Afgemaai soos ’n wildsbokkie – Susan Cilliers, Huisgenoot 18 Mei 2006
Huisgenoot, 18 Mei 2006
Huisgenoot, 18 Mei 2006
EKSKLUSIEF: Gebroke ma herleef tragedie: Soldaat in Burundi-moordsaak skiet sy vrou en lieflingkinders


Wat het haar man besiel om sy ‘Bolla’ en ‘Bulletjie’ met ’n aanvalsgeweer dood te skiet?

"Hulle was die pragtigste ou goedjies. Nou het ek nie meer kinders nie."

Millie Venter praat moeilik. Haar gesig vertrek van emosie terwyl sy van haar twee kinders vertel wat die vorige dag begrawe is. Janco was maar vier en sy suster, Millize, vyf. Nou rus hulle in die familiebegraafplaas op Lephalale (Ellisras) in Limpopo.

Drie weke gelede het hul soldaat-pa, Flippie (34), die ondenkbare gedoen. Hy het ’n R4-aanvalsgeweer gevat en eers vir Janco in die bors en toe vir Millize van agter in die rug geskiet terwyl sy soos ’n verskrikte wildsbokkie voor haar beserkte pa uitgevlug het.

Dié sersant van die lugmagbasis Hoedspruit was onlangs ook in die nuus toe hy daarvan aangekla is dat hy in 2004, terwyl hy in Burundi gestasioneer was, ’n veertienjarige prostituut verkrag en vermoor het. Die uitspraak in dié saak word teen einde Junie verwag.

Millie het in sy onskuld geglo. Sy het hom immers as ’n liefdevolle pa vir haar kinders geken.

"Die man wat my kinders geskiet het, is nie die Flippie wat ek ken nie," sê sy. "Hy was nooit aggressief nie en ek was nooit vir hom bang nie. Hy was so lief vir die kinders. Ons het saam hul kamers mooi gemaak. Flippie het self al die kaste gemaak en ek het die verfwerk gedoen."

Sy is doodsbleek. Flippie het haar ook nie gespaar nie. Sy is in die maag geskiet en ’n gedeelte van haar derm moes verwyder word. Daar is skrapnel in haar been en maag. Haar lyf is nog seer en sy loop stadig.

"Ek is deurmekaar. Ek weet nie hoe ek oor Flippie voel nie, maar gaan beslis later vanjaar van hom skei."

In die kinders se begrafnisbrief het die woorde ‘‘Ons is darem nog so klein’’ in groot letters bo ’n foto van die twee gestaan.

Millie skud haar kop telkens en byt op haar onderlip. Haar pa, Las de Vaal, praat toe sy nie meer kan nie. Hy wys ’n foto van ’n laggende Millize op sy selfoon.

"Wat dink jy doen ’n R4 aan so ’n kind?" vra hy.

Op die begrafnis die vorige dag het oupa Las se rou snikke deur die lug geskeur. Millie het swaar maar stil op ’n kruk langs die graf geleun, terwyl die twee wit kissies saam laat sak is.

In die kinders se begrafnisbrief het die woorde "Ons is darem nog so klein" in groot letters bo ’n foto van die twee gestaan. Janco kyk onskuldig op terwyl Millize lewenslustig vir die kamera lag. As hulle maar liewer op ’n ander manier gesterf het . . .

"Dit sou vir my en die hele familie veel makliker gewees het as hulle in ’n motorongeluk dood was," sê Millie reguit.

Millie Venter tussen die kissies van haar kinders
Millie Venter tussen die kissies van haar kinders wat sy graf toe help dra het. Foto: Media24/Beeld/Deaan Vivier

Op hul sterfdag, 26 April, was sy en Flippie op ’n geselligheid by die lugmagbasis. Die wyn het gevloei en hy was aangeklam. By hul terugkeer het hulle voor hul huis stry gekry. Hy was kwaad omdat sy met ander mans gedans het.

Millie onthou sy laaste woorde aan haar: "Dankie vir wat julle alles vir my gedoen het, Bolle." Dit was sy troetelnaam vir haar. Daarna is hy by die huis in en ’n skoot het geklap. Millie het die huis binnegestorm. Janco het op ’n bondeltjie gelê. Hy was reeds dood.

Die bure het die twee hoor baklei. Millie het vir Flippie geskree en gevra of hy mal is. Hy het die geweerloop op haar gerig. Sy wou dit afdruk en ’n skoot het afgegaan. Sy onthou ’n brandpyn op haar maag. Millize was by haar en het "nee" geskree en uitgehardloop.

Flippie het op sy hurke gaan sit, gekorrel en haar van agter geskiet.

Sy het onophoudelik gebabbel. Agter Janco se ogies het tienduisend duiweltjies gedans.

Millie kan nie alles onthou nie. Sy weet net Millize het op die sement bly lê.

"Ek weet Janco het niks gevoel nie, want hy is dadelik dood. Ek was bekommerd daaroor dat Millize pyn gehad het, maar sy het geprewel soos sy soms in haar slaap gedoen het. Gelukkig was sy toe reeds bewusteloos."

Maar dis nie hoe Millie haar kinders wil onthou nie. Sy vra ons moet skryf hoe ’n borrelende, laggende kind Millize was: "Sy het onophoudelik gebabbel. Agter Janco se ogies het tienduisend duiweltjies gedans."

Sy en Flippie het nie ernstige huweliksprobleme gehad nie, sê Millie, maar hy was onder groot spanning weens die Burundi-moordsaak teen hom.

"Ek het hom ondersteun en was in Februarie saam met hom in Burundi vir die hofsaak. Ek glo nou nog in sy onskuld."

Maar wat sou Flippie gedryf het om sy eie kinders dood te skiet? Sy tob nie veel daaroor nie, sê Millie.

"Wat help dit? Niks kan hulle terugbring nie."

Sy bly nou by haar ouers, Las en Elize, in Lephalale. Sy wil nie teruggaan na hul huis in Hoedspruit nie. Die herinnerings is te pynlik. Sy gaan ook nie haar man se hofsaak volg nie, maar Las sal.

"Ons was baie lief vir Flippie en hy vir ons," sê hy. "Ek wil liewer nie sê hoe ons nou oor hom voel nie."

Ons is kwaad vir Flippie, maar hy is ook baie hartseer en daar is niemand wat hom kan vashou en vertroos nie. Hy is baie emosioneel en huilerig.

Hy kan nie onthou dat hy sy kinders geskiet het nie, vertel Flippie se suster, René Venter van Port Elizabeth.

"Ousus, ek sal mos nie my kinders doodskiet nie," het hy huilend vir haar gesê toe sy hom twee dae voor die begrafnis in die polisieselle op Hoedspruit besoek het.

"Die eerste wat hy onthou, is dat hy op die gras gesit en Millize ’n entjie van hom sien lê en hoor kreun het."

Hy kon nie op sy "Bolla" en "Bulletjie" se begrafnis wees nie. By die graf het Flippie se ma en sy drie susters namens hom ’n kaartjie en ruiker neergesit. Hulle is woedend en teleurgesteld oor wat hy gedoen het.

"Dis vir ons net so ’n groot verlies soos vir Millie-hulle," sê René. "Ons is kwaad vir Flippie, maar hy is ook baie hartseer en daar is niemand wat hom kan vashou en vertroos nie. Hy is baie emosioneel en huilerig. Hy bly ons broer. Ons is lief vir hom. Hy is nie ’n monster nie; hy gaan deur hel."

René meen dis juis Flippie se liefde vir sy vrou en kinders en die vrees dat hy hulle kon verloor wat hom laat knak het. Hy was bekommerd oor hoe hy Millie van sy onskuld ná die Burundi-moord kon oortuig.

Die Venter-kinders het nie maklike kinderjare gehad nie. Hul oorlede pa het te diep in die bottel gekyk. Hy het as boorman gewerk en die gesin het baie rondgetrek. In ’n stadium het hulle in ’n tent en woonwa in die veld gebly.

"Flippie was omtrent agt toe ons vir twee jaar na ’n kinderhuis in Bloemfontein is. Hy en ons suster Gertha is twee jaar later terug huis toe, maar ek en Rika wou nie teruggaan nie, omdat die omstandighede nie verbeter het nie," vertel René.

"Ek is bitter teleurgesteld in Flippie oor wat hy gedoen het," sê sy ma, Hendrika (58), wat van Vryburg gekom het vir die begrafnis. "Toe ek daarvan hoor, het dit onwerklik gevoel. Ek kon nie glo dis waar nie."

Flippie se familie sê ook hy was nooit aggressief nie.

"Hy het altyd met sy kinders gespog en was so trots op hulle," vertel René. "Hy het Millize se kamer versier met deurknoppe in die vorm van sterre. Net nou die dag het hy my gebel en trots vertel Janco was met die bulletjie-rugbydag nie bang om die bal te gaan haal nie."

Gertha Venter is bang haar broer sal homself iets aandoen as hy die kans kry.

"Hy sal dit nooit kan verwerk dat hy die kinders geskiet het nie."

  • Flippie is vir sielkundige waarneming na ’n psigiatriese hospitaal in Polokwane verwys. Hy verskyn weer op 25 Mei in die hof in Phalaborwa. Die Suid-Afrikaanse Lugmag het nou ’n interne ondersoek gelas na waarom hy in besit van ’n vuurwapen was terwyl die Burundi-moordsaak hangende is.
  • Flippie Venter is in Januarie 2020 op parool vrygelaat.

Wanneer word heruitsendings uitgesaai?
Heruitsendings vind Sondae om 20:30 op VIA (DStv-kanaal 147) plaas.