Die lag is weg, ons is gebreek — Danél Blaauw (Huisgenoot, 21 Mei 2009)
Die ma van Jacques Pretorius, wat met ’n swaard by die skool doodgekap is, praat roerend oor hul hartseer.

Nege dae lank nadat die sand op haar oudste se kis gegooi is, het ’n ontroosbare Adel Bekker bly was aan die verflenterde skooluniform wat hy aangehad het toe hy een oggend voor skool skielik met ’n samoeraiswaard doodgekap is.

Elke dag het sy in die agterplaas op die gras neergesak en die bebloede klere met seep en water skoongeskrop tot sy die laaste bloedspatsel uiteindelik op die negende dag uitgevryf het.

Maar die laaste beeld van haar vermoorde seun wat in ’n bloedplas op die skoolterrein lê, is ’n vlek wat Adel (35) nooit uit haar geheue sal kan was nie.

‘‘Ek wil vergeet, maar ek wil Jacques ook nie vergeet nie,’’ sê die verpletterde ma terwyl haar lyf met elke snik saamtrek. Haar hande bewe onophoudelik.

Haar naels is tot in die lewe afgekou sedert haar seun, Jacques Pretorius (16), verlede jaar koelbloedig by die Hoër Tegniese Skool Nic Diederichs in Krugersdorp vermoor is.

Die skuldige

Morné Harmse (18), ’n medeleerder, het intussen in die Johannesburgse hooggeregshof skuld beken op ’n aanklag van moord en op drie aanklagte van poging tot moord, nadat nog ’n leerling en twee skoolwerkers in die aanval beseer is.

’n Paar dae ná Jacques se dood het die begrafnisondernemers sy skoolklere vir Adel gebring.

Haar hande klem die bloedrooi koffertjie waarin dit is, op haar skoot vas asof dit haar laaste reddingsboei is.

Toe haar buurvrou en vriendin, Maxie de Ponte, die versnipperde swart skoolbaadjie, spierwit hemp, moulose trui en das uit die tas haal, stroom die trane weer oor Adel se wange.

Dié rooi koffertjie vol herinneringe pak Adel ver
Dié rooi koffertjie vol herinneringe pak Adel ver weg. Sy het nege dae lank die bloed op haar kind se skoolklere uitgevryf. Foto verskaf

Sy het maande lank tussen die veilige mure van haar huis in Krugersdorp weggekruip nadat haar seun op 18 Augustus verlede jaar in die skokkende aanval dood is.

‘‘Ek was te bang om my voete uit die huis te sit. Die media was die hele tyd hier.’’

Nege maande later

Maar sy het besluit om haar stilte te verbreek en vandag vir die eerste keer die seer te deel wat sy met haar saamdra.

Dit is nege maande ná Jacques se grus me dood, maar Adel is nog net so broos soos daardie dag toe sy en sy pa, Gerhard Pretorius, die tyding gekry het.

En vandag is sy meer kwesbaar as enige ander dag, want haar enigste oorlewende seun, Martin (12), en Gerhard, haar lewensmaat van 20 jaar, was ’n uur of wat voor die onderhoud in ’n motorongeluk.

‘‘My kind was amper dood,’’ kry sy rukkend die woorde tussen haar trane uit.

‘‘Gerhard het gebel en gesê ek kan bly wees hy leef. ’n Taxi het voor hulle ingeswaai.’’

Die pyn van Jacques Pretorius se dood is elke dag
Die pyn van Jacques Pretorius se dood is elke dag nog met sy ma, Adel Bekker. Foto: Papi Morake

Maar Martin was gelukkiger as sy ouboet wat hy so verafgod het en sal vanaand weer veilig by die huis wees. So anders as haar eersteling wat daardie noodlottige oggend voor skool so sinloos vermoor is . . .

Hy was so lief vir diere, hy wou eendag met diere werk.

’n Skril geluid skeur deur die sitkamer in Krugersdorpwaar Adel in ’n hopie op die bank sit.

‘‘Dis Birdy,’’ wys sy na die geel ringnekpapegaai in ’n koutjie.

Birdy was nog ’n baba toe Jacques dood is, vertel sy opnuut in trane. Elvis, die mak luislang wat nog in sy hok in Jacques se kamer lê, het hy ’n maand voor sy dood gekry.

‘‘Hy was so lief vir diere, hy wou eendag met diere werk,’’ vertel sy.

Sy sterfdag het soos enige ander dag in die Pretorius-huishouding begin.

Dié winteroggend het sy haar seun se skoolhemp gestryk. Hul laaste gesprek was oor dié hemp waarvan hy nie gehou het nie.

Toe sy vra of sy ’n ander hemp moes stryk, was sy laaste woorde aan haar: “Nee, Mamma, dis orraait.’’

Hy het daardie oggend lank voor die spieël gestaan, onthou sy.

Jacques het sy een arm om sy kleinboet se skouer geslaan en gesê hy wil nie skool toe gaan nie.

‘‘Ons het ’n grap daarvan gemaak en hulle is skool toe.’’

‘Jacques het seergekry’

Sy was besig om huis skoon te maak toe Maxie bel en sê Jacques het seergekry.

Toe die twee vriendinne by die skool aankom, was dit al afgesper en die skoolterrein het van polisiebeamptes en paramedici gewemel.

‘‘Adel was van haar kop af, sy was heeltemal histeries,’’ vertel Maxie.

Haar buurvrou en vriendin, Maxie de Ponte, probeer
Haar buurvrou en vriendin, Maxie de Ponte, probeer troos. Foto: Papi Morake

Sy was in ’n dwaal en onthou net grepe van daardie dag.

Maar die toneel wat op haar gewag het toe sy by die skool se trappies afstap na die binnehof waar haar verminkte kind in ’n bloedplas gelê het, onthou sy asof sy dit gister gesien het.

‘‘Hier is sy foon.’’

Sy tel die Nokia van die koffietafel op terwyl sy onbedaarlik snik.

‘‘Dit het langs hom gelê saam met ’n pakkie Peter Stuyvesant-sigarette.’’

Sy het langs haar seun neergesak tot Gerhard haar uiteindelik daar weggevat het. Toe het hulle vir Martin by die Laerskool Millennium gaan oplaai en vertel Boeta kom nie weer terug nie.

Die band tussen die twee broers was besonder heg, sê Adel. Hulle het saam in ’n bed geslaap en elke aand tot wie weet watter tyd gesels.

Hoe is dit by liwe Jusus geniet jy dit . . .

Martin het altyd smiddae ná skool vir Jacques koffie en toebroodjies gemaak, maar deesdae skryf hy briefies in ’n boek vir sy ouboet.

‘‘Hoe is dit by liwe Jusus geniet jy dit . . .’’ staan die woorde in rooi ink geskryf.

Martin skryf elke dag ná skool briefies vir sy oub
Martin skryf elke dag ná skool briefies vir sy ouboet in ’n klaswerkboek. Foto: Papi Morake

Adel het ook al ’n klaswerkboek vol geskryf en wys die tweede een waarin sy haar seer probeer uitdruk.

‘‘Ek sien my kind elke dag. Ek sien hom daar waar hy gelê het. Ek sien die middae wat hy van die skool af kom en op die bank sit en MXit. My kind het nou eers begin man word.’’

Met sy 16de verjaardag verlede jaar het hulle ’n groot partytjie vir Jacques by ’n vakansieoord buite die dorp gehou.

‘‘Sy pa het gereël dat hy saam met 10 bikers op die pad uitry,’’ sê Adel en vertel hoe gek haar seun oor motorfietse was.

Vanjaar op 15 Januarie, Jacques se verjaardag, het die gesin met ’n bossie blomme om sy graf gestaan.

Ál vraag wat deur haar kop bly maal, is hoekom?

Selfs die vonnis wat hy gaan kry, sal te min wees. Dit sal nie eens troos nie.

‘‘Hoekom het hy dit gedoen?’’

Sy het nog elke hofverskyning van Morné bygewoon, want sy wil hê dat geregtigheid geskied.

‘‘Hy mag nooit weer uit die tronk kom nie,’’ sê sy heftig.

‘‘Selfs die vonnis wat hy gaan kry, sal te min wees. Dit sal nie eens troos nie.

‘‘Hy sal miskien 20 tot 25 jaar tronkstraf kry. Miskien. Maar daarna sal hy vrygelaat word en aangaan met sy lewe. Hy sal kinders hê en trou. Wat het ek?’’

Ná Morné se pleitverduideliking het Adel meer vrae as antwoorde en dit verklaar steeds nie vir haar wat daardie dag gebeur het nie.

Op 15 Junie sal sy teen hom getuig.

‘‘Ek is bang om daar voor te staan en daai kind in die oë te kyk,’’ sê sy.

'Die lag is uit ons huis. Ons is gebreek – die eer
'Die lag is uit ons huis. Ons is gebreek – die eerste kind is weg. Ek mis hom so . . . ' Foto: Papi Morake

Met elke hofverskyning sien sy Morné se ouers, maar sy het geen behoefte om met hulle te praat nie.

‘‘Ek voel net haat teenoor Morné en sy ma. Kon sy nie van die begin af gesien het haar kind is met verkeerde goed besig nie?’’

Intussen probeer Adel aangaan met die lewe en staande bly ter wille van Martin, maar dit word by die dag moeiliker.

‘‘Die lag is uit ons huis. Ons is gebreek – die eerste kind is weg. Ek mis hom so . . . ’’

Wanneer en waar
Huisgenoot: Ware lewensdramas word elke Maandag om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai. Episodes word elke Maandag om 14:00 herhaal.