Laaste aardse paradys van Pieter Pieterse — deur Elretha Louw en Marie Opperman (Huisgenoot 4 April 2002)
Hy was swerwer, verteller, kosmaker, gelowige en ‘hond sonder tande’ — roerende onthou van sy vriende.

Sy vriende op Stomp­neusbaai was verbaas toe Pieter Pieterse verlede Oktober die Weskus-sand van sy voete spoel, oppak en sy kêrewêntjie tot in die Bosveld sleep om saam met die lngelsman daar te gaan woon.

"Dit was 'n baie vinnige besluit. Ons het dit almal baie vreemd gevind," vertel John Holmes, sy boesemvriend op die kusdorp.

Op Stompneusbaai was Pieter so gevestig soos enige swerwer maar kan wees. Vrydagaande het hy die buurt se kinders in sy bakkie gelaai om te gaan voëls kyk.

Pieter, self 'n pa van vyf en oupa van elf, het ook die kinders op uitstappies geneem om die veldplante te leer ken. Sondae het hy Sondagskool gehou, maar eerder op die strand of in die veld as in die kerk.

Pieter Pieterse het al so deel geword van Stompneusbaai dat toeriste by die eerste kafee gevra het waar sy huis is. En as hy weer kyk, stap hulle by die woonwa op sy werf in waar hy sit en skryf om ’n foto te neem.

“Pieter se grootste probleem was dat hy volksbesit geword het,” vertel John. “Dit het hom gegrief dat hy nie meer privaatheid gehad het nie. Hy wou in rus en vrede gaan skryf.”

Ek het muskiete in gedagte gehad, nie skurke nie.

Sy jarelange vriend, die akteur Zack du Plessis, het Pieter probeer afraai van sy planne om na Marlothpark, ’n vakansiedorp naby Komatipoort, te trek. Dit is malaria-wêreld en dié tropiese siekte het die swerwer-skrywer al tevore by die dood laat omdraai.

“Ek het muskiete in gedagte gehad, nie skurke nie,” sê Zack.

Net vyf maande later het Pieter se vrou, Jenny, by haar aankoms van ’n besoek aan Kaapstad op sy ontbinde lyk langs die swembad afgekom. Hy is sowat 28 keer met ’n skerp voorwerp in die hart, longe en kop gesteek. Pieter (66) het net ’n kortbroek aangehad en was, soos altyd, kaalvoet.

Omdat hy veral in die laaste jare van sy lewe so diep gelowig was, is dit minder moeilik om met sy dood vrede te maak, sê van sy vriende.

“Pieter loop nou kaalvoet op ’n baie beter plek as ons,” glo die storieverteller Danny Pretorius.

Die dag toe hy daar in die kêrewêntjie op Tietiesbaai getroud is met Jenny — die Ingelsman soos hy altyd van sy tweede vrou gepraat het — wou hy nog sy skoene aantrek toe is die predikant al daar, het Pieter graag vertel. Maar toe sien hy gelukkig Jenny is ook kaalvoet . . .

Pieter en sy lngelsman voor die woonwa wat jare la
Pieter en sy lngelsman voor die woonwa wat jare lank hul tuiste was. Foto: Nardus Nel/Huisgenoot

Die laaste keer dat Danny hom gesien het, was ná die Aardklopfees kaalvoet op die Johannesburgse lughawe met ’n blik snoek wat hy vir iemand aangekarwei het.

“Mense het partykeer gedink hy is eienaardig, want Pieter sou sommer enige plek kaalvoet aankom, in ’n drafbroekie en frokkie,” vertel Zack.

“Maar dit was sy manier om na aan die natuur te leef.”

Met die stories wat hy geskryf en ook later vertel het, het hy gereeld op rolprent- en TV-stelle beland. Tog het hy nie van die kollig gehou nie.

Pieter het op sy lekkerste gekuier saam met net so twee, drie mense.

Ek het vandag genoeg van mense gehad.

“Wanneer ons klaaraagemaak het met Maak ’n Las en die mense partytjie gehou het, het Pieter altyd kruisbeen eenkant onder ’n boom gesit met sy beker Tassies,” vertel Gert van der Walt, vervaardiger van die reeks.

As hulle hom gevra het of hy nie wil saam kuier nie, het hy gesê: “Ek het vandag genoeg van mense gehad.”

Tydens die opnames by Goudini het hy en Jenny verkies om hul woonwa langs die gastehuis te trek waar die res van die TV-span tuisgegaan het.

Pieter was maar skrikkerig vir televisiewerk en dit was wonderlik om te sien hoe Jenny hom ondersteun en voorsê, vertel Andries Krogman.

“Sy het papiertjies opgehou om te wys watter storie hy moet vertel of wanneer hy moet ophou praat.”

Vir Ollie Viljoen was dit bitter moeilik om ’n skrale twee maande ná die motorongeluk wat die lewe van sy vrou, Estelle, Tolla van der Merwe en ook later Koos Meyer geëis het, weer as regisseur van Maak ’n Las in te val.

“Die eerste oggend het Pieter my eenkant toe geroep. Hy het gevra of hy vir my kan bid. Dit het vir my meer beteken as enigiets anders . . .”

Hy het die soort lewe gelei waarvan die meeste stadsjapies net droom.

Pieter het Suider-Afrika deurkruis — van Stompneusbaai tot by Torrabaai aan die Namibiese Seekus van die dood, van Dasseneiland tot Damaraland, van Timbavati tot Barotseland in die weste van Zambië en dwarsdeur Mosambiek op soek na ’n staanplek vir sy woonwa.

In Jenny het hy ’n siels- en reisgenoot gevind.

“Dit lyk my as die een ’n gevoel kry oor ’n ver plek, dan het die ander een hom ook,” het Pieter eenmaal gesê.

Elke keer as hy na ’n ander plek getrek het, het hy ’n ander boek geskryf met daardie tema.

“Om vir ’n paar maande op een plek te bly en dan weer op ’n ander plek, was vir hom verrykend,” meen Zack.

“Elke keer as hy na ’n ander plek getrek het, het hy ’n ander boek geskryf met daardie tema.”

Pieter wou elke plek sien wat die Skepper mooi gemaak het, vertel Gert.

“Hy het nog altyd gesê ’n mens het nog nie die wêreld gesien as jy nie die son op verskillende plekke sien ondergaan het nie.”

Te lekker bad Pieter in die Mo­talerivier.
Te lekker bad Pieter in die Mo­talerivier.

In die Caprivi wou hy nesskop, maar om sy eie lappie grond te kry moes hy eers lid van die Mafwe-stam word — ’n proses wat stof vir ’n hele boek opgelewer het.

Maar toe kry hy malaria en draai by die dood om.

“Toe hy feitlik sterwend was, het hy die Here ontmoet,” vertel John. “In sy swerwersbestaan het Pieter altyd geweet die Here is saam met hom, maar hy het Hom nie geken nie.”

Dit was asof die Here destyds sy hand gevat en hom genees het, het Pieter later vir Andries gesê.

“Hy en Jenny het destyds nie eens ’n Bybel gehad nie, maar hulle het skielik ’n groot behoefte gekry om hul harte vir die Here te gee, en het ’n Bybel gekoop,” vertel Petrus Swanepoel van Ngodwana in Mpumalanga.

Die naweek voor sy dood het Pieter nog by die NG kerk op Komatipoort se Makarios-mannekamp vir geestelike verryking van sy bekering vertel.

Ses jaar gelede, nadat hy van die malaria-aanval herstel het, het Pieter en Jenny besluit om terug te keer Stompneusbaai toe.

Sy eiendom aan die Zambezi-rivier het hy vir sendingwerk beskikbaar gestel, al het hy goeie aanbiedinge gehad van mense wat ’n vakansieoord daar wou ontwikkel. Sy boek Tietiesbaaikos het hy verkoop ten bate van die sendingstasie wat daar tot stand gekom het.

Terug op Stompneusbaai het hy dienste vir swart werkers in Noord-Sotho gehou. Hy het dit so vlot soos sy moedertaal gepraat. Sondagoggend het hy dikwels die kerk binnegestap met ’n hele rits swartmense.

Op ’n dag wou Pieter vir die Here ’n brief skryf en hy het die afsondering van ’n eilandjie aan die Weskus opgesoek, vertel Danny. Maar toe storm ’n buffel hom en hy moes haastig die aftog blaas.

“Bid is nie vir sissies nie,” was Jenny se kommentaar toe Pieter met dié storie by die huis kom.

“Hulle het daaroor nagedink en op die ou end het Pieter besluit partykeer moet ’n mens ’n sissie wees om te kan bid.

John onthou sy vriend as ’n mens wat net so maklik gehuil het as wat hy gelag het.

“As die musiek baie mooi was in die kerk, kon ons nie vir mekaar kyk nie, want dan huil ons. Die volgende dag lag ons dan oor gister se huil.”

Oor die dood het die twee boesemvriende dikwels gepraat. “Pieter het geweet die Here wag vir hom,” sê John.

Pieter was gelukkig by sy laaste plek, in die paradyswêreld van sy jeug, glo John.

Oor die telefoon het hy vertel van die koedoe-koei wat so mak geword het dat hy vir haar piesangs voer. “Hoor hoe kou sy,” het Pieter gesê, en sy selfoon voor die dier se bek gehou dat John daar ver op die Weskus kon hoor . . .

Ná die roudiens in Pretoria het Ollie, Zack en Gert ter ere van Pieter ’n glasie Tassies gaan drink.

“Dit was al wat hy gedrink het, en hy het dit altyd uit ’n blikbeker gedrink,” vertel Gert.

“Hy was ’n goeie mens, ’n hond sonder tande. Hy het nooit in enige mens kwaad gesien nie. Die mense wat hom doodgemaak het, kon hom maar net sy woonwa gevra het, en hy sou dit gegee het.”

Dis vir hom hartseer dat Pieter moes sterf op die plek waar hy graag wou oud word.

“Olifante en leeus loop los daar rond. Dis waarvan hy gehou het. Hy het gesê dis vir hom die mooiste plek . . .”

Wanneer en waar?
Huisgenoot: Ware Lewensdramas word elke Maandag om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai. Episodes word die daaropvolgende Maandag om 14:00 herhaal.