Ware lewensdramas: Die ‘teregstelling’ van twee vriende – een ’n geliefde akteur

akkreditasie
Die een was ‘n gevierde jong akteur, die ander ‘n belowende jong ontwerper. In ‘Huisgenoot Ware lewensdramas’ vanaand om 21:00 op VIA (DStv-kanaal 147) word die dubbele moord van twee vriende, Brett Goldin en Richard Bloom, op 16 April 2006 herbesoek.
G'n drukkies meer, my sagte boet – Richard van Rensburg, Huisgenoot 27 April 2006
In ’n toneelstuk het Brett Goldin ernstige vrae oor geweldsmisdaad gevra. Nou het hy self gewelddadig gesterf.
Brett Goldin. Foto: Gallo Images/Steve Eggington
Brett Goldin. Foto: Gallo Images/Steve Eggington

Hy was nie net die snaakse ou van Crazy Monkey nie. Skaars ’n week tevore kon hy nie wag om Shakespeare te gaan opvoer nie. En in sy stuk Bad Apple, gegrond op die Columbine-skoolslagting, het hy gehore met humor, patos, ironie en afgryse geboei.

Só het Brett Goldin ook ernstige vrae oor geweldsmisdaad in Suid-Afrika gevra. Sy rits karakters in Bad Apple het almal probeer sin maak van ’n leerling se bloedige skietery by sy skool . . . van jong mense wat g’n respek vir die lewe het nie.

Dis ironies dan dat Brett juis weens sinlose geweld nooit weer mense sal laat lag, huil of peins nie.

Twee jaar nadat mense hom betraand toegejuig het vir sy Bad Apple-kragtoer en skaars ’n week voor hy Hamlet in Engeland op die planke sou help bring, is hy en sy ewe talentvolle ontwerpervriend Richard Bloom koelbloedig met ’n koeël in die agterkop doodgeskiet – vermoedelik deur jong vrot appels wat hul naakte liggame in ’n stuk veld langs ’n Kaapstadse snelweg gelos het.

Twee dae nadat hy en Richard gevind is, kan sy ouers en suster skaars praat – en nog minder sin maak van die soveelste sinlose moord in ons land. Peter en Denise Goldin is so verpletter dat hul dogter, Samantha, ’n sielkundige, die meeste praatwerk doen.

Brett Goldin saam met sy suster, Samantha. Argief:
Brett Goldin saam met sy suster, Samantha. Argief: Huisgenoot, 27 April 2006

Haar ouers moes kalmeermiddels kry, hulle was histeries, hulle slaap nie en haar ma weeklaag aanhoudend, sê sy.

‘‘Volslae ongeloof en skok, die onbeskryflike verlies’’ laat Brett se ousus met horte en stote praat.

‘‘Ons is bang vir ’n lewe sonder hom, sonder om hom te kan soen, sy hand vas te hou, sonder sy glimlag en sy grappies. Sonder om hom ’n drukkie te kan gee. Hy was so drukbaar, die minsaamste mens teenoor almal – vroue, mans, swart en wit.

‘‘Brett was die vriendelikste, toeganklikste, barmhartigste ou. Selfs wanneer hy regtig niks gehad het nie, sou hy vir ander aandete koop.’’

Hy het soms selfs die klere aan sy lyf vir ander gegee, onthou Samantha.

‘‘Eenkeer, toe hy niks anders by hom gehad het nie, het hy die trui om sy middellyf vir ’n hawelose gegee.’’

Richard Bloom was self ’n warm, vriendelike mens. Dit alles maak die wreedheid van hul dood selfs onbegrypliker.

Richard (naaslinks), Samantha en Brett saam met vr
Richard (naaslinks), Samantha en Brett saam met vriende en kollegas by ’n geselligheid ná ’n Bad Apple- opvoering. Argief: Huisgenoot, 27 April 2006

‘‘Die polisie dink die aanvallers wou Richard se kar hê. Maar waarom moes hulle doodgemaak word?’’

Brett het nog die Vrydagaand voor sy en Richard se verdwyning op pad van ’n ete by die modeontwerper Craig Port in Kampsbaai, saam met sy ma by ’n vriendin van haar geëet. Denise en Peter was uit Sandton hier om saam met Brett te wees voor sy vertrek na Engeland.

Denise het nog sy gunsteling-hoendersop gemaak. Brett het sy arms om haar gesit en gesê dis die beste sop wat hy nog gehad het.

‘‘Hy was in ’n wonderlike luim en so opgewonde om Londen toe te gaan,’’ sê Samantha.

Die Goldins en Richard se geliefdes – onder andere sy ouers, Tony en Sandra, en sy lewensmaat, Bryan Hellman – hoop nou almal dat verdere polisieondersoeke en die verhoor van agt mans wat met die moorde verbind word, antwoorde sal bring. So ook die twee se honderde vriende in
die vermaak- en modebedryf.

Samantha-hulle vermoed hulle is dalk reeds oorval toe hulle die Saterdag net voor middernag by Craig se huis na hul motors gestap het.

Brett en sy jare lange vriend Richard Bloom. Huisg
Brett en sy jare lange vriend Richard Bloom. Argief: Huisgenoot, 27 April 2006

Craig, Richard se werkgewer en alombekend vir sy klere, meubels en juweliersware, dink ook hulle is dalk naby sy huis gekaap. Hulle het ’n hele entjie weg parkeer.

‘‘Ek het ’n paar vriende van Londen hier gehad en Richard en Brett genooi om by ons aan te sluit. Hulle was albei hul joviale, inskiklike en altyd positiewe self en opgewonde oor hul nuwe planne – Brett oor die toneelstuk en Richard oor ’n nuwe modereeks wat hy sou bekendstel. Hulle het so halftwaalf gegroet,’’ vertel Craig.

Dat hulle in afsonderlike motors opgedaag maar Brett se motor by Craig se huis agtergelaat het, laat dit ook na ’n kaping lyk.

Brett sou sy ma die Sondagoggend elfuur vir ontbyt by die Winchester Cafe in Seepunt ontmoet.

‘‘Hy het nooit opgedaag nie,’’ vertel Samantha. ‘‘My ma het solank begin eet toe sy ’n oproep van die polisie kry. Hulle het Brett se kredietkaart gekry by drie mans wat in Kampsbaai in hegtenis
geneem is.’’

Die polisie het hulle in die vroeë oggendure voorgekeer terwyl hulle ’n blou Peugeot roekeloos in die buurt bestuur het. Die minute het bitter stadig verbygetik terwyl Brett en Richard se familie en vriende gewag het op nuus oor waar hulle is.

Dat die twee nie hul selfone beantwoord het nie,het tot hul angs bygedra.

Samantha, toe nog in Sandton, het dadelik daarvan werk gemaak om Brett-hulle te probeer opspoor.

Intussen is senior polisielede ingeroep om die drie verdagtes te ondervra. Die Maandagoggend vroeg het hulle die liggame langs die M5 gaan uitwys. Brett en Richard het langs mekaar op hul maag gelê, nakend behalwe sokkies aan hul voete.

Hulle het elk ’n enkele koeëlwond in die agterkop gehad – die wyse waarop bendes dikwels slagoffers ‘‘teregstel’’.

Huisgenoot, 27 April 2006
Huisgenoot, 27 April 2006

Nog twee verdagtes is dieselfde oggend in hegtenis geneem en ’n sesde toe die polisie daardie Woensdag op ’n huis in Crawford op die Kaapse Vlakte toegeslaan het, waar klere en persoonlike besittings van Brett en Richard gevind is.

Woensdagmiddag is nog twee verdagtes in hegtenis geneem.

Die polisie het Samantha die Maandagoggend agtuur in Johannesburg met die verskriklike tyding gebel.

‘‘Ek het nooit voorheen geweet waarom mense in flieks weens skok inmekaarsak nie, maar dit het met my gebeur. Ek het op die vloer geval, geskree en die foon vir my kêrel aangegee.’’

Paul Behrmann het haar ’n tas help pak en saam gevlieg Kaap toe. Sy weet nie of sy haar broer se moordenaars mense kan noem nie, sê Samantha.

‘‘Ek hoop hierdie skuim voel skaam oor wat hulle gedoen het, maar ek dink nie hulle is daartoe in staat nie.’’

Sy voel dat Suid-Afrika sy burgers elke dag faal deurdat misdadigers nie gou genoeg en voldoende gestraf word nie en die feit dat ’n lewe hier niks werd is nie.

Die polisie ondersoek wel die moontlikheid van ’n kaping en roof as motief. Die twee mans is nie op enige ander wyse aangerand nie, het ’n polisiewoordvoerder gesê.

Clinton Davids, Rameez Sayed, Savon Malie, Trevino Cairncross, Jade Wyngaard en Nurshad Davids (hulle is tussen 18 en 25) was al in die hof. Van die verdagtes is na bewering by bendes betrokke.

’n Grys-swart Volkswagen Polo Playa, vermoedelik Richard s’n, is later by ’n koopsentrum in Athlone opgespoor.

Nóg Brett nóg Richard het ooit enigiets vir haar gesê oordreigemente wat hulle ontvang het, sê Samantha. ‘‘Hulle het eenvoudig geen vyande gehad nie.

‘‘Richard was ’n saggeaarde, sorgsame mens. Wanneer ek in Kaapstad was terwyl Brett elders was, sou hy my bel om te hoor of ek oukei is.’’

Richard en sy lewensmaat is albei reeds jare lank vriende met Brett, wat hulle trouens aan mekaar voorgestel het.

Brett was gelief as Crazy Monkey se B-Dog en was een van die vier skeppers van die wêreldberoemde M-TV-sketse waaruit die fliek Crazy Monkey: Straight outta Benoni gespruit het.

Hy het ook met groot flair komiese karakters in TV-reekse soos Madam & Eve, Fela’s TV en Scoop Schoombie gespeel. Maar Shakespeare was vir hom ook deel van sy selfverwesenliking as akteur, sê Samantha.

‘‘Hy het begin wegbreek na meer volwasse rolle. Maar nou sal hy nooit die kans hê nie . . .’’

Die skuldiges

Die 'Crazy Monkey'-moordenaars Clinton Davids and
Die 'Crazy Monkey'-moordenaars Clinton Davids and Shavaan Marlie buite die hof. Foto: Gallo Images/Media24/Peter Abrahams

Elf mans is aanvanklik vir die moorde in hegtenis geneem, en op 19 April 2006 het ses mans in die Wynbergse landdroshof verskyn in verband met die moorde. Aanvanklik sou net vyf verskyn het: Jade Wyngaardt (19), Nurshad Davids (20), Clinton Davids (23), Shavaan Marlie (25) en Rameez Zaheed (23), maar 'n sesde, Traveno Cairncross (25) het homself vrywilliglik aan die polisie oorgegee.

Op 22 Mei 2007 is die Crazy Monkey-moordenaars Clinton Davids en Shavaan Marlie elk 28 jaar tronkstraf opgelê vir die moorde op Brett Goldin (27) en Richard Bloom (28). Marlie het in Mei 2007 vir die eerste keer in die hof erken dat dit hy was wat die twee vriende in hul agterkop geskiet het.

Zubair Davids en Yazeed Eyssen is twee jaar tronkstraf opgelê op aanklagte van motordiefstal, die besit van gesteelde goedere en 'n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.

Jade Wyngaard en Nurshad Davids is 7 jaar gelede in Junie 2014 op parool vrygelaat. Hulle is aanvanklik 'n 15-jaar lange vonnis opgelê vir roof, ontvoering en die onwettige besit van 'n vuurwapen.

Bronne: ewn.com, iol.co.za, news.com

  • Huisgenoot: Ware lewensdramas word Maandae om 21:00 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai.
Jongste uitgawe

28 Oktober 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees