Die adjunk-regter-president Hannes Fagan het die aantreklike vrou op 25 November 1992 in die Kaapse hooggeregshof vir 25 jaar tronk toe gestuur nadat hy bevind het sy het haar tweede man, Graham Chatburn, met 'n kruisboog in die kop geskiet en sy liggaam in die rivier gestort het. Graham het nog gelewe toe hy onder die water van die Swartrivier verdwyn.

Louisa is in September 2007 op parool vrygelaat. Haar parool het in November 2015 verstryk.

Huisgenoot: Ware Lewensdramas
Die episode oor Louisa Chatburn en die kruisboogmoord word op Donderdag 11 Oktober om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai. Die program word op Sondagaand om 21:00 op dieselfde kanaal herhaal.



Mooi oë . . . en ’n hart vol moord — deur Elza Pople en Emsie Ferreira (Huisgenoot, 3 Desember 1992)

Wat het voor, tydens en ná die moordnag gebeur waarvoor Louisa Chatburn in die Kaapse hooggeregshof vir 25 jaar tronk toe gestuur is?

Uit gesprekke wat Elza Pople en Emsie Ferreira met haar evangelis-vriend en ander mense gevoer het, ontvou die verstommendste verhaal . . .

Dis laatnag, doodstil buite, toe die motor stilhou. Aan die een kant lê die Valkenberg-hospitaal. Aan die ander kant glim die Swartrivier donker tussen die riete.

Gedempte geluide kan gehoor word. Deure gaan oop, ’n liggaam word uitgelig, toegerol in die sterk, swaar materiaal van ou spoorwegseil. Die liggaam is dié van ’n liggeboude man. Hy het net sy onderbroek, horlosie en trouring aan — en die dodelike pyl uit ’n kruisboog sit skeef deur sy skedel.

Die vrou wat die liggaam help neersit, kyk na die trouring. Dis haar man dié. Sy druk haar handpalm voor sy mond. Daar is warm lug by sy lippe, hy haal nog asem.

Maar nou is daar nie meer omdraaikans nie. Vinnig rol sterk hande die liggaam in die seil toe en dan dra twee paar hande dit tot by die rivier. Daar is ’n plonsgeluid toe die liggaam met seil en al die water tref, donker rimpelings in die maanlig. ’n Motor trek weg.

Dan is alles stil.

Iewers in die bosse naby Kraaifontein in die Kaap lê ’n kruisboog. En nie ver daarvandaan nie trek ’n vrou net ’n paar uur later die beddegoed van die dubbelbed in die slaapkamer af en was haar man se klere om die bloed uit te kry.

Dan is dit Sondagoggend, 17 Februarie, tyd vir die gesin om kerk toe te gaan.

Die bisarre moord op Graham Chatburn sal nie gou uit die geheue verdwyn nie, veral omdat Louisa Chatburn klaarblyklik nooit die waarheid sal vertel oor wat daardie nag in die huis in Kraaifontein gebeur het nie.

In die sitkamer van haar huurhuis sit sy en haar goeie vriend, Gerhard Erasmus, op die laaste dag van die hofsaak oor alles en praat.

Gerhard Erasmus en Louisa Chatburn in goeie luim.

Louisa is ’n mooi vrou. Sy het ’n dun middel en pragtige oë. Maar nie een keer tydens die hofsaak, tydens ondervraging, selfs voor haar kinders in haar eie sitkamer, vertel haar oë die verhaal nie. Dit bly uitdrukkingloos.

“God het ons saamgegooi,” sê Gerhard Erasmus.

“Ek is ’n pastoor wat met stukkende mense werk, en toe ek en Louisa mekaar ontmoet, was sy stukkend. Ek het vir God gebid hy moet dié vrou en dié vuur van my wegneem, want sy is ’n moordenaar en ek is getroud.

“Maar God wou hê ons moet by mekaar wees; daarom sal ek by haar staan, maak nie saak of ek ook tronk toe gaan en of sy nou ’n misdaadrekord het nie.

“Ja, ek is lief vir haar. Maar die hele waarheid word deur die Here geken, en hy weet dat al hierdie gifstories wat nou oor ons twee vertel word, alles leuens is.”

Net goeie vriende? Gerhard Erasmus en Louisa Chatburn ontspanne saam in haar huis in Kraaifontein die aand voordat sy gehoor het sy moet 25 jaar in die tronk sit.

Gerhard is ’n man wat argeloos sy skoene in Louisa se sitkamer uitskop en rustig ’n koppie koffie drink die dag voor sy gevonnis word. Hy is nog met iemand anders getroud, maar hy sê dié huwelik is ’n fout.

“God sorg goed vir my,” sê hy.

“Kom kyk na my huis hier anderkant waar my vrou nog woon. Dis ’n groot huis, en al werk my vrou, kry ek my inkomste van Bo.”

Ook in die sitkamer van Louisa se huis in Kraaifontein is haar twee dogters uit ’n vorige huwelik. Hulle is stil.

Die oudste het verlede jaar vier onderskeidings gekry; sy skryf nou weer eksamen. Die jongste is effens gestrem aan haar regterkant, ’n regte rabbedoe. Albei is pragtig.

Louisa by haar dogters. Sy het gesê as dit nie vir hulle was nie, het sy 'n einde aan alles gemaak.

Hulle is eenkant, effens verdwaas en hartseer oor alles wat rondom hulle gebeur. Want eers is hul pa met hul ma se rewolwer doodgeskiet. En nou het hul ma hul stiefpa met ’n kruisboog vermoor.

Gerhard Erasmus se verhaal oor wat daardie aand gebeur het, is sy eie. Dit begin die dag toe Louisa se man as vermis aangegee is.

“Ek het haar die eerste keer gesien toe die pastoor in wie se gemeente sy en haar man was, my vra om hom uit te help. Terwyl ek op ’n dag agter in die kerkkantoor tussen doodkiste gesit het, het dié mooi vrou die plek binnegestap.

“Dis nou die vrou wie se man weg is, vertel die pastoor my. So mooi, dog ek nog. En ek voel jammer vir haar.

“Toe ontmoet ek haar die eerste keer, op ’n dag toe sy weer by die kerkkantoor inkom om met die pastoor te kom praat. Sy is ’n diep gelowige vrou. En daardie oomblik toe ek haar hand in die kerkkantoor skud, toe sien ek haar hele lewe voor my. Toe weet ek sy het haar man vermoor.

“Toe weet ek ook presies wie haar man is, want ek het gehelp om sy lyk in die kis te kry. Ons moes nog die lyk sny om dit te laat inpas, want dit was swart en opgeblaas en so half in ’n sit-posisie.”

Gerhard Erasmus.

Intussen word die begrafnis gehou, en ’n moorddossier word teen Louisa geopen. Die pastoor se suster, Tossie Bennett, stel voor Gerhard gaan praat met Louisa.

“Ek is na my bidkamer in my huis. Ek het vir God gebid, want ek wou nie met haar praat nie. Sy was ’n moordenaar. Maar toe sê God vir my ek moenie oordeel nie. Gaan dra haar laste, was Sy opdrag aan my.

“Ek is weer na haar toe, maar sy was onbeskof toe sy my sien. Maar die Here het my met haar laat werk, en ek kon saam met haar stap. Ek het haar uit die vrees gelei en ek weet selfs wat die toekoms nou vir haar inhou.

“Toe Tossie voorstel dat ons twee saam met haar Mosselbaai toe gaan vir ’n naweek, wou ek eers nie. Ek het Louisa nie vertrou nie.

“Ek wou nie eens die goed eet wat sy kook nie; ek was te bang vir haar. Ons het almal in die sitkamer geslaap, maar wanneer sy geroer het, was ek wakker. Ek wou nie my rug op haar draai nie.”

Ná die naweek, sê Gerhard, het die skinderstories begin dat hulle ’n verhouding het.

“Toe bid ek dat God my iets van dié vrou se lewe sal vertel, en daar wys Hy vir my ’n prentjie van haar in ’n paar opgerolde jeans en wit hemp.

“Aan die oorkant van die tafel wys Hy vir my Graham, en daar kan ek sien die vrou is een wat seksueel mishandel is.

Graham Chatburn is met 'n kruisboog geskiet.

“Agterna het ek vir Louisa oor die prentjie uitgevra, en sy wou weet hoe op aarde ek so iets kan weet. Maar dit was nie ek nie.

“Op ’n aand het sy haar eie lewe probeer neem. Ek het met haar Tygerberg-hospitaal toe gejaag waar hulle haar maag leeggepomp het. Sy het al by die dood omgedraai, maar van dié dinge weet niemand.

“Niemand hoef te weet hoe sy ly nie. Sy is stukkend, en ons is moeg en bang. Ons kan nie meer byhou nie, ons word verstoot en verwerp en ons is alleen. Ons moet mense bel en vra of ons mag kom kuier, of ons welkom is. Meestal sê hulle nee."

God en Satan

“Louisa is my opdrag van Bo. Satan probeer alles om my van my opdrag te laat afsien, selfs my eie vrou het my nou al die rug toegekeer. Maar ek gaan nie my opdrag ignoreer nie.

“Sy sien my as haar pilaar, haar krag. Sy is lief vir my en wat tussen ons is, is dieper en mooier as wat die deursnee-mens ooit sal verstaan.”

Dié verhaal van diep vriendskap is nie die een wat in die hof ontvou het nie. Daar is ook ’n derde verhaal, die ware een, maar dit bly geheim, daar waar Louisa Chatburn nou vir 25 jaar in ’n tronksel sit.

'Modesessie' in die skadu van die galg
Dis ’n dag voor die hof oor haar lot in die kruisboogmoordsaak moet besluit. Louisa is in die skadu van die galg, want die staat het vir die doodstraf gevra. Maar sonder dat dit lyk of sy dit besef, leef en lag sy voor die kamera.

Toe ons ’n foto van haar vir dié artikel wou neem, het sy met sewe verskillende uitrustings by Huisgenoot se kantoor opgedaag, en in ’n soort “modesessie” in die een ná die ander geposeer.

Dis ’n hele bont versameling waarmee sy nooit in die hof gesien is nie. Haar liefde vir kort toppies en stywe broeke blyk uit die foto’s.
Louisa in haar 'oefenklere'.
Louisa in haar 'oefenklere'.
'n Geblomde tabberd (met 'n lang spleet teen die kuit).
Louisa met met sewe verskillende uitrustings by Huisgenoot se kantoor opgedaag.

Uit gesprekke met familie en vriende van Graham en Louisa Chatburn en Gerhard Erasmus word ’n prentjie duidelik.

'Selfdood'

Die liefdesverhaal van Louisa en Graham het reeds met die dood van Fanie du Toit, haar eerste man, begin.

In ’n geregtelike ondersoek is bevind Fanie, ’n spoorwegwerker, het met sy vrou se rewolwer sy eie lewe geneem.

Deon Coetzer, Fanie se beste vriend, sê dit was ’n groot skok. Hy het nooit oor selfdood gepraat nie.

“Toe die mense by die werk hoor Fanie het sy eie lewe geneem, het almal gesê: Heng, hy is mos nie so ’n soort ou nie.

“Hy was die Saterdagoggend voor sy dood nog by my en hy en Louisa sou die dag daarna vir hul jongste dogter, Tanja, ’n partytjie gehou het. Sy het dié Sondag verjaar.

“Louisa het goeie geld gekry toe Fanie dood is. Die Spoorweg alleen het haar minstens R25 000 gegee en hulle het die huis vir haar afbetaal.

Graham in die prentjie

“Daar was baie stories oor Fanie se dood. Want net ’n week ná die moord het iemand van die werk video’s by Louisa se huis gaan haal. Toe haar dogter die deur oopmaak, sê sy: ‘Oom moet net ’n bietjie wag, mamma en oom Graham is in die bad.’ “

Graham Chatburn en Louisa het net ’n maand lank ’n verhouding gehad voor hulle verloof geraak het. Twee jaar tevore is hy van sy eerste vrou, Susanna, geskei.

Susanna vertel: “Hy was ’n saggeaarde man. Ná ons egskeiding was ons steeds vriende. Op ’n dag het hy my gebel en gesê hy het ’n baie sexy vrou ontmoet. Hy het gesê hy gaan met haar trou, en een Saterdagoggend het ek saam met hom na ’n juwelier gegaan om ’n ring te help uitsoek.”

Ricky Chatburn, die vermoorde man se seun, sê Louisa was dol oor seks.

“Ek het vyf maande lank by hulle in die huis gebly, en dit was sy wat my pa aan die hand kom gryp het terwyl ons rugby gekyk het voor die TV. Nie tien minute nadat die kamerdeur toegegaan het nie, kon jy die geluide binne hoor. Ek het altyd vir my pa gesê hulle moenie so lawaai nie, want die kinders hoor hulle.”

In September 1991 laat Louisa haar borsmaat aansienlik met plastiese chirurgie laat vergroot. Later het sy ook vet uit haar bobene laat suig.

Die mense wat Graham en Louisa Chatburn ná hul troue gesien het, het ’n gelukkige paartjie gesien. Hy was byna 50 en sy net 32, maar dit het gelyk of hulle goed bymekaar pas.

Getroud, geskei, weer getroud

Maar toe, skielik, wou Louisa skei. Sy het ’n egskeidingsgeding aanhangig gemaak. Graham het nie daarvan geweet nie.

Op 6 Maart 1991 het ’n versekeraar die egpaar gaan spreek. Graham het 'n polis van R125 000 uitgeneem waarvan sy die begunstigde was.

Op 7 Maart vind hy toe van die egskeiding uit. Hy het net sy motor en klere gekry en was hartseer en verstom. Nogtans het hulle ’n testament onderteken waarin Louisa alles erf. Graham het dit gedoen omdat hy gedink het hy sou haar terugkry.

Op 1 Mei het die polis in werking getree. En op 3 Mei is Louisa en Graham geskei.

Hulle besluit toe om weer te trou. Maar intussen het Louisa hul huis verkoop en toe R68 000 wins uit dié transaksie in haar bankrekening inbetaal word, stel sy die troue af.

Op 15 Oktober het sy navraag gedoen oor die polis wat Graham aan haar gesedeer het. Sal die polis nog uitbetaal word as hulle nie meer getroud is nie?, wou sy weet. Die antwoord was nee. Die R68 000 het gou opgeraak. Binne ’n paar maande was net ’n paar honderd rand in haar rekening oor.

'n Vreemde Kersgeskenk

Op 13 Desember het sy en Graham ’n tweede keer getrou. Toe is die polis weer van krag.

Enkele dae ná die troue het sy ’n wapenhandelaar in Brackenfell gebel. Sy het navraag gedoen oor ’n kruisboog. Op 24 Desember het sy dit gaan koop. Dis ’n geskenk vir haar man, het sy gesê.

Dis ’n eienaardige geskenk. Graham het nie van wapens gehou nie. Hy het gesê hy gril daarvoor.

En op Kersdag was geen kruisboog onder die boom nie.

Die familie en vriende het almal by die Chatburns gekuier, en Graham het verduidelik daar is nie geld vir duur Kersgeskenke nie. Tog is daar ’n aktetas en skeermiddels vir Graham en iets vir elkeen van haar dogters.

Die familie het gelag en gesels. Almal kon sien dit gaan goed met Graham en Louisa, want hulle het selfs van ’n baba gepraat. Hulle het al babaklere gekoop. Hulle het op die bank gesit en hande vasgehou, hul bene oormekaar gevleg. Hulle het gelukkig gelyk.

Niemand het weer iets gehoor van die kruisboog nie.

Louisa het weer wapenwinkel toe gegaan. Die handelaar moes die boog uit die omhulsel haal en vir haar aanmekaarsit. Later was sy weer daar. Sy wou weet hoe ’n mens so ’n boog span. Dit was Februarie 1992.

'n Uitkenningsparade en Louisa Chatburn word uitgewys as die vrou wat 'n kruisboog gekoop het.

En toe, vroeg op ’n Sondagoggend in Februarie vanjaar (1992) het Graham Chatburn verdwyn.

'Here, seën die hande wat die kos berei het'

Dit was vooraf afgespreek: dié Sondagmiddag sou Graham se ouers by Louisa-hulle gaan eet. Vreemd, Graham het hulle genooi, maar hy was nie daar toe sy ouers opdaag nie.

Victor en Doreen Chatburn wou onmiddellik weet waar hul seun is.

Hy het sesuur opgestaan en gaan stap, het Louisa geantwoord. En hy is nog nie terug nie.

Vreemd. Graham werk Saterdae. Op Sondae slaap hy gewoonlik laat. En hy stap nie graag nie. Hy het ’n kortbroek en wit hemp aangehad, het Louisa onnodig bygevoeg.

“Het julle 'n rusie gehad?” het Doreen gevra. Maar Louisa het haar kop geskud.

“Kom ons eet nou,” het sy gesê. “Die kos word koud.”

Sonder Graham?

“Wag ’n bietjie,” sê Victor Chatburn, “ek wil net eers in die straat gaan kyk of hy nie aankom nie.”

Graham was nie daar nie. En Louisa het haastig geraak. Hulle het toe maar aangesit en Victor Chatburn het 'n tafelgebed gedoen.

“Here, seën die hande wat die kos berei het,” het Victor oudergewoonte gevra. Min het hy besef dat hy op dié oomblik die seën vra op die hande wat enkele ure tevore sy seun se liggaam onder die donker water van die Swartrivier laat inrol het.

Die ete was van korte duur, die gesprek yl. Louisa het niks gesê van die splinternuwe slaapkamerstel wat sy die vorige week bestel het nie. Die verkoopsman het nog gevra of hy die stel sommer dadelik kon aflewer. Maar nee, Louisa wou dit beslis eers die Maandag hê.

Iemand het nog vleis gevra.

“Ek moet net nog iets oorhou vir Graham,” het Louisa gesê terwyl sy skep. “Ek wil vir hom ’n bord kos opskep, dan maak ek dit sommer in die mikrogolfoond warm.”

Sy moet ’n vriend in die hospitaal gaan besoek, het Louisa ná die ete gesê. Sy het haar mooi gaan aantrek en toe vir haar skoonouers gevra: “En julle wil seker nou huis toe gaan om ’n bietjie te gaan slaap?”

Later het die familie begin soek. Graham kon nie net weg wees nie. Louisa het nie aangebied om te help nie.

Sondagaand: Die Here verskyn aan Graham se ma, laat haar in tale praat. Skielik was alles vir haar duidelik: haar seun is dood.

Maandagoggend, 17 Februarie: Louisa het doodgewoon haar gang gegaan. Die kinders is skool toe en sy het haar hare laat sny.

Maandagaand: Die slaapkamerstel word afgelewer. Splinternuut, vir die begin van ’n nuwe lewe.

Die lyk van Graham Chatburn word in die Swartrivier gevind. Die familie het die skoknuus aan Louisa oorgedra.

“Ons het Graham se tande en horlosie aan haar oorhandig," het Noel Chatburn vertel. “Maar sy het dit vies eenkant toe geskuif met die woorde: ‘Gooi die tande in die drom.’ “

'Hy is g’n evangelis nie'

Tossie Bennett het kom help.

Op ’n dag, terwyl sy by Louisa was, was daar ’n klop aan die deur. Op die drumpel het Gerhard Erasmus gestaan. Louisa was kortaf met hom, en hy het weer geloop. Maar nie vir lank nie, want hy het ’n goddelike opdrag gehad.

“Hy is g’n evangelis nie,” het Tossie gesê. “Hy gaan van die een bediening na die volgende. Hy is nou al sewe jaar sonder werk. Sy vrou onderhou hom, want hy het vir haar gesê God het hom opdrag gegee dat hy by die huis moet bly om mense te help.

“Einde Maart het ek Mosselbaai toe getrek, en toe bel Louisa en sê sy wil van alles wegkom. Gerhard en sy vrou, Corrie, kom saam," vertel sy.

“Maar op die ou einde was dit net Louisa en Gerhard wat opgedaag het. Ek het vir hulle twee aparte kamers aangebied, maar hulle het gesê hulle slaap sommer in die sitkamer op die mat.

“My man het gesê hier kom ’n ding. Dit was in die manier waarop hulle mekaar aangeraak en op die strand gaan stap het, hul arms om mekaar.”

Louisa Chatburn, die vrou wat haar man met 'n kruisboog vermoor het. Haar mooi oë verklap niks.


Binne ’n week ná Graham se dood het Louisa navraag gedoen oor die polis. Wanneer word dit uitbetaal?

Nie lank daarna nie het die opspraakwekkende hofsaak begin. Toe Louisa en Gerhard in hul rooi motortjie voor haar huis in Hoffstraat, Kraaifontein, stilhou ná die dag se verrigtings, het die bure sit en wag.

Op die stoepe in Hoffstraat het die stoele gereed gestaan, vroue het agter bakhande gepraat. Ander het na die rooi motor gewys.


En nou is die drama in Hoffstraat ook verby. Nou sit Louisa Aleta Chatburn in die Pollsmoor-gevangenis om 25 jaar tronkstraf uit te dien. Haar twee dogters is tuis by die ouers van vriendinne. Hulle weet nie wanneer hulle hul ma weer gaan sien nie.

En Gerhard Erasmus gaan ook nie vir Louisa wag nie. Hy is terug by sy vrou, Corrie.

“Gerhard is weer by my,” sê sy snikkend.

“Hy was so bekommerd oor my. Hy kom hier aan en sit sy arms om my en vra of dit goed gaan. Dan moet hy mos vir my omgee.”

Die moordenares, die evangelis en die evangelis se vrou

Ek het my man terug . . . of het ek?

Louisa Chatburn is pas by die Kaapse hooggeregshof in ’n polisiemotor weggeneem. Vir 25 jaar.

Gerhard Erasmus, die man wat haar sedert die begin van die uitgerekte verhoor soos ’n skadu gevolg het, is vir die eerste keer in weke nêrens te sien nie. Hy is haastig in haar rooi motor daar weg.

Hy en Corrie, sy vrou.

Is julle weer bymekaar? vra ons by hul huis in Kraaifontein.

Gerhard probeer verbaas klink.

“Was ons dan ooit uitmekaar?” Maar hy gesels nie veel nie.

Net Corrie straal. In die laaste weke was haar man dag ná dag by die hofsaal waar Louisa Chatburn verhoor is, en nag ná nag onder Louisa se dak. Maar nou is hy terug. Al is dit onder die wolk dat hy dalk bloed aan sy hande het.

Corrie Erasmus. Foto: Gallo Images/Getty Images.

“Ek is regtig lief vir Gerhard en ek wil hom nie nou verloor nie,” vertel sy.

“Hy is onskuldig. Hy kon nie vir Louisa daardie nag gehelp het om Graham te vermoor nie, want hy was by my.

“Ons het tot laat in die nag gelê en TV gekyk. Ons het nie video’s nie. Ons het saam gaan slaap en saam wakker geword. Ek slaap vreeslik lig, hy kan net roer, dan is ek wakker."

Gerhardus die kat skuur teen haar bene.

“Ag, hy gee my liefde. Een aand toe ek by die huis kom, sê Gerhard: ‘Kom kyk wat het ek vir jou.’ Hy het hom die naam Gerhardus gegee.”

Corrie raak effens verleë.

“As ek so huil soos die afgelope tyd, dan sit hy sy pote onder my nek en sy kop op my bors. Katte verstaan ’n mens.”

Gerhard raak haastig. Hy moet nog baie draaie ry. Louisa se hond moet Paarl toe. Hy moet nog baie ander sake van Louisa afhandel.

Louisa. Corrie straal skielik nie meer nie.

As ons êrens heen ry en Louisa gaan saam, moet ek soos 'n hondjie agter in die motor sit.

“Gerhard sê die Here het hom opdrag gegee om haar te help. Maar die Here gee mos nie vir ’n mens so ’n opdrag nie. Ek het hom eers geglo toe hy sê daar is niks tussen hulle nie, maar ek glo dit nie meer nie. Ek het begin twyfel van Julie af toe ek met vakansie by die huis was.

“As ons êrens heen ry en Louisa gaan saam, moet ek soos 'n hondjie agter in die motor sit. Daar sit hulle twee voor soos man en vrou. Ek het nie lekker gevoel daaroor nie.

“Toe vra ek hom hoekom laat hy my nie voor sit nie. Hy het my nie geantwoord nie."

Dit was vir haar sleg toe Gerhard so met die “ons” begin. Vir hom en Louisa sê hy deesdae “ons”. Dit maak seer, sê Corrie, as jy weet dis jou man en hy praat so van hulle as “ons”.

Hy het al vir haar gesê dis sy wat hom in Louisa se arms ingedryf het — as dit dan nou so is dat daar iets tussen hulle is. Maar sy en Gerhard is darem al saam sedert sy 16 is, 22 jaar al. En ’n mens gooi dit nie sommer weg nie.

Dit het haar wel soms gepla dat Gerhard nie werk nie. "Dis nie lekker om alles self te doen nie. Dis mos hoekom jy trou, dat jou man jou kan help om die las te dra."

Corrie kyk na haar hande.

Nou praat hy nie eens met my nie en hy kyk nie eens na my kant toe nie.


“Ek bid nou en sê vir die Here dit is in Sy hande as hy wil hê ons met weer by mekaar uitkom. Ek bid vir Gerhard, want ek kry hom jammer. Ek wil hom nie verloor nie.

“Nou praat hy nie eens met my nie en hy kyk nie eens na my kant toe nie. Ek weet nie of hy lief is vir haar nie, ek weet nie eens wat in sy kop aangaan nie.”

Die vorige aand het dit vir haar gevoel sy kan nie meer nie, toe stort sy ineen. Iemand het Gerhard by Louisa se huis gebel. Hy het haar kom haal, hospitaal toe geneem en ná ’n uur weer teruggebring huis toe.

En in die motor op pad hospitaal toe het Gerhard die hele tyd sy arms om haar gehou. Dit was so wonderlik . . .

Sy glimlag, vee ’n klammigheid uit haar oë.

“Hy het gehuil vir Louisa, hy het netnou hier vir haar gebid en gehuil. Dit was so mooi. Ek het hom jammer gekry en my arms om hom gesit en hom vasgehou.

“En weet jy, voorheen het hy my altyd weggestoot, maar dié keer het hy my vasgedruk. Ek dink hy was bly.”

En nou moet hulle ry, Paarl toe. Gerhard sit voor, Corrie sit weer agter; sy en Louisa se hond.

Louisa en haar liefdes

In haar boek Fatal Females: Women Who Kill skryf Micki Pistorius daar was onvoldoende bewyse om Gerhard met die moord te verbind omdat sy vrou vir hom 'n alibi verskaf het.

Die hof het bo alle redelike twyfel bewys die moord is met voorbedagte rade gepleeg en Louisa se bewering van herhaaldelike mishandeling deur haar man is verwerp.

Louisa het kort ná skool met haar eerste man, Fanie du Toit, getrou. In Julie 1989 het hy Louisa se vuurwapen gebruik om sy eie lewe te neem. Hulle was 12 jaar lank getroud. Vier maande later het Louisa met Graham Chatburn getrou.

Op 14 Maart 2017 het Louisa se derde man, Hein Bruhin (58), aan kanker gesterf. Sy het hom deur 'n gemeenskaplike kennis ontmoet terwyl sy nog in die tronk was. Sy is in September 2007 op streng parool vrygelaat en hulle het 'n maand nadat haar paroolvoorwaardes in November 2015 verstryk het, getrou. Hulle het by sy kinders gebly.

"Die een dag het Hein nog gewerk, die volgende dag was hy bedlêend en het hy nooit weer teruggekom werk toe nie," het 'n bron destyds aan die Weekend Argus gesê.

Gerhard Erasmus het ook aan kanker gesterf terwyl Louisa nog in die tronk was.

Louisa en die doodstraf

Hoewel die staat die doodstraf vir Louisa versoek het, het sy die galg vrygespring.

Die laaste vrou in Suid-Afrika wat galg toe gestuur is, was Sandra Smith (24) wat op 15 September 1986 van die moord op Jermaine Harris aangekla is.

Haar minnaar, Yassiem Harris (21), is vyf dae later ook van dieselfde moord aangekla.

Sy is op 11 Desember 1986 ter dood veroordeel en na die destydse Sentrale Gevangenis in Pretoria (nou die Kgosi Mampuru-gevangenis) oorgeplaas. Sy, Harris en nog twee ter dood veroordeeldes is op 2 Junie 1989 om 06:50 die 52 trappe na die galg begelei.

In 1990 het die destydse president. F.W. de Klerk, 'n moratorium op die doodsvonnis geplaas en op 7 Junie 1995 is dit in geheel deur pres. Nelson Mandela geskrap.

Huisgenoot: Ware Lewensdramas
Die episode oor Louisa Chatburn en die kruisboogmoord word op Donderdag 11 Oktober om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai. Die program word op Sondagaand om 21:00 op dieselfde kanaal herhaal.

Ekstra bronne: netwerk24.com, books.co.za, pressreader.com, capitalpunishmentuk.org