die land gevolg.

Daar is drie groot leuens oor haar versprei, sê sy.

Bewering 1: “Ek is of was nie swanger met Christopher se kind nie,” sê sy beslis en haal ’n stuk papier uit ’n lêer. Dit is die uitslag van ’n bloedtoets wat sy onlangs laat doen het.

Die gerugte dat Chanelle hoogswanger is met Christopher se kind, het soos ’n veldbrand op Facebook versprei. Sommige het selfs gesê sy verwag ’n Panayiotou-drieling.

Bewering 2: “Almal glo omdat ek Chris se minnares was, was ek op ’n manier ook betrokke by die moord op sy vrou. Ek was nie.”

Bewering 3: “Die koerante blaker uit dat ek nou ’n staatsgetuie is en sê dat ek teen Chris gaan getuig.

“Die staat het in die hof beweer dat ek hom aan die moord gaan koppel. Dis nie waar nie.”

Volgens Danie Gouws, die prokureur wat sy aangestel het kort nadat die polisie haar ondervra het, word Chanelle as ’n staatsgetuie beskou bloot omdat sy gaan getuig dat sy in ’n verhouding met Christopher was, ’n feit wat Christopher ook reeds in sy verklaring erken het.

Christopher het ook nooit vir haar ’n huis, ’n motor of ander duur geskenke gekoop nie, sê sy.

“Hulle beweer Chris wou van Jayde ontslae raak omdat hy nie twee vroue kon bekostig nie. Dis belaglik. Ek kyk al my hele lewe lank na myself en het niemand nodig om na my om te sien nie. Jayde het as ’n onderwyseres op Uitenhage gewerk en ek het by die OK Grocer gewerk. Ons albei het ons eie salaris verdien.”

Sy is ook nie, soos wat sommige beweer, sedert Christopher en sy familie die OK Grocer in 2011 oorgeneem het in ’n kits van kassier tot winkelbestuurder bevorder nie.

Chanelle werk al langer as 10 jaar by die kettingwinkel. Sy het as 16-jarige tienermeisie naweke en vakansies daar begin werk vir ekstra sakgeld, nog voor die Panayiotou-familie daar betrokke was.

Vandag is sy een van die winkelbestuurders, ’n pos wat sy met haar harde werk oor 10 jaar verdien het, sê sy, nie omdat sy ’n verhouding met die baas gehad het nie. Sy was reeds die bestuurder toe die Panayiotous die winkel gekoop het.

Sy glo nie vir een oomblik dat Christopher tot moord in staat is nie, sê Chanelle.

Al het die staat ’n bandopname waarin Christopher met sy medebeskuldigde Luthando Siyoli gesels oor R40 000 wat hy na bewering vir die huurmoord op Jayde sou betaal, weier Chanelle om enigiets te glo.

“Chris is nie tot so iets in staat nie. Ek, my familie en sy familie glo in sy onskuld, want ons ken hom.”

Is Christopher haar sielsgenoot? Sy dink na oor die vraag en glimlag weer skaam.

“Ek kan dit nie beantwoord nie, maar ek het hom lief. En ek sal vir hom wag tot hy onskuldig bevind word.”

  • Huisgenoot: Ware Lewensdramas word Donderdae om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai.
  • Heruitsendings is Sondae om 21:00.