Die lewe sal nooit weer dieselfde wees nie – Lesego Maja, susterstydskrif YOU 19 Desember 2019
"Ons wil nie hê sy moet as die slagoffer by die poskantoor bekendstaan nie – daar’s soveel meer aan haar as dit."

Dit is die woorde van Nomangwane Mrwetyana, die treurende ma van die jong vrou wat onwetend die gesig van geslagsgegronde geweld in Suid-Afrika geword het.

Maar vir Nomangwane en haar gesin was Uyinene nie die verkragte en vermoorde student aan die Universiteit van Kaapstad (UK) wie se wrede dood in Augustus 2019 tot landwye protes gelei en wêreldwyd die nuus gehaal het nie.

Vir hulle was sy Nene, Uyi Uyi – die sprankelende meisie wat met haar pragtige glimlag ’n vertrek kon ophelder.

Nou berei haar ma, pa Mabhele, ’n siviele ingenieur, en broer, Esona (21), hulle voor vir hul eerste Kersfees sonder hul dogter en kleinsus.

“Jy voel die leemte op soveel maniere,” sê Nomangwane. “Die lewe sal nooit dieselfde wees sonder haar nie.”

Nomangwane Mrwetyana, Uyinene se ma. Foto: Lubabal
Nomangwane Mrwetyana, Uyinene se ma. Foto: Lubabalo Lesolle

Die gesin sal soos elke feesseisoen na hul landelike tuiste in Centane in die Oos-Kaap reis om saam met geliefdes tyd deur te bring. Maar net die drie van hulle wil ook vir ’n paar dae weggaan.

“Ons wil in ’n ruimte wees waar ons nie met die buitewêreld in verbinding is nie,” sê Nomangwane. “’n Plek waar ons alles sal kan verwerk en ons lewe kan heroorweeg.”

Daar is baie om te verwerk – nie in die minste nie die grafiese besonderhede wat aan die lig gekom het oor hoe hul geliefde Uyi Uyi haar laaste ure deurgebring het.

In ’n ysingwekkende bekentenis in die hooggeregshof in Kaapstad het die moordenaar Luyanda Botha vertel hoe hy op Uyinene toegeslaan het nadat sy die Clareinch-poskantoor in Claremont, Kaapstad, besoek het om haar aanlyn inkopies af te haal.

“Toe die oorledene deur haar sak begin soek om die vereiste doeanefooie te betaal, het ek seksuele toenadering by haar gesoek,” het hy gesê.

“Die oorledene het nie gereageer nie en het bang gelyk. Ek het haar om die middel gegryp en haar gewelddadig nader aan my getrek.”

Hy het toe in grafiese besonderhede beskryf hoe hy haar verkrag het; hoe sy teen hom baklei en na die deur gehardloop het. Maar hy het haar ingehaal en haar na die poskantoor se kluis gesleep waar hy haar met ’n 2 kg-skaal doodgeslaan het.

Hy het haar lyk toe in plastiek toegedraai, in sy motor gebondel en na Khayelitsha gery waar hy haar lyk verbrand en haar oorskot in ’n vlak graf begrawe het.

Botha is drie lewenslange vonnisse opgelê en die familie is tevrede met die straf.

“Ons was tevrede met hoe vinnig die saak hanteer is,” sê Nomangwane. “Op ’n manier het dit ons gehelp om te probeer vorentoe beweeg. Maar niks sal ooit my dogter terugbring nie.”

Die moord op Uyinene het tot groot protesaksies te
Die moord op Uyinene het tot groot protesaksies teen geslagsgebasseerde geweld gelei. Foto: Gallo Images/Brenton Geech

Nomangwane, wat ons by haar huis in Makhanda ontmoet waar sy die direkteur van studentesake by die Rhodes-universiteit is, onthou die laaste keer dat sy met Uyinene gepraat het.

“Sy het gesê wanneer ek Maandag Kaapstad toe kom, moet ek asseblief haar foon se herlaaier bring.”

Die gesin het ’n besoek aan Kaapstad beplan om met Nomangwane se verjaardag saam te val.

Maar toe hulle hoor Uyinene word vermis, het die vakansie wat hulle beplan het in ’n reis van paniek en afgryse verander.

Die dae wat Uyinene vermis was, was ondraaglik, sê Nomangwane. “Daar het baie stories die ronde gedoen en ons was baie bang.

"Ja, jy hoop sy leef nog – maar jy wonder ook: As sy nog leef, waardeur gaan sy?”

Hul wêreld is op sy kop gekeer toe hulle gehoor het Uyinene se liggaam is geïdentifiseer.

“Haar pa was die naaste aan haar en hy was onder baie druk – die frustrasie van ’n pa, dat dit met jou dogter gebeur het deur die toedoen van ’n ander man, en jy wens jy kon iets gedoen het . . .”

Esona, wat ook ’n student aan die UK is, was dol oor sy kleinsus en haar dood het hom swaar getref. Daar is tye dat sy moet ingryp wanneer sy sien hy kom nie die mas op nie, sê Nomangwane, en die gesin probeer dit een dag op ’n slag vat.

Nomangwane voel sy is daarvan beroof om haar dogter te groet. As iets hulle voorberei het, soos as Uyi ’n siek kind was, “dit voel asof . . . ons dit dalk iewers op ’n manier sou sien kom het.”

Die maande ná haar dood was ’n wipwarit van emosie.

“Een dag word jy wakker en jy is hartseer, want jy mis haar; die volgende is jy kwaad vir die hele wêreld, insluitend die skuldige.

“Dan is daar dae dat jy hulpeloos voel – jy wens jy kon iets gedoen het as ’n ouer, jy wens jy kon daar gewees het,” sê Nomangwane.

Sy kan haarself nie sover kry om Uyinene se moordenaar op die naam te noem nie, want “ek dink nie hy verdien om genoem te word nie. Hy is ’n monster.”

Botha het die geleentheid gekry om iets vir die gesin te sê en hy sê hy het ’n verskoningsbrief geskryf wat deur sy prokureur afgelewer moet word.

“Ons stel nie in sy verskoning belang nie,” sê Nomangwane. “Dis moeilik om te sê of ek hom ooit sal vergewe.”

Sy sal nooit weer op dieselfde manier na ’n poskantoor kyk nie. Vir haar sal dit altyd die plek wees waar haar kind se lewe geneem is. “Dit was veronderstel om ’n veilige plek te wees, maar dit is nie ’n plek waarheen ek nou wil gaan nie.”

Uyinene het so baie gehad wat in haar guns tel, sê haar ma, soveel drome vir die toekoms. Sy wou die wêreld plat reis, maar die ooreenkoms was dat sy eers haar graad in rolprent- en mediastudies sou voltooi.

Uyinene met een van haar vriende, Tendai Mangena.
Uyinene met een van haar vriende, Tendai Mangena. Foto verskaf


Die avontuurlustige en waaghalsige Uyinene het haar pa en broer oortuig om saam met haar ’n reksprong uit te voer en was van plan om volgende saam met haar pa te gaan valskermspring.

Uyi was selfgeldend, goedhartig, vriendelik en uitgesproke, sê haar ma. Sy het van mode gehou, onreg gehaat, en was ’n gebore leier. “Maar meer as enigiets was sy innig sorgsaam en baie eerbiedig.”

Sy sê die gesin berus op hul geestelikheid en familie en vriende om deur elke dag te kom.

“Dit is heeltemal nuut vir my. Ek weet nie wat die toekoms inhou nie. Een boodskap wat ek kry, is dat dit beter raak – maar dit is die pyn waarmee ons vir die res van ons lewe moet saamleef.”

Die gesin het die Uyinene Mrwetyana-stigting begin, wat ’n tweeledige doel sal hê, sê Nomangwane.

Dit sal haar lewe gedenk en nie toelaat dat haar dood haar definieer nie, en dit sal die stryd teen geslagsgegronde geweld voortsit.

“Iets is fout met die gesinseenheid,” sê Nomangwane.

“Voor ’n seun in die gemeenskap uitgaan, is hy ’n lid van die huis. Wat het verkeerd gegaan? Dit spreek tot die manier waarop hy gesosialiseer is.

“Ons hoop dus om iets te oor die reuse-samelewingsprobleem te kan doen.”

As hulle ’n klein verskil aan Uyi Uyi se naam kan maak, sou haar dood nie verniet gewees het nie, sê haar ma. Maar op die oomblik is dit ’n skrale troos vir ’n gesin wat met smart worstel.

“Soms is die pyn net te veel om te verduur.”

  • Heruitsendings van Huisgenoot: Ware lewensdramas is Sondae om 20:30 op VIA (DStv-kanaal 147).