Grumoord in die kerktuin — deur Carol Coetzee (Huisgenoot 3 November 2005)
Huisgenoot 3 November 2005
Huisgenoot 3 November 2005
Sy is gesodomiseer en versmoor. Wie kon so iets doen aan ’n mensliewende agttienjarige?

Met Kersfees sou sy Mosambiek toe gegaan het saam met haar beste vriend en sy gesin en sy sou vir die eerste keer geduik het.

Daarna was dit Wallis toe, waar sy aanstaande jaar by haar ouma en oupa wou gaan woon en werk het. Dan wou sy haar groot droom laat waar word – om haar eie gastehuis hier in Suid-Afrika te bedryf.

Nou gaan daar niks meer van kom nie. Jessica Wheeler (18) is dood.

13 Oktober

Op die skilderagtige dorp Knysna tussen die heuwels en die see aan die Suid-Kaapse kus skud mense net die kop en praat in gedempte stemme oor die mooi, borrelende tiener wat voor hulle grootgeword en as kelnerin by restaurante op die dorp in soveel mense se hart gekruip het. Wat vrou begin word het, maar hulle steeds met haar kinderlike avontuurlus betower het.

Haar halfnaakte liggaam is nou so twee weke gelede in die tuin van ’n historiese kerkgebou in die hoofstraat gevind. ’n Werklose man het toevallig op haar afgekom toe hy deur die terrein van die Anglikaanse kerk St. George geloop het.

Eers het dit gelyk of sy verkrag en versmoor is hier in die kerktuin reg langs die woonstelgebou waar sy gewoon het.

Maar vreemd, daar was geen skrape, kneusplekke of enige ander beserings aan haar liggaam nie. Toe blyk dit haar keel en mond was vol grond. En sy is gesodomiseer.

Het sy so met haar gesig in die grond versmoor terwyl iemand die grusame daad met haar gepleeg het?

Wat presies gebeur het, bly ’n tergende raaisel terwyl die polisie meer te wete probeer kom van die daad in die vroeë oggendure van 13 Oktober wat dié kusdorp tot stilstand geruk het.

Sy was ’n sonskynkind wat weggooihondjies by die Dierebeskermingsvereniging gaan versorg het. Sy was gelukkig as sy net tussen mense kon wees om hulle gelukkig te maak. Dat so een so aaklig moes sterf . . .

Onbeantwoorde oproepe

In Jessica se ouerhuis in ’n idilliese omgewing tussen ruie plantegroei naby Knysna se strandmeer is hartseer wat geen ma of pa wil ken nie.

Kevin (45) en Dusty Wheeler (42) het oornag tien jaar ouer geword. Hulle is platgeslaan en uitgemergel terwyl hulle probeer verstaan wat werklik met hul geliefde Jess gebeur het.

Hul leed ten spyt, het hulle besluit om tog oor hul dogter te praat. Die pyn is ondraaglik, maar hulle doen dit in die hoop dat dit iemand dalk sal beweeg om met inligting na vore te kom.

Dusty is die een wat dit die eerste gehoor het. Haar telefoon het daardie Donderdagoggend net voor nege gelui. Dit was Roxie, Jess  se beste vriendin.

‘‘Waar is Jess?’’ wou sy weet. ‘‘Haar foon is af en ons hoor ’n jong meisie is vermoor.’’

‘‘Dit was net te vergesog om te dink dis Jess wat dood is,’’ vertel Dusty. ‘‘Ek het ’n ander vriendin van haar gebel. Sy sê toe sy kry ook nie vir Jess in die hande nie. Toe bel ek nog een en sy sê ek moet dadelik dorp toe kom . . .

‘‘Die wêreld het om my begin toetrek. Maar hoekom hoor ek dan niks van die polisie nie? En Jess se woonstelmaat, Mike? Hoekom weet niemand iets vir seker nie?

‘‘Intussen bel nog ’n paar mense my en sê dit is nie Jess nie . . .’’

Dusty wou seker maak, toe bel sy die polisie. Twee van hulle het by die huis aangekom. Hulle het na Jess se foto’s gekyk, maar kon nie ’n antwoord gee nie.

Haar laaste ure

Toe hulle weer kom, vra sy hulle hoe die vermoorde se handsak gelyk het.

Dusty kan die trane nie keer wanneer sy dit alles herleef nie. Toe hulle haar antwoord, het sy geweet. Intussen het die dokumente in die handsak ook alles bevestig.

Hulle het dit daardie oggend naby haar liggaam gekry, oop, met haar selfoon en beursie nog daarin. Haar skoene het ’n ent weg gelê.

Al wat Dusty en Kevin van Jess se laaste ure weet, is dat sy die Woensdagaand soos gewoonlik tot omtrent tienuur by Cafe Sienna was waar sy twee maande gelede as kelnerin begin werk het.

Sy het gewoon daar ingeval ná haar middagskof by ’n Italiaanse restaurant net langsaan. Hierna het sy en haar vriende by ’n gewilde nagklub daar naby gaan kuier, tot sy so eenuur se kant huis toe is.

Haar woonstelmaat het vir haar en twee vriendinne tee gemaak toe haar selfoon lui en sy by die voordeur uit en ondertoe is. Hulle het haar nooit weer lewend gesien nie.

Dusty streel oor die pienk t-hemp wat sy aanhet.

‘‘Ek sien haar nou nog soos sy die vorige Vrydag ingedraf het by die boekwinkel waar ek werk. Ek was die dag te warm aangetrek. Toe vra ek haar om gou vir my ’n T-hemp te gaan koop, en sommer een vir haar ook.

Toe bring sy vir my die pienke – en iets lekkers om te eet.

‘‘ ‘Jammer, Mamma,’ het sy nog gesê, ‘die broodjie wat ek vir jou gekoop het, het koud geword, want ek het weer te lank met iemand langs die pad gepraat.’ ’’

Eie potjie krap

Dusty en Kevin was nie tevrede toe hul dogter net ná matriek verlede jaar in ’n woonstel op die dorp wou gaan woon nie, maar hulle het besef hulle moes haar toelaat om haar eie potjie te krap.

Ironies genoeg het ma en dogter toe nog nader aan mekaar gekom.

‘‘Dikwels het sy uit die bloute gebel en gevra ek moet haar kom haal dat ons kan kuier. Nes die Dinsdag voor haar dood. Ons het hier buite in die son gelê en lang stukke gesels. Sy het vertel van
haar eie gastehuis wat sy eendag gaan hê en wou weet hoe sy as kind was . . .’’

Dusty en haar vriendin Jill huil en lag deurmekaar terwyl hulle vertel van die oulike dogtertjie wat Jess was. Sy het altyd gesing en die woorde sommer opgemaak soos sy aangaan.

En sy het gedans.

‘‘Onthou jy daardie keer toe sy in my hoëhakskoene op rockmusiek haar balletpassies uitgehaal het!’’ sê Jill.

‘‘En daardie pop van haar wat gehuil het elke keer as die fopspeen uit is,’’ onthou Dusty.

Kevin sit sy hand vertroostend op Dusty se skoot. Sy lieflingdogtersal nooit weer vir hulle klavier speel nie. Nooit weer vir hulle sjokolade-bruintjies maak nie. Haar nommer is nog op sy selfoon, al kan hy haar nie meer bel nie.

Nou onthou hy ook die heel klein dingetjies: hoe Jess maar twee jaar was en die groot oranje naaldwerkskêr behendig vasgevat het om die een prentjie ná die ander netjies uit ’n tydskrif te knip . . .

In die sitkamer hang twee groot portrette van Jess, en nog ander waar sy as kind speel met haar ouboet, Devin (21), ’n student in chemiese ingenieurswese aan die Universiteit van Tegnologie in Port Elizabeth.

‘‘Jess wou nie heeltyds verder studeer nie,’’ vertel Kevin, werknemer by ’n saagmeul in George.

‘‘Sy was mal oor skool omdat sy van maats en mense gehou het,’’ sê Dusty. Sy was nie lief daarvoor om haar huiswerk te doen nie, maar tog was sy mal oor lees.

‘‘Ek het haar bewonder dat sy op so ’n jong ouderdom so gefokus was. Sy het presies geweet wat sy uit die lewe wou hê.’’

‘‘Ek kan net nie dink wie vir haar so kwaad sou kon wees om haar aan te rand nie,’’ sê Kevin verslae.

‘‘Ek het nou al my kop daaroor gebreek. Kyk net na hierdie lêer, vol getuigskrifte van al die plekke waar sy gewerk het. Sy was baie gewild by besoekers omdat sy geweet het hoe om gaste soos konings te behandel.’’

Jess was uitgesproke, mymer hy. Sy was nie bang om haar mond oop te maak as die melk suur was of iemand te na gekom is nie. Het sy miskien ’n vyand gemaak van wie hulle nie weet nie?

Iemand, êrens, moet sekerlik iets weet van wat in daardie vroeë oggendure van 13 Oktober gebeur het. As hulle net na vore kan kom, sê Kevin amper smekend terwyl hy Dusty se hand styf in syne vashou.

Om te weet sal nie hul dogter terugbring nie. Maar dalk bring dit tog ’n bietjie vrede . . .

Doodsgil oor die selfoon — Huisgenoot 15 Desember 2005
Huisgenoot 15 Desember 2005.
Huisgenoot 15 Desember 2005.
Hannetjie Stadler kon hoor haar dogter verkeer in pyn, maar kon haar nie help nie. Sy was heeltemal magteloos.

Dit is ’n Donderdagaand soos enige ander. Hannetjie Stadler is buite besig om ’n mat te was toe haar twintigjarige dogter haar bel. Sy hoor nie haar selfoon binne lui nie. Sy besef nie haar enigste kind beleef waarskynlik haar laaste oomblikke nie . . .

Eers later sien sy daar was ’n oproep, en sy skakel om na die boodskap te luister. Dis seker Victoria, dink sy bly. Hulle bel mekaar elke dag.

Maar toe die boodskap begin speel, stol haar bloed in haar are.

Dis nie die opgewekte ‘‘Hallo, Ma’’ wat sy verwag het nie. Pleks daarvan hoor sy ’n angswekkende noodkreet.

‘‘Ek wil nie, ek wil nie . . .’’ kreun Victoria se stem stadig oor die foon. Hannetjie begin bewe. Sy druk die selfoon stywer teen haar oor en luister verder. ‘‘Ek kan nie . . . ek kan nie!’’ kom dit desperaat. Dan ’n gil . . . en dan doodse stilte.

Haar blou oë blink van die trane terwyl sy terugdink aan daardie dag: 10 November, die laaste dag dat sy haar dogter se stem gehoor het.

‘‘Sy was my enigste; ek het net vir haar geleef,’’ sê Hannetjie (44) waar sy in haar sitkamer op haar kleinhoewe by Makhado (Louis Trichardt) vertel van die vyf dae van foltering tussen daardie skokkende stemboodskap en die tyding van Victoria se dood.

‘‘Ek kry nou nog hoendervel wanneer ek aan daardie boodskap dink,’’ sê sy. ‘‘Ek het gehoor my kind verkeer in pyn en kon niks doen om haar te help nie.’’

Sy het Victoria dadelik probeer terugbel, maar haar foon was afgeskakel. Toe bel sy die polisie.

Sy bly stil, sukkel om verder te praat, spring dan eerder op.

Victoria se koninkryk

‘‘Kom, ek wil jou eers iets wys,’’ sê sy en stap die gang af. ‘‘Dit was Victoria se koninkryk,’’ sê sy toe sy voor die vrolike blou meisieskamer tot stilstand kom. Dolfyne is oral in die kamer te sien: teen die mure op skilderye en prente, op ’n geborduurde kussinkie op die helderblou bed; tussen die talle teddiebere op die rakke.

En ook om Hannetjie se nek, waar Victoria se geliefde goue dolfyntjie nou hang. Binnekort kom nog iets by die dolfynversameling: ’n kissie met dolfyne daarop uitgekerf, met Victoria se as daarin.

‘‘Dit is beter so,’’ sê Hannetjie. ‘‘Dan kan ek haar hier by my hou, waar ek haar onthou soos sy was.’’

Oral in die huis is teddiebere, kussings en mooi goedjies wat sy vir haar dogter gemaak het. Sy tel ’n groen-en-rooi teddiebeertjie op.

‘‘Kyk, dit het ek laas Kersfees vir haar gegee,’’ sê sy. Sy wys met ’n hartseer glimlag na ’n hanswors op die bedkassie. ‘‘Dit het ek gebrei toe sy sewe was. Ek het altyd iets vir haar gemaak. Ek het ’n hele kis vol goed wat ek nog vir haar wou gee. Wat gaan ek nou daarmee doen?’’

Elke keer dat die trane wil kom, gryp Hannetjie na ’n ander herinnering waaroor sy kan glimlag.

‘‘Kyk hoe lief was sussa vir klere,’’ sê sy en gooi die hangkas oop.

‘‘Dié poncho het ek laas winter vir haar gebrei. Sy kon mooi aantrek, daai kind van my. Sy was so pragtig. Sy het mooi gelyk in alles.’’

Hannetjie en Victoria het ses jaar saam in hierdie huis gewoon nadat sy van haar dogter se pa, die Pretoriase vryskutredigeerder Karl Stadler, geskei is.

‘‘Sy was gelukkig hier,’’ sê sy terwyl sy die klere en beertjies met sorg terugpak.

Victoria was die afgelope twee jaar in Port Elizabeth vir haar regstudie aan die Nelson Mandela Metropool-universiteit. Die week voor haar dood was sy besig om na haar ouma in Mosselbaai te trek, van waar sy haar studie deur Unisa sou voortsit.

Haar laaste ure

Dis toe dat sy ’n paar dae by ’n vriend en sy ouers in Knysna oorgebly het.

‘‘Sy sou die dag nadat sy verdwyn het, na haar ouma gegaan het,’’ vertel Hannetjie. Sy hervat die vertelling: ‘‘Ek het alles menslik moontlik gedoen om haar te probeer opspoor. Ek het self Knysna toe gery om haar te soek. Deur dit alles het ek net gebid ‘liewe Vader, bewaar haar’.’’

Sy was aanvanklik oortuig haar motor is gekaap. ‘‘Ek het vas geglo ons gaan haar lewend kry.’’

Op die vyfde dag ná haar verdwyning het die polisie laat weet hulle het Victoria se uitgebrande motor gevind.

‘‘So baie beelde het deur my kop gegaan, maar ek het bly hoop.’’

Kort daarna het die polisie weer gebel en gesê sy moet dadelik na die polisiekantoor gaan. ‘‘Toe weet ek.’’

Hannetjie moes Victoria se lyk gaan uitken, maar sy kon dit eenvoudig nie oor haar hart kry nie.

‘‘Ek het vir iemand gevra of haar gesiggie erg geskend is en hy het gesê ja. Ek is daar weg sonder om haar te sien. Ek het net in my kar geklim en gehuil.’’

Haar gesig vertrek opnuut van pyn, maar sy dwing die hartseer weg deur vinnig na ’n foto-album te gryp. ’n Glimlag spoel oor haar gesig toe sy begin blaai.

‘‘Dit is sussa. Ek onthou haar so,’’ sê sy en wys na ’n foto waar Victoria laggend op die strand sit met ’n pet op haar kop en ’n hondjie in haar arms.

‘‘Sy het altyd gelag. Sy was ’n sonstraal.’’

Daar is ’n foto van haar langs haar wit Golf, dieselfde motor waarvan die uitgebrande wrak naby haar lyk gekry is.

En weet jy, wanneer ek aan haar dink, sien ek haar ook lag. Sy is gelukkig waar sy is. Ek weet dit.


‘‘Die dag toe ek vir haar die Golfie gegee het, het ek haar gedwing om al vier wiele om te ruil. Sy wou nog ‘ag, Maaaa’ sê, maar ek het my voet dwars gesit.’’

Sy klap die album toe en heel onverwags lag sy hardop.

‘‘Wannneer ek aan sussa dink, lag ek nogal baie. Al die dinge wat sy aangevang het. Sy was so lief vir perform.’’

Om haar mondhoeke speel steeds ’n glimlaggie. ‘‘En weet jy, wanneer ek aan haar dink, sien ek haar ook lag. Sy is gelukkig waar sy is. Ek weet dit.’’

Maar dit sal nog lank duur voor dit werklik voel. Eenkeer het sy ’n oomblik gedink Victoria is weer by haar.

‘‘Sy het dikwels in die middel van die nag by my kom inkruip, selfs toe sy al groot was. Ek het een nag wakker geword en iets op die bed gevoel. Ek was oortuig dit is sy.’’

Toe sy daardie nag opnuut besef haar kind is dood, het sy ’n ‘‘verskriklike leegheid’’ gevoel. Met dié spring sy weer op en kom terug met ’n groen-en-pienk lappieskombers. Sy het weke lank daaraan gewerk.

Sy wou Victoria met hul volgende kuier daarmee verras.

‘‘Ek wonder wat sy daarvan sou gedink het,’’ sê sy sag en vryf met haar hand oor die harte en huisies op die deken.

‘‘Victoria Louisa,’’ mymer sy, en haar blou oë swem in trane toe sy fluister: ‘‘My dogtertjie . . . Mamma se kind.’’

So ontvou die drama

In die vroeë oggendure van 10 November vanjaar verlaat Victoria die Zanzibar-klub in Knysna saam met Heinie van Rooyen, ’n kennis en platejoggie, om hom ’n saamrygeleentheid na Hornlee te gee. Dit is die laaste keer dat sy lewend gesien word.

Op 15 November kry die polisie haar uitgebrande motor en halfnaakte lyk langs ’n pad in die woud. Sy is vermoedelik verwurg.

Net ’n maand tevore is Jessica Wheeler (18) ook in Knysna in soortgelyke omstandighede vermoor nadat sy by die Zanzibar-klub weg is. Sy is seksueel aangerand. Die polisie vermoed Victoria is ook seksueel aangerand, maar kan nie met sekerheid sê nie omdat haar liggaam al begin ontbind het toe dit gevind is.

Die moontlikheid dat die misdade met mekaar verbind kan word, word ondersoek. Heinie is intussen aangehou en ondervra, maar weer vrygelaat.

Die polisietaakspan wat die moorde ondersoek, het reeds ’n aantal verdagtes geïdentifiseer, sê kapt. Eddie Cronjé, polisiewoordvoerder. Teen druktyd het hulle gesê hulle is op die punt om die verdagtes in hegtenis te neem.

Wanneer en waar?
Huisgenoot: Ware Lewensdramas word elke Maandag om 20:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai. Episodes word die daaropvolgende Maandag om 14:00 herhaal.