Corrie: ‘ ’n sagte ou vol omgee’ – Alet van Zyl, Huisgenoot 4 Oktober 2013
Vriende en familie is teen die grond na die onsinnige moord op die bokslegende Corrie Sanders in ’n rooftog in ’n restaurant.

In sy laaste SMS het Corrie Sanders haar belowe hy is binnekort by haar huis. Maar nege minute later het ’n rower se koeël dié Suid-Afrikaanse bokslegende en gewese wêreldkampioen noodlottig in die maag getref.

“Ek wou net daar wees toe hy daar gelê en so seer gehad het,” sê sy vriendin van die afgelope twee jaar. Ek kan nie ophou wonder waaraan hy toe gedink het nie.”

Die trane loop oor Elsabé Gouws (44) se wange.

Corrie (46) is ure later in die Kalafonghospitaal buite Pretoria oorlede.

Elsabé en haar seun, David (10), sou die Saterdag saam met Corrie gegaan het na sy broerskind se mondigwordingsete in ’n restaurant op Brits. Maar die middag het sy olik gevoel en hy het vieruur alleen vertrek.

“Hy wou my nie alleen los nie, maar ook nie die familie teleurstel nie,” vertel Elsabé.

In die volgende drie uur het hy gereeld boodskappe gestuur om te hoor hoe dit met haar gaan, om te sê hy mis haar, is lief vir haar en sal gou huis toe kom.

Om ses minute voor sewe het sy die laaste keer van hom gehoor. Sy het daarna nog drie boodskappe gestuur . . .

Omdat die gewapende mans die gaste van hul selfone beroof het, kon niemand Elsabé laat weet wat gebeur het nie. Eers elfuur die aand het Kurt Darren se vrou, Dunay, gebel. Sy het gesê haar man het op Twitter gesien Corrie is geskiet en wou weet of dit waar is.

“Ek weet nie,” het Elsabé geantwoord, maar eintlik het sy dadelik geweet. Dit was waarom sy nie van hom gehoor het nie.? Corrie se broer, Michael, het Elsabé oor die foon van die skietery vertel.

Toe kom die skoknuus: Corrie is dood.

Corrie se vriendin, Elsabé Gouws, en haar seun, David. Foto: Huisgenoot/Dino Covevilla

“Hy’t dikwels gesê wanneer hy eendag weg is, gaan ek hom baie mis, want daar is min sulke opregte mans soos hy,” vertel Elsabé en glimlag deur haar trane. “Maar ek het nooit kon dink hy sal regtig eendag vir altyd weg wees nie.”

Sy gaan Corrie se nabyheid die meeste mis. “Hy kon my nie langer as vyf minute uitlos nie en wou my altyd vashou. Hy het altyd gesê dis so lekker om my naby te hê.

“Weet jy, hy was so ’n nederige ou.”

Corrie was vir haar seun ’n vaderfiguur en het elke dag saam met hom krieket gespeel.

“David kon nie gisteraand aan die slaap raak nie. Hy het my wakker gemaak en gesê ek moet hospitaal toe gaan; Corrie is nie dood nie.”

Maar dit was net ’n droom. Corrie se dogter, Marinique (15), sê haar pa het belowe hy sal haar tot sy dood toe beskerm. En hy het, want toe die rowers wild en wakker losbrand, het hy voor haar inbeweeg.

Corrie het voor sy dogter, Marinique, inbeweeg toe
Corrie het voor sy dogter, Marinique, inbeweeg toe die rowers op die gaste losbrand. Sy seun, Dean, was ook by die partytjie.

“Ek sal hom altyd onthou as ’n liefdevolle mens wat ander gehelp het. My held en die beste pa ooit.”

Sy seun, Dean (12), sê sy pa was altyd blymoedig, selfs wanneer hy swaargekry het.

“Hy’t ’n goeie lewe gehad en voluit geleef. Ons sou vir my verjaardag iets lekkers gaan doen het. Hy het my altyd gevat om gholf te speel, al het ek nooit gewen nie.”

Dean het ’n laaste boodskap vir sy pa: “Dankie vir alles, Pa. Pa was die beste in die hele wêreld. Ek gaan Pa mis.”

So onthou hulle hom

Corrie (regs) kuier saam met die manne. Van links is die sanger Kurt Darren, die voormalige Springbok James Small en kampioenbokser Brian Mitchell. Foto: Gallo Images/Duif du Toit

Hy sal altyd Corrie Sanders se gereelde kuiers op sy wildplaas onthou, vertel ’n bewoë Kurt Darren. Hulle was die afgelope 10 jaar baie goed bevriend nadat hulle mekaar by ’n motorbekendstelling ontmoet het.

“Ons was dikwels speelmaats op die gholfbaan,” sê Kurt. “Hy was ’n ongelooflik goeie gholfspeler. Met ’n voorgee van een kon hy beroepsgholf gespeel het. Hy was goed in verskeie sportsoorte en sy kinders het sy sporttalent geërf. My hart gaan uit na hulle. Hy het hulle met soveel respek, liefde en goeie waardes grootgemaak.”

Corrie het graag spelerig na hom en Dunay se kant toe geboks, vertel die sanger.

“Dan sou hy so net voor jou gesig stop. Kyk, in bokskringe het hulle hom mos The Sniper genoem. Dunay het dit ook later met hom gedoen en hy’t gedink dis groot pret.”

Kurt raak so aangedaan dat hy nie verder kan praat nie. Toe hy later terugbel, vertel hy bewoë hoe Corrie hom bygestaan het toe Kurt en sy broer rusie gemaak het. En hoe Corrie hom drie keer gebel het nadat drie mans hom onlangs in Oos-Londen in ’n rolprentteater gedreig het.

“Hy wou sommer afry om my te kom beskerm,” vertel Kurt. “Hy het net ’n manier gehad om my in enige situasie te kalmeer. Hy was altyd daar vir my en ek sal nooit vergeet wat hy vir my beteken het nie. Dat hy so skielik weggeruk is, is baie hartseer en ek gaan hom ontsettend baie mis. Hy was ’n ongelooflike ou.”

Op 8 Maart 2003 word Corrie die Wêreldboksorganisa
Op 8 Maart 2003 word Corrie die Wêreldboksorganisasie (WBO) se wêreldkampioen verslaan. Foto verskaf

Die omroeper Darren Scott was ook baie goed bevriend met Corrie. Hy sê min mense het geweet die “sagmoedige reus” het in sy laaste jare noustrop getrek.

“Dit was vir my ’n eer dat hy die intieme besonderhede met my gedeel het. Hy dit nooit teenoor ander mense laat blyk nie. Hy het liewer net geglimlag, hul geselskap geniet en gesorg dat hulle ook sy geselskap geniet, terwyl hy sy eie stryd vir homself gehou het.

“Hy het elke dag ’n stukkie uit die Bybel gelees en was seker die Here het ’n plan vir hom gehad en dat alles sou regkom. Sy probleme is nou verby. Tog kan ’n mens nie verstaan dat so ’n sagmoedige siel deur soveel haat weggeneem moes word nie.”

Die voormalige Springbok-losskakel Naas Botha was ook jare lank met Corrie bevriend.

“Ons het ’n lang pad saam gestap en mekaar dikwels by gholfdae gesien. Hy was ook rugbymal en het goed by rugbyspelers ingeskakel,” onthou Naas.

“Min ouens sal iets slegs van hom kan sê. Hy was ’n fantastiese mens. Vir die sport waarin hy was, was hy verskriklik saggeaard. En hy het nie die woord ‘nee’ geken nie. Hy was altyd daar wanneer iemand hom nodig gehad het.”

Naas kan nie sien wat dit help om oor die moord te praat nie.

“Ons praat heeltyd hieroor en min word gedoen,” sê hy. “Môre praat ons oor iemand anders wat dieselfde oorgekom het. Hy was op die verkeerde tyd op die verkeerde plek. Dit is skrikwekkend dat hierdie goed gebeur.”

Brian Mitchell, Suid-Afrika se voormalige junior liggewigwêreldkampioen, het Corrie meer as 20 jaar goed geken.

“Toe ek teen Tony Lopez in Sacramento gaan veg, was ’n Corrie ’n jong bokser wat pas vir Johnny du Plooy uitgeklop het. Hy het saamgekom as my lyfwag en vriend,” vertel hy.

Brian het daarna baie van Corrie se gevegte bygewoon.

“Hy was so ’n aangename ou; altyd betrokke by welsynwerk en ’n goeie ouer. Hy was die grootste swaargewig-bokser wat hierdie land nog gehad het. Dit het hy bewys toe hy Wladimir Klitschko uitgeklop het,” sê Brian.

“Ons het iemand besonders verloor.”

Corrie deur die jare

1966

Gebore in Pretoria op 7 Januarie.

1989

In die eerste van 46 beroepsgevegte slaan Corrie King Kong Dyubele in die eerste ronde katswink.

1994

Ná 23 opeenvolgende oorwinnings verloor hy vir die eerste keer ’n geveg, teen Nate Tubbs. In sy hele loopbaan sou daar net nog drie nederlae wees.

2003

Op 8 Maart word Corrie die Wêreldboksorganisasie (WBO) se wêreldkampioen toe hy Wladimir Klitschko van die Oekraïne met ’n tegniese uitklophou verslaan.

Hy is slegs die derde Afrikaan wat hierdie titel verower. Die gesogte bokstydskrif Ring Magazine wys dit aan as die verrassing van die jaar. Hy doen in Desember van sy WBO-titel afstand, want hy wil hom daarop toespits om die Wêreldboksraad (WBR) se kampioen te word.

2004

In ’n WBR-titelgeveg verloor hy teen Vitali Klitschko, Wladimir se broer.


2008

In sy laaste beroepsgeveg ding hy teen Osborne Machimana om die Suid-Afrikaanse swaargewig-kampioenskapstitel mee, maar hy verloor.

2012

In die vroeë oggendure van 23 September sterf hy op 46 nadat hy die dag vantevore in ’n gewapende rooftog geskiet is.


Bronne: beeld.com, biographybase.com, en.wikipedia.org
  • Heruitsendings van Huisgenoot: Ware lewensdramas is Sondae om 20:30 op VIA (DStv-kanaal 147).