Maande voor haar dood het Susan (47) op 24 Julie 2016 uitgevind haar huwelik met Jason is allesbehalwe 'n veilige hawe. Daar was 'n derde persoon betrokke in die vorm van haar man se donkerkopkollega, die ma van 'n jong seuntjie.

Volgens die sakeman het die wete van dié affair Susan met tye tot waansin gedryf.

"Sy kon nie verstaan hoe ek so vals kon wees nie," het hy op 28 Mei 2018 in die Wes-Kaapse hooggeregshof voor regter Gayaat Salie-Hlope getuig.

Maar wat het die aand vóór Susan se dood gebeur?

Die episode oor Susan Rohde en haar raaiselagtige dood word op Donderdag 1 November om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai. Dieselfde program word op Sondagaand om 21:00 op dieselfde kanaal herhaal.


Die 'drama' kort voor Susan se dood - deur Charlea Sieberhagen (Huisgenoot 13 Oktober 2016)

Dis die laaste Sondagoggend van Susan Rohde se lewe. In die nagloed van die agentskap Sotheby’s International se jaarlikse konferensie kuier ’n klompie kollegas êrens tussen een en tweeuur in die nag.

Hulle is gesellig saam in ’n kamer van die spoghotel op die Spierwynlandgoed by Stellenbosch.

Nadere besonderhede oor wat presies in hierdie laaste ure voor Susan se dood gebeur het, het bekend geword toe ’n bron aan Huisgenoot onthul die kuier was eintlik in die kamer van Brendan Miller, Sotheby’s se Seepuntse hoof.

Brendan Miller, Sotheby’s se Seepuntse hoof. Foto: Facebook

Iemand bel ’n lid van die geselskap, Jolene Alterskye, ’n aanvallige donkerkopagent van Seepunt. Net daarna stap Jason Rohde (47), grootbaas van Sotheby’s International Suid-Afrika, die vertrek binne.

Hy gaan sit op ’n bed langs Jolene. Nog ’n kollega, die beeldskone Farrah Mia, is glo ook in die kamer.

Farrah Mia was glo een van die agente wat in die kamer was toe Susan Jason kom soek. Foto: Facebook
Jolene Alterskye. Foto: Facebook

Maar met Jolene, so het hy glo vroeër aan ’n kollega bely, het hy al maande lank ’n affair. En kort op sy hakke volg sy vrou, Susan (47), hom nou die kamer binne, geklee in net ’n japon.

Susan roep sy naam talle kere uit, en iemand anders in die vertrek s’n. ’n Geskokte stilte heers.

Jason, nou geklee in ’n trui pleks van sy dineeuitrusting, lyk “maar oes”, sou kollegas later vertel.

In die ongemaklike stemming bied iemand Jason ’n drankie aan, maar hy het nog skaars omgedraai om dit te skink toe die Rohde-egpaar weer by die vertrek uit verdwyn.

’n Rukkie later maak die ander die kamerdeur oop, maar daar is geen teken van Sotheby’s se uitvoerende hoof nie.

Kort voor vieruur kry Jason ’n SMS van ’n kollega wat wil seker maak of hy oukei is, maar hy antwoord eers net ná sewe: “Drama, maar oukei.”

Negeuur daardie oggend hoor Jason se kollegas daar was “ ’n ongeluk”.

Sotheby’s se afsluitingsgeleentheid word summier afgelas en die geskokte konferensiegangers kies koers huis toe. 

Iets verskrikliks het met Susan gebeur.

In die dae ná die “drama” van 24 Julie ontvou die besonderhede van die dood van die blondekopma van drie dogters in hoofopskrifte landwyd.

Toe Jason die oggend toilet toe wou gaan, vertel hy later aan die polisie, was sy vrou spoorloos en die badkamerdeur van binne gesluit.

Toe ontbied hy die personeel en hulle vind haar liggaam, oënskynlik met ’n elektriese koord aan ’n haak agter die badkamerdeur opgehang.

Maar toe word in ’n nadoodse ondersoek bevind iemand het haar verwurg.

En ’n maand ná haar dood word Jason by hul weelderige woning in Bryanston, Johannesburg, aangekeer weens moord in die nadraai van ’n konferensienaweek waar sake verskriklik skeefgeloop het.

“Ek het Susan vlugtig op ’n vorige konferensie ontmoet,” vertel ’n oudwerknemer op voorwaarde van anonimiteit aan Huisgenoot.

“Sy was baie mooi en netjies.”

By dié foto, wat Susan op 18 Junie 2016, kwalik 'n maand voor haar dood op Facebook gedeel het, het sy geskryf: 'Saturday rugby with Jason Thomas Rhode' met 'n emoji van pienk lippe daarby. Foto: Facebook

Vir die jongste konferensie het Sotheby’s-eiendomsagente van oor die land op 22 Julie op die Spier-landgoed saamgetrek.

Op die program was ’n naweek van partytjies, praatjies en ’n prysuitdeling. Net ná middagete is lang maatbekersilinders, bottels wyn en wynglase op die tafels uitgepak vir ’n wynmaaklesing deur ’n Paarlse wynmaker.

Die agente het by ’n Bolandse wynmaker meer oor wyn geleer.

Susan en Jason was volgens ons bron ook daar.

Die Vrydagaand moes die agente hulle vir ’n partytjie met ’n 1980’s-tema uitvat. Foto’s wys hoe die saal met helderkleurige ballonne en Rubik-kubusse versier is.

Die Vrydagaand het die groep ’n partytjie met ’n 1980’s tema bygewoon en kon hulle hulle vir die pret in ’n ou Volkswagen-kombi laat afneem.

Op die tafels pryk ou langspeelplate en vrolike blomme. Eenkant by ’n ou Volkswagen-kombi kon die agente lawwe foto’s neem. Talle partytjiegangers het glo tot ná middernag die 1980’s herleef.

Die volgende oggend moes almal vroeg uit die vere wees vir lesings net ná ontbyt oor die eiendomsbedryf, en motiveringspraatjies.

Adriana Marais, ’n kwantumbioloog van Durban en een van 100 mense wêreldwyd wat meeding om op Mars te gaan woon, was een van die sprekers.

Daardie middag, terwyl almal middagete op Spier geniet het, het Jason en Susan glo weggeglip en op ’n ander wynplaas gaan eet. Hulle het betyds teruggekom vir die aand se galadinee.

Op dié glansgeleentheid het Lew Geffen, voorsitter van die eiendomsagentskap, sy span toegespreek. Jason het ook ’n toespraak gelewer.

Die tafels was keurig gedek met flikkerende kerse en blommerangskikkings, en in sagte, romantiese beligting is die room van Lew Geffen Sotheby’s International Realty, uitgevat vir die dinee, vir hul prestasies vereer.

Tydens die onlangse naweek lange konferensie het agente onder meer ’n wynmaaklesing gekry.

Talle vroue was in elegante swart nommertjies geklee, met ander in noupassende rokke vol kant en blinkers. Op ’n groepfoto wat die aand  geneem is, sit Lew glimlaggend op ’n bal-en-kloustoel van hout met ’n leersitplek in ’n kraakwit toeknoophemp.

By hom is sy vrou, Sandy, in ’n smaraggroen rok, swaar halssnoer en skitterende borsspeld, met donker geverfde naels en blonde hare lossies vasgesteek.

Hul dogter, Yael, ook ’n uitvoerende direkteur van Sotheby’s, se regterarm rus liefderyk op haar pa se skouer. ’n Groep agente staan glimlaggend agter hulle.

Lew Geffen, voorsitter van Lew Geffen Sotheby’s International Realty in Suid-Afrika (voor op stoel), saam met sy vrou, Sandy (in groen rok), dogter, Yael (links van hom), en Sotheby’s-agente.

Die konferensiegangers het aan ’n buffetete gesmul, pryse is uitgedeel, hulle het gedans en die jolyt het tot in die vroeë oggendure voortgeduur.

Jason is op borgtog vrygelaat en terug by die huis in Bryanston. Hy moet op 27 Januarie weer in die Stellenbosse landdroshof verskyn.

Luidens ’n e-pos wat by ’n vorige hofverskyning voorgelees is, is hy “met volle betaling geskors”. Die nuus was vir Jason ’n verrassing. Hy is volgens sy regsverteenwoordiger, adv. Ross McKernan, nooit daaroor ingelig nie.

“Lew en Jason is dik pelle. As Lew hom van Jason wil distansieer, sê dit nogal baie,” sê ’n oudwerknemer van die agentskap wat naamloos te bly.

Samantha Bartlett, Sotheby’s-woordvoerder, sê net: “Die skorsing het nie betrekking op die bogenoemde sake (die moordklag en beweerde verhouding) nie.”

Op amptelike foto’s van die noodlottige naweek wat aanlyn aan Sotheby’s se werknemers beskikbaar gestel is, is geen foto waarop Jolene verskyn nie, nie op die voorgrond of selfs op die agtergrond waar ander mense afgeneem is nie.

Ook Jason en Susan is nêrens te sien nie, amper asof die twee nooit eens daar was nie.

Huisgenoot Ware Lewensdramas
Die episode oor Susan Rohde en haar raaiselagtige dood word op Donderdag 1 November om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai. Dieselfde program word op Sondagaand om 21:00 op dieselfde kanaal herhaal.

Die saak teen Jason Rohde is tot 6 November 2018 uitgestel vir slotbetoë deur die staat en sy verdediging. Betooghoofde in die verhoor waar Jason van moord en regsverydeling aangekla word, moet op 29 Oktober by die Wes-Kaapse hooggeregshof ingedien word.