Spore van verwoesting – Pieter van Zyl, Huisgenoot 22 Junie 2017
Op 7 Junie 2017 het ’n vernietigende brand die skouspelagtige dorp en omgewing feitlik geheel en al vernietig. Ons joernalis Pieter van Zyl vertel hartverskeurende verhale van die mense van Knysna, wat deur monsterbrande tot in sy fondament geruk is.
7 Junie 2017: 'n dag wat menige inwoners van Knysna nooit sal vergeet nie.

Eens op 'n tyd was dit die juweel van die Tuinroete, ook al dorp van die jaar. Maar nou is die skilderagtige dorp wat om die Knysnameer nestel vol murasies, ’n landskap van verkoolde lewens en drome.

Jy ry in ’n digte rookwolk die dorp binne. Dis die dag nadat brande aan weerskante van die dorp dit binnegedring het. Sowat 500 huiseienaars moes magteloos toekyk hoe hul huise tot rommel verbrand word.

Nadat paaie weens die vlamme en digte rook gesluit is, moes ander iewers beangs op nuus wag.

Talle motors is deur die brand vernietig.
Dit is al wat oor is van 'n boot.

By ’n restaurant op Sedgefield sowat 25 km buite Knysna hoor jy van ’n man wat Woensdagaand hier “soos ’n kind gehuil het” toe hy die nuus oor die selfoon hoor dat hy geen heenkome meer het nie.

Tussen 8 000 en 10 000 mense moes uit hul huise ontruim word, baie van hulle bejaard, party in rolstoele. Op die kusdorp Brenton-on-Sea en in Belvidere aan die oewer van die Knysna-meer was inwoners soos op ’n eiland.

“Ons moes hulle per boot ontruim,” vertel Marck Cooper (45), ’n vrywilliger van die Nasionale Seereddingsinstituut wat saam met die brandweer vlamme van huise af probeer wegkeer het. Hy het 36 uur laas geslaap.

Toe hy ná sy reddingspoging by sy huis kom wat aan die Pezula-gholflandgoed grens, het die vuur dit bedreig.

Van halfdrie tot vyfuur die Donderdagoggend, ’n dag nadat die brande om Knysna begin woed het, het hy hulpeloos buite gewag dat die vlamme van die landgoed waar huise reeds afgebrand het oor die pad sal spring tot by sy eie tuiste.

Tot sy verligting het ses brandweerwaens uit Kaapstad opgedaag.

And they klap that fire,” vertel hy beïndruk.

Maar steeds hang verstikkende rook in die lug en verdring dit die soel bosreuke eie aan die dorp wat deur inheemse woude omring word. Oral op Knysna sien jy mense met maskers oor hul neus en mond.

Helikopters vlieg met reusesakke water in die lugruim heen en weer. Brandweerwaens jaag agter vure aan. Dit is asof jy langs ’n rokerige braaivleisvuur staan en nie daarvan kan ontsnap nie. In die stilte is die knetterende dennebolle amper oorverdowend.

Die middedorp in die hoofstraat het die vuur vrygespring, maar nie die verstikkende rook nie.
Die N2 aan weerskante van Knysna uit George en Plettenbergbaai was ure lank vir verkeer gesluit weens die brande.
Dae lank was die kusdorpie in ’n reuserookwolk gehul.
Vure het Knysna en omgewing vanaf Woensdag 7 Junie omsingel.

Oor ’n maand is dit tyd vir die gewilde jaarlikse Oesterfees op Knysna. Baie van die gastehuise en hotelle wat in die slag gebly het, het geen manier om mense in kennis te stel hul slaapplek het tot as verbrand nie. Die vlamme het ook hul gaste se kontakbesonderhede verteer.

By The Idle Monkey en die Bridgewater B&B is net swart mure oor.

“Ek het sit en TV kyk met die kat op my skoot,” vertel Crystal Smith (70), wat as bestuurder waarneem terwyl die eienaars oorsee is.

'n Huis in puin.
Van ’n bekende landmerk, The Idle Monkey,het net die vooraansig oorgebly.

Sy en die 19-jarige swart kat, Tosca, het gesien hoe die vlamme aan die ander kant van die strandmeer om negeuur die Woensdagoggend dreig om verwoesting te saai.

Twee perde het voor die gastehuis verbygehardloop en Tosca het die pad gevat en is nog nie weer gesien nie.

“As ons maar net assies iewers kan kry,” sê Chrystal hartseer oor die gastehuis se inwonende kat.

Dan vertel Crystal hoe vonke asof uit die niet aangevlieg gekom het.

In ’n ommesientjie was alles in vlamme gehul.

Binne twee minute het ’n boom langs die gastehuis in ligte laaie gestaan. Toe die brandweer se foon beset bly, het sy daarheen gery, net om rye motors daar aan te tref met ander desperate inwoners.

Met haar terugkeer was al die bome om die gastehuis aan die brand. Sy het ’n verskriklike slag gehoor toe die bure se gasbottel ontplof. In ’n ommesientjie was alles in vlamme gehul.

Branach Manor Luxury Guest House in die Paradise-woonbuurt het veral oorsese besoekers gelok. Nou is die naam net-net agter die roet sigbaar. Die luukse vertrekke en selfs die wenteltrap het weggebrand. Glas kraak onder jou voete.

Die kok van die gastehuis, Francois Botha, help opruim.
Branach Manor Luxury Guest House in die Paradise-woonbuurt het veral oorsese besoekers gelok.
Die eetlokaal van die Branach.
'Dit voel of ek wil weghardloop,' het eienaar Pieter Heyns aan Huisgenoot gesê.

“Dit was die waskamer dié en daardeur was die kombuis,’’ beduie Francois Botha (31), wat twee jaar lank as kok hier gewerk het. Hy lei ons deur die somber gebou. Hulle kon gelukkig die agt gaste betyds na ’n hotel neem.

Alles staan stil. Ek kan dit nie beskryf nie. Dit voel of ek wil weghardloop.

“Dit het so gou gebeur; binne vier tot vyf uur,” vertel Francois, wat nou hier help opruim. Hy werk ook by Alfred’s Manor, ’n gastehuis oorkant die straat wat danksy die brandslaners gered is.

Albei gastehuise behoort aan Peter Heyns (37).

Hoe voel dit om die verwoesting te sien aan die Branach, wat hy 13 jaar lank deur harde werk opgebou het?

“Alles staan stil. Ek kan dit nie beskryf nie. Dit voel of ek wil weghardloop,’’ sê hy.

“Maar dan herinner ek my daaraan dat ander nie versekering het nie. Ek kan probeer om alles te herbou wat ek sien afbrand het.”

Ryk en arm is gelykgemaak deur die vuur. In die township met sy rykmansuitsig oor die dorp, strandmeer, die koppe en die see is die toestande haglik. Rye verwronge sinkplate is al wat van eenvoudige hutte oorgebly het waarin mense nesgeskop het.

“Ons is net bly niemand is hier dood nie,” vertel Masixolo Doyile (31), wat vir ’n proeftydperk by die munisipaliteit werk.

Nadat sy hut afgebrand het, het hy by sy ma, Nolingele (48), in haar piepklein Hop-huisie ingetrek saam met nog 15 ander slagoffers wat dakloos gelaat is.

Nadat sy hut afgebrand het, het Masixolo Doyile by sy ma, Nolingele (48), in haar piepklein Hop-huisie ingetrek saam met nog 15 ander slagoffers wat dakloos gelaat is.
Anelisa Nodida midde-in die verwoesting.

Umlilo uyiza gqabhelani,” – pasop, hier kom die vuur – het die uitroep deur die strate weerklink toe hulle die vlamme sien nader kom. Maar nou is “amanzi” – water – hul grootste behoefte.

Weens kragbokse wat aan die brand geslaan het, was groot dele van die dorp en omliggende gebiede vir dae sonder krag. Maar dis water waarna almal smag, want pype het gesmelt en elke druppel was nodig om die verterende vuur te beveg.

Dit het gelyk asof onsigbare hande brandende kole in die lug op gooi.

Vreemd genoeg is daar strate waarin al die huise afgebrand is, terwyl in ander net een of twee vlam gevat en die huise langsaan ongeskonde gebly het. Dis asof die vuurmonster sy slagoffers uitgekies het.

Gerugte oor brandstigting het van die eerste dag nie gaan lê nie, nes die winde wat die vlamme aangeblaas het. Of dalk was weerligstrale die vonk in die kruitvat in hierdie dig beboste gebied wat deur ’n versengende droogte geteister word.

Teen druktyd was daar nog geen antwoorde op hierdie kwelvrae nie.

“Dit het gelyk asof onsigbare hande brandende kole in die lug op gooi,” onthou Wendy du Toit (58).

Sy en haar man, Kobus (70), het eers nie gedink die vlamme sal van oorkant die vallei tot by hul huis in Knysna Heights kom nie.

Moeder Natuur, jy kan my huis vat, maar nie my wyn nie.

“Die laaste ding wat ek onthou, is dat ’n kool deur die motorafdak gebrand het,” vertel sy.

Sy het toe ’n paar somer-gholfhemde gegryp vir die oorsese reis wat hulle beplan, asook hul kokketiel, Snowy, en vyf goeie bottels wyn.

“Ek het gedink: ‘Moeder Natuur, jy kan my huis vat, maar nie my wyn nie,’ ” skerts sy nou.

Melanie du Toit en haar ma, Wendy, voor hul verwoeste huis.

Tog maak dit seer as sy dink aan al die sentimentele kosbaarhede wat vir altyd weg is: troufoto’s, foto’s van haar dogter, Melanie (25), as baba wat in hierdie huis grootgeword het, eeue oue erfstukke soos ’n teepot, kristalvase en ’n kershouer van ’n geliefde tante.

“Wanneer ek hier voor ons vervalle huis staan, dan moet ek myself herinner dat dit net aardse goed is,’’ sê Wendy.

“Maar hierdie plekkie was my toevlugsoord waar ek veilig gevoel het.’’

Meer oor die brand

Die Wetenskaplike navorsings en nywerheidsraad (WNNR) het die Knysna-brande as die ergste veldbrandramp in Suid-Afrika se geskiedenis beskryf. In bosboukringe is dié ramp vergelyk met die een wat bekend staan as die “Groot brand van 1869” wat tussen Riversdal en Uitenhage, selfs tot so ver as  [Port Elizabeth] gewoed het.

Plaaslike inwoners wat bekend is met die aard van bosbou, het in vroeg in 2017 reeds die risiko van ’n ernstige veldbrand as ’n tydbom beskou: warm weer met min reën het bygedra tot uitsonderlike droë toestande in die omgewing.

Nege mense, waaronder ’n vrywilliger-brandbestryder, het in die brand omgekom.

Volgens amptenare het meer as 1 000 wonings (973 formele en 150 informele strukture) in die slag gebly. By Kruisfontein het die plantasie van 1 800 hektaar voor die gulsige vlamme geswig, gevolg deur minstens 2 200 hektaar by Witelsbosch en meer as 5 600 hektaar by die Longmore-saagmeule. PG Bison het ook die grootste deel van ’n 8 000 hektaar groot plantasie ingeboet.

“Mense in hierdie area kan nie bekostig om oorgerus te word nie,” het dr. Tineke Kraaij van die Mandela-universiteit gesê. “Dis nie ’n kwessie van of dit weer gaan gebeur nie, dis ’n vraag wanneer dit weer gaan gebeur.”

Die brandweer se verslag het daarop gedui dat menslike ingryping tot die vernietigende brand gelei het, maar volgens die forensiese deskundige David Klatzow was die brand die resultaat van ’n brand wat maande voor dié vernietigende vlammehel begin is deur ’n weerligstraal. Volgens hom het sterk wind die vlamme aangehits.

Versekeringseise het meer as R2,5 miljard beloop.

Bronne: georgeherald.com, ewn.co.za, saforestryonline.co.za, enca.com

FOTO'S: JACQUES STANDER, FACEBOOK, TWITTER/@VWSFIRES, INSTAGRAM
  • Huisgenoot: Ware Lewensdramas word Maandagaand 21:00 op Via (DStv-kanaal 147) uitgesaai.