Dit was Februarie en baie natter as gewoonlik. Toe volg daar ’n donderstorm en sowat 50 mm reën het binne ’n halfuur geval.

Maar die inwoners van Merriespruit naby Virginia in die Vrystaat was nie bewus daarvan dat dit daardie aand van 22 Februarie 1994 om sowat 21:00 sou lei tot ’n ramp wat verskeie lewens sou eis en talle huise sou wegspoel toe die slikdamwal nie meer die waterdruk kon weerstaan nie.

Die vloedwater vanuit die verbrokkelde wal van die Merriespruitslikdam het meer as 600 000 kubieke meter water en slik oor ’n afstand van 4 km deur Merriespruit gejaag.

Tagtig van Merriespruit se 250 huise is in die vloed vernietig, en 17 mense het gesterf, waarvan die jongste Christiaan Daniel Koekemoer was. Hy was net 9 maande oud.

Daar is ook 600 mense beseer en die eiendomskade het R80 miljoen beloop.

Sean White (toe 20) het aan die Britse nuusagentskap Independent vertel hulle was besig om televisie te kyk toe hulle iets hoor soos die see wat naderkom, “soos ’n groot skrikwekkende golf”. Hy was ’n passer by ’n nabygeleë myn.

“Die modder het deur die ruite gebars en tot by my middel gestyg. Ek het vir al my sewe gesinslede gesê ons moet op die dak klim. Ek het opgeklim en almal opgetrek,” het hy vertel.

Toe hulle later voel dis veiliger het hy afgeklim en gaan kyk of hy iemand kan help. Volgens Sean was die modder by tye nekhoogte.

“Ek het twee kinders op ’n dak gesien en hulle het gesê hul ma en pa is steeds in die huis. Ek het ingegaan en hulle albei dood gevind.”

Bykans 400 reddingswerkers, lede van die munisipaliteit, mynreddingspanne, die polisie en kommandolede het in die modderbedekte dorpie help soek na oorlewendes.

Met die amptelike ondersoek na die ramp is bevind die slikdam was reeds in ’n ongeskikte toestand voor die wal gebars het. Daar is egter niks gedoen om die saak te beredder nie, aldus die Minerale Raad van Suid-Afrika.

’n Regter wat deur die minister van justisie aangestel is, het die dam tydens ’n gesamentlike ondersoek beskryf as ’n tydbom wat gewag het om te ontplof. Dit was ook die eerste keer dat satellietfoto’s as wetenskaplike bewyse in die hof aanvaar is.

Satellietfoto’s wat in 1988 geneem is, het duidelik gewys dat die plek waar die damwal meegegee het, reeds 'n probleemarea was. 

Die Harmony-goudmyn is in die Virginia-streekhof skuldig bevind aan strafbare manslag en moes ’n boete gelykstaande aan ’n vyfde van 1% van die myn se wins ná belastingwins vir die jaar betaal. Die bedrag van R120 000 was gesien as die groep se aandeel in die oorsaak van die modderstorting.

Tydens ’n vorige verhoor is die ingenieursmaatskappy wat verantwoordelik was vir die instandhouding van die dam, Fraser Alexander, met R150 000 beboet.

Bronne: mg.co.za, netwerk.24.com, researchgate.net, tailings.info, mineralcouncil.org.za

  • Die heruitsending van program sal om 20:30 op 13 September 2020 op VIA (DStv-kanaal) plaasvind.