Geteister deur Tannie Manda – Hannelie Booyens, Huisgenoot 2 Desember 2010
Huisgenoot, 2 Desember 2010
Huisgenoot, 2 Desember 2010
Eksklusief: Die Blou Bul Deon Helberg praat oor die beweerde moordplan van sy eksmeisie se obsessiewe ma en haar seks-eise.

Dis dae ná die “moord’’, en dit lyk steeds asof Deon Helberg ’n spook gesien het. Niks in die 21-jarige Blou Bul-rugbyspeler se lewe kon hom voorberei op wat die afgelope tyd gebeur het nie.

Die besef dat hy werklik dood kon wees, het nog nie ingesink nie. Die ‘‘moordtoneel’’, met sy bebloede ‘‘lyk’’ en al, beskryf hy afgetrokke, asof hy van ’n rekenaarspeletjie praat.

‘‘Dit was darem nie regte bloed op my klere nie, dit was gesteriliseerde bloed,’’ sê hy.

Deon noem net een keer Manda Reyneke (47) se naam, want vir hom is die vrou wat na bewering sy moord beplan het, steeds ‘‘tannie’’ – die tannie van Middelburg wat hom met geskenke oorlaai het toe hy in sy matriekjaar met haar modeldogter, Jalien (nou 20), begin uitgaan. En wat so gaaf was om hom te nooi om naweke by hulle te bly pleks van in die koshuis van die Hoër Tegniese Skool Middelburg.

Maar toe het die “tannie’’ ál meer obsessief begin raak oor hom en selfs sy vriende onophoudelik begin teister. Dis
dieselfde tannie wat die afgelope jaar glo beplan het om hom te laat vermoor en toe twee Nigeriese mans sou betaal om die vuilwerk te doen.

In ’n dramatiese wending het daar net ’n skynmoord plaasgevind omdat die huurmoordenaars Deon betyds gewaarsku het en die polisie ingegryp het.

Die foto van Deon se ‘‘lyk’’ was ’n lokval waarmee die polisie Manda in Pretoria vasgetrek het. Byna oornag het die jong man die hoofspeler in ’n drama geword wat die land aangegryp het. Maar eintlik wil hy net van al hierdie narighede vergeet en oor rugby praat – oor hoe awesome dit vir ’n plaasseun van Mpumalanga is om ’n Blou Bul en ’n Sewesrugby-ster te wees, en van sy droom om eendag die Springbok-trui te dra.

Maar nou sien hy sy gesig elke dag in die koerante en mense skinder dat hy eintlik ’n verhouding met Manda én haar dogter gehad het.

Huisgenoot, 2 Desember 2010
Huisgenoot, 2 Desember 2010

‘‘Sjoe, Tannie, dis hectic,’’ sê hy, en vee oor die sagte baardhare op sy ken. ‘‘Ek het dit regtig-egtig nie sien kom nie.’’

In Deon se jong gemoed het dinge soos seksuele obsessie, moordkomplotte en wit hekse tot nou die dag nie eens bestaan nie.

Manda het die lewe vir hom moeilik gemaak, maar hy het haar maar net bly ignoreer. Hy het nooit kon droom presies hoeveel leed sy hom wou aandoen nie.

In ’n wit gholfhemp lyk hy so aantreklik soos ’n model, maar sy houding is nog dié van ’n skoolseun. Die blonde rugbyspeler is ongemaklik hier in die plek waar hy wegkruip tot die stof gaan lê.

Toe hy gister hoor Manda het borgtog van R5 000 gekry, het dit hom erg ontstel. Hy wil nie heeltyd oor sy skouer loer nie. Hy glo sy is in staat tot enigiets – wat as sy wel ’n Plan B het soos sy vir die Nigeriërs gesê het?

‘‘Ek moes maande gelede al ’n interdik teen haar gekry het, maar dit was moeilik omdat sy my die afgelope jaar nie self lastig geval het nie, net die mense om my,’’ sê hy. Hy vroetel met sy hand en tussen die gesprek deur neurie hy dieselfde deuntjie oor en oor.

Eintlik het die teistering twee jaar gelede al begin, toe hy niks wou weet van Manda se seksuele toenadering nie.

‘‘Ek weet nie mooi hoe om dit te verduidelik nie,’’ sê hy en vee oor sy kuif. ‘‘Die tannie wou dinge doen . . . Sy’t gesê as ek nie doen wat sy sê nie, mag ek nie meer vir Jalien sien nie. Ek het vir haar gesê dis bisar en ek stel nie belang nie.’’

Oor die besonderhede kan hy nog nie praat nie; die verleentheid is te groot . . .

Manda het beslis daartoe bygedra dat hy en Jalien uitmekaar is, sê Deon. ‘‘Sy’t sake vir ons baie moeilik gemaak. Sy was baie jaloers.’’

Die tannie is baie, baie vrygewig; sy’t gekoop sonder om te vra of ek iets nodig het.

Dis ’n bogstorie dat Jalien hom en haar ma in ’n omhelsing betrap het, sê hy, maar dis wel waar dat Manda baie goed vir hom gekoop het, selfs ’n motor.

“Die tannie is baie, baie vrygewig; sy’t gekoop sonder om te vra of ek iets nodig het.’’

Manda het die skoolspan ná rugbywedstryde gereeld uitgevat vir ete en vir Deon se maats selfoonlugtyd gekoop, veral as hulle haar kon help met inligting oor sy doen en late. Van hulle het vir Deon gesê sy tree nie normaal op nie.

Miskien was hy naïef om te dink iemand oorlaai jou met geskenke sonder om iets terug te verwag, gee Deon toe, maar op 18 jaar het dit nie vir hom vreemd gevoel nie. As jy in skolerugby uitblink en die groot provinsies bied kontrakte aan, val baie dinge in jou skoot.

Hy voel nie skuldig oor alles wat hy by die Reynekes gekry het nie, sê Deon.

‘‘Ek het haar nooit iets gevra nie. En toe ek ’n salaris begin verdien in die Blou Bulle se o.19-span, het ek die motor vir hulle teruggegee en my eie gekoop.’’

Manda het dikwels vir Deon gesê sy rugbysukses is alles aan haar te danke.

Deon Helberg word deur Innocent Simiyu van Kenia p
Deon Helberg word deur Innocent Simiyu van Kenia platgeduik tydens die IRB Sewes-reeks, 11 Desember 2009. Foto: Gallo Images/Duif du Toit

‘‘Sy’t gesê as dit nie vir haar was nie, sou ek nie vir die SA Skolespan gespeel het nie. Maar ek dink nie as iemand vir jou ’n rugbytrui of -broek koop, jy beter rugby gaan speel nie . . . Ek het ’n paar keer by proewe aangekom en toe ek die inskrywingsgeld wou betaal, het ek gehoor dis klaar betaal. Al wat ek dan kon doen, was om vir tannie Manda dankie te sê.’’

Maar Manda het baie meer as net ’n dankie van Deon verwag. En toe sy dit nie kry nie, het sy hom slinks begin dwarsboom.

‘‘Sy’t eenkeer aangebied om my foon te laat regmaak, maar toe sê sy dis onherstelbaar, en ek kry toe ’n ander foon. Intussen het sy op my ou foon op my MXit-naam aangemeld en vir my vriendinne begin boodskappe stuur asof dit van my af kom.

‘‘Sy’t vieslike goed vir die meisies gesê en baie van my vriendinne was ontsteld oor die vulgêre boodskappe. Ek het nie geweet wat om te doen nie.’’

Buiten die nimmereindigende stroom SMS’e wat sy vir Deon gestuur het, het sy ook sy vriende deur Facebook gekontak. Sy het beweer Deon slaap rond en dat sy met hom seks gehad het, maar bang is hy is dalk MIV-positief.

‘‘My vriende het gedink sy’s van haar trollie af.’’

Deon Helberg. Foto: Corrie Hansen
Deon Helberg. Foto: Corrie Hansen


Deon was bitter ontsteld toe hy ’n pakkie in die pos kry van Manda nadat hy twee jaar gelede na Pretoria verhuis het. Daarin was al sy ou rugbytruie wat hy nog wou laat raam – opgesnipper en aan flarde.

‘‘My vriende het gedink dis snaaks, maar ek het geweet daar’s groot fout. Sy’t gesê as sy my nie kan kry nie, sal sy seker maak geen ander meisie sal my ooit kry nie.’’

Dis toe dat Deon besluit om vir sy ouers te vertel wat besig is om te gebeur. Hy en sy pa het met Manda se man, Dave, gaan praat oor die ongemaklike situasie.

‘‘Ek het nooit ’n probleem met oom Dave gehad nie. Hy’s ’n narkotiseur en hy werk baie hard om sy gesin te onderhou. Oom Dave het gesê hy sal met die tannie praat. Blykbaar het hy gesê hy gaan van haar skei as sy my nie uitlos nie. Sy’t glo gesê dan moet haar man haar maar los.’’

In Junie vanjaar is Manda, wat tevore vir haar man in sy praktyk gewerk het, toe uit Middelburg vort. Sy woon nou saam met haar outistiese tienerdogter op die Silver Lakes-landgoed buite Pretoria.

Deon glimlag vir die eerste keer toe hy oor haar praat.

‘‘Sy’s ’n pragtige kind; ek’s baie lief vir haar. Die tannie het iets ongeloofliks met haar reggekry, want toe sy klein was, kon sy nie praat nie en nou’s sy baie beter.’’

Manda is ’n baie slim vrou, sê Deon. Sy het voorheen vir Nasionale Intelligensie gewerk en is gewoond daaraan om haar sin te kry. Deon het gehoop haar obsessie met hom sal mettertyd kwyn, veral nadat hy in Pretoria by sy niggie kom bly het.

Deon Helberg. Foto: Corrie Hansen
Deon Helberg. Foto: Corrie Hansen

Maar die teenoorgestelde het gebeur – Manda het net nog meer verbete probeer snuffel in sy lewe, en veral probeer uitvis of hy ’n nuwe meisie het. Soos ’n jaloerse eksmeisie het sy in SMS’e by sy vriende aangedring: ‘‘. . . daar móét ’n manier wees om uit te vind.’’

En toe iemand uiteindelik vertel daar is ’n nuwe meisie, wou sy knaend weet waar sy woon en wat haar naam is. Sy wou glo die meisie waarsku ‘‘teen ’n ou wat voorgee om iemand te wees wat hy nie werklik is nie’’.

Sy het steeds ook vir Deon SMS’e gestuur, maar hy het dit uitgevee sonder om dit te lees. En toe kry hy die oproep wat hy eers gedink het is ’n siek grap.

‘‘ ’n Vreemde stem het gesê hy’s baie geld betaal om my dood te maak. Toe sê ek vir hom dis die verkeerde nommer. Toe sê hy: ‘Nee, wag. Jou naam is Deon, jy speel rugby, jy ry dié soort motor, jy bly by hierdie adres en ek is betaal om jou dood te maak.’’’

Deon het die oproep geskok beëindig en onmiddellik sy ma gebel. Toe bel die Nigeriër weer en sê ’n vrou het hom baie geld betaal om Deon dood te maak.

‘‘Die vrou het glo gesê ek sal weet wie sy is. Dit het my tussen die oë getref – ek het geweet wie dit is.’’

Binne twee dae het die polisie se Valke-ondersoekeenheid met behulp van die Nigeriërs ’n lokval vir Manda gestel. Hulle het Deon deeglik voorberei op hoe traumaties dit kan wees om ’n akteur in jou eie sterftoneel te wees.

Hulle was ongelooflik professioneel, sê Deon. ‘‘Daai ouens weet wat hulle doen. Dit was soos ’n militêre operasie, maar ons het tog ’n bietjie gelag toe ons die foto neem.’’

Die Valke het ’n lokval vir Manda gestel deur Deon
Die Valke het ’n lokval vir Manda gestel deur Deon se dood na teboots. Die Nigeriërs het toe foto’s daarvan aan Manda ge-MMS. Foto's: Verskaf

Jeens die Nigeriërs het Deon nog gemengde gevoelens – hy is diep dankbaar hulle het sy lewe gered, maar dit grief hom tog dat hulle te kenne gegee het hulle verwag betaling daarvoor.

‘‘Maar die Valke het later vir my gesê ek moet dankbaar wees; daar is baie skelms wat vir heelwat minder geld moord sal pleeg as wat hulle beloof is.’’ Een van die Nigeriërs het vir Deon gesê hy moet ‘‘huis toe gaan en gaan bid en dankie sê die tannie het by die verkeerde mense uitgekom’’.

Deon glo nie Manda wou hom net laat seermaak of afskrik nie.

‘‘Die meer as 2 000 SMS’e wat sy aan die Nigeriërs gestuur het, vertel ’n ander storie. En toe sy die foto van my ‘lyk’ kry, het sy hulle laat weet: ‘Well done.’”

Hy vrees noudat Manda op borgtog vrygelaat is, kan sy hulle dalk weer teister. Of erger nog, Plan B . . .

Sy het die Nigeriërs ook laat weet Deon is dikwels saam met sy vriend Etienne en as hy in die pad is, moet hulle hom ook maar skiet; sy sal hulle vergoed vir die ekstra moeite.

‘‘In een van haar SMS’e aan die Nigeriërs het sy gesê as hulle my klaar vermoor het, is daar nog iemand wat hulle uit die weg moet ruim en daar’s ’n vriendin op Nelspruit wat ook van hul dienste wil gebruik maak.’’

Dreigemente oor toordery en sangomas waarmee Manda die Nigeriërs die skrik op die lyf probeer jaag het, het baie mense laat dink Manda is die kluts kwyt. Veral omdat sy haarself ’n ‘‘wit heks’’ noem in van die SMS’e.

‘‘Die tannie het baie vir my gesê sy weet sy’t hulp nodig, maar sy het sover ek weet, niks gedoen om hulp te kry nie. Ek hoop om haar familie se onthalwe hulle stel vas wat fout is,’’ sê Deon.

Om ’n tweede kans op die lewe te kry laat jou met nuwe oë na dinge kyk. Dit maak my net meer vasbeslote om bo uit te kom.

Deon het self die afgelope week baie hulp en ondersteuning van sy familie gekry en ook van sy Blou Bul-spanmaats en sy nuwe meisie. Oor haar is hy baie geheimsinnig, want hy vrees noudat Manda op borgtog vrygelaat is, kan sy hulle dalk weer teister. Of erger nog, Plan B . . .

Deon is ook vol lof vir sy agent, Chris de Beer, wat hom op koers hou in die stormtyd en toesien dat ’n sielkundige hom nou help om die trauma te verwerk.

Dit is nie net vandag se trauma waarmee hy sit nie, maar ook dié van ’n ander noue ontkoming.

Hy was verlede jaar een van die helde wat medepassasiers na veiligheid gehelp het toe ’n vliegtuig op George geland, gegly en op die N2 tot stilstand gekom het.

Sulke ervarings maak ’n mens sterker, glo Deon.

Deon Helberg. Foto: Corrie Hansen
Deon Helberg. Foto: Corrie Hansen

‘‘Ek is oor niks spyt nie. Om ’n tweede kans op die lewe te kry laat jou met nuwe oë na dinge kyk. Dit maak my net meer vasbeslote om bo uit te kom. Ek wil nou hierdie hoofstuk afsluit en net op rugby fokus.’’

Hy hoop hy het Manda vir die laaste keer in sy lewe gesien daar in die polisieselle kort nadat sy in hegtenis geneem is.

Die 47-jarige Manda Reyneke is dramaties in hegten
Die 47-jarige Manda Reyneke is dramaties in hegtenis geneem op die parkeerterrein van ’n winkelsentrum in Pretoria.

‘‘Ons het mekaar net so gekyk. Sy’t vir my gesê sy’s jammer dat sy my probeer seermaak het, maar dis hoe seer sy al die afgelope drie jaar voel. Toe sê ek vir haar dis haar eie skuld.’’

Vir Deon se ma, Marlene, het Manda gesê sy verwag nie simpatie nie. ‘‘Sy’t gesê dis ’n besluit wat sy self geneem het en sy kry haarself nie jammer nie en ons moet haar ook nie jammer kry nie.’’

In die toekoms sal hy baie versigtiger wees voor hy mense weer vertrou, sê die jong Blou Bul met ’n reguit blik.

‘‘Ek was daai tyd nog klein, maar ek het in ’n week se tyd ’n leeftyd ouer geword.’’

Heruitsendings van Ware lewensdramas
Heruitsendings vind Sondae om 20:30 op VIA (DStv-kanaal 147) plaas.